Vinnige feite

  • Die regte tydsberekening is belangrik omdat dit die gehoor in staat stel om te kan reageer en sekere elemente van die storielyn te verstaan. Met die korrekte tussenposes kan ʼn groter dramatiese effek ook geskep word.
  • Ritme verwys na hoe die dialoog volg en die spoed van die aksie en reaksie tussen die akteurs wat die rolle vertolk. Hoe vinniger die ritme, hoe meer intens raak die gesprek.
  • Hoe die akteur die spasie van die verhoog benut, is ook belangrik. Elke beweging kan ʼn belangrike element simboliseer. Die gebruik van onnodige spasie moet dis nie oorbenut word nie, anders neem dit die aandag weg van die storie.
  • Die gebruik van taal kan verbaal of nieverbaal wees. Hoewel die teks in ʼn spesifieke taal geskryf is, is lyftaal ook belangrik; sonder om iets te sê, kan ʼn karakter baie van die storie liggaamlik uitbeeld.
  • Op die regte tye in ʼn teks, kan die toevoeging van klank baie help om die storie meer geloofwaardig te maak.
  • Sekere voorwerpe dra simboliek (betekenis); sonder dat ʼn karakter iets hoef te sê, kan die gebruik van simbole op die verhoog ʼn groot bydrae lewer tot die algehele gevoel en boodskap van die storie.
  • Konflik verwys nie noodwendig net na persoonlikhede wat bots nie, maar kan ook verwys na innerlike konflik (wanneer ʼn karakter in hom-/haarself twyfel of worstel met ʼn gedagte).
  • In ʼn drama is daar gewoonlik ʼn krisis wat opgelos moet word; die storielyn bou op tot by die klimaks, waar die hoogste piek van die storielyn bereik word en die karakters ʼn uitkoms vir die krisis vind, waarna die storie ontknoop.
Foto: iStock

Die woord drama kom van die Griekse woord dran wat beteken “om te doen/om te speel”. ʼn Drama word geskryf om deur akteurs opgevoer te word, maar kan ook gelees word. ʼn Drama kan ʼn kombinasie wees van poësie, vertellings, dialoë en danse om ʼn boodskap aan die gehoor oor te dra.

Anders as ʼn rolprent wat ʼn realistiese uitbeelding is, kan die onsigbare sigbaar gemaak word in ʼn drama. Die gehoor word toegelaat om hul verbeelding te gebruik en deur die gebruik van simboliek en die regte stel, kostuums, grimering, rekwisiete, ensovoorts, kan ʼn atmosfeer geskep word om die verhaal in te vertel. Drama-elemente kan losstaande van mekaar of saam gebruik word om ʼn gewenste uitwerking of gevoel te skep, afhangend van die soort teks en watter emosie by die gehoor ontlok wil word. 1

Tema

Die tema van die verhaal verwys na die sentrale idee van die storie. In die tema van die verhaal is daar gewoonlik ʼn les te leer en ʼn boodskap waarvan die gehoor moet kennis neem. Die tema van die verhaal is die rede hoekom die teks in die eerste plek geskryf is.

Gebeure

Hoe die gebeure (ook genoem “plot”) afspeel, hoe die tonele opmekaar volg en die dinamika van die karakters onderling, speel ʼn belangrike rol en dra grootliks by tot die vermaaklikheid van die hele vertoning.

Karakterisering

Wanneer ʼn drama geskryf word, word daar lank gewerk aan die ontwikkeling van die verskillende karakters en hul persoonlikhede. Die skrywer kan die karakters se persoonlikhede op waarnemings uit sy of haar omgewing grond en dit op ʼn ander manier in die verhaal weergee. Die karakters se persoonlikhede moet aan die gehoor onthul word, en dit kan op ʼn direkte of indirekte wyse gebeur. 2

  • Direkte karakterisering: Dit is wanneer die verteller of ʼn ander karakter direk met die gehoor praat en meer oor ʼn bepaalde karakter vertel.
  • Indirekte karakterisering: Dit is wanneer die karakters spesifieke dinge doen en sê sodat die gehoor afleidings oor hul persoonlikhede kan maak.

