Vinnige feite

  • Die Hertzog-prys is ’n baie belangrike prys vir skrywers en dit is ’n groot prestasie om een te wen. Schoeman het sommer drie daarvan gewen!
  • Schoeman se ma is in 1989 oorlede en hy het haar as op die plaas Witlaagte in die distrik Edenburg in die Vrystaat gestrooi.
  • Hy het met sy verblyf in Europa ’n liefde vir sjampanje, sydasse en goeie sjokolade ontwikkel.
  • Die werk van Charles Dickens, Leo Tolstoi, Fjodor Dostjefski, Virginia Wolf, William Faulkner en Olive Schreiner het ’n invloed op sy werk gehad. Hy het ook ’n groot bewondering vir die werk van die Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw gehad.
  • Schoeman was ’n knap vertaler en het onder meer boeke uit Duits, Nederlands en Engels na Afrikaans vertaal. Die gevolg was Oom WanjaDie verhaal van Robin Hood, Ierse gedigte uit die MiddeleeueMaria StuartDie kersieboordOp hoop van seënen ’n Stil gemoed.
  • Die fliek Promised Land is gebaseer op Schoeman se roman Na die geliefde land. Die draaiboek het in 2002 as die beste draaiboek op die 15de Tokio Internasionale Rolprentfees gewen.
  • Die bundel Sluiswagter by die dam van stemme: Beskouings oor die werk van Karel Schoeman is in 2002 deur Protea Boekhuis gepubliseer.
  • Schoeman was bekend daarvoor dat hy hom eenkant gehou het en net met mense gekommunikeer het wanneer hy wou.
  • Hy was baie lief vir musiek en musiek en dans kom dikwels in sy verhale voor.

Karel Schoeman was ’n geskiedenis-ghoeroe en die bekroonde skrywer van omtrent 55 gepubliseerde werke. Hy is as ’n stilis beskryf, met ander woorde ’n skrywer met ’n goeie styl. Hy het veral op romans en geskiedenisboeke gekonsentreer, maar het ook reisverhale en TV-tekste geskryf.

Sy boeke is na vele tale vertaal, onder meer na Duits, Frans en Russies. Hy is ook een van min Suid-Afrikaanse skrywers wat met ’n staatspresidentstoekenning bekroon is.

Kom ontmoet Karel Schoeman, wat in 1939 gebore is en tot die jaar 2017 geleef het, en wie se werk vandag nog voortleef. Hy het in 1999 ’n Orde vir Voortreflike Diens van wyle president Nelson Mandela ontvang en is drie keer met die Hertzog-prys vir prosa sowel as talle ander belangrike literêre pryse bekroon. Die Universiteit van Kaapstad het hom ook in 2000 met ’n eredoktorsgraad vereer en die Universiteit van die Vrystaat vier jaar later. 1

Grootwordjare en studies

Hy is as Tromp Schoeman op 26 Oktober 1939 in ’n hotel op Trompsburg in die Vrystaat gebore. Daar is nie baie inligting oor sy pa beskikbaar nie, maar ons weet wel dat sy pa ’n handelsreisiger was. Sy ma was ’n Nederlander en haar nooiensvan was Van Rooijen. Familiename was in daardie jare gebruiklik, maar sy ma wou nie vir hom een gee nie en het hom Tromp genoem. Hy het egter regdeur sy lewe dié naam verpes en het homself Karel begin noem. Hy het as universiteitstudent sy naam amptelik na Karel verander. 2

Sy ma het hom met Nederlands as sy moedertaal grootgemaak, Afrikaans as sy tweede taal en Engels as sy derde taal.

Sy ouers is geskei toe hy drie jaar oud was en hy en sy ma het na die dorp Paarl in die Wes-Kaap getrek. Hy het nooit weer sy pa gesien nie. Schoeman het in die Paarl by Laerskool W.A. Joubert skoolgegaan en het in 1956 aan die Hoër Jongenskool matrikuleer.

Schoeman en sy ma het in 1975 na Bloemfontein verhuis en hy het daar aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat begin studeer. Hy het in 1959 sy BA-graad met Engels, Afrikaans en Nederlands as hoofvakke behaal.

