Vinnige feite

  • Bill Gates verdien ongeveer $11 miljoen per dag (dis sowat R188 miljoen!). 28
  • Tussen 2000 en 2017 was Bill Gates omtrent elke jaar die rykste man in die wêreld. Tussen 2010 en 2013 het Jeff Bezos van Amazon hom vir ʼn rukkie lank verbygesteek. In 2022 was hy die vierde rykste naas Elon Musk, Jeff Bezos en Bernard Arnault. As jy wonder wie Arnault is, hy is die voorsitter en hoof van die Franse groep maatskappye LVMH (Moët Hennessy Louis Vuitton). 28
  • Bill en Melinda se kinders gaan glo elk net $10 miljoen ná hulle ouers se afsterwe erf. Gates het in 2017 in ʼn onderhoud gesê hy sal sy kinders nie ʼn guns doen om sakke vol geld vir hulle te los nie. “Dit sal alles verdraai wat hulle doen. Hulle moet hul eie pad stap,” het hy gesê. 25
  • Op 9 Desember 2010 het Mark Zuckerberg (Facebook oftewel Meta se hoof) saam met Warren Bufett en Bill Gates belowe om ten minste die helfte van hul rykdom aan liefdadigheid te skenk. Die dokument wat hulle geteken het, word die Gates-Buffet Giving Pledge genoem. 29 Talle mense (wat die Suid-Afrikaans gebore Tesla-hoof, Elon Musk, insluit) het intussen ook dié onderneming gemaak. 30
  • Microsoft-werknemers vertel dat Bill Gates dikwels ʼn aanbieding sou onderbreek met die woorde: “Dit is die domste ding wat ek nog ooit gehoor het!” 29
  • Gates se vrou en kinders is verbied om enige Apple-produk te gebruik. Steve Ballmer, Gates se opvolger by Microsoft, laat dieselfde reël vir sy gesin geld. 29
  • Paul Allen, Gates se eerste vennoot, het ʼn seiljag met die naam Octopus besit. Dit was meer as 120 meter lank. Dit het met twee helikopter-landingsplekke, ʼn duikboot, ʼn musiekateljee, ʼn swembad en ʼn basketbalbaan gespog. 31
  • Bill Gates se huis van 6 100 m2 in Medina, Washington, is in 1995 voltooi. Die huis, genaamd Xanadu 2.0, is ontwerp deur die argitekte James Cutler en Peter Bohlin en word beskou as die grootste ondergrondse huis in die wêreld. Dit het sewe slaapkamers, 24 badkamers, ses kombuise, ʼn swembad wat 18 m lank is, ʼn gimnasium van 230 m2 en ʼn trampolienkamer. Alles in die huis word deur rekenaars beheer. 32
  • Bill Gates lees elke jaar sowat 50 boeke – dis omtrent een boek elke week. 33
  • Gates het op 27 Januarie 2001 by die Wêreld- Ekonomiese Forum aangekondig dat die Bill & Melinda Gates-stigting $100 miljoen oor die volgende vyf jaar aan die Internasionale Vigsinentingsinisiatief sou skenk. Tot dusver was dit die grootste enkele donasie om navorsing oor dié siekte te doen. 34
  • In 2005 is Bill en Melinda Gates aangewys as Time-tydskrif se “Mense van die Jaar”. Hulle het die toekenning ontvang vir die stigting se skenking van $750 miljoen aan toegang tot en die verspreiding van inentings. Hulle is saam met U2 se Bono geloof as “die samaritane van die jaar”.
  • Rekenaarvirusse kom selfs in die ruimte voor. In Augustus 2008 het die Amerikaanse ruimteagentskap Nasa aangekondig dat daar rekenaarvirusse in skootrekenaars op die Internasionale Ruimtestasie gevind is. Die betrokke rekenaars is gelukkig net gebruik vir e-pos en minder belangrike eksperimente, en was nie gekoppel aan die ruimtestasie se rekenaarnetwerk nie. Volgens SpaceRef.com was dit die W.32.Gammimma.AG – ’n virus wat aanlyn speletjieintekenbesonderhede probeer steel. Die Internasionale Ruimtestasie wentel 350 km bo die aarde, wat beteken dat dit die hoogste rekenaarvirus in die wêreld was. 35

Voor Bill Gates die rekenaarwêreld betree het, was dit baie moeilik vir gewone mense om met rekenaars te werk. Jy moes vreemde woorde in ʼn spesifieke volgorde getik het voor die rekenaar enigiets gedoen het. As jy êrens ʼn verkeerde letter of spasie gebruik het, het die rekenaar glad nie gereageer nie.

