Vinnige feite

  • Die inligting wat ons van Krotoa het, kom meestal uit die Dagregister, ’n dagboek wat die goewerneurs moes gehou oor belangrike gebeure in die Kaap.
  • Tydens die VOC-era is ongeveer 65 000 slawe na die Kaap gebring. Die eerste slawe het in 1658 hier aangekom. 5
  • Die samelewing aan die vroeë Kaap was in amptelike kategorieë geplaas: Kompanjie-dienaars, Vryburgers, slawe en “vreemdelinge”. Tot watter groep jy behoort het, het bepaal of jy kon grond besit, vry rondloop, en of jy aan militêre diens moes deelneem. 5
  • Krotoa en Pieternella is die hooffigure in drie romans: Hy het my Eva genoem van Irma Vermeulen; Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee, en Eilande van DS (Dan) Sleigh. 6
  • Deur Pieternella is Krotoa se gene in die volgende families: Bruyns, Botma, Buys, De Vries, Oosthuizen, De Witt, Redelinghuys, Van der Vyver, Theron, Opperman, Erasmus, Smit, Botha, Van der Heever, Huisamen, Engelbrecht. 4

Krotoa, ook bekend as Eva (1642-1674), was ’n Khoi-Khoi, tolk en inwoner van die Kaap de Goede Hoop. Sy is een van die bekendste inwoners uit daardie tydperk van Suid-Afrika se geskiedenis – man of vrou, swart, bruin of wit. Sy was een van die eerste Khoi-Khoi-persone wat Christenskap aangeneem het, en die eerste persoon van ’n ander ras wat volgens Westerse gebruike getroud is.

Agtergrond

Krotoa was ’n lid van die Goringhaikona, ’n Khoi-Khoi-stam wat in die omgewing van Tafelbaai gewoon het. 1 Hulle is deur die Nederlanders Strandlopers, Watermans of Kaapmans genoem. Die Goringhaikona het nie vee besit nie en het hul bestaan gemaak deur as tussengangers tussen die Europeërs en die ander Kho-Khoi-stamme op te tree. 2 Die kaptein van die stam was Krotoa se oom, Autshumato, of Herrie, soos die Nederlanders hom genoem het. 1

Kontak met Europeërs en vroeë lewe

In 1652 het die Verenigde Oost-Indische Kompagnie (VOC) vir Jan van Riebeeck gestuur om die stigter en goewerneur te wees van ’n verversingstasie in die Kaap. Die doel van die verversingstasie was om vleis en vars groente aan handelskepe te lewer wat op pad was van Europa na Asië.

Kort ná hul aankoms in die Kaap het Jan van Riebeeck en sy vrou, Maria, vir Krotoa, ’n jong Khoi-Khoi-meisie, in diens geneem. Hulle het vir haar ’n Nederlandse opvoeding gegee en onderrig in die Christelike godsdiens, 1 waarop sy gretig gereageer het. 3 Sy het by die Van Riebeecks in die Fort de Goede Hoop gebly en die Van Riebeecks, en veral Maria, het van haar gehou. 4

Jan van Riebeeck

Sy was een van die eerste Khoi-Khoi-mense wat Christenskap aangeneem het en sy is op 3 Mei 1662 in die kerk binne die fort gedoop. 1 Daarna het die Van Riebeecks vir haar die naam Eva gegee. 4

Krotoa het ’n vreemde dubbele lewe gelei. Sy was moontlik die enigste persoon met goeie kennis van beide die Khoi-Khoi- en die Nederlandse kultuur. Elke keer as sy van die een na die ander oorgestap het, moes sy die regte klere aantrek. 3 Terwyl sy by die Nederlanders was, het sy baadjies en sarongs of los rompe aangetrek, maar wanneer sy teruggekeer het na haar eie mense, het sy weer haar karosse aangetrek om by húlle in te pas. Die paar Khoi-Khoi-vroue wat in die fort gewerk het, het genoeg kos en klere gekry, maar hulle het maar eensame lewens gevoer. 4 Hulle was nie as gelykes van die Nederlanders beskou nie en afgesonder van hul eie mense.

