Vinnige feite

  • Die Sint Bartholomeusnag-slagting word ook soms die Paryse Bloedbruilof genoem. 6
  • Katolieke is uitgeken aan die wit kruise wat hulle op hul hoede gedra het. 3
  • Daar is soveel lyke in die Seine-rivier gegooi dat dit die water rooi gekleur het. 1
  • Caterina de’ Medici was die agterkleinkind van Lorenzo de’ Medici, of Lorenzo die Manjifieke, die heerser van Florence (vandag Italië) en een van die vaders van die Renaissance. 7

Die Kerkhervorming, wat in 1517 deur Martin Luther begin is, het die Christelike Kerk in twee geskeur. Aan die een kant was daar die Protestante, wat Luther en ander kerkhervormers se nuwe idees gevolg het. Aan die ander kant was die Katolieke, wat teen Luther se idees gekant was.

Die groei van Protestantisme ná die Kerkhervorming het tot ’n teenreaksie in die Katolieke Kerk gelei. Dit het gelei tot chaos, geweld en oorlog. Op die ou end is miljoene mense dood in die stryd tussen die Katolieke en Protestante.

Martin Luther

Agtergrond

Ná die Kerkhervorming het Protestantisme in Frankryk vinnig gegroei. Teen die 1560’s was daar al twee miljoen Protestante, oftewel Hugenote, soos wat hulle in Frankryk genoem is. 1 Dit was so tussen 10% en 15% van die bevolking. 2 Die Katolieke Kerk het egter die grootste en invloedrykste kerk in Frankryk gebly.

Franse regerings, gelei deur Katolieke konings, het wette gemaak wat teen die Hugenote gediskrimineer het, in ’n poging om die groei van Protestantisme te keer. 1

Geloofsgeweld was wydverspreid. Mense het byvoorbeeld openlik plakkate gedra wat gelees het: “Maai hulle af! … verbrand hulle! … maak dood sonder om jou daaroor te kwel!” 1

Die geweld het van altwee kante gekom. Die Hugenote het egter meer daarop gefokus om Katolieke eiendom te vernietig, terwyl die Katolieke meer gefokus was om Protestante mense uit te wis. Die Hugenote het byvoorbeeld kerke geplunder en ontheilig, Katolieke beelde vernietig en priesters en monnike aangerand. Katolieke skares het weer die Hugenote aangerand, Protestante Bybels en boeke verbrand en Hugenote-kerkdienste ontwrig. 1

Die spanning het uiteindelik op ’n burgeroorlog uitgeloop, en in die dekade voor die slagting op Sint Bartholomeusnag was daar drie opeenvolgende godsdienstige burgeroorloë tussen die Katolieke en Hugenote. 1

Teen 1570 het oorlog só duur geword dat Karel IX (in Engels: Charles), die Katolieke koning van Frankryk, met die Hugenote vrede gesluit het. 2 Volgens die Vredesverdrag van Sint-Germain is sekere regte aan die Hugenote toegestaan, soos dat hulle vir die staat kon werk. Daar is ook aan hulle beheer oor ’n paar stede toegestaan. 3

Baie Katolieke was woedend oor die vredesverdrag. Een so ’n groep was die ultra-Katolieke, ’n ekstremistiese groep wat gelei is deur die magtige Guise-familie onder leiding van hertog Hendrik van Guise. Hulle het gevoel die Hugenote is té goed behandel deur die vredesverdrag en het wraak gesweer. 3

Die koningshuis se dilemma

Koning Karel en sy invloedryke ma, Caterina de’ Medici, was in ’n verknorsing, want hulle was vasgevang tussen twee onversoenbare groepe, met ander woorde groepe wat so hewig van mekaar verskil het dat hulle glad nie ’n ooreenkoms kon bereik nie. [Lees hier meer oor die Medici-familie.]

Caterina de’ Medici

Aan die een kant was die Hugenote-faksie onder leiding van admiraal Gaspard de Coligny, Louis van Condé, en twee Franse prinse, Hendrik van Navarre en Hendrik van Condé. Hulle het aangedring op nóg regte vir Hugenote en totale vryheid van godsdiensbeoefening vir Protestante Kerke. Coligny was die aanvoerder van die Hugenotemagte in die laaste burgeroorlog. Hy het egter tussenin ’n baie goeie verhouding met koning Karel opgebou. 1

Gaspard de Coligny
Hendrik van Condé

Aan die ander kant was die Katolieke faksie, gelei deur hertog Hendrik en die Guise-familie. Hulle het geglo aan die eeue oue tradisie van “een koning, een geloof”, en wou die Hugenote en hul geloof uitwis. 1 [Lees hier oor tradisie.]

