Vinnige feite

  • Albert Grundlingh het ’n biografie oor hom geskryf, Slabbert: Man on a Mission.
  • Van Zyl Slabbert se vriende het hom “Van” genoem.
  • Slabbert was ’n baie goeie sportman en het selfs in 1962 vir die Westelike Provinsie rugby gespeel.
  • In dieselfde jaar wat hy kanselier by die US geword het, kry hy ’n hartaanval en moes ’n pasaangeër kry.
  • Slabbert het vier boeke geskryf: The Last White Parliament (1985), The System and the Struggle (1990), Tough Choices (1999) en The Other Side of History (2006). Hy was ook die medeskrywer van South Africa’s Options (1979) saam met David Welsh en Comrades in Business (1997) saam met Heribert Adam en Kogila Moodley.
  • Die US se biblioteek bevat ’n versameling van meer as 4 000 persoonlike stukke wat aan Slabbert behoort het. Dit sluit korrespondensie, toesprake, lesings, artikels en dokumente in. Die versameling is in 2014 aan die universiteit deur sy familie geskenk. 5
  • Lede van die PFP is die “Progs” genoem. Nog ’n bekende Prog is Helen Suzman (1917-2009).
Foto: iStock

Dr. Frederik van Zyl Slabbert was ’n Suid-Afrikaanse politikus, akademikus en sakeman. Hy was tydens die apartheidsjare die leier van die Progressiewe Federale Party (PFP), ’n opposisieparty. Dit is dus ’n party wat teen die regerende party in die parlement gestaan het. Hy het op 39 die leier van die PFP geword, wat hoofsaaklik ’n Engelssprekende liberale party was en was sterk teen die destydse regerende Nasionale Party se beleide gekant.

Grootwordjare en die akademie

Slabbert en sy tweelingsuster, Marcia, is op 2 Maart 1940 in Pretoria gebore en het in Pietersburg (nou Polokwane in die Limpopo-provinsie) grootgeword. Hul ouers se name was Barbara Zacharia Hagen en Petrus Johannes Slabbert, maar hulle is uit hul ouers se sorg verwyder en het grotendeels by familielede grootgeword. Hulle was van tienjarige ouderdom af in koshuise en was glo in drie laerskole voordat hulle na die Hoërskool Pietersburg toe is waar Slabbert hoofseun en sy suster, Marcia, hoofmeisie geword het. 1

Slabbert is as ’n sterk leier beskryf en was ook kaptein van die eerste rugby- en krieketspan. Hy wou ’n predikant word en het ná skool vir ’n BA-graad in klassieke tale aan die Universiteit van die Witwatersrand ingeskryf.

Slabbert het egter sy studies daar gestaak en in sy tweede jaar na die Universiteit van Stellenbosch (nou net Universiteit Stellenbosch, oftewel US) oorgeskuif waar hy sosiologie, Latyn, Grieks en Hebreeus gestudeer het. Hy het egter die jaar daarop besluit om sy teologiese studies opsy te skuif en eerder op sosiologie te fokus. Hy het in 1964 sy MA-graad met onderskeiding ontvang. Hy het ook in daardie tyd die eerste inwonende hoof van die manskoshuis Majuba geword.

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

Slabbert het sy doktorsgraad in 1967 aan die US verwerf met ’n tesis genaamd “Structural Functional Analysis in Theory of Action – A Methodological Enquiry”. In 1973 is hy as dosent in sosiologie aangestel. Dit was juis deur sy werk in sosiologie en sy kontak met swart mense tydens sy studies wat sy belangstelling in politiek geprikkel het. 2

Hy het geglo dat apartheid verkeerd was en was krities jeens die regering se apartheidsbeleid. Hy was in daardie tyd ook ’n kandidaat vir die studenteraad, maar het nie gewen nie omdat hy glo te liberaal was. Hy het selfs probeer om ’n studentekoerant te begin wat kritiek teen die regering lewer.

Slabbert is aanvanklik as ’n tydelike junior dosent by die departement van sosiologie aan die US aangestel, maar het in 1965 ’n permanente dosent geword. In 1969 het hy sosiologie by die Rhodes-Universiteit op Grahamstad begin gee. Met sy terugkeer na Stellenbosch het hy as senior dosent begin werk en in 1972 het hy weer na die Universiteit van Kaapstad oorgeskuif waar hy ’n departementshoof was. Hy is in 1973 by die Universiteit van die Witwatersrand as hoof van die departement sosiologie aangestel. Later word hy ’n dosent by die Wits-sakeskool en het ook as ’n politieke ontleder bekendgeword.

Op 12 Mei 2008 is hy as kanselier van die US aangestel, ’n amp wat hy tot sy afsterwe op 14 Mei 2010 beklee het.

