Vinnige feite

  • Daar word jaarliks ’n lys van die wêreld se mees etiese ondernemings opgestel. Dit is by www.worldsmostethicalcompanies.com beskikbaar. 9
  • Volgens die 2018 Globale Sake-etiekopname sal werknemers meer eties optree as die maatskappy waarvoor hul werk, etiese sakepraktyke het. ’n Sterk etiese kultuur bevorder dus etiese optrede.
  • Die woord etiek word van die Griekse woord“ethos” afgelei. Dit beteken karakter.
  • Die meeste samelewings, van die antieke tot moderne tye, se etiese kodes kom ooreen. Die meeste samelewings het wette of gebruike wat etiese praktyke ondersteun. 10
  • Christelike rentmeesterskap sluit ook ’n mens se tiende in. Daarvolgens moet ’n Christen een tiende van sy inkomste aan die kerk gee. ’n Mens gee as’t ware iets terug van die gawes en seëninge wat jy van God ontvang. 11
  • Kinders kan ook omgewingsrentmeesters wees. Probeer om minder plastiek te gebruik, skakel onnodige ligte en kragtoestelle af, moenie water mors nie en help jou ouers om kompos te maak.
  • Aardedag word jaarliks op 22 April gevier en dis ’n belangrike dag om van ons omgewing en van ons rentmeesterskap ten opsigte daarvan bewus te word.

Het jy al iets kosbaars by iemand geleen en geweet dat jy dit mooi moet oppas? Dalk was dit jou maat se gunstelingrekenaarspeletjie, jou suster se fiets of jou pa se horlosie. Iemand het dit aan jou toevertrou en dit was jou verantwoordelikheid om dit op te pas. Jy het baie seker gemaak dat dit veilig is en jy was dus die rentmeester daarvan.

’n Rentmeester is iemand aan wie die bestuur van ’n huishouding of die besittings van ’n ander toevertrou word.

Ons as mense het elke dag baie besluite om te maak. Etiek het met daardie besluite te make, want hoe tree jy teenoor ander mense op? Vertel jy die waarheid of jok jy? Is jy mededeelsaam of suinig? Leer jy hard vir ’n toets of kyk jy by ’n maat af? Al hierdie besluite wat jy maak, sê iets van jou karakter en of jy eties optree of nie. Etiek is die wetenskap van die sedelike norme of wette. As ’n mens sê jy tree eties op, dan beteken dit jy tree in ooreenstemming met die reëls en volgens sekere waardes op.

Etiek gaan oor dit wat goed vir ’n persoon en die samelewing is.

Die woorde etiek en rentmeesterskap is baie belangrik in die sakewêreld, want daar word verwag dat maatskappye eties sal optree en dat hulle goeie rentmeesterskap aan die dag sal lê. Hierdie optrede is net so belangrik in regerings, want die mense wat deel van die regering is, werk met die burgers se belastinggeld. Hulle moet seker maak dat hulle die staat se hulpbronne reg gebruik en dat die land opgebou word.

Dit is ook woorde wat in die Christelike geloof belangrik is, want daar word verwag dat gelowiges eties en as rentmeesters sal optree. Kom ons kyk eerstens na waarom rentmeesterskap in die Christelike konteks belangrik is.

Christene en rentmeesterskap

Christene glo dat God die aarde vir die mensdom gemaak het. God is dus die skepper en eienaar van alles op aarde en gelowiges tree slegs as toesighouers of bestuurders daarvan op. Gelowiges is dus medewerkers in God se koninkryk en die rentmeesters daarvan. 1

Christene se belangrike taak word reeds in Genesis 1:28 (1983-vertaling) genoem: Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Mense het dus ’n verantwoordelikheid om na die aarde om te sien en moet daarom ook rekenskap aan God daaroor gee. Dit sluit die omgewing, diere, ons gesinne en gemeenskappe in. 2

Christelike rentmeesterskap sien dit as Christene se plig om die talente wat God vir hulle gegee het, reg te gebruik. Christen-rentmeesters is nie net vir finansiële seëninge verantwoordelik nie, maar ook vir hul geestelike seëninge. Hulle moet hul gawes (talente) wat van God afkom, tot voordeel van die koninkryk van God gebruik.

Josef se storie in Genesis 39 word as een van die beste voorbeelde van Bybelse rentmeesterskap gesien. God het van Josef ’n vooruitstrewende en welvarende man in Egipte gemaak en hy was aan die hoof van baie mense en rykdom in Egipte.

Goeie rentmeesterskap is ’n manier hoe gelowiges hul liefde en dankbaarheid aan God kan wys. 3

Bekende Bybelverse oor rentmeesterskap

1 Petrus 4:10 (1983-vertaling): As goeie bedienaars van die veelvoudige genade van God moet elkeen, namate hy ‘n genadegawe ontvang het, die ander dien. (1983-vertaling)

1 Genesis 1:28 (1983-vertaling): Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

1 Genesis 2:15 (1983-vertaling):  Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.

2 Korintiërs 9:6-7 (1983-vertaling): Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes. Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.

Kolossense 3:23 (1983-vertaling): Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.

Lukas 16:11 (1983-vertaling): As julle dan nie betroubaar is in die hantering van die oneerlike Mammon nie, wie sal die ware rykdom aan julle toevertrou?

