Vinnige feite

  • Die IVP is oorspronklik as ‘n Zoeloe- kulturele beweging gestig.
  • Mangosuthu Buthelezi was die stigter en leier van die IVP tot en met sy aftrede in 2019.
  • Die IVP ondersteun die desentralisering van regering en beklemtoon die belangrikheid van plaaslike bestuur.

Die Inkatha Vryheidsparty (IVP) is ’n Suid-Afrikaanse politieke party wat ’n belangrike rol in die land se geskiedenis gespeel het. Hierdie artikel fokus op die IVP se stigting, leierskap, waardes, kritiek, en die plek wat ’n Zoeloe-etniese party in die Suid-Afrikaanse politiek speel. 1

Die oorsprong van die IVP

Die IVP is in 1975 deur prins Mangosuthu Buthelezi gestig. Dit het oorspronklik ontstaan uit die Inkatha YeNkululeko YeSizwe, ’n kulturele beweging, en nie ʼn politieke party nie, wat gefokus het op die bevordering van Zoeloe-kultuur en -identiteit.

In die 1970’s was Suid-Afrika verdeeld deur apartheid. Teen dié agtergrond het Buthelezi, ’n afstammeling van die Zoeloe- koninklike familie en tradisionele premier van die Zoeloe-nasie, gevoel daar is ’n behoefte vir ’n politieke organisasie wat die belange van die Zoeloe-mense sou bevorder en hul kulturele erfenis sou beskerm, terwyl groter politieke vryheid en selfbestuur nagestreef word.

Oor die volgende paar dekades het Inkatha ’n sleutelrolspeler in die politiek geword, veral in KwaZulu-Natal. Dié party het groot steun onder die Zoeloe-nasie verwerf. In die laat 1980’s en vroeë 1990’s, in die aanloop tot die einde van apartheid, het die IVP egter betrokke geraak by gewelddadige konflik met die ANC, wat die politieke landskap van die tyd verder gekompliseer het. 2

Die IVP het deelgeneem aan die onderhandelings oor die land se toekoms, bekend as die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa). Die party was dikwels in konflik met die ANC oor verskeie kwessies, soos die mate van federale outonomie wat streke soos KwaZulu-Natal moes kry. Hierdie geskille het gelei tot verdere politieke spanning en geweld.

Ná die einde van apartheid in 1994, het die IVP aangepas om in die nuwe politieke landskap te funksioneer. 3

Mangosuthu Buthelezi, eertydse leier van die IVP.

Die IVP tydens Kodesa

Die IVP se betrokkenheid by Kodesa was ingewikkeld en soms kontroversieel. Die party het eers geweier om aan die onderhandelings deel te neem, wat gelei het tot politieke uitsluiting en politieke geweld in gebiede waar die IVP sterk steun geniet het.

Die party het veral sy kommer uitgespreek oor die sentralisering van mag in die nuwe Suid-Afrikaanse regering. Die IVP het aangedring op groter outonomie vir KwaZulu-Natal. Ná verskeie rondtes van onderhandeling en bemiddeling, het die party uiteindelik ingestem om aan die 1994-verkiesings deel te neem, enkele dae voor die verkiesing plaasgevind het. Hierdie besluit het gehelp om ʼn vreedsame oorgang vanaf apartheid te verseker. Dit het wel nie al die spanning tussen die IVP en ander partye opgeklaar nie.

 

Die vlag van die IVP.

Die partyleiers

Mangosuthu Buthelezi was die stigter van die party en ook partyleier vanaf 1975 tot en met sy aftrede in 2019. Onder sy leierskap het die party wisselende sukses in verkiesings beleef, maar dit het aangehou om ’n sentrale rol in Zoeloe-politiek en -kultuur te speel.

Sy benadering tot leierskap en die politiek is gewortel in sy verbintenis tot die Zoeloe-nasie, sy kulturele erfenis, en sy strewe na politieke outonomie binne die raamwerk van ’n verenigde Suid-Afrika. As ’n direkte afstammeling van die Zoeloe- koninklike familie het Buthelezi ’n unieke posisie ingeneem wat hom in staat gestel het om ’n tradisionele leier én ’n moderne politieke figuur te wees.

Hy het tydens sy leierskap altyd ʼn stem probeer wees vir die Zoeloe-volk binne die politieke landskap van Suid-Afrika.

Ná Buthelezi se aftrede in 2019 ná die algemene verkiesing, het Velenkosini Hlabisa as partyleier oorgeneem. Dit het ʼn nuwe era vir die IVP ingelui omdat die party nog nooit ʼn ander leier as Buthelezi gehad het nie. 4

Onder Hlabisa se leierskap het die IVP goed gedoen in die plaaslike verkiesings van 2021, veral in  KwaZulu-Natal. Hlabisa word deur groot uitdagings – om die IVP in ‘n politiek landskap te lei waar verhoudings, onderhandelings en koalisies al hoe belangriker raak – in die gesig gestaar. 5

Velenkosini Hlabisa, die huidige leier van die IVP.