Gehooretiket

Wanneer mense na ʼn opvoering gaan kyk, hetsy ʼn drama- of musiekopvoering, is daar ʼn sekere etiket wat van die gehoor verwag word om die nodige respek aan die teater en akteurs te betoon. In ʼn teater kan lede van die gehoor nie onnodig rondloop nie, en selfone moet afgeskakel word, want dit mag dalk steurend wees en die aandag van die gebeure op die verhoog aftrek. Indien dit ʼn lang vertoning is, is daar gewoonlik ʼn pouse waar die gehoor uit die teater kan beweeg om onder meer verversings te kry en na die kleedkamers te gaan. 3

Belangrike drama-elemente 

Om ʼn goeie drama te skryf, is dit belangrik om van 12 elemente bewus te wees, sodat dit in kombinasie gebruik kan word om die spel van die akteurs en die reaksie van die gehoor te vergroot. 4

Fokus

Die akteur moet daarop fokus om die beste en geloofwaardigste weergawe van die karakter te vertolk.

Intensiteit

Soos wat die storielyn ontwikkel, moet die akteur se spel ook meer intens raak om na die klimaks van die verhaal op te bou.

Tydsberekening

Die regte tydsberekening is belangrik omdat dit die gehoor in staat stel om te kan reageer en sekere elemente van die storielyn te verstaan. Met die korrekte tussenposes kan ʼn groter dramatiese effek ook geskep word.

Ritme

In hierdie geval verwys ritme na hoe die dialoog volg en die spoed van die aksie en reaksie tussen die akteurs wat die rolle vertolk. Hoe vinniger die ritme, hoe meer intens raak die gesprek.

Kontras

Kontras is ʼn belangrike element in die skryf van ʼn dramateks; dit verhoed dat ʼn teks eentonig of vervelig word. Kontras sorg vir verrassings en hou die gehoor nuuskierig.

Gees

Luim verwys na die algehele gevoel van die teks en in watter soort atmosfeer die storie afspeel.

Spasie

Hoe die akteur die spasie van die verhoog benut, is ook belangrik. Elke beweging kan ʼn belangrike element simboliseer. Die gebruik van onnodige spasie moet dis nie oorbenut word nie, anders neem dit die aandag weg van die storie.

Taal

Die gebruik van taal kan verbaal of nieverbaal wees. Hoewel die teks in ʼn spesifieke taal geskryf is, is lyftaal ook belangrik; sonder om iets te sê, kan ʼn karakter baie van die storie liggaamlik uitbeeld.

Klank

Op die regte tye in ʼn teks, kan die toevoeging van klank baie help om die storie meer geloofwaardig te maak. Dit moet egter gebalanseerd gedoen word en nie die aandag van die karakters of storielyn wegneem nie.

Simboliek

Sekere voorwerpe dra simboliek (betekenis); sonder dat ʼn karakter iets hoef te sê, kan die gebruik van simbole op die verhoog ʼn groot bydrae lewer tot die algehele gevoel en boodskap van die storie.

Konflik

Konflik verwys nie noodwendig net na persoonlikhede wat bots nie, maar kan ook verwys na innerlike konflik (wanneer ʼn karakter in hom-/haarself twyfel of worstel met ʼn gedagte). Konflik kan verbaal en nieverbaal uitgebeeld word.

Klimaks

In ʼn drama is daar gewoonlik ʼn krisis wat opgelos moet word; die storielyn bou op tot by die klimaks, waar die hoogste piek van die storielyn bereik word en die karakters ʼn uitkoms vir die krisis vind, waarna die storie ontknoop.

