Vinnige feite

  • By mans is dit die voortplantingstelsel se doel om spermselle te vervaardig en te bewaar totdat hulle benodig word.
  • Testosteroon is die geslagshormoon wat by seuns tussen die ouderdom van 12 en 18 jaar verantwoordelik is vir die meeste manlike geslagskenmerke wat ontwikkel, soos byvoorbeeld die verdieping van hul stemme en die groei van ’n baard. Hierdie eienskappe word sekondêre geslagseienskappe genoem.
  • Anders as by seuns, word meisies met al die geslagselle wat hulle gedurende ’n leeftyd sal afskei, gebore, maar dit is in ’n onvolwasse vorm teenwoordig.
  • By die geboorte van ’n meisie, bevat haar twee eierstokke reeds tot 450 000 ova.
  • Die voortplantingstelsel is ontwerp om ryp ova te vervaardig en af te skei, manlike sperm te ontvang, ’n plek te verskaf waar die sperm en ova bymekaarkom en ’n plek te voorsien waar ’n ontwikkelende baba voor sy of haar geboorte kan groei.
  • ’n Ovum begin as een sel wat in twee verdeel. Elk van die twee daaropvolgende selle verdeel in ’n proses wat seldeling genoem word. Sodoende word ’n balletjie wat uit baie selle bestaan, gevorm.
  • Die stowwe wat die moeder se liggaam na haar fetus oordra, is suurstof, voedingstowwe en teenliggaampies. Dit is daarom belangrik dat ’n swanger vrou geen alkohol, dwelms of sterk medikasie gebruik nie, omdat dit ook na die fetus oorgedra kan word, wat lewensgevaarlik vir die groeiende baba kan wees.
  • Hoewel adolessente rondom 15-20 jarige ouderdom liggaamlike volwassenheid begin bereik, moet hulle nog emosioneel volwasse word. Ouerskap verg groot verantwoordelikheid en wysheid, daarom is dit belangrik om as mens fisiek, maar ook emosioneel gereed te wees voordat die groot stap om ouers te word, geneem word.
Foto: iStock

Sonder die vermoë van mense om voort te plant, sou jy nie vandag hier kon wees om hierdie artikel te lees nie! Menslike voortplanting is die wonderlike manier waarop mense kan vermeerder en ’n nageslag meebring wat generasies bou.  Voortplanting staan ook as een van die sewe lewensprosesse bekend en verseker die voortbestaan van spesies.

Voortplanting by mense vind geslagtelik plaas. Geslagtelike voortplanting is wanneer ’n manlike en vroulike gameet (geslagsel) saamsmelt en ’n nuwe individu voortbring wat eienskappe van beide ouers het.

Gedeelde eienskappe word geërf omdat die genetiese materiaal (DNS) van die ouers gekombineer word.  Wanneer die voortplantingsorgane volwassenheid bereik, kan ’n man se sperm (saad) en ’n vrou se ovum (eiersel) saamsmelt om ’n sigoot (bevrugte eiersel) te vorm, wat die begin van ’n baba se lewensreis is. 1

Menslike voortplantingsorgane

Tydens puberteit ontwikkel ’n mens se voortplantingsorgane. Die tydperk van puberteit, waartydens die voortplantingsorgane volwassenheid bereik, duur ongeveer vyf tot ses jaar en vind gewoonlik plaas by seuns tussen die ouderdom van 12-18 jaar; en by meisies tussen 10- en 17-jarige ouderdom. 2 Groot hoeveelhede geslagshormone, wat deur die harsingslymklier vrygestel word, veroorsaak die begin van puberteit. Hierdie hormone kan ook ’n persoon se luim en emosies beïnvloed. Dié groei en ontwikkelingstadium word adolessensie genoem. 1

Manlike voortplantingstelsel

Testes

Die twee testikels kom buite die liggaam voor en is bolvormig en word beskerm deur ’n velsakkie, wat ’n skrotum genoem word. Binne-in die testes is daar talle gekronkelde buisies wat spermselle voortbring. Tydens puberteit word testosteroon, die manlike hormoon, in die selle tussen die gekronkelde buisies vrygestel. Dit stimuleer die vervaardiging van spermselle. Tydens puberteit word die skrotum groter en hare groei rondom die geslagsorgane. Sperm word daagliks vanaf puberteit lewenslank vervaardig.

