Vinnige feite

  • Die Vita-toekennings het in 1983 ontstaan en is deur Philip Stein begin. Die doel daarvan was om uitnemendheid in plaaslike kuns te bekroon – dit sluit teater en dans in. 13
  • Marga se droom was om ’n drama oor haar dogter se skisofrenie te skryf en om ook ’n opvolgboek te skryf op die een wat sy en haar dogter saam geskryf het. 14
  • In die rolprent Die windpomp moes Marga, Ian Roberts en Grethe Fox in een van die tonele om eenuur die nag in ’n dam by Lourensford in die Kaap geswem het. 2
  • Vir Marga was Fanie Fourie’s lobola een van haar gunstelingrolprente omdat dit ’n interessante teks gehad het en die storie gegaan het oor iets wat in Suid-Afrika kon gebeur. 2

Dit gebeur soms met toneelspelers dat die publiek hulle net vir een rol of karakter onthou, maak nie saak hoeveel ander rolle hulle vertolk het nie. Marga van Rooy is ‘n goeie voorbeeld hiervan – mense het haar veral onthou vir haar komiese rol as Ella, Worsie se ma in die TV-reeks Vetkoekpaleis. Dit het gebeur al het sy in die jare voor Vetkoekpaleis ’n hele klomp ernstige rolle in toneelstukke vertolk.

Gesinslewe

Marga van Rooy is op 25 Januarie 1942 in Burgersdorp in die Oos-Kaap gebore. 1

Sy het drama aan die Universiteit van Pretoria studeer. In 1960, in haar eerste jaar op universiteit, het Marga vir Frans Hendrik Boot ontmoet. Hulle het albei in dieselfde koshuiskonsert gespeel. Hulle is in 1965 tydens ’n plaastroue met 500 gaste op Burgersdorp getroud. 2

Sy was vir 44 jaar met Frans getroud, tot en met sy dood op 70-jarige ouderdom. Hulle het vyf kinders gehad: Die oudste is Henriëtte, dan Johannes (die enigste seun), daarna Tine, en die jongste is die tweeling Maritsa en Adriana. 3

Die gesin het in 1994 van die Oos-Kaap af na Johannesburg verhuis. 2

Marga was baie lief vir haar kleinkinders en het gedurende ’n onderhoud in 2008 vertel hoe sy op die stel van Egoli met foto’s van haar kleinkinders spog!

Sy het ook vertel dat sy en haar man baie lief is vir boeke en dat sy daarom bly is dat die kinders ook van stories hou. Haar wens vir haar kleinkinders was dat hulle positief moet wees, selfs al gaan dinge nie altyd goed in Suid-Afrika nie. Sy het graag haar kleinkinders geleer dat hulle Liewe Jesus moet help met sy goeie werk op aarde. 4

Marga en haar gesin het ’n krisis beleef toe hul oudste dogter, Henriëtte, met skisofrenie gediagnoseer is toe sy 18 jaar oud was. Sy en Henriëtte vertel saam van hierdie tyd in hulle lewens in die boek Marga & Henriëtte: in die skadu van skisofrenie. Hier vertel hulle die verhaal van ’n ma en dogter se worsteling met skisofrenie en hoe hulle later vrede gemaak het met die siekte en ook met mekaar. 3

Marga op die verhoog

Marga het sedert haar studentedae toneel gespeel. Sy het vanaf 1964 professioneel in die TV-, verhoog- en rolprentwêreld gewerk. 3

Op die verhoog het sy aan die begin van haar loopbaan rolle in toneelstukke van Shakespeare en die Russiese dramaturg Tsjekhof vertolk. Elma Potgieter vertel hoe sy as ’n hoërskoolmeisie ongelooflik ontroerd was deur Marga se spel as Sonja in die toneelstuk Oom Wanja. Ander spelers saam met Marga in hierdie stuk was bekende toneelspelers soos Cobus Rossouw, Wilna Snyman en Louis van Niekerk.