’n Insident in 1658 werp vir ons lig op Krotoa se lewe. Sy het toe al vir meer as vier jaar by die Van Riebeecks gewerk het en kom vra of sy by haar familie kan gaan kuier. Sy het ook gevra vir koper, yster, krale, tabak, brood en brandewyn as vergoeding vir haar dienste, wat sy as geskenke vir haar familie wou gee. Die goedere is aan haar gegee en sy het hulle mooi bedank. Toe sy buite kom, het sy haar karosse aangetrek en haar klere na die goewerneur se vrou toe teruggestuur, en belowe dat sy God nie sou vergeet nie. Op pad het lede van die Kaapmans-stam, waarvan haar ma ’n lid was, die geskenke by haar gesteel. Toe sy haar ma daarvan vertel, het dié geweier om vir hulle te vra om dit terug te gee. Die insident het haar van haar ma vervreem en sy het hulle verlaat om eerder by haar suster te gaan kuier. 2

Rol as tolk

Krotoa het ’n uitstekende aanleg (talent) vir tale gehad. Sy het Nederlands by die Hollanders en Portugees by die slawe geleer. Sy het in 1657 begin tolk, toe sy so 15 of 16 jaar oud was. 2 Sy was waarskynlik die vaardigste en akkuraatste tolk in daardie stadium in die Kaap. 4 Van Riebeeck het ’n baie hoë dunk (goeie opinie) van haar vermoëns (dit waar toe sy in staat was) gehad, alhoewel hy die goewerneur wat hom opgevolg het, gewaarsku het om nie alles wat sy sê sommerso te vertrou nie. 1

Aan die begin is sy veral gebruik in onderhandelings met die Saldanhars, nog ’n Khoi-Khoi-stam. 4 Sy het ook ’n groot rol gespeel in die daarstelling van voorwaardes vir die beëindiging van die eerste Khoi-Khoi-Nederlandse oorlog. 3 Sy is soms, maar nie altyd nie, vir haar werk vergoed. 1

Oedasoa

Krotoa se suster was die hoofvrou van Oedasoa, die leier van die Conhoquas (Kochokwa). 4 Dié suster was eers getroud met Goeboe, die seun van Soesoa, die leier van die Chainokwa-stam, maar Oedasoa het haar ontvoer sodat hy met haar kon trou. Krotoa en haar suster het ’n hegte verhouding gehad en wanneer sy die fort verlaat het, het sy gewoonlik by haar suster gaan kuier. 2

Die Nederlanders wou graag met die Conhoquas handeldryf en Krotoa se familieverbintenis was ’n gulde geleentheid. 4 Wanneer sy by haar suster gaan kuier het, het hulle telkens (keer op keer) geskenke vir Oedasoa saamgestuur. 2 Die pogings was uiteindelik suksesvol en Krotoa het as tolk opgetree toe daar ’n samewerkingsverband tussen die Nederlanders en Oedasoa uitgewerk is. 3

Oedasoa het in 1660 die fort besoek, wat vir Krotoa ’n persoonlike hoogtepunt was. Sy is vergoed vir haar dienste met krale, koper, tabak, pype, beesvelle en ysterware. 2 Hierna het haar belangrikheid geleidelik begin afneem. Die verhouding tussen Oedasoa en die Hollanders in die 1660’s was op so ’n goeie voet (goeie verhouding) dat hulle nie meer vir Krotoa as tussenganger nodig gehad het nie. 4

Moeilike tye

Krotoa se lewe het met die verloop van tyd deurmekaar en ingewikkeld geraak. Sy het al hoe meer verwesters (Europese gewoontes aangeneem) en dit het haar van haar eie mense vervreem. Sy is deur beide die Hollanders en die Khoi-Khoi gerespekteer, maar nie heeltemal vertrou nie. Haar lojaliteite (getrouheid) was aan beide groepe. So het sy, byvoorbeeld, by een geleentheid voorgestel dat die Hollanders een van die seuns van die Kaapmans se hoofmanne gevange neem, omdat dié groep wegloopslawe beskerm het. Dit het haar natuurlik onpopulêr (ongewild) onder die Khoi-Khoi gemaak en ’n ander Khoi-Khoi-tolk, Doman, het haar as verraaier bestempel. 4

