Vinnige feite
- Die Durban July word elke jaar op die eerste Saterdag in Julie gehou.
- Een van die bekendste wenners, Sea Cottage, is net voor die Durban July in die boud geskiet in ’n komplot om te verhoed dat hy die wedren wen. Hy het deelgeneem, vierde geëindig en die volgende jaar gewen. 12
- In 2004 was Suid-Afrika se demokrasie 10 jaar oud, en om hierdie mylpaal te gedenk, het alle perde wat die nommer 10 in enige Gold Circle-wedren gedra het, vir die hele jaar ’n Suid-Afrikaanse vlag op hul saaldoek gedra. In 2004 is die Durban July deur Grays Inn, wat die Suid-Afrikaanse vlag op sy saaldoek gedra het, gewen. 9
Die Durban July is ’n Suid-Afrikaanse wedren vir volbloedperde wat sedert 1897 elke jaar op die eerste Saterdag in Julie by die Greyville-renbaan in Durban, KwaZulu-Natal, gehou word. Die oppervlak van die baan waarop die perde hardloop, is turf, en perde van alle ouderdomme neem aan die wedren deel. Dit is Suid-Afrika se voorste perdewedren met miljoene rand se prysgeld op die spel. 1
Perdewedrenne en belangrike terminologie
Voor ons meer inligting gee oor die Durban July, gesels ons gou oor ’n paar algemene beginsels in verband met perdewedrenne.
Die ontstaan van perdewedrenne
Daar is geskiedkundige bewyse dat perdewedrenne al eeue lank gehou word. As ’n mens in gedagte hou dat perde eintlik vir millennia die mens se primêre vervoermiddel was, is dit maklik om te verstaan dat ruiters hulle perde teen mekaar sou laat meeding. Ons weet dat perdewedrenne in Antieke Asië en in Antieke Rome, Antieke Griekeland, Egipte, Sirië en Babilon gehou is. Wedrenne met perdekarre was een van die gewildste sportsoorte onder die Romeine, Grieke en Bisantyne. In hierdie samelewings is perde in oorloë gebruik, en die doel van hierdie wedrenne was dat soldate hul vaardighede kon oefen en vir toeskouers ten toon kon stel. 2
Perdewedrenne word ’n sport
Perdewedrenne soos ons dit vandag ken, het gedurende die bewind van koning Karel II (in Engels: Charles II) (1660-1685 op die troon) in Brittanje gewild geword omdat hy self daarby betrokke was. 3 In 1666 het hy ‘n wedren laat reël wat later bekend sou staan as die King’s Plate. 4 Dit was een van die eerste bekende geleenthede waar die wenners pryse ontvang het. Daarby was dit ook die eerste keer waar ’n stel reëls vir ’n perdewedren opgestel is, en dit is interessant dat van hierdie reëls vandag nog geld. 2
Perdewedrenne en weddenskappe
Eeue lank al word perdewedrenne met weddenskappe verbind. Vir baie aanhangers van perdewedrenne is dit die belangrikste rede waarom hulle dié geleenthede bywoon. Mense kan op verskillende uitkomste wed, soos watter perd eerste, tweede of derde gaan eindig. Mense hou dus daarvan om na die wedren te kyk, maar dis ook vir hulle belangrik omdat hulle geld kan wen of verloor. 2
Volbloedperde (in Engels: Thoroughbreds)
’n Volbloed is ’n perderas wat in Engeland ontwikkel is om aan wedrenne en perdespring (ruitersport) deel te neem. Die oorsprong van dié ras kan teruggevoer word na Arabiese en Berberperde wat in die derde eeu n.C. in Engeland aangekom het. Perdetelers het oor die eeue met selektiewe teling die ras se eienskappe verfyn. ’n Volbloedperd het ’n delikate kop, skraal liggaam, breë bors en kort rug. ’n Volbloedperd se bene beweeg in lang, gemaklike treë as hulle hardloop, en hulle het gewoonlik ’n sensitiewe geaardheid en trotse houding. 5
’n Voorgeewedren (in Engels: handicap race)
Jy het dalk al die Engelse woord “handicap” gehoor, en afgelei dat dit gewoonlik “gestremdheid” beteken. Binne die konteks van perdewedrenne (en gholf) beteken die woord iets anders – die vertaling wat ons daarvoor gebruik, is “voorgee”. 6
’n Voorgee is ’n manier om al die perde in ’n wedren ’n meer gelyke kans te gee om te wen. Goeie perde wat al vantevore in wedrenne presteer het, kry tydens die wedren ekstra gewig om te dra. Hierdie ekstra gewig maak die perde stadiger, en die doel hiervan is om die speelvlak vir al die perde gelyk te maak. In perdewedrenne waar mense op die uitslag wed, is dit belangrik dat dit nie te maklik moet word om die wenner te voorspel nie. Met só ’n voorgee-stelsel maak die organiseerders dit dus vir enige perd moontlik om die wedren te wen, en is dit vir wedders (in Engels: punters) moeiliker om te weet wat die uitslag gaan wees. 7
Geskiedenis van die Durban July
Dié wedren is vir die eerste keer op 17 Julie 1897 gehou, en die perde het oor ’n afstand van 1 myl (1 600 m) meegeding. Die prysgeld vir die eerste wedren was 500 Britse soewereine (’n goue muntstuk wat 1 ons goud bevat het en min of meer gelykstaande was aan £1). In daardie tyd het mense ongeveer twee soewereine per maand verdien. 8
Teen 1902 kon die skare op die nuwe pawiljoen staan om die wedren dop te hou, en in 1903 het die prysgeld £1 250 geword. Dit was ook die eerste jaar wat ’n amptelike tyd geneem is (Henry Nourse se perd Peerless het die wedren in 1 min 42,5 sekondes gewen). 8
