Vinnige feite

  • Hemingway se ouers het ’n snaakse reëling gehad: sy ma het met sy pa getrou op voorwaarde dat sy geen huiswerk sou doen nie. Hemingway se pa het dus alles in hul huis gedoen wat ’n huisvrou gewoonlik doen: skoonmaak, kosmaak en na die kinders kyk! 4
  • Hemingway was die eerste Amerikaanse soldaat in die Eerste Wêreldoorlog wat in Italië beseer is. 4
  • Hemingway het aan elkeen van sy vier vroue ’n boek opgedra: The Sun Also Rises vir Richardson, Death in the Afternoon vir Pfeiffer, For Whom The Bell Tolls vir Gellhorn, en Across the River and Into the Trees vir Welsh. 5
  • Hy was mal oor byname. Hy het na homself verwys as Ernie, Hem en Hemingstein, 5 maar sy bekendste bynaam is waarskynlik Papa Hemingway. 4
  • Die twee vliegongelukke waarin Hemingway betrokke was, was op twee opeenvolgende dae: die tweede een was die vliegtuig wat hulle moes neem om mediese sorg te kry ná die eerste ongeluk. 7

Ná die Eerste Wêreldoorlog was daar ’n groep kunstenaars en skrywers wat as die Lost Generation, oftewel die “Verlore Generasie”, bekendgestaan het. Hul kuns is sterk deur hul ervarings en ontnugterings in die oorlog beïnvloed. Een van die bekendste lede van die Verlore Generasie was Ernest Hemingway, ’n Amerikaanse skrywer. Hemingway se unieke, onopgesmukte skryfstyl het ’n reuse-invloed op Engelse letterkunde in die 20ste eeu gehad. Hy het in sy luisterryke loopbaan twee Pulitzer-pryse en die Nobelprys vir Letterkunde gewen. 1

Grootwordjare

Ernest Miller Hemingway is op 21 Julie 1899 in Oak Park, Illinois, in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. 2 Hy was die tweede kind van Grace Hall Hemingway, ’n musiekonderwyser, en Clarence (Ed) Hemingway, ’n mediese praktisyn. 3 Hy het vier susters en ’n broer gehad. 4

Ernest en sy ma, Grace.
‘n Jong Ernest saam met sy gesin in 1905.

Hemingway se gesin het in Chicago grootgeword. Hulle het ook baie tyd in Michigan by die gesin se vakansiehuis spandeer. Daar het hy geleer om te jag en vis te vang. 3

Die huis waar Ernest Hemingway in Oak Park, Illinois, gebore is.

Hemingway was ’n aktiewe kind. Hy het die buitelewe geniet. Op skool was hy in die swemspan en voetbalspan, en het tjello in die skoolorkes gespeel. 4 Hy het ook artikels vir sy skoolkoerant, Trapeze en Tabula, geskryf, meestal oor sport. 3

Joernalis

Hemingway het in 1917 skool voltooi en ’n pos as verslaggewer by die Star, ’n koerant in Kansas City, gekry. Dit was ’n leersame ervaring wat sy kenmerkende eenvoudige skryfstyl help vorm het. 3 In die stylgids van die koerant het gestaan: “Gebruik kort sinne. Gebruik kort eerste paragrawe. Gebruik kragtige Engels. Wees positief, nie negatief nie.” 1

Hemingway se tikmasjien.

Hemingway het self later hieroor gesê: “Die Star het jou gedwing om in eenvoudige stelsinne te skryf. Dit is bruikbaar vir enigiemand.” 3

Militêre tydperk

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) wou Hemingway by die weermag aansluit. Sy sig was egter te swak. 4 Hy het toe as ambulansbestuurder in die Italiaanse weermag diens gedoen. 3

Hemingway het tydens die Eerste Wêreldoorlog as ambulansbestuurder in die Italiaanse weermag diens gedoen. Hier is hy in Milan in 1918.