Hoewel hy as kind in die NG kerk was, het hy baie in die Rooms-Katolieke Kerk belanggestel en is ook op universiteit in die Katolieke Kerk gedoop. Hy wou in ’n stadium selfs ’n monnik geword het en is in 1961 na Ierland om daar opgelei te word. Hy was drie jaar lank by die Franciskaanse seminarium, maar het besluit dat dit nie die regte roeping vir hom was nie en het na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in Bloemfontein verder studeer en het ’n hoër diploma in biblioteekkunde verwerf.

Hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat

Loopbaan en sterfte

Daarna het hy vir ’n rukkie as vertaler in Johannesburg gewerk, waarna hy weer na die buiteland gereis het – hierdie keer na Amsterdam in Nederland. Hy het by ’n biblioteek in Amsterdam gewerk en daarna vir ’n ruk lank op verskillende plekke in Europa gewoon en gewerk.

Hy het met sy terugkeer na Suid-Afrika ’n pos as vertaler in Pretoria gekry, maar daarna weer na Bloemfontein teruggekeer om daar as boekkeurder by die Vrystaatse Provinsiale Biblioteekdiens te werk. Hy het egter in 1982 ’n pos as navorser by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad aanvaar en het in die pos gebly tot hy in 1999 na sy geboortedorp, Trompsburg, getrek het. 2

Die laaste keer wat hy verhuis het, was in September 2008 toe hy na die Noorderbloem-aftreeoord in Bloemfontein verhuis het. Hy is ook by die aftreeoord oorlede toe hy op 1 Mei 2017 na bewering selfdood gepleeg het. Hoewel die nadoodse ondersoek nie kon bepaal dat dit beslis selfdood was nie, het hy vroeër daardie jaar ’n brief aan sy prokureur gestuur om hom van sy besluit in te lig.

Hy het daarin geskryf dat hy besluit het om sy eie lewe te neem deur “vrywillig van die gebruik van voedsel en drank af te sien en die lewe deur ’n proses van sogenaamde versterwing te beëindig, wat in die praktyk op dehidrasie neerkom”. Schoeman het in die brief geskryf dat hy weet dat hy nie baie oud wil word nie en dat hy daarom besluit het om sy lewe “betyds te beëindig of in elk geval probéér beëindig”.

Skryfwerk en toekennings

Schoeman het van jongs af van skryf gehou en het gereeld artikels vir die skooljaarblaaie geskryf. Sy eerste ongepubliseerde boeke was in Nederlands en Engels, maar hy het vanaf sy vroeë twintigerjare hoofsaaklik in Afrikaans geskryf.

Sy eerste boek Veldslag is in 1965 gepubliseer. Sy volgende boeke was By fakkellig’n Lug vol wolke en Spiraal waarvoor hy in 1970 ’n Hertzog-prys vir prosa gewen het. Hy het in 1972 die CNA-prys vir sy boek, Na die geliefde land, gewen. Hy het in 1986 die Hertzog-prys en die W.A. Hofmeyr-prys vir ’n Ander land gewen. In 1995 het hy nóg ’n Hertzog-prys vir Hierdie lewe gewen en twee jaar later, is hy met die Stals-prys vir Kultuurgeskiedenis bekroon.

Schoeman het ook die Recht Malan-prys vier keer gewen. Dit was vir Vrystaatse erfenis (1983), Dogter van Sion (1998) en Armosyn van die Kaap (2002). Die Universiteit van Kaapstad het in 2000 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken vir sy uitstaande bydrae tot die letterkunde en geskiedenis en hy is in 2004 ook met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat vereer.

Hy is ook in 2004, saam met André P. Brink en Toek Blignaut, met die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning vir hul lewenswerk as bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde vereer.

Schoeman het nie graag onderhoude toegestaan nie en het ook glo nie van groot groepe mense gehou nie. Sy uitgewer het gewoonlik sy bedankingstoespraak by toekenningsaande voorgelees, maar die skrywer het wel in 1998 ’n uitsondering gemaak om ’n toekenning te ontvang. Dit was toe die voormalige oudpresident Nelson Mandela die Orde van Ikhamanga aan hom oorhandig het. Schoeman het dié toekenning as “’n besondere eer vir die Afrikaanse taal” bestempel.

