Vinnige feite

  • Mozart het in al die musiekgenres van sy tyd musiek geskryf en het in ieder en elk uitgeblink.
  • Mozart het meer as 600 musiekwerke in sy leeftyd gekomponeer. Daar was 21 verhoog- en operauitvoerings, 15 misse, meer as 50 simfonieë, 25 klavierconcerto’s, 12 vioolconcerto’s, 27 konsertarias, 17 klaviersonates en 26 strykkwartette.
  • Mozart se Requiem in D mineur is in 1791 gekomponeer en dit was onvoltooid ten tye van sy dood. Hy het wel presiese aanwysings vir sy leerling Franz Süssmayer gegee om dit te voltooi.
  • Hy het ’n ongelooflike vermoë gehad om musiek te onthou. Hy het byvoorbeeld as 14-jarige Allegri se Miserere in Rome gehoor en dit later die dag neergeskryf. Hy het die volgende dag net klein regstellings gemaak.
  • Mozart het in 1784 ’n Vrymesselaar geword. Die orde het baie vir hom beteken en het hom ook finansieel bygestaan. Die Vrymesselaars is ’n geheime, internasionale organisasie wat onder meer broederlikheid, onderlinge waardering en hulpbetoon voorstaan.
  • Mozart was glo gek na diere en het in sy leeftyd ’n kanarie, hond, perd en ’n spreeu aangehou.
  • Mozart het ingestem om vir Beethoven (wat later ’n bekende komponis sou word) as leerling te neem, maar Beethoven se ma het gesterf, en hy moes inderhaas huiswaarts gekeer het. Toe hy na Wene teruggekeer, was Mozart dood. 4
  • Die eerste plaatopnames van Mozart se volledige klavierconcerto’s is ná die Tweede Wêreldoorlog uitgereik. 2
  • Nadat studies aangedui het dat Mozart se musiek ’n mens kan laat ontspan en goed vir jou brein is, het die boek en CD Mozart for babies baie gewild geword, en baie babas het met sy musiek grootgeword. 5
  • Ludwig Ritter von Köchel is bekend daarvoor dat hy ’n volledige katalogus van Mozart se werk saamgestel het. Hy het in 1862 die Köchel-katalogus gepubliseer. Dit was ’n register van al Mozart se werk.

Eens op ’n tyd was daar ’n seuntjie wat só musikaal was dat hy nie eens skool toe gegaan het nie! Hy het reeds as ’n kind voor konings en koninginne opgetree, en sy werk word vandag nog opgevoer. Wolfgang Amadeus Mozart (1756-1791) word gereken as een van die beste klassieke komponiste wat die wêreld nóg gesien het. Johannes Chrysostomus Wolfgangus Theophilus Mozart se volle name klink dalk na ’n mondvol, maar daar skuil selfs meer in dié “wonderkind” se musiekskatkis en meesterlike nalatenskap.

Musikale wonderkind

Mozart is op 27 Januarie 1756 in Salzburg, Oostenryk, gebore. Mozart se ouers was Leopold Mozart en Anna Maria (“Pertl”) Mozart. Leopold was self musikaal en het musiek gekomponeer. Hy het ’n baie bekende vioolhandboek getiteld A Treatise on the Fundamental Principles of Violin Playing geskryf, wat in die jaar van Mozart se geboorte gepubliseer is. Hy was die kapelmeester van die aartsbiskop van Salzburg. Die paartjie het sewe kinders gehad, maar slegs twee het hul kinderjare oorleef. Dit was Mozart en sy ouer suster, Maria Anna Walburga Ignatia (“Nannerl”) Mozart, wat ook baie musikaal was. 1

Mozart het van kleins af groot talent getoon en sy ouers verbaas. Hy was skaars drie jaar oud toe kon hy al akkoorde op die klavesimbel speel. Die klavesimbel is soos ’n outydse klavier, maar pleks van hamertjies wat – soos in ‘n klavier se buik – op snare slaan, word die snare gepluk. Op vierjarige ouderdom het hy musiek gespeel wat vir sy ouer suster bedoel was, en op vyfjarige ouderdom het hy musiek gekomponeer. Mozart se pa, Leopold, het sy kind se talent as ’n geskenk van God gesien en geglo dat die wêreld die wonderwerk self moet beleef. 1

Hy wou graag met sy talentvolle kinders spog, en het daarom besluit om hulle (net voor Mozart se sesde verjaardag) na München in Duitsland te neem, sodat hulle daar voor die koningshuis kon optree. Hulle het ’n paar maande rondgereis en voor verskeie adellikes opgetree. Mozart is ’n “wonderkind” genoem en het ook in daardie stadium vier kort klavierwerke gekomponeer. 2

Die gesin het daarna Wene in Oostenryk besoek, waar almal verstom oor Mozart se musiektalent was. Dit het Leopold laat besluit dat sy kinders aan ’n breë gehoor voorgestel moes word, en daarom het hulle in 1763 ’n lang reis van drie jaar na verskeie lande onderneem.