Die Van Riebeecks het die Kaap in 1662 verlaat en Zacharias Wagenaer, die nuwe goewerneur, het haar in kennis gestel dat Khoi-Khoi nou kon Hollands praat en dat hulle haar nie meer nodig gehad het nie. Haar suster is ondertussen dood, en dit het die laaste band tussen haar en Oedasoa verbreek. 4 Oedasoa het haar vee geskuld wat hy nie vir haar wou teruggee nie – omdat sy ’n Christen was en veral nadat sy met ’n Hollander getrou het. 2

Buiten die Van Riebeecks het die Nederlanders haar nooit werklik as een van hulle ervaar nie. Wagenaer het nie van haar gehou nie. 2 Sonder die beskerming van die Van Riebeecks en met haar suster wat dood was, was sy vervreem (vreemd raak vir mekaar) van haar eie mense en baie eensaam.

Krotoa het kort voor of na die Van Riebeecks se vertrek alreeds twee buite-egtelike kinders gehad. 2 Sy het haar in hierdie stadium begin vergryp (te vinnig en te veel van iets neem) aan alkohol en waarskynlik ook prostitusie (iemand, veral ’n vrou, wat geld verdien deur haar lyf aan vreemdelinge te verkoop). Dit was een van die eerste opgetekende sulke gevalle in Suid-Afrika – prostitusie was nie algemeen onder die Khoi-Khoi nie omdat hulle binne hul stamme vir die armes gesorg het. 4

Kaapse Khoi, 1657

Getroude lewe

Ten spyte van al hierdie uitdagings is sy op 26 April 1664 met Pieter van Meerhof getroud. 1 Van Meerhof was ’n 27-jarige Deense ontdekkingsreisiger (persoon wat rondreis en nuwe plekke besoek) en junior geneesheer. Dit was die eerste opgetekende Westerse huwelik tussen ’n Khoi-Khoi-vrou en ’n wit man. 4

Die huwelik is op 2 Junie 1664 in die Kaapse Kerk ingeseën. 1 Dit was waarskynlik ’n liefdestroue, 4 en daar was spekulasie dat hy die vader van haar twee kinders van voor die huwelik was (alhoewel daar geen bewyse daarvoor is nie). 2 Daar is gedurende die huwelik verskeie kinders gebore, waarvan drie volwassenes geword het. 1

Die VOC het vir haar ’n bruidskat (geskenk aan ’n vrou voor haar troudag) van 50 riksdaalders gegee, wat ’n ruim (groot) bedrag in daardie dae was (haar man se salaris as junior geneesheer was 15 riksdaalders per maand). Hulle het ook vir haar ’n troufees by die goewerneur se huis gereël. Inderdaad het die Hollanders vir Krotoa voorgehou as ’n voorbeeld van hoe suksesvol die Khoi-Khoi-mense kon wees as hulle gedoop, opgevoed en geleer word, met ander woorde as hulle soos die Nederlanders geword het. 4

In Mei 1665 is Van Meerhof as bevelvoerder (die persoon in beheer) na Robbeneiland gestuur, ’n eiland sowat 10 kilometer van die Kaapse kus af, wat gedien het as die Kaap se tronk. 1 Robbeneiland was (en is vandag) ’n kaal, boomlose, windverwaaide stuk land. Krotoa was waarskynlik in daardie tyd die enigste vrou op die eiland, en haar man en kinders was haar enigste geselskap. 2

Sy het die lewe daar gehaat en gou in depressie (ernstige terneergedruktheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie) en alkoholmisbruik (om alkohol sleg of verkeerd te gebruik) verval. 4

Haar drankmisbruik het soms veroorsaak dat sy in ’n koma verval – sy het een keer so erg geval, dat die dokter uitgestuur moes word om na haar beserings te kyk