Daar is ook van sy werk vir TV verfilm, soos sy sketse Die jare, Besoek en Die somerpaleis. Schoeman het in 1990 die SAUK-prys vir die televisiedrama Op die grens gewen.

Schoeman se outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek, is in 2003 met die Recht Malan-prys bekroon. Ander pryse wat hy gewen het, is onder meer twee Louis Hiemstra-pryse vir niefiksie, die M-Net-prys vir Verkenning en die Prix du Meilleur Livre Etranger-prys vir die beste buitelandse roman in Frankryk vir die vertaling van Hierdie lewe. 3

Geskiedenisskrywer

Schoeman was ’n geskiedeniskenner wat glo ’n enorme hoeveelheid inligting kon onthou. Hy het ’n groot bydrae tot ons land se erfenis met die skryf van sy boeke gelewer. Hy het onder meer boeke soos, Bloemfontein: die ontstaan van ’n stad 1846-1946Vrystaatse erfenisBoukunsskatte van die Vrystaat en Bloemfontein in beeld 1860-1910, geskryf. Hy was ook die redakteur van die Vrijstatia-reeks oor die 19de-eeuse Vrystaatse geskiedenis en het ’n paar boeke oor sendinggeskiedenis, die vroeë lewe in die Kaap, en biografieë (soos oor Olive SchreinerOlive Schreiner: ’n Lewe in Suid-Afrika 1851-1881) geskryf.

Schoeman se skryfwerk

Naam  Literêre vorm Publikasiedatum Uitgewer
Veldslag Novelles 1965, 1971, 1977

 

Kaapstad: Human & Rousseau
Die hart van die son Roman 1965,1968, 1976, 1986 Kaapstad: Human & Rousseau
Van my kontrei Kortkuns 1938, 1948, 1949 Kaapstad: Nasionale Pers
By fakkellig Roman 1966,1970, 1972, 1991 Kaapstad: Human & Rousseau
Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek Reisverhale 1966 Kaapstad: Human & Rousseau
’n Lug vol helder wolke Roman 1967, 1973, 1993, 1995 Kaapstad: Human & Rousseau
Van ’n verre eiland: ’n tweede Ierse dagboek Reisverhaal 1968 Kaapstad: Human & Rousseau
Spiraal Roman 1968, 1971, 1983 Kaapstad: Human & Rousseau
Lig in die donker Roman 1969, 1974, 1988 Kaapstad: Human & Rousseau
Op ’n eiland Roman 1971, 1975, 2009 Kaapstad: Human & Rousseau
Na die geliefde land Roman 1972, 1982, 1988, 1994, 2007 Kaapstad: Human & Rousseau
Eroica Biografiese roman 1973, 1977 Kaapstad: Human & Rousseau
Helde van die Rooi Tak: die saga van Cucullin en die veeroof van Culne Legendes 1973 Kaapstad: Human & Rousseau
Die noorderlig Roman 1975 Kaapstad: Human & Rousseau
Gode, helde en konings Middeleeuse Ierse kortverhale 1975 Kaapstad: Human & Rousseau
Besoek Televisiedraaiboek 1975 Kaapstad: Human & Rousseau
Die somerpaleis Televisiedraaiboek 1975 Kaapstad: Human & Rousseau
Om te sterwe Roman 1976 Kaapstad: Human & Rousseau
Finn en sy mense: die avonture van Fianna van Ierland Legende 1976 Kaapstad: Human & Rousseau
Die jare Televisiedraaiboek 1976 Kaapstad: Human & Rousseau
Afrika Roman 1977 Kaapstad: Human & Rousseau
Koninkryk in die Noorde: ’n boek oor Skotland Reisverhale 1977 Kaapstad: Human & Rousseau
Onderweg: reisherinnerings Reisverhale 1978 Kaapstad: Human & Rousseau
Die walskonings Roman 1978 Kaapstad: Human & Rousseau
Die hemeltuin Roman 1979

