Vinnige feite

  • Moeder Teresa het Suid-Afrika vir die eerste keer op 7 November 1988 besoek. Sy het ’n sending in Khayelitsha gestig, wat ’n tuiste vir MIV/vigs-lyers sou wees. 7
  • Sy het haar ma en suster nooit weer gesien nadat sy die huis verlaat het om ’n sendeling te word nie. 8
  • Albanië se internasionale lughawe is na haar vernoem: Aeroporti Nene Tereza. 8
  • Toe sy die Nobel-prys vir Vrede gekry het, het sy gevra dat die geld vir die banket aan die armes van Indië geskenk word. 8
  • Pous Paulus VI het tydens sy reis na Indië in 1964 vir haar sy seremoniële limousine gegee. Sy het dit aanvaar, en dadelik uitgeloot om die kolonie vir melaatses te help finansier. 1

Moeder Teresa (1910-1997) was ’n Rooms-Katolieke non wat die Orde van die Sendelinge van Liefdadigheid gestig het, ’n orde waarin vroue hul lewe aan die armes, veral aan die behoeftiges van Indië, wy. Sy het in haar lewe talle eerbewyse vir haar liefdadigheidswerk ontvang, onder meer die Nobel-prys vir Vrede in 1979. 1

Vroeë lewe

Moeder Teresa was nie altyd moeder Teresa nie, dit was ’n naam wat sy aangeneem het nadat sy met haar werk in die Rooms-Katolieke kerk begin het.

Sy is op 26 Augustus 1910 in Skopje, die huidige hoofstad van die Republiek van Masedonië, gebore. Die volgende dag is sy as Agnes Gonxha Bojaxhiu gedoop. 2

Agnes se ouers, Nikola en Dranafile (Drana) Bojaxhiu, was van Albanië afkomstig; haar pa was ’n entrepreneur wat as ’n bouer en ’n handelaar gewerk het. Die hele gesin was toegewyde Katolieke, en haar pa was baie nou betrokke by die plaaslike kerk sowel as by stadspolitiek. Hy het die onafhanklikheid vir sy vaderland, Albanië, voorgestaan. 2

In 1919, toe die jong Agnes maar net agt jaar oud was, het haar pa skielik siek geword en gesterf. Niemand weet presies waaraan hy dood is nie, maar die vermoede bestaan dat politieke vyande hom vergiftig het. 2

Ná haar pa se dood het Agnes en haar ma ’n baie nou verhouding ontwikkel. Haar ma was ’n vroom en deernisvolle vrou wat van jongs af ’n passie vir liefdadigheid by haar dogter gekweek het. Alhoewel hulle glad nie ryk was nie, het Drana Bojaxhiu die stad se behoeftiges uitgenooi om saam met haar gesin te eet. Dit is sy wat die jong Agnes geleer het dat al hierdie mense, al was hulle bedelaars, eintlik haar gelykes was. 2

Moeder Teresa (Agnes) en haar suster Alga

Opleiding en roeping

Die gemeente waaraan die gesin behoort het, het elke jaar ’n pelgrimstog onderneem na die Kerk van die Swart Madonna in Letnica.

Op een van hierdie pelgrimstogte, toe Agnes 12 jaar oud was, het sy die eerste keer geroepe gevoel om haar lewe aan Christus te wy. Ses jaar later, in 1928, het ’n 18-jarige Agnes Bojaxhiu besluit om ’n non te word. Sy is Ierland toe om by die Susters van Loreto in Dublin aan te sluit. Dit was daar dat sy die naam suster Mary Teresa aangeneem het. Die naam verwys na Thérèse van Lisieux, ’n Rooms-Katolieke heilige uit die eeu voor moeder Teresa, wat veral vir haar sendingwerk bekend was. 2

Moeder Teresa-museum

’n Jaar later is suster Mary Teresa na Darjeeling, ’n stad in Indië. Die doel van die reis was om haar novisiaat te doen – ’n tydperk van opleiding en voorbereiding wat alle voornemende nonne aflê. Daarna is sy na Kalkutta, waar sy by St. Mary’s High School for Girls gaan skoolhou het. Dit was ’n kloosterskool wat deur die Loreto-klooster in Ierland bestuur is en meisies uit die stad se armste gesinne onderrig het. Suster Teresa het geleer om Bengaals en Hindi (Indiese tale) vlot te praat. Sy het aardrykskunde en geskiedenis gegee en haar daaraan toegewy om die meisies se armoede deur middel van onderwys te verlig. 2

Moeder Teresa se kamer in Indië

Op 24 Mei 1937 het sy haar gelofte afgelê (in Engels: she took her vows) en haar verbind tot ’n lewe van armoede, kuisheid en gehoorsaamheid. Soos die gewoonte vir Loreto-nonne was, het sy die titel van “moeder” aangeneem. Van toe af was sy bekend as moeder Teresa.

