Vinnige feite

  • Teen 1812 was daar probleme in die omgewing van die Oranjerivier met misdadigers wat vee gesteel het, olifante vir ivoor gejag het en ook kinders ontvoer het om as slawe te verkoop. 1
  • Jantjie was een van Mothibi se seuns en hy het onder invloed van ’n Britse sendeling by Griekwastad, ene Isaac Hughes, die Bybel in Tswana leer lees. 1
  • Matthews Batswadi was die eerste swart Suid-Afrikaanse atleet wat Springbokkleure verwerf (gekry) het. Dit het in 1977 gebeur. Hy is in 1949 in Dithakong gebore en het (ná sy aftrede) tot met sy dood daar gewoon. 1
  • Daar is ’n dorp met die naam Mothibistad naby Kuruman in die Noord-Kaap en daar is ook ’n straat in die dorp met die naam Kgosi Mothibi Road. 5
  • Bronne verskil oor die jaar waarin Mothibi oorlede is. Sommige bronne noem 1839 as sy sterfjaar en ander sê dat hy in 1845 oorlede is. 1
Foto: iStock

Toe Westerse reisigers teen die 1800’s in die gebied van die Tlhaping (Batlhaping) aangekom het, het hierdie stam Noord van die Vaalrivier gewoon, naastenby waar die dorpe Campbell, Daniëlskuil en Reivilo vandag is. Die Tlhaping is een van die stamme wat aan die Tswana etniese groep behoort.

Hulle was beesboere, landbouers en ook jagters.

Terwyl Molehabangwe (die seun van Maswe) kaptein was, het die stam noord getrek en in die omgewing van waar die dorp Kathu vandag is, gewoon. Daarna het hulle na die Ou Dithakong, noordoos van Kuruman getrek. Dit was naastenby in 1800. Later was daar nog ’n woonplek met die naam Dithakong (daarna Nuwe Dithakong genoem). 1

Die name van die Batlhaping ba ga Mothibi-stam se kapteins is so ver terug bekend soos die 15de eeu. Die eerste kaptein was kgosi (kaptein) Mmile.

Daarna het die volgende kapteins hom opgevolg:

Maduane

Molokedi

Mamai

Mokgosi

Maswe

Molehabangwe

Mothibi

Gasebone

Batlhasitse I

Galeshewe I

Batlhasitse II

Galeshewe II

Die huidige kaptein van die Mothibi-stam van die Tlhaping is ’n vrou, Kgosi Ponatshego Mothibi. 2

Mothibi word kaptein van die stam

Mothibi se voornaam is nie bekend nie. Hy is tussen 1770 en 1775 by Ou Dithakong in die distrik van die huidige Vryburg gebore. Sy pa se naam was Molehabangwe en sy ma was Molehabangwe se hoofvrou.

Gedurende 1811 is die Tlhaping se hoofstat ongeveer vyf km verder suid geskuif tot by die ruïnes waar die stat sy naam gekry het – Dithakong. ’n Jaar nadat die stat verskuif is, is Molehabangwe oorlede en hy is deur sy seun Mothibi opgevolg. Mothibi het vir ’n paar jaar voor sy pa se dood reeds met die regering van die stam begin help.

Hy het vyf vroue, tien seuns en drie dogters gehad. Sy hoofvrou was Mahutô en sy was die dogter van ’n Korannakaptein. Kegogile was eintlik sy tweede vrou, maar sy was ook sy gunstelingvrou. Sy was ’n Griekwa. 3

Die Tlhaping word ’n sterk stam!

Terwyl Mothibi kaptein was, was byna al die Tlhaping in een stam verenig.

Thlaping kaptein en sy vrou

Die stam het so groot geword dat Mothibi in 1835 besluit het om dit in vier groepe op te deel.

Vir sy oudste seun van sy hoofvrou, Phetlhu, het hy grond by Phokwane en Majeakgoro gegee. Sy seun Jantjie het ’n stuk grond gekry in die distrik Taung asook in die huidige Kurumandistrik. Sy broer Molale het die Taunggebied gekry en een van sy ander boers, Saku, het ook ’n klein stukkie grond gekry – dit is nie duidelik waar hierdie laaste broer se grond was nie. 3

Aanvalle op Mothibi se mense

In 1823 het die Mmanthatisi Mothibi se stam naby die Kurumansendingstasie aangeval. Mothibi het toe die raad gevolg van onder andere Robert Moffat en perde en ammunisie by die Griekwas gevra. Daarmee kon hy sy stam en woonplek teen die aanvallers verdedig. Mothibi is waarskynlik die enigste Tswanastam wat dit reggekry het om nie deur Mzilikazi onderwerp en oorheers te word nie. In hierdie tyd het Mzilikazi al die ander Tswanastamme aangeval en hulle aan hom onderwerp.