Teater- en verhoogtipes

Van die vroegste verhoë wat gebruik was, was deur die Romeine gebruik, en hulle het op hul beurt weer kers by die Grieke opgesteek. Dié verhoë was sirkelvormige strukture, eers van hout en later van klip. Dit was ʼn opeluggebou met sitplekke wat almal na die verhoog gedraai was; dié sitplekke was effens verhewe bo die grond, sodat almal in die gehoor kon sien wat op die verhoog gebeur. Soos denkwyses en verskillende teaterstyle deur die eeue ontwikkel het, het daar ook verskillende soorte teaters en verhoë ontstaan om by spesifieke soorte storielyne aan te pas. 5

Proscenium-verhoog

ʼn Proscenium-verhoog word geraam met gordyne en soms ook hout inlegsels om ʼn raamwerk te vorm. Teaters met sulke verhoë beskik ook gewoonlik oor ʼn orkesput en ʼn vliegtoring, waar vanaf ʼn karakter of voorwerp vanuit die lug beweeg kan word.

‘n Voorbeeld van ‘n proscenium-verhoog.

Stootverhoog

Hierdie verhoog stoot (thrust) in die gehoor in. Dit word gedoen om ʼn gevoel van intimiteit te skep en die afstand tussen die verhoog en gehoor te verklein.

Teater-in-die-rondte

Die verhoog is in die middel van die teater geleë, met die sitplekke rondom. Die akteurs beweeg na die verhoog tussen gange deur, verby die sitplekke.

Arenateater

Sportstadions word gewoonlik as arenas gebruik. Dit is dus baie soos teater-in-die-rondte, maar eerder reghoekig.

Ateljeeteater

ʼn Ateljeeteater verwys na ʼn vertrek wat gestroop is van alle verhewe grondvlakke en waar die sitplekke op dieselfde vlak as die verhoog is. Hierdie soort teater maak die opvoeringservaring baie meer intiem.

Platformverhoog

Hierdie verhoog kom tipies in ʼn skoolsaal voor, waar ʼn reghoekige vlak aan die een kant van die gebou verhewe is en al die sitplekke in rye staan en na die voorkant van die verhoog gedraai is.

Opelugteater

Hierdie teaters het geen dak nie en maak vir ʼn groot deel van die vertoning staat op natuurlike lig. Só ʼn verhoog kry ʼn mens gewoonlik by opelugkonserte of kunstefeeste te sien.

Plekspesifieke teater

ʼn Storie kan op enige plek vertel en oorgedra word; dit hoef nie altyd die tradisionele kanale te volg nie. Afhangend van die tipe opvoering kan ʼn kroeg, restaurant of huis ook as ʼn teater dien.

Wandelteater

Só ʼn teater behels dat die gehoor rondbeweeg van plek tot plek en die akteurs rondvolg tydens hul vertoning.

Woordbank

akteurs Die persoon wat die rol van ʼn karakter in ʼn storie vertolk.
teks Die geskrewe vorm van ʼn storie, met al die nodige notas vir die akteurs wat beweging, denkprosesse en gebare aanbetref. ʼn Teks word ook opgedeel in tonele (hoofstukke). Tekste vir teater, rolprente en radio verskil van mekaar.
teateraanwysings Die dele in ʼn teks tussen hakies of in skuinsdruk wat die rigting op die verhoog aandui, of wat uitwys watter aksie die akteur moet uitvoer, byvoorbeeld “neem ʼn sluk water en gaan sit”.
stel Die konstruksie wat sigbaar is op die verhoog, om die storie en tydgleuf te help uitbeeld.
rekwisiete Die items wat fisies deur die akteurs tydens die opvoering gebruik word, soos ʼn sakdoek, flits, kierie, beker, ensovoorts.
komedie ʼn Vorm van drama wat in ʼn humoristiese styl geskryf is en gewoonlik op ʼn ligte noot eindig.
tragedie ʼn Vorm van drama waar die hoofkarakter gewoonlik ʼn noodlottige voorval beleef.
dialoog ʼn Gesprek tussen twee of meer karakters.
monoloog ʼn Gesprek waar slegs een persoon aan die woord is.
konflik Die innerlike of eksterne stryd waarmee ʼn karakter te make het; dit is ook gewoonlik verantwoordelik vir die spanning in die verhaal.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Drama as kunsvorm

Die elemente van ‘n drama

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Julie 2021 | Bygewerk op 28 Februarie 2024