Epididimis

Die epididimis is net buite die testes geleë en is ook ’n reeks gekronkelde buisies. Ryp spermselle verlaat die testes deur die spermbuis. Die spermbuis verbind die testes met ’n ander buis, naamlik die uretra (urienbuis).

Penis

Die penis bestaan uit sagte, sponsagtige weefsel. Die punt van die penis word met ’n voorhuid bedek. Die voorhuid word soms deur besnydenis weens kulturele-, godsdienstige- of gesondheidsredes verwyder.

Seminale vesikel, Cowper se klier en prostaatklier

Hierdie drie strukture werk saam om ’n vloeistof wat seminale vloeistof genoem word, te vervaardig. Wanneer saad vanaf die testes verby hierdie strukture beweeg, word seminale vloeistof bygevoeg en die mengsel word semen genoem. 3

Vroulike voortplantingstelsel

Eierstokke (ovaria)

Die eierstokke speel ’n deurslaggewende rol by die vroulike voortplantingstelsel. Hulle vervaardig en huisves nie net ova (eierselle) nie, maar produseer ook estrogeen, die vroulike hormoon. Meisies word gebore met ova wat tydens puberteit begin ryp word. Estrogeen begin die proses waartydens ryp ova deur die eierstokke afgeskei word.

Eierleiers (Fallopiusbuise)

Hierdie buise verbind die tregters met die uterus (baarmoeder). Hulle is uitgevoer met klein haartjies wat rondbeweeg en die ovum (eiersel) vorentoe stoot. Dit kan tot sewe dae neem voordat ’n ovum die uterus bereik.

Uterus (Baarmoeder)

Die uterus het ’n dik spierwand wat die embrio teen fisieke gevaar kan beskerm. Dit is waar die sigoot ingeplant word en die baba ontwikkel tot die geboorte. Wanneer bevrugting van die eiersel plaasvind, verdik die uteruswand. Indien bevrugting nie plaasvind nie, word die eiersel met die wand uitgeskei.

Vagina

Die vagina word ook die geboortekanaal genoem omdat dit die roete is waardeur die baba gebore word.  Dit is dus ’n deurgang vanaf die baarmoeder tot buite die liggaam.

Die menstruele siklus

Tussen die ouderdom van 10-15 jaar, sal ’n meisie begin menstrueer. Dit begin met puberteit en die siklus word elke maand herhaal, behalwe wanneer bevrugting sou plaasvind wat tot swangerskap lei. Tydens die menstruele siklus, word minstens een ovum van die eierstokke afgeskei (dit word ovulasie genoem). Elke siklus eindig óf met die verlies van die onbevrugte ovum in die vorm van bloeding óf in ’n swangerskap. Menstruasie is dus wanneer die onbevrugte eiersel saam met die voering of verdikte wand uitgeskei word. Die siklus kan in lengte verskil, maar duur gemiddeld 28 dae.

Bevrugting

Bevrugting is die samesmelting van ’n man se sperm en ’n vrou se ovum. Sperm word tydens geslagsomgang in die vagina vrygestel. Miljoene sperms kan vrygestel word op een slag, maar slegs een sperm is nodig vir bevrugting van een ovum. 4

Rondom dag tien tot sestien van die menstruele siklus, word die ovum vrygestel vanaf een eierstok. Die ovum beweeg deur die eierleier (fallopiusbuis) en dit kan tot sewe dae neem om van die eierstok na die uterus te beweeg. In hierdie tydperk kan ’n vrou swanger raak indien ’n sperm die ovum bereik. Wanneer ’n spermsel die ovum bereik, smelt die kern van die spermsel saam met die kern van die ovum.

