Vinnige feite

 

  • Terwyl Marx in België was, het hy sy Pruisiese burgerskap opgegee. 5 Hy het dus daarna gewoon as iemand sonder ’n nasionaliteit, amper soos ’n banneling sonder sy eie land.1
  • Terwyl hulle in Londen gewoon het, was die Marx-familie só arm dat Marx vals name moes gebruik om van skuldeisers weg te kruip. Daar was dae wat Marx nie die huis kon verlaat nie, want sy vrou het sy broeke verpand sodat hulle kon geld hê om kos te koop. 11
  • Die finale woorde van die Manifes is: “Laat die heersende stand bewe van vrees oor ’n kommunistiese revolusie. Buiten hul boeie het die proletariaat niks om te verloor nie. Hulle gaan die wêreld wen. Werkers van alle lande, verenig!” 12
  • Daar was net 11 mense by Marx se begrafnis. 13
  • In die beroemde boek van George Orwell, Animal Farm, is die karakter Old Major op Marx gebaseer. 13
Foto: iStock

Die laat 19de en vroeg 20ste eeu was ’n era van grootskaalse verandering in Europa. Hierdie veranderinge was telkens deur die idees van denkers of filosowe aangevuur. Baie mense glo dat niemand ’n groter invloed op dié veranderings gehad het as die Duitse filosoof en revolusionêre denker Karl Marx nie.

Marx is die vader van die politieke ideologie wat na hom vernoem is: Marxisme, en die latere politieke bewegings wat daaruit gevloei het, naamlik sosialisme en kommunisme.

Sy idees het rewolusies teweeggebring, tot die omverwerping van eeue-oue dinastieë gelei, en het die grondslag gelê vir die politieke stelsel waaronder om en by 1 uit elke 5 mense op aarde vandag woon. 1

Vroeë lewe

Karl Heinrich Marx is op 5 Mei 1818 in Trier in Pruise (vandag Duitsland) gebore. 2 Hy was een van nege kinders van Heinrich Marx, ’n suksesvolle prokureur, en Henrietta Pressberg. 1

Die Marx-familie was Jode, en baie van Marx se voorouers was rabbi’s. 3 Sy pa het egter in 1816 Christenskap aangeneem om diskriminasie teen Jode vry te spring. Marx is as Christen gedoop toe hy ses was, 4 maar hy het later ’n ateïs geword. 5

Marx was in sy skooljare maar ’n gemiddelde student. Hy het tuisonderrig ontvang tot hy 12 was, en het daarna vir vyf jaar die Friedrich-Wilhelm Gimnasium, ’n hoërskool in Trier, bygewoon. 4

Universiteitsjare

Marx het sy studentejare by die Universiteit van Bonn afgeskop. Die universiteit het ’n lewendige, rebelse kultuur gehad waaraan Marx entoesiasties deelgeneem het. Hy is onder meer vir dronkenskap en rusverstoring in hegtenis geneem en het aan ’n onwettige tweegeveg deelgeneem. Aan die einde van sy eerste jaar het sy pa aangedring dat hy na die meer ernstige Universiteit van Berlyn oorgeplaas word. 4

In Berlyn het hy regte en filosofie gestudeer. Hy het in die idees van Hegel, 4 ’n Duitse filosoof, begin belangstel, veral waar Hegel gepraat het oor die belangrikheid van vryheid en rede. 6 Marx het by ’n studentegroep genaamd die Jong Hegeliërs betrokke geraak. Hulle het politieke en godsdienstige instansies, soos die regering en die kerk, gekritiseer. Sy pa was baie bekommerd oor hoe radikaal sy seun geraak het, en het sonder sukses vir Marx daarteen probeer waarsku. 4

Ten spyte van sy politieke aktiwiteite het hy sy studies in Berlyn voltooi, en in 1841 sy doktorsgraad in filosofie by die Universiteit van Jena ontvang. 2

