Vinnige feite

  • Joe DiMaggio het ná Marilyn Monroe se dood vir twintig jaar lank drie keer per week blomme by haar graf laat aflewer. 13
  • Tydens die Tweede Wêreldoorlog het meer as ses miljoen Amerikaanse vroue soos Marilyn in fabrieke gewerk om, onder meer, wapens te vervaardig. 16
  • Die fabriek waar Marilyn gewerk het, het ook hommeltuie (“drones”) vervaardig. Hommeltuie is nie nuwe tegnologie nie. In daardie tyd is dit gebruik as teikens sodat die soldate kon oefen om te skiet. Dit was die eerste hommeltuig in die wêreld wat by die groot maat in ʼn fabriek vervaardig was. 17
  • Marilyn het haar hare só baie gekleur dat wetenskaplikes gesukkel het om genoeg DNS te kry vir die vaderskaptoetse wat in 2022 gedoen is. 18
  • Op 2 Februarie 2020 het die meeste mense op een plek soos Marilyn Monroe aangetrek. Altesaam 254 mense in Australië het hierdie wêreldrekord opgestel. 19
  • Op 9 Mei 2022 is ʼn skildery van Marilyn Monroe deur die kunstenaar Andy Warhol, Shot Sage Blue Marilyn, vir $195 miljoen (sowat R3,5 miljard) verkoop. Dit is die meeste wat ooit betaal is vir ʼn skildery uit die 20ste eeu. 20
  • Marilyn het ʼn swart pruik en ʼn sonbril gedra sodat mense haar nie op straat sou herken nie. Sy het dan die naam Zelda Zonk gebruik. 22
  • Die sanger Frank Sinatra het vir haar ’n hondjie gegee wat sy Mafia genoem het. 22
  • Op 19 Mei 1962 het sy by ʼn geleentheid, 10 dae voor pres. John F. Kennedy se 45ste verjaarsdag, vir hom die liedjie “Happy Birthday Mr. President” gesing. Die rok wat sy tydens dié geleentheid gedra het, is in November 2016 op ʼn veiling verkoop vir $4,8 miljoen. 23 Kim Kardashian het dié rok by die bekende Met Gala in 2022 gedra. 24
Foto: iStock

Rooi lippe, blonde hare, ʼn breë glimlag … Dít is waarskynlik waaraan iemand dink as hulle die naam Marilyn Monroe hoor.

Onder al die grimering van dié aktrise wat in 29 rolprente gespeel het, het daar egter baie hartseer gelê. Van haar kinderjare waartydens sy by nege verskillende pleegsorghuise gebly het, tot drie egskeidings en verskeie miskrame, het sy haar hele lewe lank liefde en aanvaarding gesoek en dit ongelukkig nooit gekry nie.

Marilyn Monroe groet die troepe tydens haar Korea-toer.

Marilyn Monroe is vandag een van die ikone van Hollywood, maar sy is ook ʼn simbool van die verwoesting wat glans en roem kan saai.

Marilyn Monroe tydens die verfilming van The Seven Year Itch op die strate van New York. Sy het glo op ‘n stadium tydens die skiet van die bekende toneel gestop en vir die verslaggewers en fotograwe geposeer.
Marilyn Monroe leer hoe om ‘n suurstofmasker te gebruik aan boord van ‘n lugmagstraler na Korea waar sy die troepe in 1954 vermaak het.
Arthur Miller, Simone Signoret, Marilyn Monroe en Yves Montand, 1960

Kinderjare

Marilyn Monroe, gebore as Norma Jeane (soms het sy dit Jean gespel) Mortenson, is op 1 Junie 1926 in Los Angeles, Kalifornië in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. Sy het later haar ma se van gekry en is gedoop as Norma Jeane Baker. 1

Marilyn Monroe se geboortesertifikaat

Gladys Pearl Baker het by ʼn rolprentmaatskappy gewerk toe sy die man ontmoet het wat Marilyn later sou aanvoer is haar pa. Hoewel Gladys en die man nooit getrou het nie, het hulle ʼn buite-egtelike verhouding gehad. Gladys was 26 jaar oud toe sy met Marilyn swanger geword het. 2