’n Sigoot word gevorm en bevrugting het nou plaasgevind. Die oppervlak van die ovum verander ook sodat ander spermselle dit nie meer kan binnedring nie. Die sigoot reis deur die eierleier en begin verdeel. Die sigoot word ’n balletjie wat uit baie selle bestaan. Ná sowat ses dae, bereik die sigoot die uterus waar dit in die dik gevoeringde wand ingeplant word. Hierdie vaslegging word konsepsie genoem en dit is waar die reis van swangerskap begin. 3

Swangerskap

Wanneer bevrugting plaasgevind het, is die ma swanger. Gedurende die eerste agt weke van swangerskap, staan die baba as ’n embrio bekend. Die embrio dryf in ’n sak wat met vrugwater gevul is. Die vloeistof beskerm die embrio. Teen die agste week klop die embrio se hart en begin die brein, ledemate en rugmurg vorm. Dan is die embrio ’n fetus. Teen die einde van die eerste twaalf weke van die swangerskap het die fetus se organe, ledemate en weefsel gevorm en is dit reeds ongeveer sewe sentimeter lank. Die eerste twaalf weke staan bekend as die eerste trimester van swangerskap.

Tydens die volgende trimester (13-28 weke), kry die fetus herkenbare eienskappe soos hande en is in staat om sy/haar vingers te buig en duim te suig. Die organe en weefsel is ten volle ontwikkel en die fetus is sowat 28 sentimeter lank.

Tydens die derde en laaste trimester van swangerskap (29-40 weke), ondergaan die fetus sy finale groeiversnelling en sal by geboorte ongeveer 50 cm lank wees. 3

Só kry die baba sy voeding

Tydens swangerskap kry die fetus al sy voedsel en suurstof van die ma se liggaam. Hierdie stowwe beweeg van die ma se bloed na die fetus deur die plasenta. Die plasenta is deur die naelstring aan die fetus vasgeheg. Bloed van die ma beweeg teen 600 mℓ per minuut deur die naelstring. Afgesien van voedsel en suurstof wat deur die naelstring na die fetus vervoer word, verwyder dit ook afvalstowwe afkomstig van die baba. Die ma se bloed meng nie met dié van die fetus nie. 3

Geboorte

Wanneer dit tyd is vir die baba om gebore te word, begin die uterus (baarmoeder) se spiere saam te trek. Die vrugwatersak rondom die baba word stukkend – daar word dan gesê dat die swanger vrou se water gebreek het. Die sametrekkings berei die vrou se liggaam voor sodat die baba gebore kan word. Die baba word gewoonlik kop eerste gebore. Die baba beweeg deur die vrou se vagina, of geboortekanaal, en dan word die naelstring wat aan die baba se naeltjie vas is, gesny en afgebind. 3

Die nuwe mensie word in die wêreld verwelkom en voel die veiligste styf teenaan sy of haar ma se vel – die persoon wat hom of haar vir nege maande gedra het. Met behulp van mediese dokters, is daar ook die opsie van ’n keisersnit, waartydens die baba met ’n operasie uit die uterus verlos word. Hierdie metode word veral gebruik wanneer die baba in ’n posisie lê wat normale geboorte kan bemoeilik en/of die ma of die baba se lewe in gevaar kan stel. 3

Woordbank

adolessensie Lewensperiode van puberteit tot mondigheid – vir ’n seun vanaf ongeveer 14 tot 21 jaar, vir ’n meisie van 12 tot 21 jaar. 4
gameet ’n Geslagsel – by die manlike geslag is dit die sperm en by die vroulike geslag is dit die eiersel.
generasies Enkele trap in die opeenvolging van natuurlike afstamming; al die nakomelinge van een ouerpaar. Al die individue wat behoort tot dieselfde trap in ’n afstammingsreeks; geslag; die eerste generasie kinders van ’n ouerpaar, die tweede generasie kleinkinders van ’n ouerpaar. 4
genetiese Met betrekking tot gene, genetika of die oorsprong van ’n organisme. 5
naelstring String waardeur ’n ongebore baba aan die moeder se plasenta verbind word en waardeur die fetus van voeding en suurstof voorsien word en die fetus se afvalstowwe verwyder word. 4
plasenta Die struktuur wat die fetus aan die uteruswand heg en as voedings- en uitskeidingsorgaan van die fetus funksioneer. 5
puberteit Lewensperiode waarin die geslagsrypheid begin en ontwikkel, ongeveer vanaf 12 jaar by seuns en 10 jaar by meisies. 4
trimester Periode van drie maande, veral as fase van ’n swangerskap. 4
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023