Vinnige feite

  • Een van die hardste opgetekende knalgeluide in die geskiedenis was op 27 Augustus 1883 in Krakatoa toe dié vulkaniese eiland in Indonesië met die plofkrag van 200 megaton plofstof uitgebars het. Die uitbarsting kon byna 4 828 km ver gehoor word. 10
  • ’n Studie in Duitsland het bevind dat sowat 1 629 hartaanvalle per jaar in dié land die gevolg is van geraas wat deur verkeer veroorsaak word. Sowat 40% van Europa se bevolking word blootgestel aan verkeergeraas wat harder as 55 dB is. In New York in die VSA bereik geraasvlakke in die stad tot 85 dB. 11
  • Volgens navorsing wat deur City Quiet gedoen is, is Moembai (Indië), Kolkata (Indië) en Kaïro (Egipte) die lawaaierigste stede ter wêreld. Weens die besige stadsverkeer, voortdurende konstruksie en ernstige oorbevolking, oorskry geluidsvlakke in Moembai die 100 dB-merk. Madrid (Spanje) is die raserigste stad in Europa, terwyl New York die enigste stad in die VSA is wat op die top-10-lys van lawaaierigste stede ter wêreld is. 12
  • Die roepgeluid van ’n blouwalvis kan 188 dB bereik, wat harder is as die geluid wat ’n straler of selfs ’n handgranaat maak, maar die spermwalvis maak die hardste geluid – 230 dB. Klank trek vinniger deur water as deur die lug.
  • Die hardste mensgemaakte geluide is dié wat deur vuurwerk (tot 150 dB) en geweerskote (tot 155 dB) gemaak word. Die geluid wat ’n vuurpyl met lansering maak, is op 170 dB gemeet.
  • Klank trek vinniger deur water as deur die lug. Die spoed van klank in die lug is sowat 340 meter per sekonde en 1 500 meter per sekonde onder water. Omdat die atome in vloeistowwe digter verpak is as in gasse (die lug), beweeg geluide baie vinniger in byvoorbeeld die see. 13
  • Bottelneusdolfyne het die beste gehoor. Mense kan klanke van 20 tot 20 000 Hertz (Hz) hoor, maar dié dolfyne kan klanke van tot 160 000 Hz optel. Honde kan geluide tot 44 000 Hz hoor.
Foto: iStock

Klank is deel van ons daaglikse bestaan. Ons hoor die wekker afgaan, Ma wat ons aanjaag om klaar te maak vir skool, Pa wat die motor aanskakel, die skoolklok wat lui.

Geraas is egter ’n perd van ’n ander kleur! Net soos ons lugbesoedeling kry van fabrieke of motors se uitlaatgasse, of waterbesoedeling van mense se rommel en riool wat in water beland, net so kry ons geraasbesoedeling. Dié onsigbare vorm van besoedeling is baie sleg vir ons gesondheid en beïnvloed nie net miljoene mense elke dag nie, maar is ook baie nadelig (sleg) vir die diereryk. 1

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is geraasbesoedeling een van die gevaarlikste omgewingsbedreigings vir ons gesondheid. En volgens die Europese Omgewingsagentskap (EER) is geraas net in Europa verantwoordelik vir 16 600 voortydige (té vroeë) sterftes en meer as 72 000 hospitalisasies (mense wat in die hospitaal opgeneem word) elke jaar. 2

Psychology Today berig dat die grootste oorsaak van gehoorverlies nie ouderdom is nie, maar geraas. Bejaardes loop ’n groter risiko vir gehoorskade wat deur geraasbesoedeling veroorsaak word as gehoorverlies wat deur ouderdom meegebring word. 3

Hoe word klank (en geraas) gemeet?

