Vinnige feite

  • Die bloukraanvoël is een van slegs twee spesies kraanvoëls wat nie rooi op hul koppe het nie.
  • Daar is 15 verskillende spesies kraanvoëls wat deel van die Gruidae-familie vorm. 6
  • Daar kom slegs drie soorte kraanvoëls in Suider-Afrika voor.
  • Die bloukraanvoël se naaste familielid is die witoorkraanvoël (virgo).
  • Die bloukraanvoël is ’n spesiale voël vir die amaXhosa-stam wat dit indwe noem. As ’n man ’n dapper daad verrig het, is hy deur die hoofman met ’n bloukransvoël se vere vereer. Tipies ná ’n geveg, is die vegters ook met hierdie vere vereer.
  • Dié voëls migreer, maar slegs binne-in sekere gebiede en bly in die land.
  • Hierdie voëls verveer gewoonlik in die tweede helfte van die somer. As hulle ’n totale ververing ondergaan, kan hulle nie vlieg nie en is dan baie blootgestel aan bedreigings. Hulle het gewoonlik omtrent twee maande nodig om weer genoeg vere vir vlieg te hê.
  • Die Overberg-bloukraangroep (in Engels: “The Overberg Crane Group[OCG]) is in die jare negentig gestig omdat hulle besorgd was oor die kwynende getalle van die bloukraanvoël. Danksy hul bewusmaking en die samewerking van boere, floreer die voëls in die streek.
  • Daar word bereken dat die bloukraanvoël tot 30 jaar oud kan word. 7
Foto: iStock

Hierdie interessante voëls dans, is eintlik meer grys as blou, het op ons vyfsentmuntstukke verskyn en word in Suid-Afrika beskerm. Ons praat natuurlik van die bloukraanvoël, Suid-Afrika se nasionale voël.

Die wetenskaplike naam is Anthropoides paradiseus en daar word in Engels na die voël as Blue Crane, Paradise Crane of Stanley Crane verwys. Xhosa- en Zoeloesprekendes verwys na indwe en diegene wat Sepedi praat, noem dié voël mogolodi.

Die bloukraanvoël is endemies aan Suidelike Afrika, maar die meeste van hulle kom in Suid-Afrika voor. Die voëls se getalle het deur die jare as gevolg van habitatverlies afgeneem. Habitatte gaan verlore deur verstedeliking en die menslike bevolking wat toeneem. [Lees hier oor verstedeliking.] Baie voëls is ook al deur boere vergiftig wat hulle uit landerye wil hou of hulle raak in heinings verstrengel of vlieg teen kragdrade vas.

Daar was byvoorbeeld baie van dié voëls in die jare sewentig en tagtig in die Vrystaat, maar hul getalle het drasties afgeneem. Hul bevolking daal ook tans in die Oos-Kaap, maar dit wil voorkom asof hulle in die Wes-Kaap toeneem. Hoewel die algemene bevolking van die bloukraanvoël vandag stabiel voorkom, word hulle steeds op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur se rooi lys as kwesbaar gelys. Dit beteken dat hulle steeds beskerm moet word en hul bevolkings moet gemonitor word. Daar is vandag sowat 25 000 bloukraanvoëls in die wêreld oor, waarvan omtrent die helfte in die Overberg in die Kaap gevind kan word. 1

Waar kom hulle voor?

Hulle word in die suidelike en oostelike hoëveld van Mpumalanga gevind, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Daar is ook groot bevolkings in die Overberg-gebied in die Wes-Kaap. Daar is ’n klein bevolking van ongeveer 60 voëls rondom die Etoshapan in Namibië en daar is al ’n paar voëls in Botswana en Swaziland opgemerk. 2

Habitat

Die bloukraanvoël hou van oop graslande en ander hooglandhabitatte. Hulle bly op die grond en word in natuurlike plantegroei en in landerye aangetref. As daar vlak vleie is, sal bloukraanvoëls daar na kos soek. In droër gebiede, soos die Karoo en Namibië, word hulle in bossievelde en droë graslande gevind. Hulle word in die Wes-Kaap by graanlande en weivelde gesien. 3

Voorkoms

As volwasse voël word die bloukraanvoël ongeveer 110-120 cm hoog en weeg ongeveer 4,5 tot 5,1 kg. Hul vlerkspan is 180-210 cm. Hul vere is blougrys, raak ligter (amper wit) op die kop en hulle het lang, donker vlerkvere wat soos stertvere lyk as hulle staan. Dit is hierdie vere wat agter hulle op die grond sleep as hulle loop. Hul sterte is baie kort en nie sigbaar as hulle nie hul vlerke lig nie. Hul bene en voete is swart. Jong bloukraanvoëls word met gryskleurige donsveertjies gebore.