Bill Gates wou seker maak die gebruik van ʼn rekenaar is só maklik dat selfs kinders dit kan gebruik. Deur die klik van die muis hier en ʼn klik daar, doen ʼn rekenaar vandag presies wat ’n mens wil hê dit moet doen.

Deur sy maatskappy Microsoft was Gates vir baie jare lank die rykste man in die wêreld, maar hy het besluit om hierdie rykdom nie net vir homself te hou nie. Vandag is hy een van die grootste filantrope wat deur die Bill & Melinda Gates-stigting die wêreld ʼn beter plek probeer maak. Die stigting skenk miljarde dollars aan verskeie projekte wat te doen het met gesondheid, opvoeding, armoede en gelykheid vir vroue in 144 lande. Daar is selfs ʼn tak (ʼn kantoor) vir dié stigting in Johannesburg!

Gates is voorwaar ’n genie wat die gebruik van tegnologie vir mense maklik gemaak het.

Bill Gates by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) in 1997.

Kinderjare

William Henry (Bill) Gates III is op 28 Oktober 1955 in Seattle, Washington, in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. Hy was die middelkind en enigste seun van die suksesvolle prokureur William Henry Gates II (Bill se oupa was William Henry Gates I) en Mary Gates, wat ʼn onderwyseres was voordat sy kinders gehad het. Hy het ʼn ouer sussie, Kristi, en ʼn jonger sussie, Libby. 1

Sy oupa aan moederskant was ʼn suksesvolle bankier en hoewel die Gates-gesin miskien nie self so baie geld gehad nie, was sy ma se familie baie welgesteld. 2 Bill se ma, Mary, het ʼn entrepreneur geword en het uiteindelik op die raad van direkteure (direksie of besigheidskenners wat besluite oor groot maatskappye neem) van verskeie maatskappye soos First Interstate Bank of Washington en die rekenaarmaatskappy International Business Machines (IBM) gedien. 3 [Lees hier oor entrepreneurskap.]

Speletjies en sport

As kind was Bill mal oor bordspeletjies soos Risk, wat oor wêreldoorheersing gaan, en Monopoly, waar deelnemers moet probeer om al die eiendom van die speletjie te besit. 4 Hy was baie mededingend, en het uitgeblink op verskillende gebiede. Sy beste vak was wiskunde.

Hy was egter baie verveeld op skool. Sy ouers het hom uit die moeilikheid probeer hou deur hom aan buitemuurse aktiwiteite soos die Boy Scouts (soortgelyk aan Suid-Afrika se Voortrekkers of Landsdiens) te laat deelneem en wetenskapfiksieboeke (fiksie gebaseer op ʼn toekomstige, wetenskaplik gevorderde wêreld) te laat lees. 1

Sy ouers het hom ook aangemoedig om aan swem, sokker en voetbal deel te neem, al was hy nie goed daarmee nie. Hy het selfs probeer om ʼn tromboon te leer speel, maar hy was nie baie musikaal nie en het dié musieklesse later laat vaar. 5

In die Gates-huis is die kinders – in akademie én sport – aangemoedig om baie mededingend te wees: hulle is beloon as hulle goed gevaar het, en gestraf as hulle verloor het. 6

Op dertienjarige ouderdom stuur Bill se ouers hom na Lakeside-skool. Dit is hier waar hy sy toekomstige sakevennoot, Paul Allen, ontmoet. Hy word ook blootgestel aan rekenaars. 1

Paul Allen en Bill Gates by Lakeside-skool in 1970.

Eerste kennismaking met rekenaars

Toe Bill Gates ʼn kind was, het rekenaars baie anders gelyk as wat ons dit vandag ken. Daar was nog nie persoonlike rekenaars, skootrekenaars of tabletrekenaars wat mense by hul huise kon gebruik het nie. Rekenaars was yslik groot en het baie plek opgeneem. Dit was iets wat slegs groot maatskappye kon besit. 1 Dit was boonop peperduur en die meeste mense, ook die ouers van Lakeside-leerders, kon dit nie bekostig nie.