Gladys, gebore in Mexiko, se nooiensvan was Monroe. Sy het glo nooit die pa oor die babatjie gekontak nie en het ook nie geld van hom gevra om haar te help om die kind groot te maak nie. Dit is nie bekend hoe Marilyn geweet het wie haar pa was nie omdat Gladys nooit openlik daaroor gepraat het nie. Marilyn het wel gesê haar ma het vir haar ʼn foto in ʼn goue raam gewys en gesê dit is haar pa. 2

Marilyn het later jare aangevoer haar pa is Charles Stanley Gifford, maar sy kon dit nooit bewys nie. Sy het hom ʼn paar keer probeer kontak, maar hy het tot met sy dood ontken dat hy haar pa was. 2

Eers in 2022, jare ná sy dood, het vervaardigers van ʼn dokumentêr oor Marilyn se lewe DNS-toetse laat doen. ʼn Stukkie van Marilyn Monroe se hare is vergelyk met die speeksel (spoeg) van een van Charles se kleinkinders. Die DNS was identies, wat beteken dat Charles Gifford wel Norma Jean se biologiese pa was. 2

Gladys het drie keer in haar lewe getrou, maar sy registreer haar tweede man se van, Mortensen, op Marilyn se geboortesertifikaat. As kind het Marilyn dus bekendgestaan as Norma Jeane Mortensen. Die egpaar het egter in 1928, ná net vier jaar se getroude lewe, geskei. 2

Marilyn was skaars twee weke oud toe Gladys haar na Ida en Albert Wayne Bolender in Kalifornië neem om in pleegsorg by hulle te bly. Wanneer ouers nie na hul kinders kan kyk nie, word die kinders deur die staat weggeneem en by ander mense geplaas wat hulle moet versorg. Gedurende die tyd wat Marilyn by die Bolenders gewoon het, het haar ma haar dikwels besoek. Toe sy ouer was, het Marilyn selfs nou en dan vir haar ma in Hollywood gaan kuier. 3

Ongelukkig het Marilyn se ma, net soos haar ouma, sielkundige probleme gehad wat dit soms gevaarlik gemaak het om naby haar te wees. Toe Marilyn drie jaar oud was, het Gladys op ʼn keer by die Bolender-gesin se huis opgedaag, Ida uit die huis gesluit en Marilyn in ʼn groot sak gesit. Ida het Gladys gestop voor sy Marilyn kon ontvoer. 3

Marilyn Monroe stap van die Santa Monica-hofgebou saam met haar prokureur, Jerry Giesler en vriend, Sidney Skolsky, ná die egskeiding van Joe DiMaggio

Gladys se pogings was nie suksesvol om Marilyn weer aan te neem nie, maar in 1933 besluit Ida dat die tyd aangebreek het vir ma en dogter om weer by mekaar te bly. Vir ʼn paar maande het Gladys dit reggekry om vir die sewejarige Marilyn ʼn stabiele huis en opvoeding te gee, maar ʼn paar dinge het gebeur wat haar geestesgesondheid ʼn groot knou (swakker maak) gegee het. Sy vind uit dat haar dertienjarige seuntjie van haar eerste man aan nierversaking (siekte van die niere) dood is (die seun het by sy pa gebly). Sy hoor ook dat haar oupa homself opgehang het. Asof dit nie erg genoeg is nie, gaan dit sleg by haar werk en daar was ʼn moontlikheid dat sy haar werk kon verloor. 3

Uittreksel uit die fliek, Bus Stop
Monroe in die fliek, Monkey Business
Marilyn Monroe saam met Jack Searles

In daardie stadium raak alles te veel vir Gladys en in die middel van 1934 word sy deur die polisie van haar huis weggeneem nadat Marilyn gesien het hoe sy skree, skop en tekere gaan. Skisofrenie word by haar gediagnoseer en sy word in ʼn staatshospitaal opgeneem. 3

Grace Goddard, ʼn vriendin van Gladys, word as Marilyn se wetlike voog aangestel, wat beteken dat Marilyn nou amptelik by haar kan bly. Sy is ook die persoon wat namens Marilyn besluite neem. 3 Ten spyte van hierdie voogdyskap, bly Marilyn by nege verskillende pleegsorgouers asook in ʼn kinderhuis in Los Angeles. 4