Bloukraanvoëls kan tot 60-70 km/h vlieg, en vlieg soms in ’n swerm in ’n V-formasie. Wanneer hulle kos soek, loop hulle op die grond. 1

Kommunikasie

Bloukraanvoëls kan nogal lekker raas, veral as daar ’n groep van hulle bymekaar is. Mannetjies en wyfies “gesels” met ’n horinggeskal en “krraaarrr”-geluide. As bloukraanvoëls wil paar en mekaar die hof maak, “dans” hulle. Hulle buig, spring in die lug, hardloop kort entjies en gooi stukke gras of selfs klein diertjies in die lug! Die paartjies breek dan vir ’n ruk weg van die groep af en paar en broei hul eiers uit.

Kuikens maak ’n sagte piepgeluid tot hulle omtrent ’n jaar oud is. Hulle maak eers die volwasse horinggeskal as hulle so tien of elf maande oud is. Hulle kan eers die volle horinggeskal maak as hulle 16 maande oud is. 1

Wat eet hulle?

Bloukraanvoëls volg meestal ’n vegetariese dieet deur plantmateriaal soos bolle, saadjies, wortels en graan te eet. Hulle is egter omnivore en sal ook insekte soos sprinkane, klein reptiele, paddas, vis en klein diertjies eet. 4

Voortplanting

Die bloukraanvoël het een lewenslange maat en keer jaarliks saam met dié maat na hul broeiplek terug.

As ’n bloukraanvoëlpaartjie paar, sonder hulle hulle van die ander voëls af en raak territoriaal oor hul nes. Die mannetjies se hoofrol is gewoonlik om die nes te beskerm. Hulle sal ander voëls wegjaag as hulle naby die nes kom. Hulle broei slegs een keer per jaar en lê gewoonlik twee eiers. Die eiers is bruingeel en word gewoonlik enige tyd tussen Augustus en April gelê.

Die eiers word deur die mannetjies én wyfies uitgebroei en broei gewoonlik ná 33 dae uit. Albei eiers broei uit, maar omdat die voëltjies so weerloos is en daar soveel bedreigings is, word slegs een kuiken gewoonlik suksesvol grootgemaak. Die ouers sien tot ’n jaar na die kuiken om. 5

Soos die kuikens groter word, groei hul bene en dye baie vinnig, wat bydra tot hul spoed. Hulle begin gewoonlik vlieg as hulle drie tot vyf maande oud is. Die paartjies en hul kleintjies vorm groepe en die groepe smelt weer saam om groter groepe (swerms) te vorm. Soms bevat swerms min of meer 50 voëls, maar dit kan tot 300 toeneem!

Hierdie voëls eet saam en soek saam skuiling in die nag. 1

Klassifikasie

Klas: Aves
Orde: Gruiformes
Familie: Gruidae
Genus en spesie: Anthropoides paradiseus 3

Woordbank

drasties Vinnige of kragtige optrede.
endemies Wat in ’n sekere streek voorkom, inheems.
die hof maak As ’n mens iemand van wie jy hou se guns probeer wen.
donsveertjies Ligte veertjies.
dye Die boonste deel van jou been, tussen jou knie en jou heup.
floreer As dit goed gaan, voorspoed ervaar.
habitat Woonplek.
horinggeskal ’n Geluid wat voëls maak.
gemonitor Dopgehou.
inheems Wat in ’n sekere streek voorkom, endemies.
kwesbaar Weerloos, blootgestel.
omnivore Diere wat alles eet, plante en ander diere.
paar Diere wat omgang het vir voortplanting.
verstedeliking Wanneer mense uit die platteland na stede toe trek.
reptiele Koudbloedige, kruipende diere wat deel van die Reptilia-klas is.
sien om Versorg.
stabiel Wanneer iets nie verander nie, of min of meer dieselfde bly.
territoriaal Beskerm hul gebied.
uitgebroei Die eiers breek oop en kuikens klim uit die dop.
verstrengel Verweef, inmekaargevleg.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoeveel weet jy oor ons nasionale voël?

Só klink die bloukraanvoël se roepgeluid

Kyk hoe dans hulle!

Interessante inligting

Suid-Afrika se nasionale simbole

Teken ’n bloukraanvoël met die getalle “3” en “4”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 Augustus 2023 | Bygewerk op 22 Julie 2024