Vinnige feite

  • Alexander Graham Bell en Elisha Gray het albei aansoek gedoen vir patente vir telefoonontwerpe op 14 Februarie 1876. Ongelukkig vir Gray, ʼn elektriese ingenieur en medestigter van die Western Electric Manufacturing Company, het Bell se prokureur sy papierwerk glo eerste ingedien. Bell se aansoek is aangeteken as die vyfde wat daardie dag deur die patentkantoor ontvang is, terwyl Grey sʼn 39ste was. 14
  • Die ink op Bell se patentaansoek vir die telefoon was skaars droog toe die eerste van sowat 600 regsgedinge teen hom begin het. Vyf het in die Amerikaanse hooggeregshof gedraai, wat uiteindelik Bell se patentreg in een van die langste patentgevegte in die Amerikaanse geskiedenis bekragtig het. 15
  • Antonio Meucci, ʼn Italiaanse immigrant, het in 1849 ook aan die ontwerp van ʼn “pratende telegraaf” gewerk. In 1871 het hy ʼn voorbehoud (“aankondiging van ʼn uitvinding”) vir dié ontwerp ingedien, maar weens sy ekonomiese omstandighede kon hy glo nie ʼn patent registreer nie. Sy rol in die uitvinding van die telefoon is oor die hoof gesien totdat die Amerikaanse huis van verteenwoordigers op 11 Junie 2002 ʼn resolusie aangeneem het om Meucci se bydrae en werk te vereer. 16
  • Bell het van sy geld gebruik om die tydskrif Science te ondersteun, wat later die amptelike publikasie van die American Association for the Advancement of Science geword het. Bell was in 1888 ook die medestigter van die National Geographic Society en van 1898 tot 1903 dié organisasie se president. In dié tyd het hy die organisasie se vaal publikasie in ʼn tydskrif propvol bekroonde foto’s en fassinerende stories omskep. 17
  • Toe die Amerikaanse president Rutherford B. Hayes 18 die eerste telefoon gesien het, was sy woorde: “Dis ʼn ongelooflike uitvinding, maar wie sal so iets ooit wil gebruik?” 19
  • Bell wou nie ʼn telefoon in sy studeerkamer gehad het nie omdat hy dit as steurend beskou het. 20

Ons bring vandag so baie ure op ons fone deur dat dit byna ondenkbaar is om jou ʼn tyd sonder telefone voor te stel. Minder as 150 jaar gelede was daar nie sprake van heerlike geselsies met vriende en familie wat ver woon nie, wat nog te sê van ʼn vinnige oproep om meer oor môre se wiskundetoets uit te vind!

Danksy die vindingrykheid van die Skotse uitvinder Alexander Graham Bell was afstand skielik nie meer ʼn probleem nie, want mense kon mekaar bel! Alexander Graham Bell was egter veel meer as net die uitvinder van die telefoon; die feit dat beide sy ma en later ook sy vrou doof was, het hom regdeur sy lewe gedryf om soveel as moontlik oor die wetenskap van klank te wete te kom.

Hoewel sy vrou hom die noemnaam Alec gegee het, het Bell by baie mense as “die vader van die dowes” bekendgestaan. 1

Die huis waar Bell saam met sy ouers gewoon en die ontwerp vir die telefoon gefinaliseer het. Vandag is dit ‘n museum.

Die begin van groot dinge

Alexander Bell is op 3 Maart 1847 in Edinburgh, Skotland, gebore en was die middelste van drie kinders, almal seuns. Albei sy broers is aan tuberkulose dood. Sy pa was prof. Alexander Melville Bell, en sy ma was Eliza Grace Symonds Bell. 2

Alexander wou vreeslik graag ʼn middelnaam gehad het, miskien om homself te onderskei van sy pa en oupa, wat albei Alexander genoem is. Op sy elfde verjaarsdag het Bell se pa hom toegelaat om die middelnaam “Graham” aan te neem ter ere van Alexander Graham, ʼn familievriend. 3

Alexander se pa en oupa was bekend daarvoor dat hulle mense geleer het om Engels duidelik en met die korrekte uitspraak te praat. ʼn Mens noem dit ook “welsprekendheid” (eloquence) of “elokusie” (elocution). 4 Sy pa het gereeld hieroor geskryf en is veral bekend vir sy skryfwerk oor “sigbare spraak”. Hy het dikwels geskryf oor maniere om mense te leer wat doof is en nie kan praat nie. Hy het verduidelik hoe hierdie mense kan leer om te luister en praat deur te kyk hoe ander se lippe beweeg wanneer hulle praat.

