Vinnige feite

  • Omdat Tubman en die Underground Railroad amper sinoniem is, dink baie mense verkeerdelik dat dit deur haar geskep is. Dit is egter jare voor haar geboorte, in die laat 18de eeu, deur wit en swart afskaffingsgesindes geskep. 3
  • Tubman het nooit geleer lees nie. 2
  • Tubman was diep gelowig. Al kon sy nie lees nie, het sy die Bybel goed geken en kon hele dele uit haar kop opsê. Sy het gereeld na Bybelversies en gelykenisse verwys. 7
  • In 2016 is daar aangekondig dat die Amerikaanse $20-noot na haar vernoem sou word. Daardie besluit is intussen na 2026 uitgestel. 2
Foto: iStock

Harriet Tubman staan as die “Moses van haar mense” bekend. “Haar mense” verwys na Amerikaanse slawe, en sy is hulle “Moses” omdat sy van hulle uit die suide van Amerika na vryheid gelei het, soos wat Moses in die Bybel die Israeliete uit Egipte na vryheid gelei het.

Tubman was ’n kondukteur op die sogenaamde Underground Railroad. Dit was nie werklik ’n spoorweg nie. Dit was ’n ontsnappingsroete waarlangs slawe uit die suidelike Amerikaanse state, waar slawerny wettig was, na die noordelike state, waar dit onwettig was, gevlug het.

Grootwordjare

Harriet Tubman was met geboorte Araminta Harriet Ross, en haar bynaam was “Minty”. Sy was as ’n slaaf gebore. Soos ander slawe het sy nie haar geboortejaar geken nie. Dit was tussen 1820 en 1825, en onlangse navorsing dui aan dat dit waarskynlik vroeg 1822 was. 1

Haar ouers was beide slawe: Haar ma, Harriet “Rit” Green, was ’n slaaf van Mary Pattison Brodess, en haar pa, Ben Ross, se eienaar was Anthony Thompson.1 Rit het in die hoofhuis van die plantasie gewerk, en Ben was ’n houtwerker. 2

Tubman was een van nege kinders. Toe sy klein was, is drie van haar susters aan ander plantasies verkoop. Dit was amper ook die lot van haar jongste broer, Moses, voor haar ma dit suksesvol gekeer het.

Tubman se pa, Ben, is volgens ’n bepaling in ’n vorige eienaar se testament op 45-jarige ouderdom van slawerny vrygestel. Daar was egter nie vir hom ander werk nie, en boonop wou hy by sy familie bly. Hy het dus as voorman by sy vorige eienaars aangebly.

Dieselfde bepalings het vir Rit en haar kinders gegeld, maar hulle eienaar het geweier om dit na te kom. Daar was niks wat hulle daaraan kon doen nie. 1

Lewe as ’n slaaf

Minty het moeilike grootwordjare gehad. Op die ouderdom van vyf het sy alreeds begin werk, aanvanklik om die babas in die huis op te pas. 3

Toe sy sewe was, het sy op die landerye begin werk. Sy het onder meer strikke gestel om bisamrotte, ’n soort knaagdier, te vang. Sy het daarna ook die landerye bewerk, 2 hout bymekaar gemaak en waens vol graan na die hawe toe aangery. 4 Alhoewel dit harde werk was, het Minty die buitenshuise bó die binnehuise werk verkies. 2

Sy het in hierdie tyd die landskap leer ken, en ook hoe om die sterre en landmerke te gebruik om te navigeer. Hierdie kennis sou haar later handig te pas kom. 5

Ervaring van geweld

Vir slawe was geweld ’n alledaagse verskynsel, en Minty het gereeld deurgeloop. Toe sy die kinders moes oppas, is sy byvoorbeeld geslaan as die baba gehuil het. 2 Sy het vertel dat sy een dag vyf keer voor oggendete aangerand is. 1

Die ergste insident het plaasgevind toe sy ’n tiener was. Sy het op pad winkel toe ’n wegloperslaaf raakgeloop wat sopas deur sy eienaar opgespoor is. Die eienaar het daarop aangedring dat Minty hom help om die ander slaaf onder bedwang te bring. 5