1982

1991

Kaapstad: Human & Rousseau
Bloemfontein: die ontstaan van ’n stad 1846-1946 Geskiedenis 1980 Kaapstad: Human & Rousseau
Die reisiger Roman 1980 Kaapstad: Human & Rousseau
Waar ek gelukkig was Roman 1981 Kaapstad: Human & Rousseau
Vrystaatse erfenis: bouwerk en geboue in die 19de eeu Geskiedenis 1982 Kaapstad: Human & Rousseau
Die dood van ’n Engelsman: die Cox-moorde van 1856 en die vroeë jare van die Oranje-Vrystaat Geskiedenis
Biografie
1982 Kaapstad: Human & Rousseau
In liefde en trou: die lewe van president M.T. Steyn en mevrou Tibbie Steyn met ’n keuse uit hulle korrespondensie Biografie 1983 Kaapstad: Human & Rousseau
’n Ander land Roman 1984, 2006 Kaapstad: Human & Rousseau
Boukunsskatte van die Vrystaat = Free State Heritage Geskiedenis 1985 Roodepoort: CUM
Die wêreld van die digter: ’n boek oor Sutherland en die Roggeveld ter ere van NP Van Wyk Louw Biografie 1986 Kaapstad: Human & Rousseau
Bloemfontein in beeld 1860-1910: Portrait of Bloemfontein 1860-1910 Geskiedenis 1987 Kaapstad: Human & Rousseau
Olive Schreiner: ’n lewe in Suid-Afrika 1855-1881 Biografie 1989 Kaapstad: Human & Rousseau
Veldslag Televisiedraaiboek 1989 Kaapstad: Human & Rousseau
Afskeid en vertrek Roman 1990 Kaapstad: Human & Rousseau
Only an anguish to live here: Olive Schreiner and the Anglo- Boer War 1899–1902 Geskiedkundige biografie 1992 Kaapstad: Human & Rousseau
Hierdie lewe Roman 1993, 2003 Kaapstad: Human & Rousseau
Die kort sendingloopbaan van Sophia Burgmann, 1805-1812 Biografie 1994 Kaapstad: Human & Rousseau
Irma Stern: The Early Years 1894-1933 Biografie 1994 Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek
Die uur van die engel Roman 1995 Kaapstad: Human & Rousseau
Die wêreld van Susanna Smit 1799-1863 Geskiedkundige biografie 1995 Kaapstad: Human & Rousseau
Die moord op Hesje van der Merwe, 19 Oktober 1837 Geskiedkundige biografie 1995 Kaapstad: Human & Rousseau
A Thorn Bush that Grows in The Path: The Missionary Career of Ann Hamilton, 1815-1823 Biografie 1995 Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek
The Face of The Country: A South African Family Album 1860-1910 Foto-album 1996 Kaapstad: Human & Rousseau
Verkenning Roman 1996 Kaapstad: Human & Rousseau
J.J. Kicherer en die vroeë sending, 1799-1806 Geskiedenis 1996 Kaapstad: Suid-Afrikaanse Biblioteek
Dogter van Sion: Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749-1799 Geskiedenis 1997 Kaapstad: Human & Rousseau
Verliesfontein Roman 1998 Kaapstad: Human & Rousseau
Merksteen: ’n dubbelbiografie Biografie 1998 Kaapstad: Human & Rousseau
Armosyn van die Kaap: voorspel tot vestiging, 1415-1651 Geskiedenis 1999, 2005 Kaapstad: Human & Rousseau
Stamland: ’n reis deur Nederland Reisverhale 1999 Kaapstad: Human & Rousseau
Armosyn van die Kaap: die wêreld van ’n slavin 1652-1733 Geskiedenis 2001 Kaapstad: Human & Rousseau
Die laaste Afrikaanse boek Outobiografiese aantekeninge 2002 Kaapstad: Human & Rousseau
The Griqua Captaincy of Philippolis, 1826-1861 Geskiedenis 2002 Pretoria: Protea Boekhuis
’n Duitser aan die Kaap: die lewe en loopbaan van Hendrik Schoeman Biografie 2004 Pretoria: Protea Boekhuis
The Early Mission in South Africa, 1799-1819 Die vroeë sending in Suid-Afrika, 1799-1819 Kerkgeskiedenis 2005 Pretoria: Protea Boekhuis
Kinders van die Kompanjie: Kaapse lewens uit die sewentiende eeu Kaapse geskiedenis 2006 Pretoria: Protea Boekhuis
Early Slavery at the Cape of Good Hope, 1652-1717 Geskiedenis 2007 Pretoria: Protea Boekhuis
Patrisiërs en prinse: die Europese samelewing en die stigting van ’n kolonie aan die Kaap, 1619-1715 Geskiedenis 2008 Pretoria: Protea Boekhuis
Seven Khoi Lives: Cape Biographies of The Seventeenth century Geskiedenis 2009 Pretoria: Protea Boekhuis
Handelsryk in die Ooste: die wêreld van die VOC, 1619-1688 Geskiedenis 2009 Pretoria: Protea Boekhuis
Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti Biografiese roman 2009 Kaapstad: Human & Rousseau
Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652-1662 Geskiedenis 2010 Pretoria: Protea Boekhuis
Burgers en amptenare: die vroeë ontwikkeling van die kolonie aan die Kaap, 1662-1679 Geskiedenis 2011 Pretoria: Protea Boekhuis
Cape Lives of the Eighteenth century Geskiedenis 2011 Pretoria: Protea Boekhuis
Riviereland: twee besoeke aan Nederland Reisverhaal 2011 Pretoria: Protea Boekhuis
Here en Boere: die kolonie aan die Kaap onder die Van der Stels, 1679-1712 Geskiedenis 2013 Pretoria: Protea Boekhuis
Portrait of A Slave Society: The Cape of Good Hope, 1717-1795 Geskiedenis 2013 Pretoria: Protea Boekhuis
Twee Kaapse lewens: Henricus en Aletta Beck en die samelewing van hul tyd, 1702-1755 Geskiedenis 2013 Pretoria: Protea Boekhuis
Deelstad: ’n boek oor Berlyn Reisverhaal 2013 Pretoria: Protea Boekhuis
Hoogty: die opbloei van ’n koloniale kultuur aan die Kaap, 1751-1779 Geskiedenis 2014 Pretoria: Protea Boekhuis
Die vrou wat alleen bly: twee draaiboeke Draaiboeke 2015 Pretoria: Protea Boekhuis
Imperiale somer: Suid-Afrika tussen oorlog en unie, 1902-1910 Geskiedenis 2015 Pretoria: Protea Boekhuis
Swanesang: die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771-1795 Geskiedenis 2016 Pretoria: Protea Boekhuis