Haar lewe kry weer meer sekerheid toe sy by Edith Ana Lower, ʼn ouer geskeide vriendin van Grace, gaan woon. Gladys vertel haar ook vir die eerste keer dat sy ʼn halfsuster met die naam Berniece in die Amerikaanse staat Kentucky het. Sy was so opgewonde om te hoor dat sy nog familie het, dat sy dadelik vir Berniece begin skryf. Hulle het eers ʼn paar jaar later ontmoet, maar dié twee halfsussies was daar vir mekaar tot met Marilyn se dood. 3

Saam met Laurence Olivier en Susan Strasberg
Monroe saam met Jack Benny

Net toe Marilyn dink sy het uiteindelik ʼn familie wat sy haar eie kan noem, moet sy weer van ouerhuis verwissel. Sy gaan bly weer by haar wetlike voog en haar man, Grace en Doc Goddard. In 1942 moet die Goddards verhuis en hierdie keer kon Marilyn nie saamgaan nie, want die wet het bepaal dat pleegsorgkinders nie na ander state in die VSA kan trek nie. Omdat sy net sestien jaar oud was, sou dit beteken het dat sy wéér by nuwe pleegouers of in ʼn kinderhuis geplaas moes word. Grace en Doc stel toe voor dat sy met hul bure se seun, die twintigjarige James Dougherty trou, want ʼn huwelik sou keer dat Marilyn weer in pleegsorg geplaas word. 5

Monroe en James Dougherty

Huwelik met James Dougherty

Marilyn (Norma Jean Dougherty ná haar huwelik) trou in 1942 op sestienjarige ouderdom. Dit is haar eerste huwelik. 5

Uittreksel uit die fliek, The Prince and the Showgirl

Kort ná hul troue, in April 1944, moet James vir die Amerikaanse weermag tydens die Tweede Wêreldoorlog gaan veg. [Lees meer oor die Tweede Wêreldoorlog.] Marilyn trek by haar skoonouers in en begin, soos baie ander vroue, in ʼn fabriek werk om wapens en ammunisie vir die land te maak. 6

Dit is in dié fabriek waar Marilyn se loopbaan as ʼn model begin. Die weermagfotograaf David Conover moes op 26 Junie 1945 foto’s van die vroulike fabriekwerkers vir die weermag neem. Hy het dadelik die meisie met die donkerbruin hare en natuurlike skoonheid se potensiaal as ʼn model raakgesien.

Marilyn bedank by die fabriek en begin vir Conover en sy fotograafvriende modelwerk doen. 6

In Augustus 1945 trek sy uit haar skoonouers se huis nadat sy ʼn kontrak met die Blue Book-modelagentskap geteken het. James wou nie hê sy vrou moet ʼn loopbaan hê nie en die twee is die volgende jaar in September geskei. 6

Sy was nie heeltemal geskik as loopplankmodel (’n model wat klere tydens ʼn modeparade vertoon) nie en fokus op advertensies en tydskrifvoorblaaie. In ʼn kwessie van ʼn paar maande het sy op 33 voorblaaie van baie gewilde tydskrifte verskyn. Marilyn het intussen haar hare blond gekleur en dit reguit gemaak sodat sy selfs nog mooier sou wees. 6

Emmeline Snively, die eienaar van die modelagentskap, was só beïndruk met Marilyn se sukses, dat sy ʼn oudisie in Junie 1946 met ʼn rolprentmaatskappy gereël het. Marilyn teken ʼn kontrak by 20th Century Fox en verskyn in twee klein rolle in flieks voordat hulle haar kontrak kanselleer. 6

In die film Niagara

Norma Jean word Marilyn Monroe

Ongelukkig was die naam “Norma Jean” nie goed genoeg vir Hollywood nie. As ʼn voorbladmodel het sy reeds haar naam na Jean Norman verander, maar die base van die rolprentmaatskappy het gedink dit is te gewoon vir ʼn aktrise en dat sy iets meer glansryk kort. 7

Uittreksel uit die fliek Monkey Business

Een van die base by 20th Century Fox het die naam Marilyn voorgestel na aanleiding van die aktrise Marilyn Miller wat in die 1920’s en 1930’s baie suksesvol was. Norma Jean het toe Monroe, haar ma se nooiensvan, voorgestel. Vir Marilyn het die naam Norma Jean haar ook aan haar hartseer verlede laat dink en op 23 Februarie 1956 verander sy haar naam amptelik na Marilyn Monroe. Van toe af was dít die naam wat op haar identiteitsdokument was. 7

