Vinnige feite

  • Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was Sarie Marais en daar was selfs al ’n plesierboot wat dieselfde naam gedra het. Die eerste Suid-Afrikaanse rolprent se naam was ook Sarie Marais.
  • Daar was ook ’n kinderoperette wat Sarie Marais genoem is. Dit is deur F.W. Boonzaier geskryf. 6
  • Een van Sarie Toerien (née Maré) se kleinkinders is in 2021 deur die FAK vereer. Japie Toerien van Centurion het sy lewe deur hard gewerk om die geskiedenis van sy grootouers se liedjie en hul nagedagtenis lewendig te hou. 7
  • Daar is ’n granietbord met die woorde van “Sarie Marais” in die FAK se Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria. Hierdie tuin vereer mense se bydraes tot Afrikaanse musiek.
  • Daar was ook al meningsverskille oor wie die regte Sarie Marais was. Daar is in ’n stadium gedink dit was Susara Johanna Adriana Maré van Uitenhage, wat op 10 Mei 1840 gebore is. 8
Foto: iStock

As jy die deuntjie van die liedjie Sarie Marais neurie of die woorde sing, behoort die Afrikaanse mense in jou omgewing dit te herken. Dit is wat ons ’n volksliedjie noem. Dis ’n liedjie wat algemeen geken en gesing word, en as deel van die kultuurerfenis van ’n bepaalde volk of volke beskou word.

Dikwels weet mense nie eens waar ’n volksliedjie vandaan kom of wie dit uitgedink het nie, maar geskiedkundiges glo hulle weet wat die oorsprong van die liedjie “Sarie Marais” is.

Die Afrikaanse lirieke het die eerste keer in 1927 in die Groot Afrikaanse-Hollandse Liederbundel deur Joan van Niekerk verskyn en die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het dit die eerste keer in 1937 in hul eerste Volksangbundel gepubliseer. Daar is toe genoem dat die Susters Bezuidenhoud die liedjie geskryf het.

Daar was egter ook ander mense wat beweer het dat hulle dit geskryf het, maar ’n man genaamd Jacobus Petrus Toerien se dogters het vertel dat hul pa die Afrikaanse woorde geskryf het. Vandag word daar aangeneem dat dit inderdaad Jacobus Petrus Toerien was wat dit geskryf het. Hy het egter nie die hele liedjie geskryf nie en dit is ook nie ’n oorspronklike deuntjie nie. Toerien was onder meer ’n verslaggewer van die koerant, Die Afrikaanse Patriot, van die Paarl en het onder die skuilnaam “Jepete” geskryf. 1

Wie was Jepete?

Jacobus Petrus Toerien is op 18 November 1859 in die Paarl gebore en het by Paarl Gimnasium skoolgegaan. Hy het glo eers by ’n bank gewerk tot hy ’n pos by die koerant Die Afrikaanse Patriot gekry het. Hy is in 1883 na Pretoria gestuur om daar ’n koerant De Republikein te begin. Hy het ook glo by ’n tabakfabriek in Pretoria gewerk.

Hy het in 1896 op Middelburg gebly en by ’n onderneming gewerk, wat die Barberton en Middelburg Herald en die Belfast Heraut uitgegee het. Hy was ook die redakteur van godsdienstige publikasies en het vir die tydskrif Ons Klyntji geskryf. Blykbaar het Toerien ook later op die aandelemark gespekuleer, maar ongelukkig al sy geld só verloor. Hy het ook latere jare ’n drukpers op Middelburg in die destydse Transvaal (vandag (Mpumalanga) begin, maar ongelukkig het als afgebrand. 2

Jacobus Petrus Toerien

Hy het vir Sarie Maré ontmoet toe hy ’n onderhoud met haar pa, Jacob, gedoen het. Sy is as Susara Margaretha (Sarie) Maré op 15 April 1869 op die plaas Eendracht in die Heidelberg-distrik in die destydse Transvaal (vandag Gauteng) gebore. Haar pa se naam was Jacob Philippus Maré en haar ma se naam was Cornelia Susanna Jacoba Erasmus. Haar pa het later ’n lid van die uitvoerende raad van Transvaal geword en dit is ook daarom dat Toerien ’n onderhoud met haar pa gevoer het.

Daar is later jare ’n straat in Pretoria na haar pa vernoem. Dit is die Jacob Maré-straat. Die straat staan egter vandag as Jeff Masemola-straat bekend.

Toerien het Sarie ontmoet toe sy 16 jaar oud was. Hulle is op 19 Desember 1884 getroud en die paartjie het hulle aanvanklik op Potchefstroom gevestig. Hulle het 16 kinders gehad waarvan agt as kinders gesterf het. 3

Sarie Marais

’n Liedjie sien die lig

Toerien het blykbaar Amerikaners ontmoet wat in die Transvaalse myne gewerk het, en het gehoor dat hulle ’n liedjie “Sweet Ellie Rhee” gesing het. Die liedjie is glo tydens die Amerikaanse Burgeroorlog deur Septimus Winner geskryf. Dit was die skrywersnaam van Alice Hawthorn (1826-1902). Toerien het as Jepete die woorde vertaal en sy vrou se naam, Sarie, daarin gebruik.