Woordbank

bekroonde Iemand wie se werk ʼn prys/medalje ontvang het.
boekkeurder Persoon wat verantwoordelik is vir die lees van manuskripte wat vir publikasie oorweeg word.
biografieë Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
dehidrasie Ontwatering.
draaiboek Rolprentmanuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn rolprent.
eredoktorsgraad ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
Franciskaanse Die term “Franciskaans” verwys na volgelinge van drie ordes binne die Katolieke Kerk wat deur Franciscus van Assisi gestig is.
ghoeroe ’n Kenner.
handelsreisiger Iemand wat reis om kliënte vir ’n maatskappy te werf.
kortkuns Alle kort prosawerke soos die kortverhaal, kortkortverhaal of prosa, skets, prosagedig en essay.
legendes Verhale wat deur oorlewering van geslag tot geslag vertel word.
literêre Wat met literatuur/letterkunde verband hou.
monnik Dit is ʼn man wat hom aan die wêreld onttrek en hom saam met  ander in ʼn klooster heeltemal aan die godsdiens wy.
nooiensvan ʼn Vrou se van voordat sy trou en haar man se van begin gebruik.
novelles Kort prosaverhale wat langer as ’n kortverhaal, maar korter as ’n roman is.
oeuvre Al die werke van ʼn skrywer.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
prosa Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre.
romans Lang prosaverhale met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing.
seminarium ʼn Kweekskool (opleidingsentrum) vir predikante.
stilis Dis ’n skrywer met ’n goeie styl.
swetterjoel Baie.
televisiedraaiboek Manuskrip met handleiding en gegewens vir die maak van ʼn televisieprogram of -reeks.
uitgewer Iemand wat boeke laat druk en versprei
verpes Om nie van iets te hou nie.

Lees hierdie artikels om meer oor Schoeman te leer

Video’s oor Schoeman

Hulde aan Schoeman

Lokprent van Promised Land

Foto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2024 | Bygewerk op 22 Februarie 2024