Vinnige feite

  • 1666 – Daar word met die bouprogram begin.
  • 26 April 1679 – Die Kasteel word amptelik voltooi.
  • 1674 tot 1795 – Die Kasteel is die hoofkwartier van die VOC aan die Kaap.
  • 1936 – Die gebou word tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.
  • 1980 – Die gebou word gerestoureer
  • Die ingenieur was Pieter Dombaer, die timmerman was Adriaan van Braeckel en die hoofmesselaar was Douwe Gerbrandtz Steyn.
Foto: iStock

Die Kasteel is die oudste en mees geskiedkundige gebou in Suid-Afrika. Dit word beskou as een van die bes behoue geboue van die VOC (Verenigde Oos-Indiese Kompanjie van Nederland). Die Kasteel het die Fort de Goede Hoop vervang. Laasgenoemde is onder leiding van Jan van Riebeeck gebou en is aanvanklik met kleimure gebou. Hoewel dit ʼn kasteel genoem word, is dit eintlik ʼn vyfpuntige fort (ʼn gebou wat gebruik word om as beskerming te dien), in die middel verdeel deur ʼn dwars muur waarop nóg kanonne opgerig kon word.

Jan van Riebeeck

Die kasteel was ʼn woning vir die goewerneurs en het ook die hospitaal, die militêre kwartiere en ʼn tronk ingesluit.

Die gebou is in 1936 gedeeltelik in ʼn museum verander. ʼn Belangrike versameling skilderye, etse, kunsvoorwerpe, meubels en gebruiksvoorwerpe, asook ʼn gedeelte van die beroemde William Fehr-versameling, word in die museum bewaar. ʼn Maritieme (te doen met die see) museum is ook in die Kasteel ingerig.

Hoewel die Kasteel vir militêre doeleindes opgerig is en daar ongeveer 100 kanonne was, is dit te betwyfel of enige skoot ooit ter verdediging van die Kaap van die Kasteelmure af geskiet is.

Die Kasteel was aanvanklik baie na aan die see geleë. Ná ʼn landherwinningskema in 1937 is ʼn groot deel van die strandgebied egter drooggelê en staan die Kasteel vandag ongeveer een kilometer van die see af. 1

Geskiedenis en bouwerk

Kort ná sy aankoms in 1652 het Jan van Riebeeck met die bou van ʼn fort begin. Die doel van hierdie fort met kleimure was hoofsaaklik om die inwoners teen wilde diere en moontlike aanvalle van die Khoi (inheemse inwoners van die Kaap) te beskerm. Die kleimure was nie sterk genoeg vir die Kaapse wind en reën nie en kort-kort het dele van die mure ineengestort.

Toe oorlog tussen Nederland en Engeland begin dreig, het die Here XVII (die direksie van die VOC) besluit dat daar ʼn behoorlike vesting aan die Kaap gebou moet word om as beskerming te dien vir aanvalle vanaf die see. In Augustus 1665 het Isbrand Goske, ʼn amptenaar van die VOC, saam met die ingenieur Pieter Dombaer ʼn perseel ongeveer 225 m suidoos van die destydse fort uitgekies.

Die klippe is gekap uit die steengroef aan die voet van Tafelberg en skulpe is van Robbeneiland gebring, fyngemaak en met sand gemeng om ʼn soort messelkalk te vorm. Hout is uit Houtbaai aangery en stene, teëls en ʼn deel van die houtwerk is ook uit Nederland ingevoer.

Op 2 Januarie 1666 is die eerste vier hoekstene deur onderskeidelik die destydse kommandeur, Zagarias Wagenaar, ds. Johan van Arckel, die fiskaal Hendrick Lacus en onderkoopman Abraham Gabema gelê. Daar is op dié dag ʼn groot fees gehou met 2 beeste, 6 skape, 8 vate bier en 100 brode!

Ná ʼn onderbreking, is die bouwerk op 2 Oktober 1672 hervat. Goske, wat in dieselfde jaar goewerneur van die Kaap geword het, het self oor die werk toesig gehou. Die bouwerk het baie stadig gevorder, veral die uitgrawing van die grag.