Klank word in desibel (dB) gemeet. Daar is baie geluide in die omgewing, van ritselende blare (20 tot 30 dB), tot mense wat fluister (30 dB), ’n klapgeluid (120 dB) en die sirene van ’n brandweerwa of polisievoertuig (120 tot 140 dB). Geluide van 85 desibel of hoër kan ’n mens se ore skade doen. Klankbronne wat hierdie drempel oorskry, sluit dinge in soos grassnyers (90 dB), treine (90 tot 115 dB) en harde musiekkonserte (110 tot 120 dB). 4

Die WGO definieer geraas as enige geluid harder as 65 dB. Geraas raak skadelik as dit 75 dB oorskry en enige klank wat harder as 120 dB is, kan pyn veroorsaak. As gevolg hiervan word aanbeveel dat geluidvlakke gedurende die dag onder 65 dB gehou word en teen ongeveer 30 dB in die aand om ’n rustige nagrus te verseker. 5

Glo dit of nie, maar oorfone (veral dié wat binne-in jou oor pas) kan jou gehoor op dieselfde manier beskadig as dinge soos kettingsae, kragbore en motorfietse. Die probleem lê by die volume. Die geluid wat kettingsae en motorfietsenjins maak, is ongeveer 100 dB. Sulke harde geluide kan jou ore in minder as ’n halfuur beskadig. As jou musiek op 70% van die hoogste volume gestel is, is dit ongeveer 85 dB. As jy die volume nog harder stel en langer luister, kan jy permanente gehoorverlies opdoen. Daarom beveel dokters aan dat jy nie harder as 60% van die maksimum volume luister nie en ook nie langer as 60 minute nie. 6

Oorsake van geraasbesoedeling

Die twee primêre bronne van geraasbesoedeling is natuurlike bronne en kunsmatige of mensgemaakte bronne. Natuurlike bronne (geluide van tot 140 dB) sluit in donderstorms, sneeustortings, aardbewings, vulkaanuitbarstings, vloeiende water en dieregeluide. Kunsmatige bronne is geluide wat veroorsaak word deur mensgemaakte aktiwiteite, soos konstruksiewerk, vervoer (soos motors, treine en vliegtuie), nywerhede, huishoudelike geraas en musiekinstrumente. Hierdie geluide wissel van 30 dB tot 140 dB en kan uiters skadelik wees. 7

Gevolge van geraasbesoedeling

Geraasbesoedeling beïnvloed miljoene mense elke dag. Die algemeenste gesondheidsprobleem wat dit veroorsaak, is gehoorverlies (noise induced hearing loss, of NIHL). Blootstelling aan harde geraas kan ook hoë bloeddruk, hoofpyn, hartsiektes, slaapstoornisse en spanning veroorsaak. Hierdie gesondheidsprobleme beïnvloed alle ouderdomsgroepe, maar veral kinders. Daar is gevind dat kinders wat naby lughawens of in besige strate woon, dikwels aan spanning en ander probleme ly, soos geheueverswakking (sukkel om goed te onthou), swak aandag (vind dit moeilik om te konsentreer) en gebrekkige leesvaardigheid (stadig lees en min inligting kan onthou wat gelees is). 8

Geraasbesoedeling beïnvloed ook die gesondheid en welstand van diere. Studies het getoon dat harde geluide veroorsaak dat diere se harte vinniger klop en voëls minder kleintjies het. Diere gebruik geluide om verskillende redes, insluitend om te navigeer, kos te vind, maats aan te trek en roofdiere te vermy. Geraasbesoedeling maak dit moeilik vir hulle om hierdie take te verrig, wat hul vermoë om te oorleef, beïnvloed. 9

Woordbank

besoedeling Die vuilmaak van iets, in besonder die besmetting van die omgewing.
desibel Eenheid vir die meting vir die luidheid van klanke.
omgewingsbedreigings Wat skade aan die omgewing kan doen; beskadig; leed doen aan mense, diere, plant, ens.
spanning Onrustige afwagting; aanhoudende gevoel van bekommernis.
welstand Voorspoedige omstandighede; toestand van voorspoed.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is geraasbesoedeling?

Geraasbesoedeling is erger as wat ons dink

Die gevare van geraasbesoedeling

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023