Vroeë werksjare

As gevolg van sy radikale politieke idees het die Pruisiese regering universiteite verbied om vir Marx ’n pos as dosent aan te bied. Hy het dus as joernalis begin werk, en in 1842 die redakteur van die Rheinische Zeitung, ’n koerant in Keulen (in Engels: Cologne), geword. 3 Omdat die koerant die regering gekritiseer het, het hulle die koerant verban. 5

Marx het as redakteur bedank en vier maande later Parys toe getrek. 4

Jare in Parys, 1843-1845

In 1843 was Parys die politieke middelpunt van Europa. 4 Dit was ’n broeikas van radikale idees en Marx het onmiddelik ingepas. 3

Hy het aanvanklik saam met ’n vriend ’n politieke tydskrif gestig, maar hulle het vasgesit oor wat om te publiseer en die tydskrif is op die ou end net een keer uitgegee. 4

In Augustus 1844 het hy die denker Friedrich Engels ontmoet. Hulle het eintlik vantevore al ontmoet, maar hierdie ontmoeting was ’n beslissende oomblik in beide se lewe. Engels sou Marx se lewenslange medewerker en beste vriend word. 4

Marx en Engels

Die Franse regering, wat wou keer dat radikale of revolusionêre idees in Frankryk versprei, het Marx as ’n bedreiging beskou. Hulle het hom dus uit Frankryk verban. 2

Hy het na Brussel, die hoofstad van België, getrek, waar Engels by hom aangesluit het. 3

Jare in Brussel, 1845-1848

In Brussel is Marx blootgestel aan vroeë sosialistiese idees. Hy het sy eie idees begin neergeskryf, maar kon nie ’n uitgewer kry om sy werke te publiseer nie. Die boeke wat hy in dié tydperk geskryf het, soos Die Duitse Ideologie, is eers ná sy dood gepubliseer. 2

Marx het ook in die politiek betrokke geraak. Hy het byvoorbeeld in 1846 ’n komitee gestig sodat sosialiste van oral in Europa met mekaar kon skakel. 4

Sosialiste in Engeland, onder meer beïnvloed deur Marx se idees, het daar ’n politieke party, die Kommunistiese Liga, gestig. In 1847 het hulle vir Marx en Engels gevra om vir hul party ’n manifes te skryf. 4

Die Kommunistiese Manifes (in Engels: The Communist Manifesto; in Duits: Manifest der Kommunistischen Partei), 7 is in 1848 gepubliseer. Dit word beskou as een van dié invloedrykste dokumente van die 19de eeu, want dit het die beginsels van Marxisme vir die eerste keer stelselmatig uitgelê. 4

In 1848 het daar in Europa ’n reeks opstande uitgebreek wat vandag as die 1848-revolusies bekendstaan. 3 Marx het België verlaat, maar dit was kort voor hy in elk geval uit België verban sou word. Hy het teruggekeer Frankryk toe in die hoop dat ’n revolusie daar sou uitbreek, maar is ook daar verban. Pruise het geweier dat hy die land binnekom. Hy het toe besluit om Londen toe te trek. 4

Lewe in Londen

Marx het in 1849 in Londen aangekom, en sou die res van sy lewe daar deurbring.

Marx het as joernalis gewerk, en het tussen 1852 en 1862 onder meer vir die New York Daily Tribune artikels geskryf. Dit het egter nie vir hom genoeg inkomste ingebring nie, en sy gesin was reeds baie arm. 4 Marx was diep in die skuld en hulle is ’n paar keer uit hul huise gesit. 7 Engels, wat ryk was, het gehelp om Marx en sy familie te onderhou. 2

Op politieke gebied het Marx ’n nuwe hoofkwartier gestig vir die Kommunistiese Liga. 4 Hy was ook betrokke by die Internasionale Werkersvereniging (in Engels: International Workingmen’s Association), 5 ’n kommunistiese organisasie wat meer bekend was as die Eerste Internasionaal (in Engels: First International). 3

In 1867 het hy sy belangrikste boek, Das Kapital (in Engels: Capital) geskryf. 4 Die boek bestaan uit drie volumes. Die eerste volume is in sy leeftyd gepubliseer, maar die ander twee is eers ná sy dood deur Engels geredigeer en toe ook gepubliseer. 2 Die boek bevat Marx se idee oor wat die ideale ekonomiese beleid is vir lande om te implementeer. 4