Sy het die eiland slegs nou en dan verlaat. Op een geleentheid het sy een van haar kinders na die fort gebring om gedoop te word. 4

Terugkeer na die Kaap

In 1667 is Van Meerhof op ’n ekspedisie (ondersoekingstog) na Madagaskar gestuur, maar hy is gedurende die ekspedisie vermoor. 1 Ná sy in kennis gestel is van sy dood, het Krotoa nog sewe maande op Robbeneiland gebly, voor sy op 30 September 1668 met haar kinders teruggetrek het Kaap toe. 2

Die Kompanjie het haar aanvanklik goed behandel. Hulle het vir haar die ou pottebakkerswinkel as ’n woning ingerig, 1 met ’n klein erfie, 4 en vir haar onderhoud van 9 riksdaalders per maand gegee. Sy het ’n slaaf, Jan Vos, gehad wat Meerhof vir haar op Robbeneiland gekoop het. 2

Sy het ook gereeld uitnodigings ontvang om by die goewerneur te gaan eet, 4 en sy was aanvaar as ’n lid van die Europese gemeenskap. 3

Verval

Dit het egter nie lank gehou nie en sy het weer begin drink en haarself aan prostitusie oorgegee. Vier maande nadat sy teruggekom het, is sy berispe (daar is met haar geraas) oor haar skandelike (iets waar oor jy jouself behoort te skaam) leefwyse. Een aand het sy die goewerneur beledig (aanmerkings gemaak wat hom aanstoot gegee het). Toe hy haar gewaarsku het dat hy haar kinders by haar gaan wegvat en haar verban (haar dwing om die Kaap te verlaat en êrens anders te gaan woon), het die kinders daardie selfde aand “naak en bloot” in die fort verskyn en Krotoa het verdwyn. Hulle het haar ’n paar dae later dronk met ’n pyp in haar mond gevind. 2 Sy het die kinders se klere saam met haar linne probeer verruil vir tabak. 4

Haar kinders is toe wél by haar weggevat en aan Jan Reynierz, ’n Vryburger (burger wat die reg gehad het om sy eie beroep te beoefen, en nie vir die Kompanjie gewerk het nie) en diaken (persoon wat in die kerk ’n bepaalde funksie het), toevertrou. 2 Die Kompanjie het haar slaaf gevat, 4 en haar op 26 Maart 1669 Robbeneiland toe verban. 1 Sy was vir die volgende vyf jaar daar.

Sy het haar tyd verwyl deur skulpe te versamel en vee op te pas. Sy het nog twee kinders laat doop, maar daar is geen vader genoem nie. Sy het ’n paar maal beterskap geveins (om iets voor te gee wat nie so is nie) sodat sy kon terugkeer vasteland toe, 2 maar sy het telkens weer oortree en is weer verban. 1

Besoekers aan Robbeneiland het haar egter as ingelig, behoorlik en netjies aangetref. 2

Dood

Die nuus van Krotoa se dood is op Sondag 29 Julie 1674 in die Kompanjie se Dagregister opgeskryf. Sy het ’n natuurlike dood gesterf. 4 Ondanks haar leefstyl, is sy ’n Christelike begrafnis in die kasteel in Kaapstad, wat kort tevore opgerig is, gegee. 1

Ná haar dood is sy egter deur die Nederlanders gebruik as voorbeeld daarvan dat dit nie vir die Khoi-Khoi moontlik was om die beste dele van Europese kultuur aan te neem nie. Die amptelike boekhouer van die Dagregister het geskryf: “Soos die honde, keer sy na haar eie braaksel (opbring) terug, ’n duidelike bewys dat die mens se aard, ongeag hoe sterk dit deur morele beginsels aan bande gelê (beperk word deur idees, waaraan jy glo en nie van sal afwyk nie, oor wat reg en verkeerd is) word, na sy ingebore (wat van geboorte daar is) eienskappe terugkeer.” 3