Goewerneur Johan Bax, wat Goske in 1667 opgevolg het, het opdrag gegee dat alle inwoners van die nedersetting aan die Kaap moes help om grond uit die grag weg te dra. Mans moes 12 mandjies en vroue 6 mandjies vol grond wegdra elke keer wanneer hulle verby die Kasteel stap. Simon van der Stel was die eerste goewerneur wat sy intrek in die goewerneurswoning geneem het (1691).

Tussen 1684 en 1795 is ʼn nuwe ingang, ʼn dwarsmuur (genoem die Kat), ʼn balkon, koringskure en ʼn kleiner grag tot die kasteel toegevoeg. Gedurende die 19de eeu was daar verskeie kere ʼn moontlikheid dat die Kasteel gesloop sou word, maar elke keer het dit nie gebeur nie.

Beskrywing van die gebou

Bouplanne

Die Kasteel de Goede Hoop is volgens die internasionale standaardstelsel van die vestingbouers Stevyn en Vauban gebou. Die Kasteel se ontwerp kan as ʼn tipiese voorbeeld van die Barok-boukuns beskou word.

Die Vauban-grondplan was dié van ʼn vyfhoekige fort.

Die vyf bastions (hoeke) is vernoem na die vyf belangrikste titels van die Prins van Oranje (Nederland):
1 – Oranje  2 – Katzenellenbogen  3 – Nassau  4 – Buren  5 – Leerdam.

Elk van die bastions is 9,14 m hoog en die muur tussen elke bastion 15 m lank. Die Kasteelmure is aan die seekant effens hoër as aan die landkant, maar is gemiddeld sowat 10 m hoog.

Baie kenmerkend vir hierdie soort grondplan is die muur (die Kat), wat die binnehof van die Kasteel in twee verdeel. 1

Die Kat, wat in 1685 gebou is, is ʼn muur van 165 m lank en byna 12 m hoog waarop kanonne opgerig kon word. Verskeie geboue is met verloop van tyd aan weerskante van die Kat opgerig. 2

Gebruike van die bastions

Die bastions Katzenellenbogen, Nassau en Oranje en die Kat vorm ʼn binneplaas of binnehof wat die “wapenplaas” genoem is.

Die bastion aan die suidekant, Oranje, het die werkswinkel en kwartiere van die wapensmid en die wagte van die wapenkamer gehuisves.

In Nassau, aan die suidoostekant, is die kruitmagasyn, verskeie kantore en pakkamers ingerig.

Katzenellenbogen, aan die oostekant, het onder meer die berugte Donker Gat, selle en die folterkamer (martelkamer) gehuisves. Die Nederlandse Driekleur is gewoonlik op die muur van Katzenellenbogen gehys. Die folterkamer en Donker Gat is gebruik as straf vir misdadigers. 3

In Leerdam, aan die westekant, was die betaalmeester se kantoor en teregstellingsterrein.

Die manskappe en offisiere is oorspronklik in Buren, die noordelike bastion, gehuisves.

Een van die bastions, Leerdam, met Tafelberg in die agtergrond.

Klok

Die klok is in 1697 in Amsterdam gemaak en is gebruik om burgers byeen te roep vir belangrike aankondigings. Dit het ook as alarm gedien in geval van brand of ander gevaar.

Kat-balkon en sale

Die Kat-balkon is een van die opknappings wat deur goewerneur Van der Graaff (aan bewind 1785-1791) aangebring is. Die pragtige swaar kiaathoutdeur onder die Kat-balkon verleen toegang tot die goewerneurswoning en verskeie sale. Die bekendste is die vroeëre raadsaal, waar die politieke raad vergader het. 4

Die Kat-balkon in die Kasteel De Goedehoop, sy-aansig

Ander bekende sale is die eetsaal met sy mooi versierde kaggel en die danssaal, wat deur lady Anne Barnard beplan is. Lady Anne Barnard het in hierdie tuin haar beroemde briewe geskryf.

Die fortmuur waar kanonne afgevuur kon word om die nedersetting te beskerm.

Waterput

Regs van die boogingang wat die binneplaas van die voorhof met mekaar verbind, is daar ʼn gangetjie wat na die puthuis lei. Die put is ongeveer 12,5 m diep en moes vir water sorg in geval van oorlog. Omdat dit so na aan die see was, was die water baie brak.

