Vinnige feite

  • Lady Anne was glo die eerste Europese vrou om Tafelberg uit te klim.
  • Haar briewe aan lord Melville, oftewel Henry Dundas – die Britse minister vir oorlog en die kolonies – vertel hoe Kaapstad daardie tyd gelyk het. Die briewe is in ’n boek saamgevat: South Africa a Century Ago: Letters Written from the Cape of Good Hope (1797-1801).
  • Die Suid-Afrikaner Stephen Taylor het toegang tot lady Anne se memoires verkry en het ’n biografie geskryf genaamd Defiance: The Life and Choices of Lady Anne Barnard.
  • Daar is ’n balsaal in die Kasteel de Goede Hoop wat na lady Anne genoem is en blykbaar het iemand tot al haar spook daar gewaar … geklee in ’n tipiese balrok, reg vir ’n geselligheid!
  • Die eerste hoeksteen van die Kasteel de Goede Hoop is op 2 Januarie 1666 gelê.
  • “Auld Robin Gray” is eers anoniem gepubliseer, maar lady Anne het in 1823 vir haar vriend sir Walter Scott vertel dat sy dit geskryf het. Dit was een van die gewildste ballades van haar tyd.
  • Lady Anne is as die “lewe van ’n partytjie” beskryf en het selfs ’n toneelgroep in die Kaap op die been gebring. 6
  • Daar is ’n straat in Nuweland na haar genoem, Lady Anne Avenue.
  • Die Barnards het ook ’n huis genaamd The Vineyard gehad wat hulle in 1800 gekoop het en dit vorm vandag deel van die Vineyard Hotel & Spa.
Foto: Die Erfenisstigting

Kaapstad het ’n interessante geskiedenis en was menigmaal die tuiste van baie interessante mense. Een so ’n persoon was lady Anne Barnard. Sy was ’n Skotse vrou wat vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap gebly het en daardie vyf jaar het vir haar ’n plek in Suid-Afrika se geskiedenisboeke besorg.

Sy is meer bekend in Suid-Afrika as in haar tuisland, want daar is sy net bekend as die vrou wat die gewilde ballade “Auld Robin Gray” geskryf het. 1

Sy was egter ’n vrou van vele talente en was ’n musikant, sanger, skilder en skrywer. Dis te danke aan haar dat ons meer weet van hoe Kaapstad toentertyd gelyk het aangesien haar skilderye en briewe fyn besonderhede bevat het. 2

Kom ons begin by die begin. Sy is as Anne Lindsay op 8 Desember 1750 in Balcarres House, Fifeshire, Skotland, gebore. Sy was die oudste kind van die graaf van Balcarres, James Lindsay, en sy vrou, Anne. Sy het agt broers en twee susters gehad.

As ’n dogter van ’n adellike, het lady Anne met baie invloedryke mense te doen gehad. Sy het, onder andere, die bekende Skotse digter en skrywer sir Walter Scott en die filosoof David Hume geken. Sy het later na Engeland gegaan, waar sy in Londen gebly het en weer met baie bekende mense omgegaan het. Sy het selfs die prins van Wallis geken wat later koning George IV geword het.

Lady Anne was ’n baie mooi vrou en is glo telkens gevra om te trou – party bronne beweer dis elf terwyl ander dit weer op sowat 20 beraam. Sy het egter eers op die ouderdom van 42 vir iemand ja gesê – en dit was nogal oud vir daardie tyd! Andrew Barnard was glo 12 jaar jonger as sy en was nie ’n adellike nie en is dus in daardie tyd as iemand van ’n laer stand as sy gesien.

Dié weermagkaptein het ook nie baie geld gehad nie en sy moes haar invloed gebruik om vir hom ’n werk te kry.

Hulle is 1763 getroud en hy het ’n pos as ’n koloniale sekretaris gekry en is na die Kaap die Goeie Hoop gestuur. Sy was opgewonde oor die nuwe avontuur en het haar man vergesel.

Die Barnards het in Februarie 1797 na die Kaap vertrek en hul seereis het ongeveer drie maande geduur.

Hulle het in die Kasteel die Goeie Hoop saam met die goewerneur lord Macartney ingetrek. Macartney se vrou het nie saam met hom na die Kaap gegaan nie en lady Anne het dus gasvrou gespeel as hulle onthaal het. Daar was allerlei formele gesellighede soos wanneer hulle weermagamptenare onthaal het, kuiers saam met die Hollandse koloniste en natuurlik reisigers wat per skip in die Kaap aangedoen het.

Lady Anne het vir haarself die uitdaging gestel om die uitsig oor Kaapstad vanaf die kasteel te skilder. Dit het haar drie jaar geneem om te voltooi en dit is so groot dat dit uit sewe dele bestaan.