Moeder Teresa het steeds by St. Mary’s skoolgehou, en in 1944 het sy die skoolhoof geword. Deur vriendelikheid, vrygewigheid en toewyding aan haar leerders se opvoeding, het sy probeer om hulle te lei tot ’n lewe van toewyding aan Christus. 2

Moeder Teresa-katedraal

ʼn Roeping binne ʼn roeping

Daar word in baie bronne verwys na die “roeping binne ’n roeping” (in Engels: call within a call) wat sy ontvang het. Op 10 September 1946 het moeder Teresa tydens ’n treinreis van Kalkutta na die Himalaja-voetheuwels ’n tweede roeping ontvang: Dit was nie genoeg om net ’n non te wees en skool te hou nie, sy moes in die krotbuurte van Kalkutta met die armstes van die armes gaan werk. 1

Haar gelofte van gehoorsaamheid het egter gemaak dat sy nie haar klooster sonder amptelike toestemming kon verlaat nie. In Januarie 1948 het sy uiteindelik goedkeuring gekry om hierdie nuwe roeping na te streef. Daardie Augustus het sy, in die kenmerkende blou-en-wit-sari wat sy vir die res van haar lewe in die openbaar sou dra, die Loreto-klooster verlaat.

Met ses maande se basiese mediese opleiding het sy in Kalkutta se krotbuurte ingetrek om haar roeping te gaan uitleef: om om te sien na mense wat, in haar woorde, “niemand wou hê nie, niemand kon liefhê nie en vir wie niemand gesorg het nie”. 2

Die Sendelinge van Liefdadigheid

Moeder Teresa het sommer gou haar roeping in tasbare diens omskep. Sy het ’n opelugskool begin en ’n tehuis vir sterwende behoeftiges in ’n vervalle gebou geskep nadat sy die stad se regering oortuig het om die gebou aan haar sending te skenk. In Oktober 1950 het sy die Rooms-Katolieke kerk se toestemming gekry om ’n nuwe orde, die Sendelinge van Liefdadigheid (in Engels: Missionaries of Charity) te stig. Die orde het slegs ’n handjievol lede gehad, die meeste was oudonderwysers of oudleerlinge van die St. Mary’s School. 2

Moeder Teresa-hoërskool

Haar orde het gegroei en skenkings van regoor Indië en regoor die wêreld het ingestroom, en moeder Teresa kon haar liefdadigheidswerk uitbrei. In die 1950’s en 1960’s het sy ’n kolonie vir melaatses, ’n weeshuis, ’n ouetehuis, ’n gesinskliniek en ’n rits mobiele gesondheidsklinieke gestig. 2

In 1971 het sy New York toe gereis om haar eerste Amerikaanse liefdadigheidsorganisasie te open, en in die somer van 1982 is sy in die geheim na die oorloggeteisterde Beiroet in Libanon, waar sy tussen die Christelike Oos-Beiroet en Moslem Wes-Beiroet gereis het om kinders van beide gelowe te help. In 1985 is sy terug New York toe om by die 40ste herdenking van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering te praat. Terwyl sy daar was, het sy ook Gift of Love geopen, ’n tuiste vir mense met MIV/vigs. 2

Toekennings

Moeder Teresa se onbaatsugtige werk onder die armes – terwyl sy self net haar sari en ’n Bybel besit het – het wêreldwyd erkenning gekry. Die volgende is maar ’n paar van die toekennings wat sy gedurende haar leeftyd verwerf het: 3

  • Die eerste Pous Johannes XXIII Vredesprys (1971)
  • Die Kennedy-prys (1971)
  • Die Nehru-prys vir die bevordering van internasionale vrede en begrip (1972)
  • Albert Schweizer Internasionale Prys (1975)
  • Die Nobel-prys vir Vrede (1979) 4
  • Die Bahrat Ratna, Indië se hoogste burgerlike toekenning (1980) 1
  • Die Verenigde State se Presidensiële Vryheidsmedalje (1985)
  • Die VSA se Goue Kongresmedalje (1994)
  • U Thant-vredestoekenning (1994)
  • Ereburgerskap van die Verenigde State (16 November 1996)
Saam met pres. Ronald Reagan