Sy politieke loopbaan

Slabbert het in die jare sewentig by die Progressiewe Party (PP) aangesluit. Die PP het later die Progressiewe Federale Party (PFP) geword. Hy is in 1974 benoem om Rondebosch in die nasionale verkiesing te verteenwoordig. Hy het nie verwag om ’n setel te wen nie, maar het wel die Nasionale Party-verteenwoordiger met 1 600 stemme verslaan. Hy het die setel in 1977 en 1981 behou.

Handelsmerk van die Progressiewe Federale Party

Van Zyl Slabbert het ’n groot rol gespeel om die PFP se ideologie te ontwikkel en was die voorsitter van die grondwetlike komitee wat die party se konsepbeleid opgestel het. Hy het in 1979 die leier van die party geword en dus ook die parlementêre opposisielid. Hy het hierdie pos tot 1986 behou. Hy en Mangosuthu Buthelezi van die Inkatha Vryheidsparty het ook die Nasionale Konvensie-beweging van stapel gestuur om druk op die regering toe te pas om met alle politieke groepe te onderhandel. Dit het egter nie geslaag nie. Slabbert het in 1986 uit die parlement bedank, want hy het gevoel dat niks gaan verander nie en dat die parlement ’n irrelevante instelling geword het.

Hy het daarna saam met ’n voormalige PFP-kollega Alex Boraine die Instituut vir ’n Demokratiese Alternatief vir Suid-Afrika (Idasa) gestig. Slabbert het sterk daaroor gevoel dat swart en wit mense in die ou bedeling moes onderhandel en het in 1987 namens Idasa, kontak met die ANC gemaak. Dit het gelei tot die Dakar-konferensie tussen die ANC en ’n groep van hoofsaaklik Afrikaner politici, akademici en sakelui. Groot omstredenheid in Suid-Afrika is hierdeur geskep.

Slabbert is in 2002 deur president Thabo Mbeki aangewys om ’n span te lei wat die moontlikheid van ’n nuwe kiesstelsel vir Suid-Afrika ondersoek het. Sy aanbevelings is egter nooit vir ’n nuwe stelsel aanvaar nie.

Thabo Mbeki

Hy was ook medevoorsitter van die onderhandelings van 1991 tot 1994 wat tot die stigting van die metropolitaanse munisipaliteit van Johannesburg en omstreke gelei het. 3

Sake

Slabbert het in die jare negentig die sakewêreld betree en voorsitter van onder meer Caxton-uitgewers, Adcorp Holdings en Metro Cash & Carry geword. Hy was ook op verskeie direksies en was in 1990 die medestigter van , ’n swart beleggingstrust. 4

Vererings

Slabbert is verskeie kere in sy lewe vir sy politieke bydrae en akademiese werk vereer.

Hy was ’n besoekende akademikus aan die Massachusetts Institute of Technology (MIT) en het die American Cultural Exchange Scholarship en die Abe Bailey Travel Scholarship ontvang.

Massachusetts Institute of Technology (MIT)

Hy was ’n navorsingsgenoot aan die Bergstraesser-instituut vir sosiale navorsing in Freiburg, Wes-Duitsland, asook aan die All Soul’s College, Universiteit van Oxford in Brittanje.

Slabbert het ook eredoktorsgrade van die in Kanada en die Universiteite van KwaZulu-Natal en die Vrystaat ontvang.

Persoonlike lewe

Sy eerste vrou se naam was Mana Slabbert (née Jordaan) en sy was ook ’n sosioloog. Hulle het twee kinders gehad, Tania en Riko. Slabbert en Mana het in Junie 1983 geskei en op 21 April 1984 het Slabbert met Jane Stephens in Swaziland getrou. Slabbert was baie lief vir die Afrikaanse kultuur, veral Afrikaanse poësie. Hy was bekend vir sy skerp sin vir humor en was ’n kranige padloper. Hy sterf op 14 Mei 2010 op 70-jarige ouderdom in Johannesburg.

Woordbank

akademikus Dit is iemand wat geleerd is en dikwels klas aan ’n universiteit gee.
biografie ’n Beskrywing van iemand se lewe in boekvorm. 6
ideologie Dit is die idee of idees, ideële oorweging wat die grondslag vorm van een of ander staatkundige of ekonomiese teorie, program of stelsel.
irrelevante Wat nie ter sake is nie.
kritiek Die beoordeling van die waarde van iets of iemand, veral deur te sê wat jy dink, minder goed is.
liberale Wat baie waarde heg aan vryheid, veral die vryheid en regte van die individu, en wat verdraagsaam en onbevooroordeeld is.
setel ’n Bepaalde gebied (en die mense wat daar woon) wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word. 7
sosiologie Die wetenskap wat die aard, ontwikkeling, instellings, struktuur, funksie, en dies meer van die menslike samelewing bestudeer.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s oor Van Zyl Slabbert

Frederik van Zyl Slabbert se lewe

Van Zyl Slabbert: ’n Man op ’n missie

Sandra Prinsloo loer in by Van Zyl Slabbert

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024