Vroue in daardie tyd, mag nie als gedoen het wat vroue vandag kan nie en daarom is dit as vreemd gesien toe lady Anne slegs ’n paar weke ná haar aankoms Tafelberg uitgeklim het. Sy het boonop in ’n rotspoel by die berg geswem. Dit was ongewoon in haar tyd en vir ’n vrou van haar agtergrond.

Sy was egter nie bang om te ontdek nie en het selfs verskeie reise na die binneland onderneem. Dit was moeilike reise oor onherbergsame gebiede.

Sy en haar man het, byvoorbeeld, vir ’n maand lank in die Boland gereis en, onder meer, Swellendam en die Breederiviermond besoek. Hulle was ook noord na Saldanhabaai, want Anne wou graag die Khoi-mense en die Xhosas daar ontmoet het. Sy het weliswaar nie Xhosa-mense teengekom nie, maar het mooi sketse van die Khoi-mense gemaak. 3

Sy het alles wat sy gesien en ervaar het, neergeskryf of geteken en dit gee ons vandag ’n goeie blik op die samelewing van daardie tyd.

Sy het selfs oor kwessies geskryf, soos die behandeling van die plaasarbeiders en die omstandighede van die slawebevolking in die Kaap. 4

Lady Anne was sosiaal en het graag saam met die Kaapse mense gekuier. Haar briewe gee vir ons ’n idee van hoe vroue in daardie tyd in die Kaap geleef het en hoe die huise van die plaaslike inwoners gelyk het. Sy het byvoorbeeld ook Stellenbosch besoek en vertel in haar briewe van die pragtige dorp.

Sy was baie lief vir die natuur en het in haar briewe ook oor die verskillende bome en plante geskryf.

Lord Macartney het vir die Barnards ’n regeringshuis geskenk, wat hulle Paradise genoem het. Dit het op ’n heuwel in die Nuweland-gebied gestaan. 5

Die Barnards was gelukkig onder Macartney se bewind, maar nadat hy siek geword het en na Engeland moes terugkeer, is die kolonie onder die beheer van generaal Dundas geplaas. Hy en Barnard het nie oor die weg gekom nie en hy het Barnard se lewe moeilik gemaak.

’n Nuwe goewerneur, sir George Yonge, is aangestel, maar dinge het toe net vererger. Hy was glo korrup en lady Anne het dit gerapporteer dat Yonge omkoopgeld aanvaar het.

Hy het sy werk verloor, maar in 1801 het Brittanje die kolonie aan Nederland teruggegee en dit het beteken dat ook Barnard sy pos verloor het.

Lady Anne het in Januarie 1802 terug na Engeland gereis om vir haar man werk te soek, terwyl Barnard in die Kaap gebly het om sake aan die Hollanders oor te gee. Dit het omtrent ’n jaar geduur.

Barnard het na Engeland teruggekeer, maar kon steeds nie ’n werk vind nie. En toe hy uiteindelik ‘n pos kry, was dit een wat hy en sy vrou nie wou gehad het nie. Hulle het hom weer na die Kaap gestuur omdat die Kaap toe weer onder Britse beheer geplaas is.

Lady Anne het by die owerhede gepleit dat haar man ’n ander pos moes kry omdat sy gesondheid nie goed was nie. Sy het gevoel dat dit in die Kaap verder sou versleg.

Hy moes egter gaan en is gevolglik Kaap toe, maar sy gesondheid het daar verder agteruitgegaan en hy is op 27 Oktober 1807 oorlede.

Lady Anne was verpletter deur sy dood en het die owerhede daarvoor blameer. Sy was vir die res van haar lewe alleen, maar het wel na haar man se drie dogters wat voor hul huwelik gebore is omgesien. Een was Christina Douglas, die dogter van ’n slawevrou, en sy is na Engeland gestuur om daar by lady Anne te bly.

Sy het met die hulp van een van die meisies aan memoires oor haar lewe gewerk. Haar familie was glo baie bekommerd oor die inhoud daarvan en was bang dat dit skande oor die familie sou bring. Lady Anne het egter gesê dat dit nooit gepubliseer moes word nie en dit het ook nie gebeur nie.

Sy is op 6 Mei 1825 in haar huis in Berkely Square oorlede.

Woordbank

adellike Dit is mense wat aan die hoogste stand behoort.
ballade ’n Verhalende gedig met of sonder ’n refrein wat ’n romantiese episode behandel.
goewerneur Dit is iemand wat oor ’n gebied die gesag voer.
kolonie Dis ’n gebied waar ’n klomp mense hulle in ’n nuwe land vestig en ’n gemeenskap vorm.
koloniste Dis een van ’n groep mense wat na ’n ander land gaan om daar te woon. 7

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om meer te weet van lady Anne Barnard

Die lewe van lady Anne Barnard

Meer oor die Kasteel die Goede Hoop

Jan van Riebeeck se koms

Foto: iStock
Gepubliseer op: 31 Oktober 2022 | Bygewerk op 10 November 2023