Vinnige feite

  • Die oorsprong van Suid-Afrika se volkspele was in Swede.
  • Die eeufees van die Volkspele-beweging is gehou vanaf 28 Februarie tot 2 Maart 2014 in die dorp Boshof. 2

Die hele gedagte oor volkspele het in 1912 by Samuel Henry Pellissier ontstaan.

Hy was toe adjunkhoof van die Hoërskool Boshof. Hy en, onder andere, J.M. Meiring was in Swede in die stad Nääs waar hulle opleiding in hout- en skrynwerk gekry het. Saans, ná klas, het die jongmense volksdanse vir ontspanning gedoen. Elke land se mense het dan in hul tradisionele kleredrag hul land se danse gedoen. Die Suid-Afrikaners wat daar was, het nie hul eie danse gehad nie. Dit het Pellissier laat besluit dat hy in Suid-Afrika ook sulke danse wil begin sodra hy terug is in die land.

Sweedse man in tradisionele drag
Sweedse vrou in tradisionele drag

Nadat hy teruggekom het, het hy vier van die Sweedse danse in Afrikaans vertaal en dit vir die leerlinge by sy skool geleer. Hierdie vier volksdanse is op 28 Februarie 1914 tydens ’n Sondagskoolpiekniek vir die eerste keer gedans. Die piekniek is op ’n plaas met die naam Vuisfontein gehou, net so ’n paar kilometer noord van Boshof. Hierdie spele wat as piekniekspele begin het, het daarna as volkspele bekend gestaan.

Die Pellissier-gesin in 1938 met die Voortrekker-Eeufees. Dr. Pellissier was toe voorsitter van die Uniale Volkspelekomitee van die Reddingsdaadbond

In daardie dae het volwassenes en kerke dans nie juis as goeie vermaak vir jongmense beskou nie en Pellissier het geweet dat dit beter sal wees om dit ‘volkspele’ eerder as ‘volksdanse’ te noem. 1

Voortrekkerkinders

Volkspele se ontwikkeling

Ná hierdie eerste pogings het volkspele vir die volgende ongeveer 20 jaar nie baie gevorder nie. Pellissier het nie moed opgegee nie. Hy het in 1944 ’n eredoktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch behaal en is in 1926 aangestel as Direkteur van Onderwys in die Vrystaat. Hierna het hy verder daaraan gewerk om volkspele onder jongmense bekend te laat word. By ’n Lenteskool wat in 1937 in Smithfield gehou is, was volkspele deel van die program en is daar van 7 spele afdrukke aan die mense by die kursus gegee.

Mans en vrouens in volkspeledrag geklee

Die Ossewatrek wat in 1938 gebeur het, het daarvoor gesorg dat volkspele verder bekend en gewild geword het.

In 1940 is daar ’n Volkspelekursus in Bloemfontein gehou. Daar was 270 deelnemers en 17 spele is in gedrukte vorm aan hulle verkoop teen die prys van een sjieling (tien sent). Hierdie bundel kan die eerste volkspelehandleiding genoem word. Later het A.M. Köhler hierdie spele saam met 16 ander in die eerste amptelike Volkspelebundel ingesluit. Hierdie bundel is deur die Reddingsdaadbond (RDB) uitgegee.

Ook in 1940 het mev. J. Pellissier ’n groot volkspelevertoning tydens die sitting van die Sinode van die NG Kerk van die Vrystaat in Bloemfontein gehou. Sy het ongeveer 500 volkspelers daarvoor gebruik. 1

Die eerste amptelike komitee

Op 1 Maart 1941 is die eerste komitee onder beskerming van die Reddingsdaadbond verkies.

Die volgende mense was lede van hierdie komitee:

  • Dr. S.H. Pellissier – Voorsitter
  • Advokaat J.F. Marais – Sekretaris
  • Dr. N. Diederichs – Verteenwoordiger van die Reddingsdaadbond. Hy het later staatspresident van Suid-Afrika geword.

Daar is ook vir elkeen van die destydse provinsies – Transvaal, Vrystaat, Natal en Kaapprovinsie – verteenwoordigers verkies. 1

Volkspelers voor woning van staatspresident, Pretoria

Kontak met die buiteland

Dr. Pellissier het daaraan gedink dat die Volkspelebeweging nie net in Suid-Afrika moes speel en sing nie, en hy het besef dat die beweging ook kon help om Suid-Afrika in die buiteland bekend te stel. Om dít reg te kry, het hy kontak gemaak met verenigings vir volksdanse in Suid-Afrika se stamlande (lande waarvandaan mense jare gelede na Suid-Afrika gekom het om hulle hier te vestig).

In 1953 het ’n groep volkspelers Europa besoek en het volkspele daar bekendgestel. Ná hierdie besoek het verskeie verdere besoeke na Europa gevolg en in 2002 was daar ook ’n toer na die VSA. Daar was ook toere van volksdansgroepe van ander lande na Suid-Afrika. 1

Mans en vrouens in Volkspeledrag

Kleredrag vir volkspele

Dit was ’n natuurlike keuse om mettertyd volkspeleklere te kies wat soos die Voortrekkers se drag gelyk het.

