Vinnige feite

Grey-kollege in Bloemfontein.
  • Japie was tydens sy skooljare kaptein van Grey-kollege in Bloemfontein se rugbyspan.
  • Die kultuurhistorikus dr. S. Oosthuizen noem dat die Boere wat Japie Greyling se plaas daardie nag besoek het, dalk nie agter sy pa aan was nie, maar ander Boeresoldate kom soek het. Oosthuizen het sy inligting by Japie se pa self gekry. 3
  • Die Engelse soldate wat na Japie-hulle se plaas gekom het, was deel van ʼn afdeling in die Engelse weermag wat die British Imperial Yeomanry genoem is. 3
  • Dit was ʼn spioen met die naam Jacob wat vir die Engelse soldate gesê het dat daar Boeresoldate op Japie-hulle se plaas gaan wees. 4
  • Seely was onder meer die eerste voorsitter van die Wimbledonstadion, en hy was ook ʼn direkteur van die Thomas Cook-reisagentskap. 1

Japie Greyling was ʼn baie dapper seuntjie. Hy is bekend vir ʼn groot heldedaad toe hy net 10 jaar oud was. Hierdie dapperheid van hom het gemaak dat ons vandag nog van hom weet en dat daar in boeke oor hom geskryf word.

Japie se geboorte en kinderdae

Jacobus Johannes Cornelis (Japie) Greyling is op 28 Junie 1890 in die Hoopstaddistrik in die Vrystaat gebore. Sy ouers het daar op die plaas Smaldeel gewoon.

Sy pa was kommandant Barend Christiaan Greyling, en hy was ʼn lid van die Vrystaatse Volksraad (dit is soos die regering in hierdie tyd genoem is). Japie se pa was ʼn man vir wie die mense in die omgewing baie respek gehad het. Hy het in ʼn paar oorloë geveg, onder meer in die Eerste Vryheidsoorlog. Die Greylingkinders het almal geleer om lojaal en getrou te wees aan hulle ouers, hul familie en God. Japie het ʼn diepe pligsbesef gehad en hy was ook ernstig oor die oorlog waarin sy pa geveg het. 1

Die Boere lê aan by Laingsnek tydens die Eerste Vryheidsoorlog.

Japie was een van 13 kinders en hy was ook een van ʼn tweeling. Toe die Anglo-Boereoorlog begin het, was hy en sy tweelingboetie, Kerneels, net 10 jaar oud. Die twee oudste broers het saam met hulle pa op kommando gegaan om te gaan oorlog voer. Japie en Kerneels moes saam met die ander kinders op die plaas bly om hul ma met die boerdery te help. In hierdie tyd moes seuns so oud soos Japie en Kerneels die werk van mans op die plase doen omdat die mans en die ouer seuns almal in die oorlog geveg het. 2

Soldate tydens die Anglo-Boereoorlog.

Japie se heldedaad

Die Britse soldate het geweet dat Japie se pa, Barend, ʼn goeie soldaat was en wou hom graag vang. Kaptein J.E.B. Seely (of “Sealy” soos hy in sommige bronne bekendstaan) het opdrag gekry om hom te vang. In Maart 1901 het Seely by ʼn Boereverraaier gehoor dat Barend een nag op die plaas by sy gesin sou gaan kuier. Die Britse soldate het baie vroeg die oggend na die plaashuis gestorm, maar voordat hulle daar aangekom het, het Barend en die twee Boeresoldate wat saam met hom was, reeds in die nag in verdwyn. Die Britse soldate het hulle op ʼn afstand gesien, maar kon hulle nie vang nie.

Kaptein J.E.B. Seely.

Op 1 Maart 1901 het hulle na die plaashuis toe teruggegaan waar Japie by die huis uitgekom het. Seely wou deur middel van ʼn tolk by Japie weet waarheen sy pa en die ander twee Boere is. Al wat hy wou sê, is dat hulle terug is na hulle kommando. Hy wou nie sê waar die kommando is nie. Seely het gedreig dat hulle Japie gaan skiet, maar steeds wou hy niks sê nie. Uiteindelik het hy vir Japie teen ʼn muur laat staan met ses soldate met hulle gewere voor hom. Japie het volgehou dat hy vir hulle niks gaan vertel nie en dat hulle hom maar moet skiet.