Die ma’s van leerders in Lakeside het deur ’n rommelverkoping genoeg geld ingesamel sodat die leerders wél toegang tot hierdie tegnologie kon hê. Daar was egter nie genoeg geld om die rekenaar self te koop nie. Die masjien wat aangekoop is, was ʼn teletikmasjien wat soos ’n outydse tikmasjien gelyk het. Dit het met telefoonlyne aan ʼn groot sentrale rekenaar op ʼn ander plek verbind. Die ma’s het “tyd” gekoop om toegang tot die sentrale rekenaar te kry. 7

Bill was bekoor deur hierdie masjien en skryf sy eerste rekenaarprogram, ʼn kringetjies-en-kruisies-speletjie (“Tic-Tac-Toe”), toe hy dertien jaar oud was. As lede van die skool se rekenaarklub, pak Gates en Allen allerhande projekte aan, soos om klasroosters vir die skool uit te werk. In ʼn stadium is hulle verbied om op die rekenaar te werk, want hulle het ʼn rekenaargogga (amper soos ’n virus) geskep om gratis ekstra rekenaartyd te kon kry! 7

Hulle is egter nie geskors nie. Hulle is onbeperkte tyd op die rekenaar gegun toe hulle ingestem het om te help om die skoolrekenaar se werkverrigting te verbeter. Later, nog steeds in die hoërskool, het Bill ʼn betaalstaatprogram vir ʼn maatskappy geskryf. Saam met Paul Allen het hy ook ʼn program geskryf wat verkeerspatrone in Seattle dopgehou het. Hulle het die program aan Seattle se verkeersdepartement verkoop. 8

Naskoolse opleiding

In 1973 matrikuleer hy as ʼn nasionale merieteskolier en behaal 1 590 uit 1 600 vir sy Student Aptitude Test (SAT). 6 Die SAT-toets is ʼn toets wat voornemende studente moet slaag om te kyk of hulle in staat sal wees om aan ’n universiteit te studeer. Jou vaardighede word spesifiek in wiskunde, lees en skryf getoets. Hoe beter jy in jou SAT-toets vaar, hoe beter is jou kans om toelating by goeie universiteite te kry. 9

Gates ontvang ‘n studiebeurs deur die Nasionale Meriete-beursprogram, ʼn akademiese kompetisie wat aan uitmuntende skoliere beurse gee om aan universiteite te gaan studeer. 10 In 1973 gaan hy na Harvard om ʼn graad in die regte, soos sy ouers se wens vir hom was, te behaal. Hy neem egter ook wiskunde en klasse in rekenaarprogrammering sodat hy ook in rekenaars, sy eintlike liefde, opleiding kon kry. 6

Deur sy studies aan Harvard het hy in 1979 ʼn oplossing beraam vir ʼn wiskundeprobleem waarmee mense al jare lank gestoei het. Dit word die pannekoekprobleem genoem en hy het ʼn algoritme geskryf om die “pannekoeke” op die vinnigste moontlike manier te sorteer. Sy oplossing is 30 jaar lank gebruik totdat navorsers dit in 2008 verbeter het. 11

’n Algoritme is ʼn stel reëls vir die berekening of oplossing van probleme, veral ten opsigte van rekenaars. Dit is dus die volgorde van instruksies wat in ʼn rekenaar ingesleutel word om te sê hoe ʼn taak uitgevoer moet word. 12

Paul Allen het later ook na Boston verhuis waar Gates aan Harvard studeer het. Hy wou hê Gates moet die universiteit verlaat sodat hulle voltyds aan hul projekte kon werk. Gates was nie seker wat hy moes doen nie, maar in Januarie 1975 verander alles toe Allen ʼn foto van die nuwe Altair 8800-mikrorekenaar op die voorblad van die Popular Electronics-tydskrif sien. 8

Bill Gates en Thierry Breton, Europese Kommissaris vir die Interne Mark.