In Julie 1918 was hy besig om sjokolade en sigarette aan soldate op die front uit te deel, toe hy in ’n mortieraanval gewond is. 1 Ten spyte van die feit dat hy in albei bene getref is, 5 het hy onder hewige masjiengeweervuur sy twee Italiaanse kamerade na veiligheid gedra. 1 Hy het hiervoor die Italiaanse Silwermedalje vir Dapperheid ontvang. 3

Hemingway moes in ’n hospitaal in Milan herstel, waar hy vir Agnes von Kurowsky, ’n verpleegster, ontmoet het. Hulle het beplan om te trou, 3 maar sy het hom vir ’n ander man verlaat. Dit het hom diep seergemaak en depressief gelaat. 4 Hierdie liefdesteleurstelling is deels weerspieël in sy beroemde boek A Farewell to Arms (1929), die verhaal van ’n ambulansbestuurder wat deur die oorlog ontnugter word en dros om met ’n Spaanse meisie in Switserland te gaan trou. 1

In die Amerikaanse Rooi Kruis-hospitaal, 1918.

Hemingway se eerstehandse belewenis van die gruwels van oorlog het duidelik in sy skryfwerk na vore gekom. 1

Joernalis vir die Toronto Star

Op 20-jarige ouderdom het hy na die VSA teruggekeer om van sy wonde én die wreedheid van oorlog te herstel. Hy het ’n pos by die Toronto Star gekry. 3

Kort hierna het hy ’n uitval met sy familie gehad. Hy het gevoel sy ma is te voorskriftelik, en sy het hom daarvan beskuldig dat hy lui en genotsugtig was. Hy het besluit om sy familie te verlaat, en saam met vriende in Chicago gaan bly. 1

Saam met sy suster, Marcelline, en vriende in 1920.

In Chicago het hy vir Hadley Richardson ontmoet. 3 Hulle het in September 1921 getrou, en in Desember van dieselfde jaar na Parys geseil. 4 Hier het hy as buitelandse korrespondent vir die Toronto Star gewerk. 3

Ernest Hemingway en Hadley Richardson op hul troudag.

Die jare in Europa

In Parys het hy deel van die Verlore Generasie geword. Die beroemde skrywer en digter Gertrude Stein het sy mentor geword en het ’n belangrike letterkundige invloed op sy skryfstyl gehad. 4 Hy het in dié tyd ook met ander skrywers soos F. Scott Fitzgerald, T.S. Eliot en James Joyce skouers geskuur. 3

Die Hemingways het die jare in Parys baie geniet, en die kans aangegryp om deur die hele Europa te reis. 1 In 1923 is hul seun, Jack, gebore. 4

Ernest en Pauline Hemingway, sy tweede vrou, by hul Key West-huis.

In 1925 het die paartjie ’n groep vriende op ’n uitstappie na die fees van San Fermín in Pamplona, Spanje, vergesel. Hierdie vakansie het die grondslag gelê vir sy roman The Sun Also Rises (1926), ’n boek wat handel oor die naoorlogse misnoegdheid van sy generasie. 3 The Sun Also Rises was ’n sukses en het Hemingway beroemd gemaak. 2 Dit word deur baie mense as sy beste werk beskou. 4

Ernest Hemingway en sy seun, Gregory, by die Club de Cazadores in Kuba.

In 1927 het Hemingway en Richardson geskei omdat sy uitgevind het dat hy ’n buite-egtelike verhouding gehad het met Pauline Pfeiffer, ’n joernalis wat hy in Parys ontmoet het. Hy het kort ná die egskeiding met Pfeiffer getrou. 3

Ernest en Pauline Hemingway in Parys, 1927.

Terug na die VSA

Die paartjie het teruggetrek Amerika toe en in 1928 is hul seun, Patrick, gebore. Ná sy geboorte het hulle in Key West, Florida, gaan woon, waar hy A Farewell to Arms in 1929 voltooi het. 3 In 1931 is Hemingway se derde seun, Gregory, ook bekend as Gig of Gloria, gebore. 4

Tydens ‘n Afrika-safari in 1934.