Middelpunt van die Kaapse samelewing

Die Kasteel was die hoofkwartier van die VOC aan die Kaap en was die middelpunt van die politieke, militêre en sosiale lewe aan die Kaap. Ongeveer honderd jaar nadat Jan van Riebeeck geland het, het daar ʼn dorpie om die Kasteel ontwikkel wat later as Kaapstad bekend sou staan.

‘n Ou kanon by die ingang van die Kasteel.

Die Kasteel het vir lank die belangrikste gebou in die dorpie gebly. Nadat die ou fort gesloop is, het die garnisoen en die destydse kommandeur hul intrek in die Kasteel geneem en militêre seremonies en roetine het ʼn daaglikse, kleurryke deel van die Kasteel se bestaan geword. Daar was die gereelde seremoniële wisseling van die wag, asook die inspeksie van die wag voordat hulle aan diens gegaan het. Sowat 400 soldate is in die Kasteel gehuisves. Die Kasteel was die setel van die Kaapse bestuur, waarvan die goewerneur en sy raadslede die hoogste gesag was.

Van die begin af het die kommandeur en later die goewerneur in die Kasteel gewoon. Eers het hulle in die woning in die muur tussen Leerdam en Oranje en later in die goewerneurswoning teen die Kat-muur gewoon. Ander hoogwaardigheidsbekleërs (belangrike persone) het ook in wonings in die Kasteel gewoon. Die gewone amptenare het in herberge of in private huise in die dorp gewoon. Die politieke raad, die hoogste gesagsliggaam van die VOC aan die Kaap, het gewoonlik in die Kasteel vergader. 5

Die binnehof.

Vergaderings is in die raadsaal gehou en belangrike aankondigings is vanaf die Kat-balkon gedoen nadat die klokgelui die burgers byeengeroep het. Die geregshof het ook in die Kasteel sitting gehad en gevangenes wat gevonnis of ter dood veroordeel is, is in die selle onder Katzenellenbogen aangehou.

Wanneer ʼn beskuldigde nie wou praat of erken dat hy ʼn misdaad gepleeg het nie, is hy dikwels vir ʼn tyd lank in die berugte Donker Gat opgesluit. Terdoodveroordeeldes is in die bastion Leerdam tereggestel. 6

Die Kasteel was ook die middelpunt van die sosiale lewe aan die Kaap. Die vrouens van die verskillende goewerneurs het hierin ʼn leidende rol gespeel. Hulle het groot danspartytjies en onthale gereël as vermaak vir die Kapenaars.

Hoogwaardigheidsbekleërs van die VOC, op pad na Indië of op pad terug na Nederland, is gewoonlik ook met groot swier (baie deftig) in die Kasteel onthaal. Nadat die Britte in die Kaap aan die bewind gekom het, was lady Anne Barnard die belangrikste persoon in die Kasteel se sosiale lewe. Sy was die vrou van die Kaapse koloniale sekretaris Andrew Barnard en het as gasvrou vir lord Macartney, koloniale administrateur en diplomaat, opgetree. Sy het gereeld onthale en danspartytjies gehou om die Britte en die Kaapse burgers aan mekaar voor te stel.

Die binnehof.

Benewens bekendes soos Adam Tas is ook Cetshwayo, die koning van die Zoeloes, as gevangene in die Kasteel opgesluit. Hy is in 1879 na Kaapstad verban en saam met al sy vrouens in die Kasteel aangehou.

Namate Kaapstad uitgebrei het, het die goewerneurs uit die Kasteel getrek om in ander ampswonings te gaan woon en het die Kasteel ʼn suiwer militêre vesting geword. In hierdie tyd het sy rol as middelpunt van Kaapstad afgeneem. Alle regeringskantore is mettertyd ook na geboue in die stad verskuif. 7

Woordbank

fort Versterkte militêre bouwerk/vesting; skans.
grag Slootagtige uitgrawing in die grond as verdediging om ‘n stad/kasteel.
gevonnis Straf wat aan iemand opgelê word wat aan ‘n misdaad skuldig bevind word; veroordeling; strafoplegging.
kanonne Swaar vuurwapen met ‘n loop van groot kaliber, op wiele gesleep of gemonteer.
museum Gebou waarin voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word.
put Kokervormige gat wat in die grond gegrawe of geboor is en waarin water opwel of opgevang word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die geskiedenis van die Kasteel

Ontdek Suid-Afrika se oudste gebou

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024