Die geboorte van Microsoft

Die Altair 8800 was die hardeware wat die rekenaarwêreld vir altyd sou verander. Nie net was die masjien klein genoeg om in mense se huise te pas nie, maar dit het uit ʼn klomp los eenhede soos ʼn mikroverwerker, die geheue, ʼn skerm, ensovoorts bestaan. Mense kon self hierdie rekenaar teen ʼn bekostigbare prys aanmekaar sit. 13

ʼn Rekenaar is ʼn elektroniese toestel wat met elektriese seine werk – net soos ʼn skakelaar aan- of afgeskakel moet word. Die enigste “taal” wat rekenaars verstaan, is deur ʼn binêre kode bestaande uit 1 wat “aan” beteken en 0 wat “af” beteken. 14

ʼn Rekenaar sonder sagteware beteken egter niks nie. Sagteware is nodig om die rekenaar te “vertel” wat om te doen. Dit is egter baie moeilik om met hierdie lang getalpatrone te werk. Rekenaartale word deur programmeerders gebruik om in ʼn taal wat mense verstaan (teks, foto’s en klank) instruksies na binêre kodes, wat die rekenaar verstaan, te herlei. Dit is amper soos ʼn vertaler tussen mense en rekenaars. 12

Ongeveer dieselfde tyd as wat die Altair 8800 bekendgestel is, het die Beginner’s All-purpose Symbolic Instruction Code (Basic) – ʼn rekenaartaal wat geskep is om beginners met programmering te help – bekend geword. 13

Gates en Allen het die gaping gesien en besef dat die Altair 8800 nog nie sagteware het nie. Gates het Mits, die vervaardigers van Altair, gebel en aangebied om ʼn weergawe van die Basic-rekenaartaal spesifiek vir die Altair te skryf. Agt weke later het Gates en Allen hul program aan Mits verkoop wat dit onder die naam van Altair Basic aan kliënte beskikbaar gestel het. Dit was die eerste produk wat deur Microsoft verkoop is en het beteken dat enigiemand wat ʼn Altair-rekenaar besit, self programme kon skryf. Dit was ʼn groot deurbraak! 15

Hierdie kontrak het Gates en Allen geïnspireer om hul eie sagtewaremaatskappy te begin en op 4 April 1975 word Microsoft in Albuquerque, Nieu-Mexiko, waar die Mits-maatskappy geleë was, begin. Gates was die eerste uitvoerende hoof van die maatskappy. Op 26 November 1976 word Microsoft, ʼn samestelling van “microcomputer” en “software” as die naam van die maatskappy geregistreer. 8

Microsoft se suksesverhaal

In Augustus 1977 het die maatskappy só uitgebrei dat die eerste internasionale tak (kantoor) in Japan met die naam ASCII Microsoft oopgemaak word. In 1979 het die hoofkantoor van Albuquerque in Nieu-Mexiko na Bellevue in Washington geskuif. Die naam word verander na Microsoft Inc. met Gates as die president van die maatskappy en die voorsitter van die direksie, en Allen as uitvoerende adjunkpresident. 8

Rekenaarsagteware word in twee soorte verdeel: die bedryfstelsel en toepassingsagteware (programme). Die bedryfstelsel beheer hoe die verskillende dele van die hardeware saamwerk.

Microsoft stel hul eerste bedryfstelsel, genaamd Xenix, in 1980 bekend. Xenix sou later die basis vorm van Microsoft se eerste woordverwerkingsprogram, Multi-Tool Word, wat ’n voorganger van Microsoft Word sou word. ʼn Woordverwerkingsprogram is ʼn program wat gebruik word om dokumente op ʼn rekenaar te tik en te redigeer. 8

‘n Advertensie van 1987.

Ma Mary se rol in Microsoft

Dit was uiteindelik Bill se ma, Mary Gates, wat die nuwe maatskappy die nodige hupstoot gegee het om die voorste sagtewaremaatskappy in die wêreld te word. Sy het in daardie stadium saam met John Opel, die voorsitter van IBM, op die direksie van ʼn niewinsgewende organisasie (ʼn liefdadigheidsorganisasie wat nie daarop gefokus is om geld te maak nie) gedien. Vir die eerste keer in IBM se geskiedenis van sewentig jaar wou hulle ʼn ander maatskappy kontrakteer (werk gee aan iemand wat nie deel is van die maatskappy nie) om ʼn program vir hul nuwe projek genaamd Chess te skryf. 16 Chess was die kodewoord wat gebruik is – die projek was eintlik ʼn persoonlike rekenaar wat IBM wou ontwikkel. 17