Intussen het die geweld vererger. In die paar maande voor die bloedbad van Sint Bartholomeusnag was daar oor die hele Frankryk massamoorde van Hugenote. 1

Aanloop

Op 18 Augustus 1572 het die Hugenoteprins, Hendrik van Navarre, met Margaret van Valois, die Katolieke suster van koning Karel getrou. Die huwelik is gereël deur die koninginmoeder, Caterina de’ Medici. Sy en koning Karel het gehoop dat dit tot ’n afname in die geweld en selfs versoening tussen Katolieke en Protestante sou lei. 3

Margaret van Valois
Hendrik van Navarre

Die troue is by die Notre Dame-katedraal in Parys gehou, en in die week daarna het weelderige feesmale, balle en kleurvolle toernooie gevolg. Hugenote-adellikes en -leiers is in Parys verwelkom en toegelaat om vry in die stad rond te beweeg. 1

Notre Dame-katedraal

Die troue het egter nié die spanning verminder nie. Katolieke priesters het van die preekstoel af mense gewaarsku dat God hulle swaar sou straf indien die huwelik sou plaasvind. Volgens oorvertellings het een priester in ’n preek gesê: “God sal nie hierdie afskuwelike verbintenis (huwelik) duld nie.”

Die Katolieke Kerk was bang dat die troue sou beteken dat die koning nou met die Hugenote, wat hulle as ketters beskou het, sou saamwerk. 1

Daar was nog ’n laaste kwessie wat bygedra het tot die spanning.

Vlaandere (vandag België), in daardie tyd ’n Spaanse kolonie, het teen Spaanse beheer in opstand gekom en oorlog het uitgebreek. Coligny het probeer om koning Karel te oorreed om aan die Vlaminge hulp te stuur. 2 Die probleem was egter dat die Vlaminge Protestante was en die Spanjaarde Katolieke, en dus het die Katolieke in Frankryk Coligny se plan verwerp. 3 Omdat Coligny egter so goed bevriend was met Karel IX, was hulle bang dat hy dit sou regkry om die koning te oortuig. 1

Karel IX

Sluipmoordpoging op Coligny se lewe, Vrydag 22 Augustus

Op Vrydag 22 Augustus was Coligny op pad terug van ’n vergadering met die koning toe ’n sluipmoordenaar, Maurevert, hom probeer vermoor het. Coligny is onmiddelik na sy blyplek geneem, waar die ander Hugenoteleiers by hom aangesluit het. 1 Hy was nie dodelik gewond nie, maar wel in baie pyn. 2

Die koning het vir Coligny op sy siekbed gaan besoek. Coligny en die ander Hugenoteleiers was woedend. Hulle het met weerwraak gedreig en aangedring dat die koning ’n ondersoek oor die aanval van stapel stuur. 1

Intussen het gerugte oor die sluipmoordpoging deur Parys versprei, wat die atmosfeer van agterdog en vrees vererger het. 1

Historici weet tot vandag toe nie wie die sluipmoordpoging beplan het nie. Beide Caterina de’ Medici én die Guise-familie het goeie redes gehad om dit te doen, want Karel was maklik beïnvloedbaar. 2 Caterina was jaloers oor Coligny se invloed op haar seun, en die Guise-familie was bang dat Coligny die koning sou oortuig om teen Spanje oorlog te verklaar. 1 Daar was selfs gerugte dat die Spaanse regering betrokke was. 3 Daar is egter geen definitiewe bewyse om die skuld op iemand te plaas nie.