In die film Gentlemen Prefer Blondes

Marilyn was van nature mooi, maar sy het gehoor dat sy haar voorkoms moet verander as sy ʼn ster wou wees. Haar natuurlike bruin krulhare het plek gemaak vir blonde hare. Sy het dit talle kere gekleur tot dit platinumblond (byna silwerblond) was. Sy het ook haar haarlyn (lyn op die kop waar hare begin groei) deur middel van elektrolise verander sodat dit ʼn meer reguit lyn sou wees. Dit was maar net die begin van die gedaanteverwisseling wat Marilyn moes ondergaan. Sy het deur plastiese chirurgie (operasies) die voorkoms van haar ken en neus verander en die mense vir wie sy gewerk het, het ook besluit watter klere sy sou dra. 8

In die film How to Marry a Millionaire

Loopbaan en huwelike

Ná haar kontrak by 20th Century Fox gekanselleer is, begin sy weer modelwerk doen. ʼn Naak (kaal) foto van haar in ʼn kalender besorg aan haar ʼn rol in Scudda-Hoo, Scudda-Hay (1948). 9

Met haar verskyning in The Asphalt Jungle in 1950 kry sy talle briewe van bewonderaars en toe sy in All About Eve (1950) verskyn, kan 20th Century Fox nie anders as om haar nóg ʼn kontrak aan te bied nie. Let’s Make It Legal (1951), Love Nest (1951), Clash by Night (1952) en Niagara (1953) volg hierna. 9

Uittreksel van die fliek, Asphalt Jungle
Monroe en Keith Andes in Clash Night
Uittreksel uit die fliek, Niagara

Gentlemen Prefer Blondes (1953), How to Marry a Millionaire (1953) en There’s No Business Like Show Business (1954) begin sy wêreldwyd bekend word. 9

Marilyn Monroe en Jane Russell
Uittreksel van die fliek, Gentlemen Prefer Blondes

Sy ontmoet Joe DiMaggio in 1952, een van die beste bofbalspelers van alle tye. Net soos Marilyn, was hy ook op soek na stabiliteit en ʼn familie. Die huwelik het ongelukkig net nege maande gehou. DiMaggio wou ʼn vrou gehad het wat by die huis bly en was jaloers op Marilyn se openbare beeld (aansien in die publiek). Hulle het later weer vriende geword, maar nooit weer getrou nie. 10

Marilyn en Joe DiMaggio

Ná DiMaggio en Marilyn se egskeiding, besluit sy om vir die eerste keer amptelik dramaopleiding te kry. Sy studeer onder Lee Strasberg by die Actor’s Studio in New York. Haar talent as komediant kom na vore in The Seven Year Itch (1955) en Bus Stop (1956). 9

Uittreksel uit die fliek, Seven Year Itch
Uittreksel van die fliek, River of No Return

Marilyn en Arthur op hul troudag

In 1956 trou sy vir ʼn derde keer, dié keer met die dramaturg Arthur Miller. Sy kry vir die eerste keer erkenning as ʼn “ernstige” aktrise vir haar rol in Some Like it Hot (1959). 9

Tydens haar huwelik met Miller het sy talle miskrame gehad. Die spanning van die miskrame en die verskille op die stel van The Misfits (1961), ʼn rolprent wat Miller spesifiek vir Marilyn geskryf het, het bygedra tot die probleme wat tussen die egpaar ontstaan het. In 1961 eindig Marilyn se derde huwelik in die skeihof. 11

Marilyn en Arthur Miller
Uittreksel uit die fliek, Misfits
Monroe en Laurence Olivier
In die film Ladies of the Chorus

Laaste maande voor haar dood

Baie dinge het vir Marilyn begin skeefloop. Soos haar ma en ouma het sy ook sielkundige probleme gehad. In 1961 het sy haarself by die Payne Whitney-kliniek laat opneem. Hoewel sy ʼn psigiater voor haar dood gesien het, het sy steeds met haar geestesgesondheid geworstel. 11

Haar derde huwelik wat tot ʼn einde gekom het, asook bewerings oor mislukte verhoudings met, onder andere, die Amerikaanse president John F. Kennedy en die sanger Frank Sinatra, het bygedra tot haar ongelukkigheid.