Die rolle waarvoor die meeste mense haar sal onthou, is vir haar optredes in TV-reekse soos VetkoekpaleisEgoli en Molly en Wors. Sy het ook in ’n hele klomp rolprente opgetree, insluitend Pappalap, Nommer assebliefLipstiek dipstiekPanic mechanic, Fanie Fourie’s lobola en ’n Pawpaw vir my darling. 5

Marga het ook in klugte gespeel. Twee daarvan was produksies van Lefra Produksies. Die eerste was in 2015 met My boetie se boetie se boetie se baba. Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies, het vertel hoe lekker dit is om saam met iemand te werk wat so professioneel is in haar werk. 6 In 2016 het Marga weer in ’n klug van Lefra Produksies gespeel – Da’ gaat die bruid.

Van die ernstige produksies waarin Marga gespeel het, sluit in Die kersieboord, Oom Wanja (Tsjekhof se laaste drama), Romeo en Juliet, Macbeth, ’n Lam vir die Pase en Die pluimsaad waai ver. 7

Stukke uit Marga se pen

Marga het nie slegs toneel gespeel nie, sy het ook toneelstukke geskryf.

Die eerste drama wat sy geskryf het (debuutdrama), was getiteld Die pakkamer. Dit is in 1996 vir die eerste keer by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) opgevoer. Die regisseur was Gerben Kamper, en die toneelspelers was Onida Cowan, Isadora Verwey en Nomsa Xaba. 8

Marga het later ook toneelstukke geskryf of saamgestel wat sy op haar eie of saam met ander toneelspelers aangebied het. Twee daarvan is Anties, tannies en madams (2011) wat sy saam met Yvonne Schoeman aangebied het, asook Sandveldstories (2012). In laasgenoemde het sy hulde gebring aan die skrywer Ferdinand Deist met sy komiese Namakwalandstories, waarin sy ook die streeksaksent gebruik het.

Albei hierdie opvoerings is onder meer by die Pierneefteater in Pretoria aangebied.

Marga het ook die eenvroutoneelstuk Wat is ’n huis sonder Worsie se moeder geskryf. 2

Toekennings

In 1963 is Marga as die beste aktrise in die Afrikaanse Studentebond (ASB) se dramafees vir studente vereer.

In 1996 het sy ’n Vita-toekenning as dramaturg van die jaar vir haar toneelstuk Die pakkamer ontvang. 8 Sy het nog ’n Vita-toekenning ontvang as die beste vrouebyspeler in Die groot wit roos. Sy is ook vir ’n SAFTA-toekenning (Suid-Afrikaanse Film- en Televisietoekenning) vir haar rol in Fanie Fourie’s lobola benoem. 9

In 2014 het sy ’n Silwerskerm-trofee vir haar rol as “tannie Marietjie” in die rolprent Die windpomp ontvang. 10 In 2015 het sy ’n SAFTA-toekenning vir beste vrouebyspeler vir dieselfde rol ontvang. 11

Kollegas gesels oor Marga

Pieter Esterhuizen, wat in Vetkoekpaleis en ook in Mollie en Wors saam met haar gewerk het, vertel dat Marga altyd voorbereid, betyds en positief was. Hy sê dit was haar lewenspassie om ’n aktrise te wees, en sy het elke projek met ywer aangepak. So ernstig was sy oor haar werk dat sy die dag nadat haar man, Frans, oorlede is, wou ingaan werk toe omdat hulle met opnames besig was. 11

Etienne Fourie, regisseur van Die windpomp, vertel dat Marga altyd opgewonde was op die stel omdat sy gevoel het sy is bevoorreg om te doen waarvoor sy so lief is.

Volgens Lizz Meiring wat in onder andere Mollie en Wors asook Lipstiek dipstiek teenoor Marga gespeel het, was Marga vol pret en hiperprofessioneel, en was dit ’n groot voorreg om saam met haar te werk. 11

Yvonne Schoeman wat vir Marga by Egoli ontmoet het en in meer as een produksie saam met Marga opgetree het, vertel dat Marga nie net ’n goeie aktrise was nie, maar ook ʼn goeie mens en vriendin. Dit was ’n groot lekkerte om saam met haar die langpad te vat na kunstefeeste en opvoerings oor die land.