Noodsitting van die koninklike raad, Saterdag 23 Augustus

Ná sy besoek aan Coligny is die koning terug na sy paleis, waar hy op 23 Augustus ’n noodvergadering met lede van sy koninklike raad gehou het. Caterina, Hendrik van Guise en andere het die koning probeer oortuig om eerste teen die Hugenote op te tree, vóór die Hugenote hul weerwraak kon begin. Daar was gerugte dat ’n groot Hugenoteweermag op die punt was om Parys te bestorm. 2

Karel het uiteindelik geswig. 2 Die raad het ’n lys opgestel van Hugenoteleiers wat tereggestel moes word, en het besluit hoe en deur wie die teregstellings uitgevoer sou word. 4 Die koning het ook beveel dat die stad se hekke gesluit en alle bote vasgeketting moes word, sodat die Hugenote nie kon ontsnap nie. Hy het ook die burgermag gemobiliseer sodat hulle die orde kon bewaar vir ingeval die Hugenote in opstand sou kom. 1

Sint Bartholomeusnag, Sondag 24 Augustus

Die aanvalle op 24 Augustus is deur Hendrik van Guise en die koninklike wag begin. 2 Hulle het voor sonsopkoms in Coligny se slaapkamer ingestorm, hom vermoor en sy lyk by die venster uitgegooi. Skares mense het die liggaam daarna vermink deur sy kop en hande af te sny. 1 Sy kop is na die paleis by die Louvre geneem as bewys dat hy dood is. 2 Sy liggaam is deur die strate van Parys gesleep. 1

Lede van die koninklike wag het intussen na die ander Hugenoteleiers se woonplekke gegaan om hulle tereg te stel. Baie Hugenoteleiers het in die Louvre tuisgegaan. 3 Die wagte het in die paleis van kamer tot kamer gegaan en die Hugenote een vir een vermoor, meestal deur hulle te skiet of met swaarde te deurboor. Die twee Hugenoteprinse, Navarre en Condé, wat ook in die paleis tuisgegaan het, is in hul kamers gevange gehou. 1 Hulle was dus in dieselfde gebou waar hul mede-Hugenote uitgemoor is. 3

Voorbereiding vir die Sint Bartolomeus-slagting

Die bloedbad versprei oor die hele Parys

Die moorde op die Hugenote se leiers was effektief uitgevoer en teen sonsopkoms was die meeste Hugenote op die lys dood.

Soos wat die Parysenaars wakker geword en begin besef het wat aangaan, het ’n bloeddorstigheid hulle beetgepak. 4 Daar was ’n opwelling van haat teen die Hugenote en kort ná sonsopkoms het die burgermag – wat veronderstel was om die vrede te bewaar – en die Katolieke ekstremiste tot aksie oorgegaan. 1

Hulle het van huis tot huis gegaan waar Hugenote gewoon het, die deure afgebreek en mans, vroue en kinders doodgemaak – ongeag van ouderdom of geslag. Baie mense het hul eie bure aangeval. Sommige Hugenote is gedwing om hul geloof te verloën en is doodgemaak as hulle geweier het. Baie het probeer ontsnap, net om te vind dat die stad se hekke teen hulle gesluit was. 2

Om Hugenote te vermoor het amper soos ’n sport geword. Mense is geskiet, met messe gesteek of doodgeslaan. Hul verminkte liggame is deur die strate gesleep, en baie lyke is in die Seine-rivier gegooi. 1 Winkels en huise is ook geplunder. 1

Die slagting in Parys het vir omtrent ’n week aangehou. Dit het uiteindelik opgehou toe meeste Hugenote in die stad uitgewis was. 2

Koning Karel het die bloedbad probeer keer deur op 25 Augustus ’n bevel uit te vaardig wat moord op Hugenote verbied het, maar dit is geïgnoreer. 4 Hy het op 26 Augustus verantwoordelikheid aanvaar vir die bloedbad, maar niemand het hulle juis daaraan gesteur nie. 3

Die bloedbad versprei buite Parys

Die bloedvergieting het vinnig na die res van Frankryk versprei, en geweld het in meeste stede uitgebreek. 2

Gruweldade het gevolg. In Orléans is die Hugenote bymekaargemaak en in twee dae is ongeveer 1 000 mans, vroue en kinders doodgemaak. Die slagoffers is gespot deur dele uit die Bybel vir hulle te sing, onder andere uit Psalm 43: “Laat tog reg aan my geskied, o God … red my van … misdadige mense”. 1

In Lyon het die regering die Hugenote in die stede se kloosters en tronke geplaas vir beskerming. Die skares het egter ingebreek en hulle daarbinne uitgemoor. 2

Baie Hugenote het gevlug, veral na Franse stede waar die Hugenote militêr sterk was, soos Sancerre en La Rochelle. Hier kon hulle hulself beskerm. Ander het landuit gevlug, na Switserland, Duitsland of Engeland. 1 Duisende Hugenote het ook die Katolieke geloof aangeneem in ’n poging om hul eie lewens te red. 2

Hoeveel mense is dood?