Persoonlike lewe en laaste jare

Marx het sy vrou, Jenny von Westphalen, as kind ontmoet. 8 Sy was ’n gewilde meisie uit ’n gerespekteerde familie in Trier, vier jaar ouer as hy. 4 Haar familie was van ’n hoër klas as syne, en haar pa was die baron von Westphalen. Hy het egter goed met haar pa klaargekom. 3

Karl se huis

Hulle het in 1836 verloof geraak, maar eers in Junie 1843, ná hy as redakteur in Keulen bedank het, getrou. 4

Marx se vrou, Jenny

Dit was ’n gelukkige huwelik. Hulle het sewe kinders gehad, waarvan vier dogters was. Ongelukkig is minstens vier van hul kinders jonk dood. 9

Karl Marx en sy dogter, Jenny

In die laaste 10 jaar van sy lewe was Marx se gesondheid baie swak. 3 Sy vrou en ook sy oudste dogter is in 1881 dood en dit was vir hom verpletterend. 2

Hy het op 14 Maart 1883 aan borsvliesontsteking gesterf, 4 en is in die Highgate-begraafplaas in Londen begrawe. 2

Sy oorspronklike graf het net ’n gewone grafsteen gehad, maar in 1954 het die Britse Kommunistiese Party vir hom ’n groot grafsteen, wat sy borsbeeld ingesluit het, laat oprig. Op die grafsteen pryk die beroemde woorde uit die Kommunistiese Manifes: “Werkers van alle lande, verenig!” 4

Wat was Marx se idees?

Marx se teorieë oor die samelewing, ekonomie, politiek en geskiedenis word Marxisme genoem. 1

Sy sentrale idee is historiese materialisme. Volgens dié idee gebeur geskiedenis slegs as gevolg van mense se ekonomiese aktiwiteite. Ekonomiese aktiwiteite is daardie aktiwiteite wat mense doen om geld te maak sodat hulle kan oorleef, soos om te werk. Marx het geglo dat selfs geloof aan ekonomiese redes toegeskryf kon word. 10

Marx het die geskiedenis van die mensdom in fases verdeel en het geleef in die fase van nywerheidskapitalisme. 3 [Lees meer hier oor kapitalisme.]

In die fase van nywerheidskapitalisme was daar wat Marx genoem het die diktatorskap van die bourgeoisie, of middelklas. 1

In hierdie fase besit en beheer die bourgeoisie al die middele van produksie (in Engels: modes of production), met ander woorde alles in die land se ekonomie wat enigiets kon skep of bou. 1 Die bourgeoisie gebruik die mag wat hulle het (omdat hulle alles besit) om die proletariaat, of die werkersklas, te dwing om te werk teen baie lae lone.

Op hierdie manier word die bourgeoisie al hoe ryker al doen hulle nie enige werk nie. 5 Die proletariaat, wat die groep is wat wel werk doen, oftewel dinge produseer, het geen mag nie, en daarom is dit maklik vir die bourgeoise om hulle uit te buit.

Marx het voorspel dat die proletariaat op die ou end moeg sou raak vir die uitbuiting, en dan ’n revolusie sou begin wat die bourgeoise tot ’n val sou bring. Dit sou die einde van die fase van nywerheidskapitalisme wees, en ’n nuwe fasie inlui: sosialisme. In hierdie fase sou die bourgeoisie verdwyn en die proletariaat sou nou die heersende stand wees, 5 met ander woorde daar sou nou ’n diktatorskap van die proletariaat wees. 1

In die laaste, en finale, fase van die geskiedenis sou die proletariaat ook verdwyn. Daar sou nou ’n standlose, regeringlose samelewing wees. Dié fase se naam was kommunisme. 1

Marx se nalatenskap

Marx het nie in sy eie leeftyd gesien hoe enige van sy idees geïmplementeer word nie. Hy het wel ondersteuners gehad, maar ten tye van sy dood was hy maar onbekend. 1

