Vinnige feite

Vaardighede wat ‘n entrepreneur nodig mag hê om suksesvol te wees:

  • Bestuursvaardighede – dit sluit in om goed te beplan, dinge goed te organiseer, leiding te kan neem en beheer uit te oefen.
  • Goeie navorsingsvaardighede – om die regte inligting en agtergrond bymekaar te maak wat tot die nuwe besigheid se voordeel sal wees.
  • Vermoë om probleme op te los – in ‘n besigheid mag daar ‘n verskeidenheid uitdagings of probleme opduik, maar ‘n entrepreneur sal altyd oplossings soek.
  • Goeie verhoudinge – om goed oor die weg te kom met werknemers, kliënte en verskaffers is ‘n belangrike element van ‘n suksesvolle besigheid.
  • Om duidelik te kommunikeer – dit is belangrik om op verskillende maniere goeie kommunikasie te hê met al die verskillende partye wat deel van die proses vorm.
Foto: iStock

Wanneer jy soggens aantrek vir skool, het jy al ooit gewonder waar jou tandeborsel vandaan kom? En die tandepasta wat jy gebruik? Die seep waarmee jy jou gesig was en die haarborsel waarmee jy jou hare kam – al hierdie items het hul ontstaan en weg gevind tot in ons huise danksy innoverende entrepreneurs. Kom ons vind meer uit oor hierdie groot woord. 1

Wat is entrepreneurskap?

Die woord entrepreneurskap verwys na die proses waartydens ‘n nuwe besigheid (onderneming) begin, ontwikkel en bestuur word. Dit beteken ook dat risiko’s geneem moet word in die proses, met die doel om wins te maak uit die verkoop van ‘n produk of die lewering van ‘n diens. 2

Wat is ‘n entrepreneur?

‘n Suksesvolle entrepreneur skep ‘n nuwe sakegeleentheid of besigheid, al is daar onsekerhede of moontlike probleme. Só ‘n persoon beskou (sien) die geleenthede as groter as die risiko’s daaraan verbonde en neem die nodige stappe om alles in plek te kry sodat hy of sy ‘n besigheid kan begin en bestuur. Dit sluit in die verkryging van die nodige hulpbronne, byvoorbeeld geld, mense wat kan saamwerk of masjinerie wat die vervaardiging van produkte kan doen. 3

Karaktereienskappe van ‘n entrepreneur

Wat is karaktereienskappe?

Karaktereienskappe is individuele kenmerke wat deel vorm van iemand se persoonlikheid en menswees. Baie van hierdie eienskappe vorm reeds deel van ‘n persoon vanaf geboorte, maar die meeste daarvan kan ontwikkel en vorm soos ‘n persoon ouer word. Verskillende dinge kan ‘n rol speel in die vorming van karaktereienskappe, soos die omgewing, situasies en geleenthede waaraan ‘n persoon blootgestel word. Voorbeelde van goeie karaktereienskappe is lojaliteit, eerlikheid, hardwerkendheid en vriendelikheid. 4

Wat is die spesifieke karaktereienskappe van ‘n entrepreneur?

Om ‘n suksesvolle entrepreneur te wees, vra spesifieke karaktereienskappe van ‘n persoon omdat dit nie noodwendig vir almal lekker sal wees om ‘n eie besigheid te begin en te bestuur nie. ‘n Entrepreneur gaan sekere kenmerke hê wat hom of haar die ideale samestelling en vaardighede gee om entrepreneurskap suksesvol aan te pak. 5

Die volgende karaktereienskappe sal ‘n entrepreneur help in sy of haar taak:

Hardwerkendheid ‘n Entrepreneur is nie bang vir harde of baie werk nie, want die droom en passie om by die sukses van die besigheid uit te kom, motiveer hom of haar om voluit te gaan.
Selfgemotiveerd Dit beteken dat iemand anders nie ‘n entrepreneur heeltyd vra om die werk te doen nie, want as die eienaar van die besigheid, gaan die entrepreneur leiding moet neem en ook die besigheid se werknemers motiveer.
Optimisties Om optimisties te wees, beteken om positief na iets te kyk. Dus eerder die goeie in ‘n situasie te soek as om altyd eers die slegte van ‘n saak raak te sien.
Kreatief Iemand wat kreatief is, kan heeltyd nuwe idees en dinge uitdink wat vars en enig in hul soort is. Daar is dus altyd ‘n nuwe plan of projek wat nog nie vantevore uitgedink is nie.
Risikonemer ‘n Entrepreneur is nie bang om te waag nie. Om risiko’s te neem, is een van die groot vereistes wanneer ‘n besigheid van nuuts af begin word. As die waagstukke tot sukses lei, sal die besigheid floreer. Dit sou nooit moontlik wees om dit vooraf te weet sonder om te probeer nie.