Monroe saam met J.F. Kennedy
Monroe sing Happy Birthday Mr. President, 1962
Marilyn Monroe sing verskeie liedjies vir ‘n geskatte 13 000 man van die Eerste Mariene Afdeling

“Hollywood is ʼn plek waar hulle jou $1 000 sal gee vir ʼn soen, en 50c vir jou siel,” het sy gesê. 11

By die werk het dit ook nie goed gegaan nie. Haar laaste fliek, The Misfits, was ʼn mislukking en in Junie 1962 het sy haar rol in Something’s Got to Give verloor omdat sy dikwels laat was en verfilming vertraag het. Twentieth Century Fox Studios het haar vir $500 000 gedagvaar omdat hulle $2 miljoen weens die vertragings verloor het. Die publisiteit wat die saak gekry het, was ook nie goed vir Marilyn se reputasie (wat ander mense van jou dink) nie. 11

Marilyn Monroe-huis

Marilyn het aan slapeloosheid, depressie en angs gely en het begin sukkel met ʼn verslawing aan alkohol en voorskrifmedikasie. 12

Daar was dus baie redes om te glo dat Marilyn Monroe haar eie lewe geneem het toe haar liggaam op 5 Augustus 1962 deur haar huishoudster en psigiater in haar slaapkamer ontdek is. Sy was slegs 36 jaar oud. ʼn Telefoongehoorstuk was nog in haar hand en langs haar was ʼn leë pilhouer wat slaappille bevat het. 13 Indien iemand te veel slaappille drink, kan hy of sy doodgaan.

Mense na aan haar wou egter nie glo sy het haar eie lewe geneem nie. Volgens hulle het dit in daardie stadium goed met haar gegaan. Sy het haar rol in Something’s Got To Give teruggekry, het pas haar eerste huis gekoop en het op die voorblad van Life-tydskrif verskyn. Baie mense glo vandag steeds dat sy vermoor is omdat sy, onder andere, ʼn verhouding met pres. John F. Kennedy gehad het en dit sy politieke loopbaan kon beïnvloed. 11

Die polisie in Los Angeles het egter bevind dat sy haar eie lewe geneem het deur ʼn oordosis slaappille. 14

Spekulasie oor haar afsterwe duur vandag nog voort, maar wat wel seker is, is dat sy hartseer en alleen dood is. Omdat sy geen familie behalwe haar halfsussie gehad het nie, was haar eksman Joe DiMaggio die enigste persoon aan wie die polisie kon dink om te kontak. Hy het ook haar begrafnis gereël. Die Kennedys en baie akteurs en regisseurs van Hollywood is nie by die begrafnis toegelaat nie, want DiMaggio het gevoel dat hulle die rede vir haar dood is. Die groot ster van Hollywood het uiteindelik ʼn baie klein begrafnis gehad met net die mense wat regtig vir haar lief was wat dit bygewoon het. 15