Titus 1:7 (1983-vertaling): ’n Ouderling is immers ‘n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie ‘n dronkaard of ‘n rusiemaker of ‘n soeker na oneerlike wins nie. 4

Rentmeesterskap en omgewingsake

Ons almal weet dat ’n krisis die aarde in die gesig staar. Die aarde word al hoe warmer en klimaatsverandering vind teen ’n spoed plaas. Dit skep eindelose probleme vir lewe op die planeet. Almal van ons het ’n verantwoordelikheid om ons deel vir die omgewing te doen en daarom is omgewingsrentmeesterskap baie belangrik. Hierdie verantwoordelikheid word deur mense, maatskappye, gemeenskappe en regerings gedeel. Omgewingsrentmeesterskap is ’n verbintenis tot die doeltreffende gebruik van natuurlike hulpbronne, die beskerming van ekosisteme en die voldoening aan omgewingsvereistes. [Lees hier oor ekosisteme.] ’n Verantwoordelikheid tot die omgewing is nodig om ’n volhoubare samelewing te skep. In ’n volhoubare samelewing word natuurlike hulpbronne beskerm en ’n beter toekoms kan só vir die aarde geskep word.

Die doel van omgewingsrentmeesterskap is om natuurlike bronne te beskerm sodat daar volhoubare skoon en gesonde lug kan wees; ekostelsels herstel en beskerm kan word; skoon energie gegenereer word; goeie grondbestuur en ontwikkeling plaasvind; waterhulpbronne onderhou word om die gehalte en beskikbaarheid daarvan te verhoog; en afval verminder en omgewingsvriendelike stowwe meer gebruik word. 5

Rentmeesterskap in die sakewêreld

Rentmeesterskap en etiek is belangrike konsepte in die sakewêreld. Daar word van ondernemings verwag om tot die welstand van hul werknemers en samelewing by te dra. As rentmeesters is dit belangrik dat hulle die gemeenskappe waarbinne hulle werk, ook bevoordeel.

Daar is baie ondernemings wat as rentmeesters vir ander mense se bates optree en hulle het ’n groot verantwoordelikheid om dit te beskerm. Dink maar net aan banke wat mense se geld vir hulle hou en beleggingsmaatskappye wat mense se geld vir hulle belê.

Ondernemings wat goeie rentmeesters is, fokus op die toekoms en nie net op die hede nie. Hulle moet na ’n positiewe ekonomiese, sosiale en omgewingsimpak mik.

Ondernemings se rentmeesterskap sluit ook die verantwoordelikheid teenoor die omgewing in. Hulle moet kyk na die impak (uitwerking) wat hulle op die omgewing het en meer volhoubare praktyke volg. Hulle moet goeie werksomstandighede vir hul werknemers skep en hul sakepraktyke moet etiese waardes weerspieël. 6

Goeie rentmeesterskap beteken dat ondernemings in die beste belang van hul aandeelhouers, personeel en klante/kliënte moet optree.

Om eties sake te doen, beteken dat ondernemings eerlik moet wees en goeie waardes moet hê. 7

Beginsels van etiek in die sakewêreld

  • Toerekeningsvatbaarheid: Leiers en ander mense moet hulself vir hul aksies verantwoordelik hou. Hulle moet etiese sakepraktyke volg.
  • Integriteit: Sakeleiers moet eerlik, betroubaar en geloofwaardig wees.
  • Respek vir ander: Respek is krities in die werkplek. Almal is op privaatheid, gelykheid, geleenthede en empatie geregtig.
  • Eerlikheid. Eerlikheid is belangrik vir ’n etiese klimaat (atmosfeer) in ’n onderneming.
  • Respek vir wette: Almal in die onderneming moet die land se wette en die werkplek se reëls gehoorsaam.
  • Verantwoordelikheid. Werknemers en werkgewers moet verantwoordelikheid vir hul werk neem.
  • Deursigtigheid: Maatskappye moet eerlik wees en inligting deurgee aan mense wat daarby belang het.
  • Deernis: Werknemers, vennote, kliënte of klante se welstand moet in ag geneem word.
  • Regverdigheid: Almal moet dieselfde behandel word en toegang tot dieselfde geleenthede hê.
  • Lojaliteit: Die leierskap in die onderneming asook hul werknemers moet lojaliteit aan hul onderneming en mekaar toon.

Woordbank

burgers Die mense wat lede van ’n stad of staat is.
ekosisteme ’n Biologiese sisteem waarin organismes saam- en op mekaar inwerk.
etiek Dit is die wetenskap van sedelike norme of wette.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is.
klimaatsverandering Die verandering van die klimaat oor ’n tydperk.
norme Waaraan iets gemeet word, ’n maatstaf.
rentmeester Dis iemand aan wie die bestuur van ’n huishouding of die besittings van ’n ander toevertrou word.
samelewing Mense in die algemeen, soos hulle in gemeenskappe saamleef, veral in gemeenskappe waarin hulle dieselfde gewoontes, wette, ensovoorts het.
sedelike  Eerbaar, deugsaam.
toevertrou Iets in iemand se sorg laat; ter veilige bewaring gee.
verantwoordelikheid Die verpligting om rekenskap te gee, om verantwoording te doen.
volhoubare Iets wat teen ‘n bepaalde, bevredigende tempo of op ‘n konstante vlak gehandhaaf kan word, sonder dat hulpbronne uitgeput word.

Lees hierdie artikels om meer oor rentmeesterskap en etiek te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor rentmeesterskap en etiek te leer

Etiek vir kinders: Wat is reg en verkeerd?

Wat is etiek?

Meer oor Christelike rentmeesterskap

Gepubliseer op: 8 Februarie 2023 | Bygewerk op 15 November 2023