Alexander Graham Bell het die Royal High School of Edinburgh bygewoon en op die ouderdom van vyftien gegradueer. Op sestien het hy werk as student en onderwyser van welsprekendheid en musiek by Weston House Academy gekry en bring die volgende jaar aan die Universiteit van Edinburgh deur. Terwyl hy nog in Skotland was, het hy al meer belang begin stel in die wetenskap van klank (akoestiek) met die hoop om sy dowe ma te kan help. Van 1866 tot 1867 was hy ʼn onderwyser by Somersetshire College in Bath, Somerset.

In 1870, op 23-jarige ouderdom, verhuis die gesin na Kanada waar hulle hul in Brantford, Ontario, vestig. Dit is hier waar Bell begin eksperimenteer met klank en toestelle soos ʼn harmoniese telegraaf (wat gebruik word om veelvuldige boodskappe oor ʼn enkele draad te stuur) en ʼn fonoutograaf (wat gebruik word om klank op te neem).

Sy pa kry ʼn aanbod om by ʼn groot skool vir doofstommes in Boston, Massachusetts, in die VSA te onderrig, maar hy besluit om vir Alexander in sy plek te stuur. Die jonger Bell begin in 1872 daar skoolhou en word gou regdeur die VSA bekend vir sy werk. Hy het ook onderrig by die Clarke School for the Deaf in Northampton, Massachusetts, en by die American School for the Deaf in Hartford, Connecticut.

Bell saam met sy drie kleindogters.

Toe hy 25 was, het Bell sy skool vir vokale fisiologie en meganika van spraak in Boston geopen waar hy dowe mense leer praat het. Op die ouderdom van 26, hoewel hy nie ʼn universiteitsgraad gehad het nie, word hy ʼn professor in vokale fisiologie en elokusie aan Boston-universiteit se School of Oratory. 5

Hy publiseer gereeld van sy werk en danksy die saadjie van sigbare spraak wat sy pa by hom geplant het, kan duisende doofstommes vandag praat, al kan hulle nie hoor nie.

Een van Bell se studente was Mabel Hubbard, dogter van Gardiner Greene Hubbard, ʼn stigter van die Clarke School for the Deaf. Mabel het op vyfjarige ouderdom doof geword nadat sy skarlakenkoors gekry en byna gesterf het. Bell het in 1873 – toe Mabel 15 jaar oud was – met haar begin werk. Ten spyte van die ouderdomsverskil van 10 jaar, het hulle verlief geraak en is op 11 Julie 1877 getroud. Hulle het vier kinders gehad, Elsie (1878-1964) en Marian (1880-1962), asook twee seuns wat as babas gesterf het.

Mabel se pa was deel van ʼn groep finansiers wat Bell ondersteun het om sy droom van die telefoon te bewaarheid. 6

Alexander en Mabel.

Die “pratende telegraaf”

Veertig jaar voor Alexander Graham Bell se uitvinding van die telefoon is langafstandboodskappe met behulp van ʼn telegraaf (die breinkind van Samuel Morse) gestuur. Dit het gewerk deur elektriese seine met ʼn draad of kabel na ʼn ontvanger te stuur. Bell wou die telegraaf verbeter, en in 1875 ontdek hy dat klank ook met behulp van telegraafdrade oorgedra kan word. 7

Die eerste telefoongesprek is op 10 Maart 1876 in Boston in die VSA tussen Bell en sy assistent, Thomas Watson, gevoer. “Meneer Watson, kom hier, ek wil u sien,” het Bell in sy eksperimentele telefoon aan Watson – wat in ʼn ander kamer, maar buite hoorafstand was – gesê. Die uitdrukking om iemand te laat aanhou (“to put someone on hold”) is aan Bell te danke wat vir Watson die telefoon se gehoorstuk gegee en gesê het: “Hou hierdie vas”.