Toe sy weier, het hy haar met ’n stuk yster wat om en by ’n kilogram geweeg het, gegooi. Dit het haar in die kop getref. Sy het vir die res van haar lewe neurologiese probleme soos beroertes, kwaai hoofpyne en narkolepsie gehad. Soms was die pyn so erg dat sy in ’n droomstaat ingegaan het. Sy het geglo hierdie state was geloofservarings waartydens God met haar gekommunikeer het. 1

Ontsnapping na Philadelphia

Haar besering het haar waarde as slaaf verminder. Haar eienaar het boonop skielik gesterf, en die nuwe eienaar het van die slawe begin verkoop. 6

In 1849 het Tubman besluit om te ontsnap. Aanvanklik het twee van haar broers haar vergesel. Toe hulle egter op pad uitvind dat daar ’n losprys uitgeloof is vir hulle gevangeneming, het hulle besluit om terug te draai. Tubman het seker gemaak hulle kom veilig tuis, en toe haar ontsnappoging alleen voortgesit.

Tubman het die Underground Railroad gebruik om te ontsnap. Die Underground Railroad was ’n uitgebreide stelsel van roetes en mense wat wegloopslawe bygestaan het op pad na die noorde toe. 1

Tubman het sowat 150 km gereis na Pennsylvania, die naaste noordelike staat. Sy het die oomblik toe sy die grens oorgesteek het, soos volg beskryf: “Toe ek uitvind dat ek oor die grenslyn was, het ek na my hande gekyk om te sien of ek dieselfde mens was. Daar was glorie oor alles: Die son het goud deur die bome en oor die velde geskyn, en dit het gevoel of ek in die hemel is.” 1

Sy het in Philadelphia werk gekry as huishoudster en wasvrou, soos wat die meeste ander vry swart vroue maar gedoen het. 4

Tubman was egter nie tevrede nie. Noudat sy vry was, wou sy haar geliefdes ook bevry. 2

Kondukteur vir die Underground Railroad

In Desember 1850 het iemand haar gewaarsku dat haar niggie, Kessiah, en dié se twee jong kinders verkoop sou word. Sy en haar swaer het hulle gehelp om te ontsnap. 6 Dit was haar eerste tog as kondukteur, dit wil sê as die persoon verantwoordelik daarvoor om vir die slawe die pad aan te wys. 1

Hierna het sy dit haar missie gemaak om mense te red. 1

Tubman was ’n vaardige navigeerder, en het die sterre, riviere en ander landmerke gebruik om haar pad te vind. 5 Sy het ’n geweer by haar gedra. Dit was nie net vir beskerming nie. Sy moes ook soms die slawe wat sy besig was om te red, dwing om aan te gaan. As slegs een persoon kleinkoppie sou trek, kon die hele operasie inmekaar stort. Sy het ook babas en jong kinders bedwelm om seker te maak dat hulle nie huil en hulle posisie weggee nie. 2

In 1850 het die Verenigde State van Amerika (VSA) die Wet op Wegloperslawe (in Engels die Fugitive Slave Act) aangeneem. Volgens hierdie wet kon slawe wat na die noorde ontsnap het, nou wettiglik teruggeneem word suide toe. Dit het haar werk as kondukteur bemoeilik. Sy moes byvoorbeeld meer gereeld in die nag werk. 2 Sy het ook hierna die slawe na Kanada gelei, waar slawerny in alle opsigte verbied is. 1

Tubman het tussen 1850 en 1860 in totaal 13 togte na Maryland onderneem om familielede en vriende te lei. Sy het om en by 70 slawe gered, 1 insluitende haar ouers. 2 Sy het ook ander slawe raad gegee oor hoe om self te ontsnap. 1

Sy was só suksesvol dat haar eienaars ’n massiewe losprys op haar kop geplaas het. 3 Ten spyte van die losprys is sy nooit gevang nie. Sy het ook nooit iemand wat sy beplan het om te red, nie gered nie. Sy het self daaroor gesê: “My trein het nooit ontspoor nie, en ek het nooit ’n passasier verloor nie.” 2

Harriet Tubman Underground Railway-besoekerssentrum

Kontak met ander afskaffinggesindes

Tubman het tydens ’n reddingspoging in Desember 1851 by die huis van Frederick Douglass, die beroemde afskaffingsgesinde, aangegaan. Sy het ook vir John Brown, die radikale gesinde wat geweld wou gebruik om slawerny te beëindig, ontmoet. 1