Sy teorieë het egter ’n generasie van denkers en leiers besiel. Hulle het in sy naam ’n reeks suksesvolle revolusies van stapel gestuur. Die bekendste hiervan was die Russiese Revolusie in 1917. China het ook kommunisme aangeneem en in 1949 ’n kommunistiese staat gestig. In beide gevalle het die leier, in Rusland Vladimir Lenin en in China Mao Zedong, vlae uitgestal waarop hul gesigte saam met Marx s’n gepryk het. 1

Dit is egter belangrik om te weet dat die nuwe generasies sy idees soms só baie verander en uitgebrei het dat die regerings wat hulle geskep het, glad nie noodwendig gelyk het soos die wêreld wat Marx in die vooruitsig gestel het nie. 3

Woordbank

afkeur Om iets nie goed te keur nie.
ateïs Iemand wat nie in die bestaan van God glo nie.
banneling Iemand wat verban is uit ’n plek.
baron ’n Adellike titel, wat beteken dat jy tot die hoogste stand behoort.
beleid ’n Program wat die beginsels van ’n groep bevat.
besiel Om iemand te inspireer.
bourgeoisie Die middelklas.
diktatorskap Stelsel waar een mens of groep al die mag het.
dinastieë ’n Regerende familie, gewoonlik koninklik.
fase ’n Stadium van iets.
filosowe Iemand wat soek na wysheid, kennis, en die wette van die wêreld.
gekritiseer Om iets te oordeel, veral deur die slegte daarvan uit te wys.
grondslag Die basis of fondament.
historiese materialisme Die idee dat alle menslike vooruitgang op ekonomiese aktiwiteite gebaseer is.
hoofkwartier Basis of die plek van waar jy iets reël.
ideale Iets wat volmaak is en nie foute het nie.
ideologie Die beginsels of idees van ’n politieke of maatskaplike stelsel oor hoe om die wêreld te organiseer.
implementeer Toepas en laat gebeur.
instansies Openbare liggaam.
kommunisme ’n Uiterste vorm van sosialisme, waar daar geen privaat besit of geld is nie en alle mense heeltemal gelyk is.
loon Die geld wat jy elke dag, week of maand kry vir werk wat jy doen.
manifes ’n Dokument waarin ’n politieke party hul doel en strewe uiteensit.
Marxisme Die idees van Karl Marx.
nywerheidskapitalisme Ekonomiese stelsel waar wins wat gemaak word, in nywerhede die belangrikste aspek is.
omverwerping Om iets te laat misluk.
proletariaat Die werkersklas, oftewel die laagste stand in die samelewing.
publiseer Wanneer ’n boek uitgegee word.
rabbi Joodse geestelike leier.
radikaal As jy tot die uiterste sal gaan om politieke verandering teweeg te bring.
rebelse Om opstandig en dwarstrekkerig te wees.
redakteur Die leier van ’n koerant wat besluit wat gepubliseer word.
rede Die vermoë om oor iets te dink en daaroor te redeneer.
geredigeer Om iets in sy finale vorm te sit.
revolusionêre Om idees voor te staan wat ’n algehele ommekeer in die politiek tot gevolg sal hê.
sosialisme Die idee van ’n samelewing wat privaat besit wil afskaf en alle inwoners aan mekaar wil gelyk stel.
stand ’n Groep mense in die samelewing.
teorieë ’n Idee waaroor iemand nog net gedink het, dit is nog nooit uitgevoer nie.
tweegeveg Geveg tussen twee mense, gewoonlik met swaarde of pistole.
uitgewer Iemand wat boeke publiseer.
van stapel stuur Om met iets te begin.
verban Wanneer jy iemand verbied om iets te doen of êrens te woon.

Lees hierdie artikels om meer te wete te kom oor Karl Marx

Kyk hierdie video’s vir nog meer inligting

Leer oor verskillende tipes regerings

Wat is sosialisme?

Opkoms van kommunisme

Karl Marx: filosoof, ekonoom en sosiale aktivis

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Oktober 2023 | Bygewerk op 27 Oktober 2023