Dit het stede soos Amsterdam, Augsburg, Brussel, Den Haag, Frankfurt, Londen, Lyon, Mainz, Mannheim, München, Parys en Stuttgart ingesluit. Mozart het in die meeste van hierdie stede opgetree, en sy suster het ook soms opgetree.

Mozart se roete tydens sy besoek aan Italië.

Die toer het baie vir Mozart beteken, want hy het ook met ander komponiste kennis gemaak. Hulle het in Londen vir Johann Christian Bach ontmoet, wat die bekende komponis Johann Sebastian Bach se jongste seun was. Bach was in daardie stadium reeds ’n groot naam in die musiekwêreld, en Mozart het onder sy invloed sy eerste twee simfonieë gekomponeer. 1

Johann Sebastian Bach.

Operas tot orrelis

Die Mozart-gesin het eers in 1766 huiswaarts gekeer. Mozart het op 12-jarige ouderdom ’n Duitse opera Bastien en Bastienne gekomponeer, en die opera La finta semplice (Die kamma dwaas) het daarop gevolg. 2

Mozart is op net 13 as ’n erekonsertmeester by die Salzburg-koningshuis aangestel!

Die pragtige Salzburg in Oostenryk waar Mozart as erekonsertmeester aangestel is.

Dit was in daardie jare belangrik om die Italiaanse operastyl te leer, en pa Leopold het besluit dat hulle Italië moes besoek. Die Italianers was gaande oor Mozart en het hom ’n “genie” genoem. Hy het tydens sy reis verskeie simfonieë en kerkmusiekwerke gekomponeer. Hy het ook ’n opera – Mitridate, re di Ponto (Mithridates, koning van Pontus) – geskryf en twee ander operas, Ascanio in Alba (1771) en Lucio Silla (1772), het gevolg. 3

Met Mozart en sy pa se terugkeer na Salzburg, het Mozart ’n pos as assistentkonsertmeester gekry. Hy het toe die kans gehad om in verskillende musiekgenres te werk wat uit simfonieë, strykkwartette, sonates, serenades en operas bestaan het. Hy het in daardie stadium veral ’n passie vir vioolconcerto’s gehad en het vyf geskryf en daarna ook talle klavierconcerto’s.

Hoewel hy groot sukses met sy komposisies behaal het, wou hy nie in die posisie as assistentkonsertmeester bly nie en het in Augustus 1977 na ander stede gereis om daar werk te soek. In die jaar wat sy ma dood is (dit was op 3 Julie 1778), het Mozart ’n werk as ’n orrelis in Salzburg gekry. Daar het hy verskeie kerkkomposisies geskryf en nóg ’n opera in 1781, Idomeneo (Idomeneus, koning van Kreta), wat groot sukses behaal het.

Ná konflik met sy werkgewer het Mozart besluit om na Wene te trek om daar as ’n vryskutkomponis en -musikant op te tree. Hy het in verskeie konserte opgetree, musiek geskryf en ook musieklesse gegee. Hy het ook begin om die opera Entführung aus dem Serail (Die ontvoering uit die harem) te skryf.

Mozart is op 4 Augustus 1782 – teen sy pa se wense – met Constanze Weber getroud. Wat interessant is, is dat hy eintlik ’n paar jaar vroeër met haar suster wou trou, maar sy pa het toe ook geweier! Hulle het ses kinders gehad, hoewel slegs twee kinders hul kinderjare oorleef het, naamlik Karl Thomas en Franz Xaver. 2

Mozart was baie beïndruk met die werk van Bach en George Frederic Handel, en dit het hom geïnspireer om meer komposisies in die Barok-styl te skryf. Dit het ook baie van sy latere komposisies beïnvloed. Hy het goeie vriende met die komponis Joseph Haydn geword en hulle het ook soms saam opgetree. Mozart het tussen 1782 en 1785 ses kwartette geskryf en dit aan Haydn opgedra.

Mozart se operas het gewild in Europa geword, en hy het begin om ’n goeie verdienste (inkomste) te maak. Hy en Constanze het ’n besige sosiale lewe gehad en ’n rojale (oorvloedige) lewe gelei. Hy het tussen 1782 en 1785 in verskeie konserte opgetree en verskeie klavierconcerto’s geskryf. Dit was baie duur om teaters in Oostenryk te huur, en Mozart het dus sommer konserte in balsale en groot vertrekke in woonstelgeboue gehou. In die jaar 1784 het hy in 22 konserte opgetree, en hy het in vyf daarvan as solis opgetree. 3

Hy het ook toe begin om sy werk ’n bietjie meer te orden deur ’n katalogus van sy musiek saam te stel. Dalk het hy toe al ’n idee gehad dat hy een van die bekendste musici en komponiste van alle tye sou word!