Sy vrou was baie godsdienstig en nederig en het glo lank ontken dat sy die Sarie in die liedjie was. Sy het die liedjie as privaat gesien en wou nie hê dat almal moes weet dat hy oor haar geskryf het nie.

Toerien is op 3 Mei 1930 oorlede en sy weduwee het toe by hul dogters in Bloemfontein gaan bly. Sy is op 22 Desember 1939 in die ouderdom van 73 jaar oorlede.

Sy is in ’n ongemerkte graf by die Nasionale Vrouemonument begrawe. ’n Vrou, Joan Abrahams, het toe besluit om navorsing oor haar te doen en het die graf gevind. Daar is gevolglik op 10 Oktober 1995 ’n grafsteen vir haar opgerig. ’n Doringboom is ook geplant om mense aan die liedjie te herinner. Sy het, volgens die liedjie se woorde, langs so ’n boom onder by die mielies aan die Mooirivier gewoon. 1

Nasionale Vrouemonument

Die liedjie gaan op reis

Die liedjie staan vandag as “Sarie Marais” eerder as “Sarie Maré” bekend omdat daar ’n aanvanklike drukfout was. Die liedjie het ook nie toe al die versies en woorde gehad wat dit vandag het nie. Ander mense het ook bygedra en nog verse bygevoeg.

Die liedjie was glo al teen die jaar 1899 in Pretoria bekend. Dit het vinnig onder soldate tydens die Anglo-Boereoorlog bekend geword en selfs die Engelse het dit gesing!

Dit het later selfs na Europa versprei omdat Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesing het. Vandag is daar vele vertalings van “Sarie Marais” beskikbaar, daar is selfs Franse en Russiese woorde daarvoor!

Interessant genoeg het die Britse Royal Marines dit as regimentsmars gebruik en hulle het selfs een opleidingskip Sarie Marais gedoop. 3

‘Sarie’-tydskrif kry sy naam

Dié bekende Afrikaanse vrouetydskrif het op 6 Julie 1949 vir die eerste keer op die rak verskyn. Die tydskrif het ’n kompetisie van stapel gestuur en die publiek gevra om name voor te stel. ’n Vrou van Kimberley het die naam “Sarie Marais” na aanleiding van die liedjie voorgestel en sy het die prys gewen. Almal het egter van Sarie-tydskrif gepraat en daar is later besluit om dit ook so te verander. Die volle naam, Sarie Marais, het net tot einde Januarie 1976 so gebly. Dit staan tot vandag toe as Sarie bekend. 4

Die lirieke

My Sarie Marais is so ver van my hart,

maar’k hoop om haar weer te sien.

Sy het in die wyk van die Mooirivier gewoon,

nog voor die oorlog het begin.

 

[KOOR]

 

O bring my t’rug na die ou Transvaal,

daar waar my Sarie woon,

daar onder in die mielies by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais,

daar onder in die mielies by die groen doringboom,

daar woon my Sarie Marais.

 

Ek was so bang dat die Kakies my sou vang

en ver oor die see wegstuur;

toe vlug ek na die kant van die Upington se sand

daar onder langs die Grootrivier.

 

[KOOR]

 

Die Kakies is mos net soos ’n krokodillepes.

Hul sleep jou altyd water toe.

Hul gooi jou op ’n skip vir ’n lange, lange “trip”,

 die josie weet waarnatoe.

 

[KOOR]

 

Verlossing het gekom

en die huis toe gaan was daar,

terug na die ou Transvaal;

my liewelingspersoon sal seker ook daar wees

om my met ‘n kus te beloon.

[KOOR] 5

Woordbank

deuntjie ’n Maklik herkenbare musikale wysie wat gewoonlik goed onthou kan word omdat dit eenvoudig is.
drukpers Masjien wat gebruik word om afdrukke/drukwerk op papier of karton te maak.
gespekuleer As ’n mens ’n transaksie doen waarmee jy ’n groot risiko loop, maar wat kans bied op wins.
kinderoperette ʼn Toneelstuk wat op kinders gemik is, waarin die meeste van die woorde gesing word.
krygsgevangenes Soldate wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp.
lirieke Die woorde van liedjies.
oorsprong Die begin/ontstaan van iets; waar iets/iemand oorspronklik vandaan kom.
nederig Iemand wat nie dink hy/sy is belangriker as ander mense nie; nie hoogmoedig/trots nie; beskeie.
neurie Sag binnensmonds sing.
regimentsmars ’n Militêre eenheid se mars as hulle marsjeer.
volksliedjie Dis ’n liedjie wat algemeen geken en gesing word, en as deel van die kultuurerfenis van ’n bepaalde volk of volke beskou word.
weduwee ʼn Vrou wie se man oorlede is.

Lees hierdie artikels om meer oor Sarie Marais te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor Sarie Marais te leer

Kyk hoe die Britte op “Sarie Marais” marsjeer!

ʼn Vrolike en interessante verwerking van “Sarie Marais”, gesing deur Len Muller en Stef Bos

Die eerste volwaardige Afrikaanse rolprent met klank Sarie Marais (1931)

“Sarie Marais”

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 April 2024 | Bygewerk op 2 Mei 2024