Kaptein Seely was só beïndruk met die dapper seun dat hy vir sy soldate gesê het om hulle gewere te laat sak. Toe het hy nader gestap en vir Japie ʼn handdruk gegee. Hy het bygevoeg dat hy hoop om hom weer eendag te ontmoet. Japie het jare later vertel dat hy gedink het die Britse kaptein wou hom klap toe hy sy hand uitsteek, en daarom het hy sy kop weggeruk. 2

Meer oor Kaptein Seely

Kaptein John Edward Bernard Seely is tot die Britse parlement verkies terwyl die Anglo-Boereoorlog nog aan die gang was. Hy was ʼn belangrike man in Engeland – hy was sekretaris van verdediging en later minister van verdediging. Hy was ook ʼn vriend van die bekende Engelse leier Winston Churchill.

Oor wat daardie oggend op die plaas gebeur het, het Seely gesê dat hy verantwoordelik was vir die veiligheid van die 20 Britse soldate wat die oggend saam met hom was. Hy het geweet dat daar iewers in die omgewing van die plaas 4 000 Boeresoldate was, en hy was bekommerd dat hulle nie veilig by die Britse linies sou terugkom as hulle nie weet waar die Boere was nie.

In sy outobiografie met die titel Fear, and be slain het hy gesê dat hy nie anders kon as om die jong seun se dapperheid te bewonder nie, en dit terwyl hy tussen 20 Britse soldate was. Hy het geskryf dat hy daardie oomblik nooit sou vergeet nie, toe die seun sy kop oplig, hom in die oë kyk en sê: “Skiet my dan maar.”

Toe sy boek in 1931 bekendgestel is, het hy genoem dat hy graag weer die dapper seun sou wou ontmoet – al het hy nie in daardie stadium sy naam geken nie. Koerante in Engeland en in Suid-Afrika het geskryf oor wat Seely gesê het, maar hoewel Japie daarvan gehoor het, wou hy nie erken dat dit hy was nie. Japie was in hierdie stadium reeds 40 jaar oud, en hy was ʼn kaptein in die weermag van die Unie van Suid-Afrika. 1

Seely het nooit weer vir Japie Greyling ontmoet nie.

Hy het een van sy boeke vir hom gestuur en die volgende boodskap voor in die boek geskryf:

“To captain Jacob Greyling, South African Defence Force, whose courageous bearing and fearless answer earned the admiration and respect of a troop of English Horse and especially of myself, their commander, thirty-one years ago. I inscribe this book, rejoicing that the freedom of South Africa is now secure in the guardianship of Dutch and English alike. – John Bernard Seely. Mottistone Manor, Isle of Wight. Christmas 1931.”

Seely is op 7 November 1947 in die ouderdom van 79 jaar oorlede. 1

Japie Greyling se latere lewe

Japie het regdeur sy lewe beskeie gebly oor sy heldedaad tydens die oorlog en nooit daaroor gepraat nie. Selfs sy eie kinders, sy seun Japie en dogter Martie, het eers by die skool oor hulle pa gelees en só uitgevind van sy dapper optrede toe hy ʼn seun was.

Japie Greyling is in 1954 in Bloemfontein oorlede. 1

Japie Greyling se nalatenskap

Japie Greyling word onder meer deur die volgende gedenkgebare onthou:

  • In Meyerton is daar ʼn laerskool en ʼn woonbuurt wat na Japie Greyling vernoem is.
  • Op 23 November 1966 het Japie Greyling se seun, sy naam was ook Japie, ʼn gedenkteken vir sy pa op hierdie laerskoolterrein onthul.
  • Op die terrein van die NG kerk in Hoopstad is ʼn monument vir Japie Greyling.
  • Jan F.E. Celliers het ʼn gedig geskryf met die titel “Japie Greyling”.
  • Uys Krige het in sy drama Die wit muur ook Japie se heldedaad beskryf.

Woordbank

kommando ʼn Klein groepie soldate wat opgelei is om vinnig teen die vyand se soldate op te tree.
linies Die woord word gebruik om na ʼn groep soldate in ʼn oorlogstyd te verwys, bv. Die soldaat het teruggekeer na sy eie linie.
outobiografie ʼn Boek wat deur ʼn persoon oor sy eie lewe geskryf word.
pligsbesef Wanneer ʼn mens weet dat daar iets is wat jy móét doen.
tolk Iemand wat vir mense wat byvoorbeeld nie Afrikaans verstaan nie, in Engels vertaal wat in Afrikaans gesê word.
Volksraad Die liggaam wat deur die mense van ʼn land verkies word en wat die land regeer.

Lees dié artikels om meer te wete te kom

Kyk dié video’s om meer te leer

Luister die gelyknamige liedjie oor die kinderheld deur die sanger Pieter Smith

Nóg ‘n liedjie oor Japie, getiteld “Hart van ‘n held”

Die storie van Japie Greyling

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023