Hemingway het in Desember 1928 die nuus ontvang dat sy pa selfdood gepleeg het. Hy het hierna probeer om sy verhouding met sy ma te verbeter. 4

Intussen het Hemingway die wêreld deurkruis en aan allerlei avonture deelgeneem, soos grootwildjag in Afrika, bulgevegte in Spanje en diepseevisvang in Florida. 3

In 1937 is Hemingway Spanje toe om verslag te lewer oor die Spaanse Burgeroorlog (1936-1939). Tydens die Spaanse Burgeroorlog het hy inligting versamel vir sy volgende roman, For Whom The Bell Tolls (1940). 3 Dit handel oor ’n Amerikaanse soldaat se wedervarings tydens die Spaanse Burgeroorlog. 5

By ‘n buffel in Afrika, 1953.

Derde en vierde huwelik

Hemingway en Pfeiffer het in 1939 geskei nadat hy in Spanje ’n buite-egtelike verhouding met Martha Gellhorn, ’n mede-oorlogskorrespondent, aangeknoop het. 4 Hy en Gellhorn het in 1940 getrou, en ’n huis gekoop in Havana, Kuba, waar hulle veral winters deurgebring het. 3

In Kuba het hy For Whom The Bell Tolls voltooi, wat vir ’n Pulitzer-prys – ’n prys vir uitstaande fiksie in die VSA – genomineer is. 3 For Whom The Bell Tolls was ’n topverkoper en is een van sy gewildste romans. 4

Ná die VSA in 1941 tot die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) toegetree het, is Hemingway weer as oorlogskorrespondent Europa toe. Hy het verskeie beslissende oomblikke in die oorlog meegemaak, onder meer die D-Dag-landings in Normandië, Frankryk, in Junie 1944. 3

Ernest Hemingway, Carlos Gutierrez, Joe Russell en Joe Lowe aan boord van die “Anita”, Key West.

In 1945 het hy van Gellhorn geskei en met Mary Welsh, ook ’n oorlogskorrespondent, getrou. 3 Dit was die laaste van sy vier huwelike, en hy en Welsh sou getroud bly tot met sy dood in 1961. 4

Ernest en Mary Hemingway, sy vierde en laaste eggenoot, op safari in Kenia.

In 1952 is The Old Man and the Sea, waarskynlik sy bekendste boek, gepubliseer. 3 Dit was sy laaste boek wat in sy leeftyd gepubliseer is, 5 en dit het aan hom die Pulitzer-prys in 1953 besorg. 3

Latere jare, struwelinge en dood

Hemingway het aangehou met sy avontuurlustige leefstyl, maar ongelukke en beserings het hom verswak. In 1954 was hy binne dae van mekaar in twee vliegongelukke betrokke. 3 Dit het hom vir die res van sy lewe in pyn gelaat. 1

In 1954 het Hemingway se The Old Man and the Sea die Nobelprys vir Letterkunde, die grootste toekenning vir letterkunde in die wêreld, gewen. Dit was die hoogtepunt van sy letterkundige loopbaan. 3

Bill Davis, Rupert Bellville en Ernest Hemingway eet by La Consula.

In die laat 1950’s het sy liggaam en sy gemoed hom in die steek gelaat. Buiten die pyn van die ongeluk, het hy aan hoë bloeddruk, lewersiekte en depressie gely. 2

Hy het steeds aanhou skryf, die vernaamste waarvan A Moveable Feast, ’n memoire van sy tyd in Parys. Dié boek is in 1964, drie jaar ná sy dood, gepubliseer. 1

In 1960 het die politieke verwikkelinge in Kuba hom gedwing om terug te trek VSA toe. Hy het in Idaho gaan woon. Dit was moeilike jare: hy was afgetakel van die pyn, sy verstandelike vermoë het agteruitgegaan, hy het gesukkel om te skryf en depressie het hom lamgelê. 1 Hy het ook te veel gedrink. 5 Hy het elektriese skokterapie deurgegaan om te help met sy herstel, maar dit was tevergeefs. 1

Ernest Hemingway aan boord van sy seiljag, die “Pilar”.