Wat dink en glo die IVP?

Die IVP val meer aan die sentrum-konserwatiewe kant van die politieke spektrum en steun baie op die idee van tradisie en kultuur, veral rondom die Zoeloe-kultuur in Suid-Afrika. Die party glo in die behoud van hierdie tradisies en die belangrikheid daarvan in mense se lewens.

Dus, wanneer dit kom by kultuur en sosiale kwessies, kan ons sê die IVP is redelik konserwatief omdat die party wil hê dinge moet oor die algemeen bly soos dit is, met groot respek vir die verlede en tradisies.

Vir die IVP is die bewaring van Zoeloe-kultuur en -tradisie die belangrikste, en daarom is daar groot klem op selfbestuur en kultuurgroepe se regte – ook wanneer dit by dinge soos onderwys, gesondheid, die ekonomie en landelike ontwikkeling kom.

Oor die algemeen ondersteun die party die desentralisering van regering en beklemtoon die belangrikheid van plaaslike bestuur en ontwikkeling van gemeenskappe.

Wanneer dit kom by ekonomiese beleid (hoe geld in die land werk en verdeel word), het die IVP weer ’n gemengde benadering. Op ekonomiese vlak ondersteun die IVP die idee van ontwikkeling en groei, maar beklemtoon ook die belangrikheid van die gemeenskap en die versorging van die landelike gebiede. Dit beteken die IVP wil hê die ekonomie moet groei op ’n manier wat goed is vir almal, nie net vir ’n paar ryk mense nie. 6

Woordbank

belange Dít wat belangrik is vir mense in sekere situasies.
bemiddeling ’n Proses waar ’n persoon help om ’n ooreenkoms tussen twee strydende partye te bereik.
ekonomiese beleid Die planne en aksies van ’n regering om die ekonomie van ’n land te bestuur en te beïnvloed.
etniese Wat met die mense van ’n bepaalde volk/nasie/stam/ens. en hul gewoontes en tradisies verband hou.
federale outonomie Die reg van provinsiale of plaaslike regerings om hul eie sake te bestuur sonder te veel inmenging van die nasionale regering.
in die gesig gestaar Wanneer ʼn probleem/onheil as’t ware voor jou kom staan en jou aangluur.
Kodesa ’n Reeks onderhandelings of skikkings in die vroeë 1990’s in Suid-Afrika wat gefokus het op die einde van apartheid.
gekompliseer Ingewikkeld, kompleks.
konflikte Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande.
koninklike familie Die familie wat die konings, koninginne, of ander adellikes in ’n land insluit.
konserwatief Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie; behoudend.
kontroversieel Wat aanleiding kan gee tot twis en onenigheid.
kulturele beweging ’n Groep mense wat saamwerk om hul kulturele idees en gewoontes te bevorder en beskerm.
kultuur Die manier waarop ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens.
outonomie Selfregering, selfbestuur.
politieke landskap Verwys na die algehele samestelling en struktuur van politieke partye, ideologieë en magsdinamika binne ’n spesifieke streek of land. Dit sluit faktore in soos party-affiliasies, kiesersdemografie, beleidskwessies en verkiesingsuitkomste.
politieke spektrum ’n Reguit lyn waar aan die een kant jy baie konserwatiewe idees het (wat beteken mense wil dinge meer tradisioneel hou) en aan die ander kant baie liberaal of progressiewe idees (wat beteken mense wil verandering hê en dinge nuut maak).
selfbestuur Die vermoë van ’n gemeenskap of organisasie om hul eie besluite te neem en hulself te regeer sonder buite-inmenging.
sentralisering Die proses waar alle besluitneming en mag na ’n sentrale punt of regering toe beweeg.
sentrum In politiek is dit die matige sienings – nie té liberaal of té konserwatief nie.
sleutelrolspeler Om ’n baie belangrike of selfs die belangrikste rol in ’n saak te speel.
tradisie Gewoontes, oortuigings, of kulturele praktyke wat van geslag tot geslag oorgedra word.
tradisionele leier Leierskap gebaseer op historiese of kulturele gronde, eerder as formele politieke aanstelling.
tradisionele premier Die mees senior raadgewer van die kultuurgemeenskap se koning.
unieke Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

“Ons kan dit beter doen” sê die IVP in 2013 (Buthelezi, en die geskiedenis van die IVP)

Velenkosini Hlabisa gesels oor sy planne vir die IVP

Foto: iStock
Gepubliseer op: 14 Mei 2024 | Bygewerk op 16 Mei 2024