Hoewel IBM reeds Microsoft oorweeg het, het Microsoft – in daardie stadium nog net vyf jaar oud – saam met ander maatskappye soos Digital Research om die kontrak meegeding. Mary het hiervan geweet en vir Opel van haar seun se maatskappy vertel. 16

Gelukkig vir Microsoft het onderhandelings tussen Digital Research en IBM begin vasval en dit is toe dat Opel onthou het van Microsoft, “die maatskappy wat bestuur word deur Bill Gates, Mary Gates se seun”. IBM het besluit om ʼn kans met hierdie jong maatskappy te waag. 16

MS-DOS word ontwikkel

Toe Microsoft die kontrak kry, het hulle eintlik nog nie ʼn bedryfstelsel van hul eie gehad nie. In 1981 koop Microsoft die bedryfstelsel QDOS, wat deur die hardewaremaatskappy Seattle Computer Products ontwikkel is. Microsoft het QDOS gebruik om hul eie MS-DOS (Microsoft Disc Operating System) te ontwikkel. Microsoft reik ʼn lisensie uit sodat MS-DOS op IBM se persoonlike rekenaar gebruik kon word.

Omdat MS-DOS nie deur IBM besit is nie, kon Microsoft dit ook aan ander mense beskikbaar stel en dit word uiteindelik een van Microsoft se produkte waarmee hulle die meeste geld ooit verdien het. Dié bedryfstelsel is in IBM se rekenaars gebruik en was gou ook die gunsteling vir ander gebruikers met persoonlike rekenaars. 16

In Februarie 1983 bedank die 30-jarige Paul Allen by Microsoft nadat Hodgkin-limfoon, ʼn soort kanker, by hom gediagnoseer is. Hy was nie meer by die daaglikse aktiwiteite betrokke nie, maar hy het steeds tussen Junie 1981 en April 1985 en tussen Mei 1990 en November 2000 op die direksie gedien. Daarna het hy as ʼn strateeg (iemand wat planne maak en raad gee) vir Microsoft opgetree. 17

Hy het die siekte oorkom en in 2009 wéér kanker oorwin toe die meer dodelike nie-Hodgkin-limfoon dié keer by hom gediagnoseer is. Die kanker keer egter terug en hy sterf in 2018 in die ouderdom van 65. Hy en Gates het al die jare vriende gebly. 18

Paul Allen, skoolvriend en sakevennoot van Bill Gates.

Die eerste muis verskyn

Microsoft se eerste rekenaarmuis, wat jy gebruik om maklik op ʼn rekenaarskerm te beweeg, maak in 1983 sy verskyning. In dieselfde jaar stel die maatskappy ʼn grafiese gebruikerskoppelvlak bekend. 8 ʼn Gebruikerskoppelvlak is die punt waar mens en rekenaar bymekaar kom en dit dien as die kommunikasiemiddel in die toestel. Dit sluit in die rekenaarskerm, sleutelbord en muis, en bepaal hoe die werkskerm van die rekenaar lyk. Dit is ook hoe die gebruiker ʼn toepassing of ʼn webwerf gebruik. 19

Voor rekenaarmuise en die gebruikerskoppelvlak beskikbaar was, moes mense woorde soos “run” en “set-up” gebruik om die rekenaar te vertel wat om te doen. Met hierdie koppelvlak kon mense nou maklik net met ʼn muis op die skerm klik wat vensters (waar die naam Windows vandaan kom) oopmaak na die verskillende programme. Gebruikers kon ook vir die eerste keer meer as een taak op dieselfde tyd verrig. Jy kon byvoorbeeld ʼn dokument tik en terselfdertyd die sakrekenaar oopmaak as jy sommetjies wou maak. 8

Microsoft noteer

In 1986 word Microsoft op die aandelebeurs genoteer waar mense aandele in die maatskappy kon koop. As Microsoft ʼn wins getoon het, het hierdie aandeelhouers in die wins gedeel. Hierdie stap maak van Bill Gates op 31-jarige ouderdom ʼn miljardêr. 8

Benewens die Windows-bedryfstelsel het Microsoft ook aan toepassingsagteware of rekenaarprogramme begin werk wat die rekenaar opdrag gee om sekere take uit te voer soos woordverwerking of om sigblaaie (in Engels: spreadsheets) te skep wat veral finansiële inligting op een bladsy met kolomme en rye uiteensit.