Frans Swart van Lefra Produksies het die volgende oor Marga gesê: “Marga was wyd belese, en ek gaan beslis ons geselsies oor Van Wyk Louw, Brecht, Tsjekhof en Moliére baie mis. Wat ek miskien die meeste gaan mis, is Marga se wonderlike vriendskap en menswees. Die mooi hoede en haar lewensvreugde.” 12

In Pille en Brille in die Pierneefteater (2011).

Marga se laaste rol

Marga se laaste rol was in die klug Da’ gaat die bruid wat deur Lefra Produksies aangebied is. Sy sou aan die einde van Januarie 2017 weer in ’n speelvak daarvan opgetree het. Haar rol is deur die aktrise Elma Potgieter oorgeneem. 3

Marga is op 15 Januarie 2017 in Stellenbosch oorlede toe sy haar stryd met kanker verloor het. Sy was 75 jaar oud en is in Hermanus begrawe. 8

Woordbank

bevoorreg Om dankbaar te wees vir iets baie spesiaals.
dramaturg Persoon wat ’n drama (ernstige storie) vir die verhoog of vir ’n rolprent skryf.
eenvroutoneelstuk Toneelstuk waarin net een persoon, ’n vrou, optree.
karakter Die persoon wat ’n toneelspeler op die verhoog of in ’n rolprent vertolk.
klugte Komiese toneelstuk waarin baie dinge skeefloop en daar baie misverstande voorkom.
krisis Moeilike tyd waarin iets slegs gebeur.
lewenspassie Iets waaroor iemand baie ernstig is en baie graag wil doen.
lobola Gebruik onder sommige van die swart groepe waar die bruidegom voor die huwelik aan die pa van die bruid ʼn groot geskenk moet gee – dit is gewoonlik beeste, maar kan ook geld wees.
onderhoud Gesprek tussen twee partye, byvoorbeeld waartydens ’n joernalis inligting van ’n ander persoon wil kry.
ontroerd Diep geraak.
positief Om altyd die goeie dinge in die lewe te probeer raaksien.
professioneel As jy ’n beroep professioneel beoefen, beteken dit dat jy betaling daarvoor ontvang. As jy professioneel is in jou beroep, beteken dit dat jy jou werk so goed en effektief as moontlik verrig.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
skisofrenie Komplekse siekte wat veroorsaak word deur ’n chemiese wanbalans in ’n mens se brein en wat gedisorganiseerde gedrag en spraak tot gevolg het.
speelvak Die aantal opvoerings van ’n toneelstuk direk na mekaar.
streeksaksent Die kenmerkende manier waarop mense in ’n sekere streek bepaalde klanke uitspreek.
uitnemendheid Uitsonderlik goed.
wyd belese Iemand wat baie boeke oor baie verskillende onderwerpe gelees het.
ywer Met energie en geesdrif.

Lees dié artikels om meer te leer

Meer oor toneelstukke waarin Marga gespeel het:

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Drie uittreksels van Marga se spel in Vetkoekpaleis

Ella se tog

“Nee” beteken “nee”

Tweede prys

Marga se onderhoud op Pasella

Marga gesels oor haar rol in Die Windpomp

Marga van Rooy vertel oor haar rol in die rolprent Die Windpomp. Een van die ander toneelspelers in die prent was niemand minder nie as Ian Roberts, baie bekend as hoofsanger en musikant van die groep Radio Kalahari Orkes.

‘n Uittreksel uit die rolprent Fanie Fourie’s lobola wat in 2013 die gehoortoekenning by die Seattle International Film Festival in Amerika ontvang het. Marga het ook in hierdie rolprent gespeel.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Maart 2024 | Bygewerk op 12 Junie 2024