Op die oggend van 2 Julie 1961, op 62-jarige ouderdom, 1 het Hemingway sye eie lewe by sy huis geneem. 3

Op vakansie in Spanje.

Nalatenskap en skryfstyl

Hemingway het ’n lewensgrote persoonlikheid en lewenslus gehad. Hy het gesmag na avontuur, of dit nou safari’s, grootwildjag, bulgevegte of oorlogsjoernalistiek was. 4 Sy persoonlikheid is amper net so bekend soos sy kreatiewe talent. 3

Sy skryfstyl het ’n reuse-invloed op Amerikaanse letterkunde in die 20ste eeu gehad. 3 Sy styl was reguit en eenvoudig, met min dialoog en die gawe om nie belangrike dinge te oorbeklemtoon nie. 6 Hy laat met opset dele van die storie ongesê sodat dit die leser in die hart van die storie kan intrek. Hy het na sy skryfstyl as die ysberg-teorie verwys: net 10% van die gebeure moet in die storie vertel word. Die ander 90% moet die leser self kan uitwerk. 1

Hemingway het oor sy skryfstyl gesê: “Uit dinge wat gebeur het en uit dinge soos hulle bestaan en uit alle dinge wat jy weet en alles wat jy nie kan weet nie, maak jy iets deur jou versinsel wat nie ‘n voorstelling is nie, maar ‘n hele nuwe ding, meer waar as enigiets wat waar en lewendig is, en jy maak dit lewendig, en as jy dit goed genoeg doen, gee jy daaraan onsterflikheid.” 3

Woordbank

afgetakel Liggaamlik of geestelik verswak, of agteruitgegaan.
belewenis Om iets te ervaar of deur te maak.
depressief Neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
eerstehandse Kennis of ervaring wat jy opgedoen het deur self iets te doen of self met iemand te praat.
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ʼn beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; denkbeeldige voorstelling; verdigsel; versinsel (het dus nie regtig gebeur nie, die mense en plekke bestaan nie werklik nie).
genotsugtig Om te hunker na plesier, en net heeltyd dinge te wil doen wat vir jou lekker is.
gruwels Iets afskuwelik of afgryslik.
kamerade Medesoldate of mense wat saam vir iets veg.
letterkundige Wat te doen het met skryfwerk.
memoire Geskrif waarin iemand sy/haar belewenisse opgeteken het sodat dit nie vergeet moet word nie; gedenkskrif.
mentor Iemand wat raad en leiding gee.
minimalisties Klein en eenvoudig.
misnoegdheid Om ontevrede of onvergenoeg te wees.
mortieraanval Aanval met bomme.
onopgesmukte Eenvoudig en onversier.
ontnugterings Wanneer iets of iemand jou erg teleurstel.
oorlogskorrespondent ’n Verslaggewer of joernalis wat in ’n land waar daar oorlog is, gaan werk, om die nuus oor die oorlog op mediaplatforms te versprei.
op die rotse Wanneer iets soos ‘n verhouding sonder hoop of uitkoms is; dit is verby.
romans Lang prosaverhale met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing wat uitvoerig en indringend geskied.
sig Om te kan kyk of sien.
stelsinne ’n Sin wat ’n stelling maak en met ’n punt eindig.
stylgids Boek wat vir jou sê op watter manier iets gedoen moet word.
uitval Twis, meningsverskil.
unieke Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.
voorskriftelik Om vir iemand te sê wat om te doen.
wedervarings Belewenisse of dinge wat ervaar is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s oor Hemingway

Ernest Hemingway se lewe

Die Nobelprys is die grootste prys wat ‘n mens kan wen

Die storie van The Old Man and the Sea

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 November 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024