Matebele-koning, Mzilikazi

In 1837 het die Voortrekkers in hierdie gebied ingetrek en Mothibi se stamgrense moes toe weer vasgestel word. In 1839 het hy sy jonger broer Mahura, na Mooirivier by Potchefstroom gestuur om grond by Andries Hendrik Potgieter te gaan vra. Potgieter het grond langs die Hartsrivier aan Mothibi en sy mense toegeken (gesê dat hulle dit mag gebruik). 3

Andries Hendrik Potgieter

Die laaste jare van Mothibi

In die laaste jare van sy kapteinskap het Mothibi vir hom ’n nuwe kraal gebou waar die Riet- en die Vaalrivier inmekaarvloei. Net ’n klein groep van sy volgelinge het hom daarheen gevolg.

Mothibi is in 1839 by Gabodigêlo oorlede. Dit was in die destydse Betsjoeanaland wat vandag Botswana genoem word.

Hy is opgevolg deur sy seun Gasebone. Ná hom het Batlhasitse en toe Galeshewe kaptein van die stam geword. 3

Die stat Dithakong

Wit mense besoek Dithakong

Van die eerste wit mense (voorheen blankes genoem) wat van die Tswanastamme in die Kalahari gehoor het, was Hendrik Hop (’n ontdekkingsreisiger van die Kaap) en Carel Brink (’n landmeter en kartograaf). Dit was ongeveer in 1761.

Terwyl Molehabangwe (die seun van Maswe) kaptein was, het die stam noord getrek en in die omgewing van waar die dorp Kathu vandag is, gewoon. Daarna het hulle na die Ou Dithakong, noordoos van Kuruman getrek. Dit was naastenby in 1800. 1

Toe Mothibi in 1812 kaptein van die Thlaping geword het, was Dithakong sy hoofstat en dit was ongeveer 80 km noordwes van waar Kuruman vandag is.

Dithakong beteken ‘plek van klipmure’. In ’n stadium het ongeveer 10 000 mense daar gewoon. Dit was byna soveel mense soos daar toe in Kaapstad gewoon het! 1

In 1801 het die ontdekkingsreisigers Pieter Jan Truter en dr. William Sommerville die Tswana by hul hoofstat, Dithakong, ontmoet. In hierdie dae het dit ’n hele 16 dae geneem om met ’n ossewa vanaf die Oranjerivier tot by Dithakong te ry. Om te dink, langer as twee weke!

In 1805 het Henrich Lichtenstein en die sendeling/handelaar, Jan Kok, die gebied besoek en vir kaptein Molehabangwe by Dithakong ontmoet. Hierdie Dithakong was ongeveer 2 km weg van waar Dithakong vandag is.

Mothibi het op 13 Julie 1812 sy eerste wit besoeker gehad toe William Burchell, ’n wetenskaplike en ’n natuurkundige, by Dithakong opgedaag het. Burchell het Mothibi as ’n man met goeie maniere beskryf. Mothibi was ook ’n slim man en dit was deur Burchell dat hy sy eerste geweer gekoop het.

William Burchell

Hy het geweet dat hy goeie verhoudinge met sendelinge moet opbou omdat dit ’n manier was om wapens in die hande te kry. Wapens was nodig vir selfverdediging en ook om mee te jag. 1

Die geveg by Dithakong

Dithakong is ook bekend vir ’n groot geveg wat daar plaasgevind het. Hierdie geveg is voorafgegaan deur die Griekwarebellie van 1878.

Die Batlhaping is by hierdie rebellie betrek, hoewel hulle volgens geskiedenisskrywers nie werklik deel van die rebellie was nie. Op 24 Julie 1878 het soldate van die koloniale mag onder leiding van kolonel Owen Lanyon en kolonel Charles Warren die Thlaping wat in Dithakong geskuil het, aangeval. Die Tlhaping was onder leiding van kaptein Luka Jantjie, seun van Mothibi. Nadat die Thlaping sterk weerstand gebied het (hard geveg het om hulle vesting te verdedig), moes hulle uiteindelik vlug. 4

Woordbank

ammunisie ’n Versamelnaam vir skietgoed of skietvoorraad.
ba ga Mothibi Hulle van die Mothibistam’ (sien “ba”-voorvoegsel).
Batlhaping Die “ba”-voorvoegsel by ’n woord of ’n van dui op meervoud, dit beteken dus letterlik ‘meer as een Tlhaping’.
kartograaf ’n Persoon wat kaarte teken.
kgosi     Die Sothowoord vir die Afrikaanse woord ‘kaptein’.
landbouers Mense wat boer deur die grond te bewerk en gewasse te plant.
landmeter ’n Persoon wie se werk dit is om land te meet en dit dan op ’n kaart te teken.
onderwerp Wanneer een persoon ander mense dwing om sy gesag oor hulle te aanvaar. Dit word dikwels met geweld gedoen.
ontdekkingsreisigers Mense wat na vreemde plekke reis en dan iets ontdek wat nog altyd daar was, maar waarvan niemand voorheen geweet het nie.
rebellie Opstand teen die wettige gesag van ’n land.
ruïnes   Geboue wat in puin verval het, inmekaar geval het. 6

Lees hier meer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Februarie 2023 | Bygewerk op 10 Oktober 2023