In 1989 word Microsoft Office bekendgestel wat, soos die naam aandui, verskillende programme bevat wat in ʼn kantoor gebruik kan word. Hierdie pakket bestaan vandag nog steeds en het programme soos Microsoft Word (vir woordverwerking), Microsoft Excel (vir sigblaaie), Microsoft PowerPoint (vir aanbiedings) en Microsoft Outlook, ʼn e-posprogram. 8

Microsoft Excel se handelsmerk.
Microsoft Outlook se handelsmerk.
Microsoft Word se handelsmerk.
Microsoft PowerPoint se handelsmerk.

Windows 3.0 word in 1990 bekendgestel en vyf jaar later Windows 95, wat binne vier dae meer as een miljoen pakkette verkoop. Al hoe meer mense koop rekenaars vir skole, kantore en hul huise. Die Windows-era het aangebreek. 20

Die maatskappy groei uitstekend en in die 1990’s het 90% van die wêreld se persoonlike rekenaars met ʼn Microsoft-bedryfstelsel gewerk. Deur elke kort-kort ʼn verbeterde weergawe te ontwikkel, het Microsoft die mark bly oorheers. 21

Teen die middel 1990’s het Microsoft 25c verdien vir elke $1 van goedere wat verkoop is – dit was ʼn merkwaardige rekord. In 1996 maak die maatskappy vir die eerste keer ʼn netto inkomste (wins as alle uitgawes afgetrek is) van $2 miljard. 21

Voorloper in die internet-era

Op die vooraand van die internet-era, stel Microsoft sy eie webblaaier (in Engels: web browser), Microsoft Explorer, bekend. 20 In 1998 word Windows 1998, ʼn baie gebruikersvriendelike produk, bekendgestel.

In dieselfde jaar het die Amerikaanse Departement van Justisie Microsoft gedagvaar omdat Microsoft se programme net met die Windows-bedryfstelsel gebruik kon word. Ander maatskappye was van mening dit oortree die reëls van regverdige mededinging. Dit het beteken dat een maatskappy die monopolie oor sekere produkte het. Microsoft het in 2001 ʼn skikking met die Amerikaanse Departement van Justisie en die Europese Unie bereik in die saak waar Microsoft wel skuldig bevind is dat hy byna soos ʼn monopolie opgetree het. 21

In 2000 tree die 45-jarige Gates uit as die uitvoerende hoof van Microsoft. Hy wou heeltyds aandag gee aan die ontwikkeling van nuwe tegnologie, insluitend sagteware wat handskrif en spraak sou kon herken. 22

Steve Ballmer, ʼn Harvard-studentevriend van Gates, word in 2000 in die amp as uitvoerende hoof van Microsoft aangestel. 20

Steve Ballmer het die leisels by Gates as uitvoerende hoof van Microsoft oorgeneem.

Van speletjies tot musiek

In 2001 betree Microsoft vir die eerste keer die speletjiesmark met sy Xbox-speletjieskonsole. In 2005 word dit met die verbeterde Xbox 360 vervang. 20

Microsoft het in 2006 sy draagbare Zune-musiekspeler bekendgestel. Dit was die eerste produk wat deur Microsoft ontwikkel is wat sou meeding in ʼn mark wat deur Apple Inc. se iPod oorheers is. Die musiekspeler was egter glad nie suksesvol nie en vervaardiging word teen 2012 stopgesit. Die laaste produk wat Microsoft vrygestel het terwyl Gates nog aan die hoof van die maatskappy se daaglikse aktiwiteite was, was Windows Vista, een van Microsoft se minder suksesvolle bedryfstelsels. 20

Van sakewêreld tot stigting

In 2008 breek die einde van ʼn era aan toe Bill Gates hom onttrek van die daaglikse bedrywighede van Microsoft sodat hy meer aandag aan die Bill & Melinda Gates-stigting kon skenk. Tot in 2014 was hy steeds die voorsitter van die direksie, maar bedank in 2020 ook as direksielid. 23

Gates se persoonlike lewe

Melinda French (gebore 1964) het in 1987 vir Microsoft begin werk. Sy het Bill in 1988 tydens ʼn maatskappypiekniek ontmoet en die twee was ses jaar lank in ʼn verhouding voordat hulle op 1 Januarie 1994 getroud is. Bill was 39 jaar oud. 24 Die egpaar het drie kinders: Jennifer Katherine (gebore 1996), Rory John (gebore 1999) en Phoebe Adele (gebore 2002). 25

Hulle is in 2021 geskei, ná ‘n huwelik van 27 jaar, maar hulle werk steeds saam as filantrope vir die Bill & Melinda Gates-stigting.