Vroue (wat niggies genoem is) het dus lang rokke tot op die enkel gedra wat naastenby gelyk het soos die Voortrekkerdrag van 1836 – daardie soort rokke wat by deftige en feestelike geleenthede gedra is, ook kisklere genoem. 2

Volkspelers in Voortrekkerdrag

Die borok was tradisioneel van effekleurige tafsy gemaak, maar later is makliker wasbare en koeler materiaal gebruik. Die lyfie was nousluitend met ‘n middelpant en twee sypante wat met ‘n koord aanmekaar gestik is. Die halslyn was rond – tot een sentimeter onder die kuiltjie van die hals – afgewerk met ‘n belegsel. Die moue (nie pofmoue nie) het tot by die elmboog gestrek waar dit met ‘n rekkie ingeryg was. Die eerste val van die mou is van dieselfde materiaal as die rok en ‘n tweede wit kantval, van dieselfde kant as die man se nekdoek. Die halsdoek was drie aparte dele en met ‘n fyn kantjie afgewerk. Die wye onderrok is onder die borok gedra met ‘n breë val van dieselfde kleur as die bo-rok. Hierdie tipies tradisionele drag het ongelukkig later plek gemaak vir moderner variasies daarvan.

Halsdoek

Mans (wat neefs) genoem is) se broeke was tradisioneel van 100% wol gemaak en was donkerblou, groen, bruin of swart. Die broekspype was sonder omslag en effens na vore gesny; met geen agtersak nie, maar wel twee klein sakkies aan die voorkant. Die dra van kruisbande en bypassende effekleurige sokkies en donkerkleurige skoene het die drag afgerond. Die onderbaadjie was eenkleurig met Suid-Afrikaanse blomme op die voorpante geborduur. Hemde was van spierwit materiaal met moue wat effens wyer as gewone hempsmoue was. Die driehoekvormige nekdoek was dieselfde kleur as die niggie se rok (of spierwit). ‘n Nekdoekring, gesny uit ‘n Suid-Afrikaanse houtsoort of selfs horing of been, is ook gedra. 2

Handsakkie
Kappie
Onderbaadjie

Hoewel daar ook later afwykings van die neergelegde kleredragvoorskrifte vir mans was, word dieselfde soort klere vandag steeds gedra. 1

Volkspelers wat in formasie staan op ‘n sportveld

Enkele hoogtepunte in die geskiedenis van volkspele

Massa-optredes by volksfeeste het dikwels gebeur. Enkele van hierdie optredes wat as hoogtepunte beskou kan word, is die volgende:

  • Die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949. Meer as 2 000 volkspelers het opgetree en het met hul formasies, onder meer, ’n kakebeenwa uitgebeeld; 3
  • Die Van Riebeeck-feesviering in 1952 in Kaapstad waar 3 000 volkspelers opgetree het; 2
  • Die Eeufeesviering in Pretoria in 1955;
  • Die Uniefees in 1960; en
  • Die Groot Trek se 150 jaar-viering in 1988 3
Massavertoning deur 3000 volkspelers tydens die Van Riebeeckfees, Kaapstad

Volkspelebundels wat deur die jare verskyn het

  • RDB se Volkspelehandleiding – AM Köhler (1941);
  • Nuwe Volkspele deur Hester Morrison met musiek en liedjies (grondgedigte) deur ML de Villiers (1942);
  • Nuwe Spele saamgestel deur Cecile de Ridder (1945);
  • Volkspele uit sonnige Suid-Afrika (1953);
  • Ons eie Volkspele (1955);
  • Vir ons Volkspelers (1962);
  • Nog nuwe Spele (1979);
  • Ons Volkspele-erfenis (1989); en
  • Ons Volkspele-erfenis (2014) 1
  • In 2018 het ’n herdruk van die bundel Ons Volkspele-erfenis verskyn. 5
As gevolg van dr. Pellissier se toewyding en diens kan Suid-Afrika nou trots wees op ’n eie kleurryke volkspelebeweging
Die 1958-volkspelegroep het in Princess Garden, Edinburgh, Skotland, in reënerige weer opgetree maar die ongunstige omstandighede het nie die toeskouers weggehou nie

Volkspele in Suid-Afrika vandag

Daar is vandag heelwat minder volkspelelaers as vroeër jare, maar die beweging is steeds aktief met laers wat landwyd voortgaan met hul bedrywighede. Daar is op die oomblik 49 aktiewe laers in die land. Meer inligting oor die Volkspelebeweging, hulle bedrywighede en die verskillende takke is beskikbaar op die webwerf http://volkspele.co.za/avvb/

In Pretoria en Centurion is daar vier geaffilieerde laers wat tans steeds aktief is:

  • Aandblom Volkspelelaer
  • Erika Volkspelelaer
  • Jakaranda Junior Volkspelelaer
  • Polkadraai Volkspelelaer 3

Woordbank

skrynwerk Werk aan meubels en fyn timmerwerk.
Reddingsdaadbond (RDB) In 1941 deur Vader Kestell in Bloemfontein gestig. Die doel van hierdie liggaam was om die Afrikaners op sosiaal-ekonomiese gebied op te hef.
kakebeenwa Ander naam vir die ossewaens waarmee die Voortrekkers getrek het. 4

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

Volkspeledanse

Volkspeledanse

Op hierdie Facebook-groep is daar interessante video’s van volksdanse in, onder meer, Oostenryk, Switserland, Ierland en Estland.

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 13 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024