Nasate

Drie jaar ná haar dood is haar dogter Pieternella en twee ander kinders in die sorg van Bartholomeus Borns en sy vrou geplaas, wat betaal is om na hulle om te sien en hulle op te voed. Hulle het Mauritius toe getrek, maar een van die seuns is terug Kaap toe en is daar aan “wilde gewoontes” dood. 4

Pieternella het met Daniel Zaayman van Vlissingen getrou. 1 Zaayman het een van die rykste plantasie-eienaars (eienaar van ’n stuk grond waar bome of ander plante geplant is) in Mauritius geword. Toe die VOC Mauritius ontruim het, het Pieternella en Daniel teruggekeer Stellenbosch toe. Een van Pieternella se dogters is Eva gedoop. 4 Pieternella is die stammoeder (vrou van wie ’n geslag afstam) van die familie Zaayman in Suid-Afrika. 1

Krotoa-gebou in Stellenbosch

Woordbank

aan bande gelê Beperk.
aanleg Talent.
alkoholmisbruik Om alkohol sleg of verkeerd te gebruik.
beginsels Iets waaraan mens vas glo en nie van afwyk nie.
beledig Aanmerking of optrede wat iemand aanstoot gee en sy of haar eer aantas.
berispe Met iemand raas.
bevelvoerder Iemand wat beheer of gesag oor ander het.
braaksel Dit wat uit jou mond kom as jy naar is en opbring/opgooi.
bruidskat Geld en besittings wat die bruid in die huwelik meebring, geskenk/present (soms geld) van die ouers aan die bruid.
depressie Ernstige terneergedruktheid wat jou laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
diaken Iemand wat in ’n kerk ’n bepaalde funksie het, byvoorbeeld die insameling van geld.
fort Versterkte militêre bouwerk/vesting; skans.
ekspedisie Ondersoekingstog; georganiseerde tog met ’n bepaalde doel.
gene Die deel van ’n sel wat bepaal hoe ’n lewende wese ontwikkel, groei en lyk.
gulde geleentheid ’n Baie goeie kans/oomblik om iets te doen.
hoë dunk ’n Goeie opinie/mening van iemand hê.
ingebore Wat van iemand se geboorte af daar/teenwoordig is; natuurlik; nie aangeleer nie.
karos ’n Mantel/kombers van skape of ander diere se velle gemaak.
kultuur Die manier waarop ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens.
lojaliteite Toestand van getrouheid aan iemand of iets.
morele Wat betrekking het op ’n gevoel vir wat goed en reg is.
onpopulêr Ongewild.
ontdekkingsreisiger Persoon wat rondreis en nuwe plekke besoek.
goeie voet Goeie verhouding met iemand hê.
plantasie Stuk grond waar bome of ander plante aangeplant is.
prostitusie Iemand, veral ’n vrou, wat geld verdien deur haar lyf aan vreemdelinge te verkoop.
ruim Groot of baie.
sarong Kledingstuk wat bestaan uit ’n doek met veelkleurige patrone wat op verskillende maniere om die lyf gedrapeer word.
skandelik Iets waarvoor jy jouself behoort te skaam.
stammoeder Die vrou/eerste moeder van wie ‘n geslag afstam.
telkens Keer op keer; dikwels; herhaaldelik
tolk Iemand wie se werk dit is om die woorde van iemand wat in een taal praat in ‘n ander taal te vertaal sodat die mens(e) wat luister, kan verstaan wat die spreker sê.
veins Iets voorgee wat nie so is nie.
verban Iemand dwing om ‘n land/plek vir goed te verlaat en op ‘n ander plek te gaan woon.
vergryp Vinnig en te veel van iets neem.
vermoëns Dit waartoe mens in staat is.
vervreem Vreemd raak vir mekaar.
verwesters Westerse of Europese gewoontes aanneem.
Vryburger Benaming vir eerste koloniste aan die Kaap wat as dienaars van die VOC vrybriewe ontvang het (1658). Burgers wat die reg gehad het om ’n vry beroep te beoefen. 7

Kyk hierdie video om jou ’n beter idee te gee van wie en wat Krotoa was.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Oktober 2022 | Bygewerk op 3 April 2024