Daar is tot vandag toe debat oor hoeveel Hugenote doodgemaak is. Meeste bronne sê omtrent 3 000 mense is in die eerste week in Parys doodgemaak, en tussen 7 000 en 30 000 (sommige bronne wat in hierdie tyd geskryf is, sê 70 000!) 4 in die volgende drie maande. 2

Wie se skuld was dit?

Die Sint Bartholomeusnag-slagting is een van die mees afgryslike gebeurtenisse in die geskiedenis van die Kerkhervorming. Omdat dit so ’n omstrede gebeurtenis was, het verskillende historici die storie op verskillende maniere vertel.

Protestantse historici argumenteer dat dit ’n voorafbeplande komplot was om die Hugenotebeweging te vernietig. Volgens hulle was alles sorgvuldig deur die bose koningin-moeder, Caterina de’ Medici, en die Guise-familie beplan. 1

Katolieke historici sê Karel IX het ’n goeie rede vir sy besluit gehad, naamlik dat dit gelyk het of die Hugenote op die punt was om teen die koning in opstand te kom. Daarom was sy aksies voorkomend, met ander woorde dit het die doel gehad om iets erger te keer. 1

Waaroor meeste historici saamstem, is dat die geweld wat ná die moord op die Coligny en die ander Hugenoteleiers gevolg het – met ander woorde toe die burgermag en gewone Parysenaars ook ingespring het – nie beplan was nie. Die koning en sy raadgewers wou slegs van die leiers ontslae raak. Hulle was geskok deur die bloedbad wat gevolg het. 1

Karel IX

Gevolge en betekenis

Katolieke in die res van Europe het die bloedbad as ’n groot oorwinning vir die Katolieke Kerk beskou. By die Vatikaan het Pous Gregorius XIII ’n spesiale “nagmaal van danksegging” gehou, én ’n spesiale medalje laat maak wat die Ugonottorium strages 1572 (Slagting van die Hugenote in 1572) herdenk het. In Spanje het Koning Phillip II, wat volgens oorvertelling nooit gelag het nie, vir een van die min kere in sy lewe gelag toe hy die nuus gehoor het. 2

Gregorius XIII

Baie Protestante het hul geloof opgegee. Vir sommige was dit ’n manier om die dood en marteling vry te spring. Die Bourbon-prinse, Navarre en Condé, het dit ook tydelik gedoen. Ander het gedink dis beter om permanent Katoliek te word, want hulle het gevoel dis hopeloos om onder sulke omstandighede ’n Protestant te bly. Boonop het baie Hugenote begin glo dat God hulle verlaat het, want hoe kon Hy so iets toelaat? 1

Die bloedbad het die Hugenote se droom om Frankryk in ’n Protestante land te verander, verpletter. Die Protestante kerke in Frankryk het hierna gesukkel om te groei en Protestantisme is steeds vandag ’n minderheid daar. 1

Godsdienstige geweld het in die jare hierna voortgeduur. 1 In 1573, aan die einde van nóg ’n godsdiensoorlog het die koning die Edik (amptelike bevel) van Boulogne uitgereik. Dit het wel aan die Hugenote vryheid van geloof gegee, maar van hul ander regte weggevat. Dit het egter nie die geweld teen hulle gekeer nie. Eers ná die Edik van Nantes in 1598, wat vir die Hugenote totale godsdiensvryheid gegee het, het die geloofsgeweld van daardie era geëindig. 2

Hugenote in Suid-Afrika

Weens die gevolge van geloofsgeweld en geloofsvervolging in Frankryk het daar rondom 1688 ongeveer 300 Hugenote na Suid-Afrika geïmmigreer. Die Hugenote het ’n vyfde van die Europese bevolking aan die Kaap uitgemaak. Hulle het in Drakenstein en Franschhoek gaan woon, waar hulle met die plaaslike bevolking gemeng het. Daar het hulle hulle gevestig in wat toe bekend gestaan het as “Olifantshoekvallei”. Ná hul aankoms en vestiging het hierdie gebied bekend geword as “Le Coin Francais” of “Le Quartier Francais”, wat “Franse hoek” of “Franse kwartier” beteken. Vandag word dit Franschhoek (Franse hoek) genoem.