Bill en Melinda Gates werk steeds saam aan verskeie filantropiese projekte.

Bill & Melinda Gates-stigting

Gates se lewe het egter nie net om Microsoft gedraai nie. Hy staan bekend as een van die grootste filantrope van die 21ste eeu. In 1994 het hy en Melinda die William H. Gates-stigting op die been gebring (in 1999 is dit hernoem na die Bill & Melinda Gates-stigting). Die doel van die stigting is om wêreldwye gesondheidsprogramme asook projekte in die Pasifiese Noordweste, ʼn streek in Noord-Amerika, te finansier. 23

Melinda Gates is baie passievol oor die werk wat die Bill & Melinda Gates-stigting doen.

In die laat 1990’s het die stigting verskeie biblioteke in Noord-Amerika deur die Gates Library Foundation (sedert 1999 die Gates Learning Foundation) gefinansier. Nog ʼn opvoedkundige projek is die Gates Millennium Scholars-program waar geld ingesamel word vir akademiese beurse. In Junie 2006 het die Amerikaanse sakeman Warren Buffet ʼn aaneenlopende donasie aan die Bill & Melinda Gates-stigting beloof wat beteken dat die stigting se bates binne die volgende twintig jaar $60 miljard sou beloop. 23

Hoewel Bill en Melinda in 2021 geskei is, werk hulle albei steeds vir die stigting. Die Bill & Melinda Gates-stigting fokus steeds op opvoeding, maatskaplike kwessies en gesondheidsverwante kwessies. Die stigting het in 2020 ongeveer $1 miljard geskenk aan navorsing oor Covid-19. 26

Die Bill en Melinda Gates-stigting se hoofkantoor.

Die stigting het vandag programme in 130 lande en fokus op die volgende: 27

Geslagsgelykheid

Hierdie projekte wil seker maak dat vroue en meisies in Afrika en Suid-Asië toegang tot goeie gesondheidsdienste het, hul eie keuses kan maak, hul eie geld kan verdien en leiers in hul gemeenskappe kan word. 27

Ontwikkeling

Wêreldwye ontwikkeling gaan oor die verbetering en toegang van gesondheidsdienste aan die wêreld se armste gemeenskappe. 27

Ekonomiese groei en ontwikkeling

Hierdie afdeling van die stigting fokus op maniere waarop hulle volhoubare ekonomiese groei kan stimuleer. Van die projekte is landboukundige ontwikkeling asook finansiële dienste vir arm mense. 27

Gesondheidskwessies

Hierdie gedeelte van die stigting se werksaamhede wil graag die las van aansteeklike siektes verminder en die oorsake van kindersterftes in ontwikkelende lande takel. Daar word onder meer op die behandeling van MIV/vigs, malaria, tuberkulose en ander tropiese siektes gefokus. 27 [Lees hier oor vigs en malaria.]

Strategiese vennootskappe

Hierdie program fokus daarop om strategiese verhoudings met ander instellings te vorm om filantropiese doelwitte te bereik deur saam geld in te samel en bewusmaking te skep. 27

VSA-program

Die VSA-program van die Bill & Melinda Gates-stigting se doel is dat elke persoon in die VSA kan leer, groei en ontwikkel, maak nie saak wat hul geslag, ras, etnisiteit of inkomste is nie. 27