Nie so briljant met die beursie

Mozart het in die 1780’s ernstige finansiële probleme ondervind omdat hy en sy vrou te veel geld spandeer het, en hy moes meer en meer opgetree het om geld te maak. Mozart het in 1785 saam met die librettis (skrywer van die teks van ’n opera) Lorenzo da Ponte saamgewerk. Hy was ’n Venesiaanse komponis en digter, en hulle het saam aan die opera Die huwelik van Figaro gewerk. Die opera het in 1786 ’n baie suksesvolle première in Oostenryk gehad en is daarna elders ook baie goed ontvang. Dit het daartoe gelei dat hy en Da Ponte weer saamgewerk het om die opera Don Giovanni op die planke te bring. Die opera is in 1787 vir die eerste keer opgevoer. Dié twee operas was van Mozart se belangrikste werke en word vandag nog gereeld opgevoer. 3

Constanze Mozart, Wolfgang se vrou, op 78-jarige ouderdom, links voor in swart twee jaar voor haar dood.

Keiser Joseph II het Mozart in Desember 1787 as sy persoonlike komponis aangestel. Dit was ’n groot eer vir Mozart, maar ongelukkig was dit nie ’n baie goed betalende werk nie. Dit was wel geld wat hy in daardie stadium broodnodig gehad het.

Mozart het teen die einde van die 1780’s in groter skuld beland, en dit het hom baie terneergedruk gemaak. Oostenryk was boonop in ’n oorlog gewikkel, en die ryk mense kon nie meer geld vir die kunste gee nie. Mozart en sy gesin moes noodgedwonge in 1788 na ’n goedkoper blyplek trek.

Hy het begin om geld te leen om kop bo water te hou, maar ten spyte van sy moeilike omstandighede het hy steeds musiek gekomponeer. Hy het in daardie tyd weer saam met Da Ponte gewerk en die opera Così fan tutte (So maak alle vroue) geskryf. Dit is vir die eerste keer in 1790 opgevoer en is tot vandag toe gewild. Mozart het ook begin om na ander stede te reis om meer geld met sy optredes te verdien. Die jare 1788 en 1789 was glo besonder moeilik vir die Mozart-gesin, en Mozart was onder groot spanning en druk.

Mozart het wel van sy beste werk in 1790 en 1791 geskryf. Sy laaste opera, Die towerfluit, is in 1791 vir die eerste keer opgevoer en was baie gewild. Sy geestelike en fisieke gesondheid het egter ’n knou gekry en hoewel sy vrou en suster hom gevra het om te rus, het hy desperaat probeer om sy laaste werk, Requiem, te voltooi. Hy het egter in die vroeë oggendure van 5 Desember 1791 gesterf. In daardie jare het hulle nie nadoodse ondersoeke gedoen nie, en dus weet ons nie waaraan hy gesterf het nie. Daar word egter gesê dat hy sy lewe lank met rumatiekkoors geworstel het, en dit kon dalk die oorsaak van sy dood gewees het. 3

Mozart het toe al as een van die grootste komponiste van sy tyd bekend gestaan, en ná sy dood het sy vrou baie van sy ongepubliseerde werke verkoop. Huldigingskonserte is ook gehou, en só het hy ná sy dood finansiële stabiliteit vir sy gesin verseker. 3

Woordbank

adellikes Iemand wat tot die adelstand (hoë stand) behoort.
akkoorde ’n Sameklank van drie of meer tone in ’n oktaaf.
Barok-styl Die kunsstyl tydens die 17de en 18de eeu wat deur beweeglikheid, swier en oorlading gekenmerk is.
vioolconcerto’s ’n Musiekstuk vir een of meer instrumente met orkesbegeleiding.
genie Iemand wat buitengewoon begaafd is.
kapelmeester Die dirigent (leier) van ’n militêre orkes.
katalogus Dis ’n geordende register van werk.
klavesimbel ’n Ouderwetse klavier waarvan die snare gepluk word om ‘n metaalagtige klanke voort te bring.
kwartette ’n Musiekstuk vir vier spelers of sangers.
komponiste Iemand wat musiek skryf.
librettis Die skrywer van ’n libretto, oftewel die teks van ’n opera/operette.
misse Die nagmaalsdiens in die Rooms-Katolieke Kerk.
première Die eerste opvoering.
requiem ’n Musiekstuk wat ’n “dodemis” genoem word.
rumatiekkoors Dit is erge (akute) rumatiek wat inflammasie en koors veroorsaak en dikwels die hart verswak.
serenades ’n Musiekstuk of musiekuitvoering in die aand by iemand se woning as huldebewys. In Mozart se tyd was dit meermale vir opeluguitvoerings geskryf.
simfonie ’n Musiekstuk wat vir ’n vol orkes geskryf is.
sonates Dit is ’n musiekstuk vir instrumente wat soms uit drie of vier gedeeltes bestaan, verskillend van karakter.
strykkwartette ’n Musiekstuk wat uit strykinstrumentspelers bestaan, soos uit twee viole, ’n altviool en ’n tjello.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Mozart se verhaal

Ervaar Mozart se Die towerfluit

Mozart in ’n neutedop

Wat is ’n klavesimbel?

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 19 Junie 2023 | Bygewerk op 24 April 2024