Nog ’n voorstaander van die afskaffing van slawerny, William Still, het die volgende oor haar gesê: “Harriet was ’n beskeie vrou; ’n meer gewone eksemplaar van die mensdom, sou jy beswaarlik tussen die knegte in die suide van Amerika vind. Sy is ongeëwenaard in haar skerpsinnigheid en onselfsugtige pogings om haar medemens te red deur self na Maryland te reis.” 5

Harriet Tubman-museum

Burgeroorlog

Toe die Amerikaanse Burgeroorlog in 1861 uitgebreek het, het sy by die magte van die noordelike state, bekend as die Unie, aangesluit. Sy het as verpleegster vir swart soldate en bevryde slawe gedien. 6 Tubman was die eerste swart vrou wat in die weermag gedien het. 3

Sy het tussendeur as kok gewerk, 1 en ook begin om pasteie en koeldrank aan die soldate te verkoop. Voorts het sy ’n wassery bedryf. 5

Tubman het twee waardevolle vaardighede gehad. Sy het eerstens die landskap van Maryland en omliggende streke baie goed geken, omdat sy soveel slawe daardeur gelei het. 3 Tweedens het sy die vermoë gehad om enige plek in te pas en haarself amper onsigbaar te maak. 5

Sy het onder leiding van generaal-majoor David Hunter ’n spioen en verkenner geword. 5 Sy het haarself byvoorbeeld as ou vrou vermom, en dan deur die strate van suidelike dorpe geloop en by die slawe daar uitgevind waar die magte van die suidelike state, bekend as die Konfederasie (in Engels: Confederacy), se toevoerlinies (in Engels: supply lines) en troepe was. 3 Sy het baie van hierdie slawe se lewens help red. 2

Tubman het in Junie 1863 ’n gewapende ekspedisie, later bekend as die Combaheerivier-aanval, gelei. Dit was ’n groot sukses: Hulle het Konfederasie-toerusting gebuit en eiendom vernietig, en meer as 750 slawe gered. 5 Hierdie gebeurtenis is in die koerante gevier, en dit het Tubman beroemd gemaak. 6 Dit was die enigste Amerikaanse Burgeroorlog-skermutseling waar daar ’n vroulike aanvoerder was. 4

Harriet saam met van die slawe wat sy bevry het

Persoonlike lewe

Tubman het in 1844 met John Tubman, ’n vry man, getrou. 1 Sy het sy van aangeneem en op dieselfde tyd haarself Harriet, waarskynlik ter ere van haar ma, genoem. 3

John het haar nie vergesel toe sy ontsnap het nie. 1 Tydens een van haar togte om slawe te red, het sy hom besoek en gevra of hy by haar wil aansluit. 6 Hy het egter verkies om in Maryland by ’n nuwe vrou te bly. 1

In 1868 het sy met Nelson Davis, ’n voormalige slaaf en burgeroorlogveteraan, getrou. 1 Hy was meer as 20 jaar jonger as sy. 3 In 1874 het hulle ’n dogtertjie, Gertie, aangeneem. 1 Davis het in 1888 gesterf. 3

Later jare

Ná die burgeroorlog het Tubman aan verskeie projekte gewerk. Sy het geld ingesamel om nuwe vry slawe te ondersteun, en  vir Elizabeth Cady Stanton en Susan B. Anthony, leiers van die vrouestemregbeweging, bygestaan in hulle stryd. Sy het ook na haar ouers omgesien, en saam met Sarah H. Bradford aan haar biografie gewerk. 3

Sy het ’n stukkie grond op die buitegrense van Auburn, New York, gekoop. 1 Daar het sy saam met dosyne familielede en vriende gewoon. 5 Haar deur het altyd vir mense in nood oopgestaan. Sy het ’n tuin aangelê en varke aangehou om kos te verskaf. 2

Harriet se huisie naby Auburn

Ten spyte van haar roem en reputasie het sy maar finansieel gesukkel. Haar vriende en ondersteuners het vir haar geld ingesamel, en Bradford het al die wins van haar biografie, Scenes in the life of Harriet Tubman, vir haar gegee. 1

Sy het na ’n lang stryd met die regering haar man se militêre pensioen, en toe later ook haar eie militêre pensioen, gekry. 3

Sy het ’n gedeelte van haar grond aan die African Methodist Episcopal Zion Church in Auburn gegee. ’n Tehuis vir bejaardes, die Harriet Tubman Home for Aged and Indigent Colored People, het in 1908 daar oopgemaak. 1

Dood

In haar later jare het die hoofbesering van haar kinderdae haar baie gekwel. Sy het in ’n stadium breinchirurgie gekry om die pyn te probeer verminder. Sy is uiteindelik in die tehuis wat haar naam gedra het, opgeneem.