Beeld van Marilyn Monroe in Haugesund-hawe, Noorweë

Woordbank

aktrise Vrou wat toneelspeel.
ammunisie Enigiets waarmee ʼn mens kan skiet, bv. bomme, patrone, kruit.
angs ʼn Groot, benouende vrees.
bewerings ʼn Stelling (sonder bewys) dat iemand iets gedoen het.
blond Liggeel; geelwit.
bofbal ʼn Balspel met nege spelers aan elke kant, waarvan elkeen een of meer kanse kry om ʼn lopie aan te teken deur die bal te slaan en rondom ʼn vierkant te hardloop.
buite-egtelike Buite die huwelik.
gedagvaar Iemand beveel om in die hof te verskyn.
depressie Ernstige terneergedruktheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
gediagnoseer Vasstel watter siekte iemand het of wat ʼn probleem veroorsaak.
DNS Deoksiribonukleïensuur; die stof in die selle van die liggaam wat elke individu se unieke genetiese inligting bevat.
dramaturg Skrywer van toneelstukke.
egskeidings Die wettige beëindiging van ʼn huwelik in ʼn hof.
elektrolise Chemiese dekomposisie deur elektriese werking, onder meer die opbreek van gewasse, ongewenste hare, ens.
fabriek ʼn Plek/gebou waar goedere vervaardig word.
geneties Van of wat betref die vertakking van die biologie wat handel oor die erflikheid; erflikheidsleer; oorerwingsleer.
geestesgesondheid ʼn Toestand van psigologiese welsyn waar die persoon op ʼn bevredigende emosionele wyse funksioneer en sy/haar gedrag wys dat hy/sy in staat is om die lewe te geniet en ʼn balans te handhaaf tussen psigologiese veerkragtigheid en lewensaktiwiteite a.g.v. eie persepsie van outonomie, bevoegdheid, vermoëns, produktiwiteit en gemeenskapsdeelname, en die vermoë om alledaagse stres te hanteer.
glansryk Opwindend/aantreklik omdat dit te make het met mense wat ryk, beroemd of in die mode is.
halfsuster ʼn Suster wat die dogter is van net een van jou ouers.
hommeltuie Onbemande (vlieg)tuig wat met behulp van programmatuurbeheerde vlugplanne onafhanklik kan vlieg, onder meer aangewend vir militêre doeleindes, in lugsoektogte en reddingsoperasies, om weerstoestande, veldbrande en verkeersvloei te monitor, ens.; lugrobot.
ikone ʼn Beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word.
kinderhuis ʼn Groot huis waarin kinders wie se ouers dood is of weens omstandighede nie self vir hulle kan sorg nie, woon en versorg word.
komediant Iemand wie se werk dit is om grappe te vertel en in komedies op te tree.
kontrak ʼn Formele ooreenkoms tussen twee (of meer) partye, waarin neergeskryf word wat elkeen moet doen.
miskrame Te vroeë bevalling waarby die vrug/fetus dood is; ontydige geboorte.
model Iemand wat vir ʼn kunstenaar/fotograaf poseer of klere vertoon.
modelagentskap Plek wat modelwerk organiseer.
nooiensvan ʼn Vrou se van voordat sy trou en haar man se van begin gebruik.
oudisie Toets om ʼn sanger/toneelspeler/uitsaaier/ens. se bekwaamheid vas te stel.
plastiese chirurgie Snykunde om weefsels op te bou en ontbrekende liggaamsdele te verskaf.
pleegsorg Versorging, soms ingevolge ʼn hofbevel en deur bemiddeling van ʼn maatskaplike werker of welsynsorganisasie, van ʼn kind deur mense wat nie sy of haar natuurlike ouers is nie.
potensiaal Die natuurlike vermoë of eienskappe wat nodig is om in die toekoms tot ʼn bepaalde soort mens/ding te ontwikkel.
psigiater ʼn Dokter wat geestesiektes behandel.
publisiteit Die aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry.
regisseurs ʼn Man of vrou wat ʼn groep toneelspelers afrig.
rolle Die karakter wat iemand in ʼn toneelstuk/rolprent/rolspel vertolk en die woorde wat hy/sy (moet) sê.
sielkundige Die onsigbare/geestelike/emosionele/intellektuele deel van ʼn mens.
skisofrenie ʼn Ernstige geestesiekte waartydens iemand se gevoelens en gedagtes nie verband hou met die werklikheid nie
skoonouers Jou man/vrou se ouers; jou skoonma/skoonmoeder en skoonpa/skoonvader.
spekulasie Oor iets/iemand dink/wonder/raai, dikwels omdat jy nie genoeg feite het nie.
Tweede Wêreldoorlog ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het.
verslawing Jou heeltemal aan iets oorgee; nie meer sonder iets kan klaarkom nie.
voog Iemand wat amptelik benoem is om na die belange van ’n ander, veral ’n minderjarige, om te sien.
voorskrif ʼn Stukkie papier waarop ʼn dokter skryf watter medisyne jy by die apteek moet kry of watter behandeling jy nodig het; ook die medisyne/behandeling self. 25

Lees en kyk hier as jy meer oor Marilyn Monroe wil weet

Kyk hierdie video’s oor dié Hollywood-ikoon

Elton John sing “Candle in the Wind” wat oor Marilyn Monroe gaan. Tydens prinses Diana se begrafnis het hy dieselfde liedjie gesing, maar net die woorde verander: 

Marilyn sing “Happy Birthday Mr. President”:

Kyk hoe baie werk dit is om hierdie aktrise soos Marilyn Monroe te laat lyk:

ʼn Gewilde toneel uit The Seven Year Itch:

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 November 2022 | Bygewerk op 16 Februarie 2024