Tussen 1877 en 1878 is die eerste telefoonlyn gebou, die eerste skakelbord geskep en was die eerste telefoonsentrale in werking. Drie jaar later was byna 49 000 telefone in gebruik. In 1880 het Bell se maatskappy saam met ʼn ander gesmelt en in 1885 is American Telegraph and Telephone Company (AT&T) gestig. Dié maatskappy het telefoniese kommunikasie vir die volgende eeu oorheers. Op 25 Januarie 1881 bring Bell en Thomas Edison die Oriental Telephone Company op die been. 8

Teen 1900 was daar byna 600 000 telefone in Bell se telefoonstelsel; teen 1905 was daar 2,2 miljoen telefone en teen 1910 sowat 5,8 miljoen. Teen 1948 was daar 30 miljoen telefoonlyne net in die Verenigde State van Amerika (VSA) en teen die 1960’s was daar meer as 80 miljoen telefoonaansluitings in die VSA en 160 miljoen in die wêreld. Die koms van die eerste selfoonnetwerk in 1993 was egter die begin van die einde vir landlyne.

‘n Monument wat ter ere van Bell in Kanada opgerig is.

Bell is op 2 Augustus 1922 op die ouderdom van 75 jaar aan diabetes in Nova Scotia in Kanada oorlede. Met sy begrafnis twee dae later, was al die telefone in die VSA en Kanada vir ʼn minuut lank tjoepstil uit eerbied en bewondering vir dié merkwaardige man se baanbrekerswerk: professor én pionier. 9

Uitvinder van vele

Hoewel Bell sekerlik die meeste bekendheid verwerf het vir sy uitvinding van die telefoon en sy werk om dowes met spraak te help, het hy sowat 30 gepatenteerde uitvindings in sy leeftyd gehad, onder meer vir ʼn toestel om ysberge op te spoor.

Hier is nog drie van die vernaamste dinge wat Bell uitgevind het:

  • Bell het die eerste metaalverklikker – wat gebruik is om ʼn koeël binne-in James Garfield, die 20ste Amerikaanse president, te probeer vind – ontwikkel. 10 Garfield is op 2 Julie 1881 in ʼn sluipmoordaanval op ʼn treinstasie in Washington geskiet en is op 19 September 1881 dood. 11
  • Bell het ook die eerste oudiometer ontdek. Dit is ʼn toestel wat vandag nog gebruik word om mense se gehoor te toets en gehoorprobleme op te spoor. Om die volume van klank te meet, word desibel gebruik. “Bel” in desibel verwys natuurlik na Alexander. Een desibel is gelykstaande aan een tiende van ʼn bel. 12
  • Bell het ʼn groot belangstelling in lugvaart gehad. Sy droom van vliegtuie wat van die water af kon opstyg, het hom geïnspireer om skeerbote (hydrofoil) wat teen ʼn hoë spoed oor die wateroppervlak kon swiep, te ontwerp. Sy HD-4-model het tydens ʼn 1919-toets op ʼn meer in Nova Scotia ʼn snelheid van meer as 110 km/uur bereik. Dié waterspoedwêreldrekord het vir meer as ʼn dekade gestaan. 13

Woordbank

skeerbote Boot of kleinerige skip met vlerkvormige vinne of lemme wat onderaan die romp bevestig is, en wat die boot se romp teen ‘n sekere snelheid uit die water lig sodat sleur verminder word en daar teen hoër snelhede as normale vaartuie beweeg kan word.
bel Eenheid van geluidsintensiteit.
desibel Eenheid vir die meting van die luidheid van klanke. Een desibel is gelykstaande aan een tiende van ʼn bel.
oudiometer Toestel om die skerpte van die gehoor te meet; gehoormeter.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Alexander Graham Bell

Kyk hierdie video’s om nog meer wil leer oor Alexander Graham Bell

Alexander Graham Bell: ʼn Lewe van innovasie en omstredenheid

Alexander Graham Bell vir kinders: Leer alles oor hierdie bekende uitvinder

Die verhaal van Alexander Graham Bell

 

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Maart 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024