Tubman het op 10 Maart 1913, omring deur familie en vriende, aan longontsteking gesterf. Sy was ongeveer 91 jaar oud.

Sy is met volledige militêre eerbetoon, soos wat aan soldate gegee word, by die Fort Hill-begraafplaas in Auburn begrawe. 1

Nalatenskap

Tubman se lewe is ’n inspirasie vir menigte mense. Sy was al die onderwerp van boeke, flieks en dokumentêre reekse.

Daar is skole, museums, en nasionale parke na haar vernoem, en selfs ’n skip in die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945), die SS Harriet Tubman. 2

Woordbank

alledaagse

Baie gewoon en onbeduidend.
bedwang Om iets onder beheer te hou.
bedwelm Om iemand te verdoof of bewusteloos te maak.
bepaling ’n Voorskrif, met ander woorde iets wat moet gebeur.
beroertes Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ‘n bloedklont verstop word.
beskeie Arm of nederig.
biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
bisamrotte ’n Noord-Amerikaanse knaagdier, amper soos ’n rot, wat kan swem.
gebuit Om iets te roof; plunder.
burgeroorlogveteraan ’n Soldaat wat voorheen in die Amerikaanse Burgeroorlog geveg het.
eksemplaar Voorbeeld.
gegeld Iets wat vir almal van krag/toepassing is.
gelykenisse Storie in die Bybel wat simboliese waarde het, met ander woorde dit leer vir ’n mens ’n les.
handig te pas As iets nuttig of bruikbaar is.
huishoudster Iemand wat ’n andere se huis oppas en bestuur.
kleinkoppie sou trek Bang wees.
knaagdier Diersoort gekenmerk deur twee skerp voortande aan elke kakebeen (bewer, rot, ens.)
kondukteur Iemand wat die werk het om seker te maak elke passasier in ’n trein/bus het ’n geldige kaartjie.
gekwel As iets jou pla.
losprys Die som geld wat betaal sal word om iemand te vang.
militêre pensioen Die pensioen wat jy kry as jy in die weermag of vloot geveg het.
missie Belangrike opdrag of sending.
narkolepsie ’n Toestand waar ’n mens elke nou en dan spontaan aan die slaap raak.
navigeer Die pad wys; roete aandui/bepaal.
neurologiese Wat te doen het met jou senuweestelsel, oftewel die brein, rugmurg en al die vertakkings van die senuwees in die liggaam.
ongeëwenaard Iets waarvan daar nie ’n gelyke is nie.
plantasie Stuk grond waarop bome of ander plante aangeplant is; terrein waarop suiker/katoen/koffie/ens. gekweek word.
radikale Iemand wat iets heeltemal en totaal en al wil verander.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
sinoniem Wat in betekenis gelyk is aan ’n ander.
skermutseling Botsing of geveg (gewoonlik klein) tussen vyande.
skerpsinnigheid Met ’n slim verstand; ’n helder oordeel.
spioen ’n Persoon wat in die geheim, sonder dat ander daarvan weet, inligting oor vyande van die regering moet kry.
tehuis ’n Plek waar mense wat hulp benodig, versorg word.
testament Verklaring, in wettige vorm opgestel, waarin ʼn persoon uiteensit/stipuleer wat ná sy/haar dood met sy/haar eiendom en bates moet gebeur.
toevoerlinies Formasie waarin militêre magte in ’n lineêre orde opgestel is.
vaardige Iets baie goed kan doen.
vergesel Wanneer jy saam met iemand iewers heen gaan.
verkenner Iemand wat opgelei is om ’n gebied te bestuur om inligting oor die vyand te kry.
voorman Iemand wat oor ander werkers toesig hou.
vrouestemregbeweging ’n Beweging om stemreg vir vroue te kry in die laat 19de eeu in die VSA.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Harriet Tubman

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Harriet Tubman

Wat was swart Amerikaners se ervaring van die Amerikaanse Burgeroorlog?

Harriet Tubman en die Underground Railroad

Hoe het die Underground Railroad gewerk?

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2024 | Bygewerk op 7 Maart 2024