Vinnige feite

  • Baard het skoolgegaan aan die Racecourse Primary School en die Lyndhurst Road School voor sy ’n leerder aan die Perseverance School geword het.
  • In die 1930’s en 1940’s het mense soos die Litause immigrant Ray Alexander nywerheidsvakbonde op die been gebring. Raymond Mhlaba, ’n droogskoonmaker van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), het ’n alliansiestrategie uitgewerk, wat begin het met protesoptrede deur die gemeenskap om stakings te ondersteun.
  • In 1996 verskyn haar outobiografie, My Spirit is Not Banned, waarvan Barbara Schreiner die medeskrywer was.
Foto: iStock

Soos oudpres. Nelson Mandela ’n reuse-bydrae gelewer het in die oorgang na ’n demokratiese Suid-Afrika, was daar ook verskeie ander rolspelers wat hulle vir vryheid en gelykheid in ons land beywer het. Baie van hulle was vroue, maar min is werklik goed aan ons bekend.

Wie was Frances Baard?

Een van die vroue wat hard baklei het vir die beëindiging van alle vorme van onderdrukking, was Frances Goitsemang Baard. Sy is op 1 Oktober 1909 in Kimberley in die Noord-Kaap gebore as die vyfde van sewe kinders. 1

Baard het skoolgegaan aan die Racecourse Primary School en die Lyndhurst Road School voor sy ’n leerder aan die Perseverance School geword het.

Baard se loopbaanpad het wyd gestrek van huishulp tot die onderwys en sy’t in ’n stadium selfs as fabriekswerker gewerk. Haar belewenis van die ongelykheid in Suid-Afrika het haar aangespoor om aktief by die vryheidstryd betrokke te raak en haar denke is veral deur mense soos Raymond Mhlaba en Ray Alexander beïnvloed.

In die 1930’s en 1940’s het mense soos die Litause immigrant Ray Alexander nywerheidsvakbonde op die been gebring. Raymond Mhlaba, ’n droogskoonmaker van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth), het ’n alliansiestrategie uitgewerk, wat begin het met protesoptrede deur die gemeenskap om stakings te ondersteun. 2

Hierdie koalisie of samewerking tussen arbeidsleiers en gemeenskapsaktiviste sou die volgende vyf dekades voortduur tot Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Vegter vir vroueregte

Dié aktivisme het Baard geïnspireer om in 1952 ’n organiseerder in die versetbeweging te word. Sy sluit in dié tyd by die ANC-vroueliga (ANCWL) aan en word later sekretaresse en tesourier van die ANCWL se Gqeberha-tak. Baard klim die leer vinnig en teen die middel van die 1950’s beklee sy die pos van nasionale tesourier van die ANCWL en dien in die uitvoerende komitee van die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue. 3

Sy was nou betrokke by die opstel van die Vryheidsmanifes in 1955 en het ’n leidende rol gespeel in die optog waarin sowat 20 000 vroue op 9 Augustus 1956 na die Uniegebou in Pretoria opgeruk het om teen die paswette beswaar te maak.

Baard was een van die min vroulike lede van die nasionale uitvoerende gesag van die Suid-Afrikaanse Kongres van Vakbonde (SACTU) en het gehelp om boere te oorreed om die onmenslike toestande van plaaswerkers te verlig. Baard is in Desember 1956 saam met nog 156 mense van verraad aangekla, maar die aanklagte teen haar is in Januarie 1958 laat vaar. 4

In Oktober 1963 word sy opnuut gearresteer, maar nie aangekla nie, en word vir ’n jaar in isolasie aangehou sonder enige besoekers of selfs ’n boek om te lees. Later word sy weer aangekla en daaraan skuldig bevind dat sy aan die verbode ANC behoort en sy word ’n vonnis van vyf jaar opgelê.

Van verban tot verering

In 1969 word sy vrygelaat en verban na die buitewyke van Pretoria (Mabopane). In die 1980’s, in die tyd wat die ANC verban was, werk Baard saam met die United Democratic Front (UDF), wat onder meer gekant was teen die instelling van oudpres. P.W. Botha se Driekamerparlement. 5

In 1996 verskyn haar outobiografie, My Spirit is Not Banned, waarvan Barbara Schreiner die medeskrywer was. Baard het heelwat lof ontvang vir haar rol in die vryheidstryd en sy is onder meer vereer met die presidensiële Orde van Luthuli-toekenning (Goud).

Baard is in 1997 oorlede en in 2001 is die Diamantvelddistriksraad in Kimberley hernoem na die Frances Baard-munisipaliteit. Daar is ook ’n brons standbeeld van Baard in haar geboortedorp opgerig. Die inskrywing op die granietvoetstuk van die standbeeld lui: “My gees is nie verban nie. Ek sê steeds ek wil vryheid in my leeftyd hê.” 6

Hazel Jenkins, voormalige premier van die Noord-Kaap, het in 2009 die volgende oor Baard gesê: “Sy het sterk oortuigings gehad en was baie dapper. Dit op sigself het baie botsings met die Suid-Afrikaanse Polisiediens tot gevolg gehad omdat sy haar ontevredenheid uitgespreek het oor die agteruitgang van manshostelle (die woonplek van enkellopende mans), die verwerping van Bantoe-onderwys, vroue se mening oor hoe Suid-Afrika regeer word en die weiering om ’n pasboekie te dra.”

Schoemanstraat in Pretoria is ook na haar vernoem, hoewel haar naam hier verkeerdelik as Francis Baard gespel word.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 November 2021 | Bygewerk op 14 Mei 2024