Bekende Hugenote-vanne wat vandag nog in Suid-Afrika algemeen is, sluit De Villiers, Du Toit, Du Preez en Du Plessis in. 5

Woordbank

adellikes Die groep mense (edelmanne en edelvroue) in sommige lande wat tot die hoogste sosiale stand behoort.
maai hulle af Doodmaak, uitwis.
afvallig Jou geloof versaak; nie meer glo nie.
agterdog ’n Gebrek aan vertroue teenoor iemand/iets.
argumenteer Stry; rusie maak.
balle Deftige dans.
Bourbon Familielid van die Franse Huis van Bourbon. Prins Hendrik van Condé was deel van die Bourbon-familie.
burgermag Opgeleide soldate wat nie in die staande mag was nie.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een land of volk.
debat Bespreking van ’n onderwerp deur twee partye.
dilemma Moeilikheid, probleem.
dwaalleer Opvatting wat afwyk van die erkende godsdienstige leer.
edik Amptelike bevel.
ekstremistiese Iemand wat politieke idees het wat deur die meeste mense as onredelik en onaanvaarbaar beskou was.
era Tydperk.
faksie ’n Groep mense wat binne ’n groter organisasie hul eie belange wil bevorder.
gerugte Inligting of ’n storie wat mense aan mekaar oorvertel en wat waar of onwaar kan wees.
historici Die meervoud van historikus (geskiedkundige) – iemand wat navorsing oor die geskiedenis doen en daaroor skryf.
katedraal Groot en sierlike kerkgebou van die Rooms-Katolieke Kerk.
ketters Iemand wat, volgens sommige ander Christene, een of meer waarhede van die Christelike geloof verwerp; veral iemand wat, deur ander Rooms-Katolieke, beskou word as ’n afvallige van die Rooms-Katolieke geloof.
kloosters ’n Gebou waarin vroue (nonne) of mans (monnike) woon en behoort tot ’n godsdienstige groep wat op hul eie, weg van ander mense, leef.
komplot Geheime plan met ’n slegte doel.
marteling Soort straf wat erge pyn veroorsaak.
medalje Erepenning, gewoonlik rond soos ’n groot muntstuk met ’n ketting of tou wat om die nek hang, as prys vir ’n prestasie.
gemobiliseer Vir oorlogvoering in gereedheid bring.
omstrede Iets waaroor almal nie saamstem nie en baie oor stry; verdag.
ontheilig Iets wat met godsdiens te doen het, te vernietig.
ontwrig Probleme veroorsaak en verhinder dat iets op die gewone manier gebeur/voortgaan; deurmekaarmaak.
onversoenbare Wat so hewig van mekaar verskil dat hulle glad nie ’n ooreenkoms kan bereik nie.
geplunder Beroof; steel.
sluipmoordenaar ’n Persoon wat ’n belangrike persoon om politieke of godsdienstige redes vermoor; huurmoordenaar, skelmmoordenaar.
geswig Ingee; toegee.
tereggestel Met die dood straf.
toernooie Middeleeuse sportsoort waarin ridders te perd met lanse en swaarde teen mekaar gewedywer het; ridderspel.
tradisie Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
unie Huwelik.
van stapel stuur Iets begin.
verknorsing Moeilikheid.
verloën Iemand/iets verraai; aan iemand/iets ontrou wees.
verminkte Liggaamlik skend; ’n liggaam op ’n baie wrede manier stukkend maak deur te slaan, skop of ’n liggaamsdeel af te sny of af te kap.
versoening Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring.
voorkomend Met die doel om te keer dat iets gebeur.
weerwraak Iets wat jy doen om iemand te straf vir iets wat hy/sy aan jou gedoen het.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Sint Bartolomeusnag

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor bloedbad van Sint Bartolomeusnag

Wie was Caterina de’ Medici?

Die verskil tussen Katolieke en Protestante

Kom meer te wete oor die Sint Bartolomeusnag-slagting

Foto: iStockFoto: Shutterstock
Gepubliseer op: 2 Augustus 2023 | Bygewerk op 1 Februarie 2024