Hier is nog ‘n paar beskrywings van ‘n persoon wat heel moontlik in entrepreneurskap sal floreer:

  • Nuuskierigheid;
  • Het ‘n goeie verbeelding;
  • Het baie energie vir al die lang ure van werk;
  • Geniet dit om saam met mense te wees;
  • Gee nooit moed op nie (het deursettingsvermoë);
  • Het baie selfvertroue;
  • Is verantwoordelik;
  • Het ‘n visie vir sukses;
  • Is dapper;
  • Doen dinge deeglik;
  • Soek na goeie geleenthede;
  • Toets graag nuwe idees; en
  • Dink krities oor uitdagings.

Vaardighede wat vir entrepreneurskap nodig is

Wat is vaardighede? Dit is iets wat ‘n persoon goed kan doen. Dit kan aangeleer word of deur ondervinding verkry word. Vaardighede is talente en persoonlike kwaliteite wat ‘n persoon het om in ‘n werksituasie aan te bied. 6

Vaardighede wat ‘n entrepreneur nodig mag hê om suksesvol te wees:

  • Bestuursvaardighede – dit sluit in om goed te beplan, dinge goed te organiseer, leiding te kan neem en beheer uit te oefen.
  • Goeie navorsingsvaardighede – om die regte inligting en agtergrond bymekaar te maak wat tot die nuwe besigheid se voordeel sal wees.
  • Vermoë om probleme op te los – in ‘n besigheid mag daar ‘n verskeidenheid uitdagings of probleme opduik, maar ‘n entrepreneur sal altyd oplossings soek.
  • Goeie verhoudinge – om goed oor die weg te kom met werknemers, kliënte en verskaffers is ‘n belangrike element van ‘n suksesvolle besigheid.
  • Om duidelik te kommunikeer – dit is belangrik om op verskillende maniere goeie kommunikasie te hê met al die verskillende partye wat deel van die proses vorm.

Hoekom is entrepreneurskap belangrik?

Werkloosheid is ‘n groot probleem, ook in Suid-Afrika waar ‘n groot persentasie van die bevolking in armoede leef. Entrepreneurs help om hierdie probleem op te los deur nie net vir hulself ‘n inkomste te skep nie, maar ook vir ander mense wat hulle in diens neem. 3

Entrepreneurs sorg dat dienste en produkte gelewer word. Daardeur voldoen hul nie net aan die verbruiker (die persoon wat die produk koop) se behoeftes nie, maar sorg hulle ook vir ekonomiese groei en vooruitgang. Dit lei daartoe dat hulle die hele gemeenskap se omstandighede kan verbeter. In ekonomiese terme sê ons dat entrepreneurs welvaart skep.

Slotsom

Volgende keer as jy gereed maak om skool toe te gaan en tande borsel, gesig was en hare kam, gaan jy dalk twee keer dink, met dankbaarheid, aan die innoverende entrepreneurs wat die risiko’s geneem het om tandeborsels, tandepasta, seep en haarborsels te ontwikkel, produseer en bestuur sodat dit vir ons in die winkels beskikbaar is. Hierdie baanbrekers het opvolgers nodig wat nuwe idees kan uitdink en besighede kan begin, om sodoende werk te skep en ‘n positiewe verskil aan die ekonomie te maak. Wie weet, net miskien is daardie nuwe entrepreneur jy!

Woordbank

entrepreneurskap Die proses waartydens ‘n nuwe besigheid begin, ontwikkel en bestuur word.
entrepreneurs ‘n Persoon wat entrepreneurskap beoefen, noem ons ‘n entrepreneur.
risiko’s Om te waag sonder om te weet of dit suksesvol sal wees.
wins

 

Wanneer jou inkomste (die geld wat jy inkry met verkope) meer is as jou uitgawes (die geld wat jy spandeer aan die materiaal en vervaardiging van jou produkte asook enige ander koste verbonde in die besigheid).

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Jy is nooit te jonk om ‘n entrepreneur te wees nie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Augustus 2021 | Bygewerk op 5 Maart 2024