Ná haar dood is sy deur die Rooms-Katolieke kerk tot ’n heilige verklaar. Op 4 September 2016 is sy gekanoniseer, en het sy die heilige Teresa van Kalkutta geword. 5

Kritiek

Ten spyte van al hierdie lof, het moeder Teresa se lewe en werk ook kritiek uitgelok, veral vir haar ondersteuning van sommige van die Rooms-Katolieke kerk se

leerstellings. Sy was byvoorbeeld gekant teen voorbehoeding en aborsie, en in 1995 het sy nee gestem in ’n Ierse referendum wat die land se grondwetlike verbod op egskeiding en hertrou sou ophef. Sommige geskiedskrywers het haar ook daarvan beskuldig dat sy armoede vir haar eie doeleindes gebruik het, veral om uitgediende Rooms-Katolieke instellings en oortuigings te regverdig. 2

Nalatenskap

Op 5 September 1997 is moeder Teresa oorlede. Die Indiese regering het aan haar ’n staatsbegrafnis gegee en haar liggaam is in die moederhuis van die Sendelinge van Liefdadigheid begrawe. Haar graf het gou ’n plek geword waarheen pelgrims reis en mense van alle gelowe, ryk en arm, deur die jaar besoek aflê. 6

Toe sy haar orde begin het, was dit sy en ’n handjievol mense wat daaraan behoort het. Met haar dood in 1997 het die orde byna 4 000 lede gehad, met 610 sendings in 123 lande van die wêreld. 2

Vandag nog is sy nog steeds ’n voorbeeld van onbaatsugtige liefde en deernis teenoor alle mense, ongeag hul agtergrond.

Woordbank

aborsie ‘n Daad wat keer dat ‘n baba volledig ontwikkel en gebore word deur dit uit die ma te verwyder terwyl dit nog te klein is om te lewe.
banket ’n Deftige feesmaal.
deernisvolle Iemand met innige bejammering en droefheid oor die slegte dinge wat met ander mense gebeur, en meegevoel toon.
gekanoniseer Amptelik deur die Rooms-Katolieke kerk tot ‘n heilige verklaar.
kolonie ’n Groep mense wat saam op ’n nuwe plek gaan woon.
krotbuurte Baie arm buurte waar mense onder baie haglike omstandighede in krotte woon.
melaatses Mense me t’n baie ernstige, aansteeklike siekte wat geleidelik die lyer se vel, vleis en senuwees vernietig.
non ’n Vroulike lid van ‘n godsdienstige groep wat afgesonder van ander mense in ‘n klooster woon.
novisiaat Tydperk van opleiding en voorbereiding wat deur alle voornemende nonne afgelê word.
onbaatsugtige Om aan ander mense se  behoeftes en wense te dink voor jy aan jouself dink.
orde ’n Soort religieuse afdeling in die Katolieke kerk waaraan mense behoort wat dieselfde soort roeping ervaar.
pelgrims Mense wat na ‘n heilige plek reis om daar te aanbid.
pelgrimstog Reis wat afgelê word deur ‘n pelgrim, gewoonlik om ‘n religieuse of geestelike doelwit te bereik.
referendum Wanneer mense stem om oor iets te besluit.
sari Kledingstuk wat tradisioneel deur vroue in Suid-Asië gedra word en bestaan uit ’n stuk lap wat op die liggaam gedraai en gedrapeer word.
tasbare Iets wat jy doen, wat ‘n werklikheid word en waargeneem kan word.
tehuis ‘n Plek waar mense wat hulp nodig het, versorg word.
voorbehoeding Voorkoming van swangerskap.
vroom Baie godsdienstig.

Verbreed jou kennis met hierdie artikels

Kyk ook hierdie video’s

Die Lewe van Moeder Teresa

Het jy hierdie 12 feite oor Moeder Teresa geweet?

Videogrepe en foto’s uit Moeder Teresa se lewe (argiefmateriaal)

Sint Teresa van Kalkutta

Lokprent uit die rolprent Mother Teresa

Gepubliseer op: 10 April 2024 | Bygewerk op 10 April 2024