Woordbank

aandele Een van ʼn aantal gelyke dele van die geld wat in ʼn maatskappy belê is.
aandelebeurs Instelling waar aandele deur makelaars of agente gekoop of verkoop word.
algoritme Stel reëls vir die berekening/oplossing van probleme, veral ten opsigte van die rekenaar.
bankier ʼn Hoë amptenaar in ʼn bank.
beurse Geld wat ʼn mens vir studie ontvang.
bewusmaking Oordrag van kennis/inligting oor ʼn bepaalde onderwerp/situasie.
binêre Rytjie nulle en ene (wat in verskillende kombinasies verskillende getalle voorstel).
direksie Die groep mense in ʼn maatskappy of ander organisasie wat die reëls maak en belangrike besluite neem.
direkteure Lid van die groep mense in ʼn maatskappy of ander organisasie wat die reëls maak en belangrike besluite neem.
entrepreneur Iemand wat ʼn nuwe onderneming begin of planne bedink om geld te maak, soms op ʼn manier wat geldelik ʼn risiko kan inhou.
etnisiteit Volkekundige verwantskap/eiesoortigheid.
filantrope ʼn Ryk persoon wat baie doen en gee om arm mense, of mense in nood, te help.
finansier (Baie) geld voorsien (gee of leen) om vir iets te betaal.
genie Iemand wat buitengewoon slim/begaafd is.
hardeware Apparatuur (onderdele en bybehore) van ʼn rekenaar.
konsole Paneel waarin elektroniese en meganiese beheerinstrumente ingebou is; ʼn speletjieskonsole.
malaria ʼn Koorssiekte, algemeen in warm lande, wat jy kan kry as ʼn sekere soort muskiet jou byt.
MIV ʼn Soort virus (menslike immuniteitsgebreksvirus) wat die liggaam deur bloed en seksuele omgang binnedring en tot vigs kan lei.
monopolie Reg wat ʼn persoon/maatskappy het om alleen (met uitsluiting van ander) iets te verkoop/vervaardig/verrig.
netto Wat verwys na die finale bedrag wat oorbly nadat alle ander bedrae/uitgawes afgetrek is.
genoteer Insluit of aanbring op die lys van maatskappye waarvan die aandele amptelik toegelaat is vir transaksies op die aandelebeurs.
rekenaarprogram ʼn Program wat in ʼn rekenaar geïnstalleer word om jou inligting te help vind/organiseer/verwerk.
rekenaartale Kunsmatige taal ontwerp om instruksies aan ʼn rekenaar te gee.
rekenaarvirusse Verskuilde kode/programmetjie wat in ʼn rekenaar ingevoer word om data onbetroubaar te maak of te vernietig.
sagteware Al die programme, roetines en simboliese taal wat die werking van apparatuur beheer; programmatuur.
samaritane Iemand wat hom of haar oor sy of haar medemens se nood ontferm.
seiljag ʼn Kleinerige boot met ʼn seil, vir plesier of sport gebruik.
tegnologie Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is.
tromboon ʼn Groot metaalinstrument waarop jy speel deur daarin te blaas terwyl jy ‘n lang buis instoot en uittrek om die note te verander.
tuberkulose Besmetlike bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van tuberkels/knoppies/knobbeltjies in verskillende weefsels, veral in die longe, wat vermoeidheid/koors/nagsweet/anemie/ens. veroorsaak.
vigs ʼn Baie ernstige siekte, in bloed en ander liggaamsvloeistowwe oorgedra, wat veroorsaak dat jou liggaam nie meer teen infeksies kan weerstand bied nie.
volhoubare Ekonomiese ontwikkeling wat in stand gehou kan word sonder dat natuurlike hulpbronne uitgeput raak of ernstige ekologiese skade aangerig word.
webblaaier Rekenaarprogram wat webbladsye (kan) vertoon en gebruik word om op die internet rond te beweeg.
welgesteld Ryk, met redelik baie geld, eiendom of besittings.

Lees meer oor dié merkwaardige man

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die stryd tussen Microsoft en Apple

Wat is die verskil tussen hardeware en sagteware?

Hoe werk rekenaartaal?

Leer meer oor bedryfstelsels

Bill Gates verduidelik hoe die Altair 8800 gewerk het

Wat op aarde is Bill Gates se pannekoekprobleem?

Bill Gates het byna $31 miljoen betaal vir Leonardo da Vinci se Codex, ʼn boek waarin Da Vinci sy idees vir onder meer helikopters en duikbote verduidelik en geïllustreer het. Dit is die duurste getekende manuskrip (boek) in die wêreld

Nuuskierig om te weet hoe lyk Bill Gates se huis? Die grootste deel van die huis is onder die grond versteek

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 September 2023 | Bygewerk op 15 April 2024