In 1913 het die wedren 1 800 m geword, en in 1915 is die afstand verder verleng tot 2 000 m. In 1917 is die wedren die eerste keer verfilm. Die 1922-wedren is geskiedkundig omdat die jokkie (in Engels: jockey) wat die wedren gewen het, Fred McGrath, net 12 jaar oud was. 8
Van 1970 af is die afstand wat die perde hardloop na 2 200 m verleng, en in 1990 het die prysgeld vir die eerste keer R1 miljoen geword. Die wedren se totale prysgeld beloop deesdae meer as R5 miljoen. 9
Die wedren se naamsverandering
Oor die jare het die naam van die wedren verskeie keer verander. Dit was aanvanklik bekend as die Durban Winter Handicap. In 1928 het dit die Durban July Handicap geword, maar dit het gedurende die oorlogsjare, van 1943 tot 1945, weer sy oorspronklike naam gekry. In 1946 het dit weer die Durban July Handicap geword, en dit het so gebly tot in 1963, toe Rothmans, ’n maatskappy wat sigarette vervaardig het, die borg geword het. 9
Die wedren was bekend as die Rothmans July Handicap tot 1989, toe die voorwaardes vir die wedren verander is. Daarna was dit bloot bekend as die Rothmans July. Rothmans wou nie sy verbintenis met hierdie groot wedren beëindig nie, maar die nuwe tabakwette van die land het sigaretborgskappe en -advertensies verbied, en ongelukkig het die langste borgskap van ’n groot sportgebeurtenis in 2000 tot ’n einde gekom. 9
In 2001 het die wedren eenvoudig as die Durban July plaasgevind, en in 2002, toe Vodacom die borg geword het, het dit die Vodacom Durban July geword. Hollywoodbets het in 2022 as die borg oorgeneem en van toe af is dit die Hollywoodbets Durban July. 9
Dubbele wenners
Slegs vyf perde kon die wedren twee keer ná mekaar wen. 8
- Campanajo (1897/1898);
- Corriecrian (1907/1908);
- Milesia Pride (1949/1950);
- El Picha (1999/2000); en
- Do It Again (2018/2019).
Gereeldste deelnemers
Die drie perde wat die meeste keer aan die wedren deelgeneem het, is Gondolier, Beau Art en Flaming Rock.
- Gondolier het vyf keer deelgeneem. In 1983 het hy tweede geëindig; in 1984 het hy die vyfde plek behaal; in 1985 was hy die wenner; in 1986 was hy sesde; en in sy laaste wedren in 1987 het hy die sewende posisie behaal.
- Beau Art, wat vyf keer deelgeneem het, was sesde in 1977; tweede in 1978; vyfde in 1979; die wenner in 1980; en agtste in 1981.
- Die Ierse perd Flaming Rock het vier keer deelgeneem. Hy het met sy eerste poging in 1991 gewen; het nie in 1992 geplaas nie; en hy was derde in 1993 en tweede in 1994. 9
Bekendste afrigter
In 1961 het die legendariese afrigter Syd Laird die eerste van sy sewe oorwinnings in die Durban July behaal. Die wenners wat hy afgerig het, was:
- Kerason in 1961;
- Colorado King in 1963;
- Java Head in 1966 (die jaar wat Sea Cottage geskiet is en steeds vierde geëindig het);
- 1967 met Sea Cottage, toe Sea Cottage en Jollify kop aan kop geëindig het (al het Sea Cottage 12,5 kg meer as Jollify gedra);
- 1971 met Mazarin (met ’n nuwe klasrekord van 2 minute 14 sekondes);
- 1973 met Yataghan (hoewel Yataghan in die pylvak gaan staan het); en
- 1978 met die bekende Politician 8.
Klere laat die koppe draai
Die Durban July is nie net bekend as perdewedren nie, maar is ook ’n hoogtepunt op talle Suid-Afrikaners se modekalenders. Die belang van mode tydens die wedren kan teruggevoer word na Brittanje se perdewedrenne en die gebruik wat daar ontstaan het om baie duur en deftig aan te trek.
Perdewedrenne was in die vorige eeu baie belangrike sosiale geleenthede. Dit was dus ’n gulde geleentheid vir mans en vroue om modieuse uitrustings aan te trek, en mode-ontwerpers het hul nuutste skeppings spesifiek aan ryk vroue uit die hoë sosiale stand gestuur om by perdewedrenne mee te pronk.
In 1922 het die Britse koerant The Times gesê dat die Ascot-perdewedrenne beskou word as “die beste plek in Engeland om pragtige vroue in pragtige klere te sien”. As gevolg van die feit dat die wedrenne so ’n belangrike sosiale geleentheid was, en dikwels deur die Britse koninklike familie bygewoon is, was dit die gebruik dat die toeskouers uit respek hulle beste klere gedra het. 10
Die Durban July het hierdie tradisie oorgeneem, en oor die jare het die uitrustings by die geleentheid iets geword waaroor koerante en tydskrifte berig het. Sommige uitrustings was elegant, ander was flambojant en selfs uitspattig, maar dit was altyd duur en iets om mee te spog.
Die huidige borge, Hollywoodbets, doen baie om hierdie tradisie voort te sit en uit te bou. Naas die wedren, word die Hollywoodbets Durban July Fashion Experience aangebied deur Durban Fashion Fair. Die ontwerpe is reeds maande voor die wedren op digitale platforms en in die gedrukte media te sien, en op die dag van die wedren self kan kykers die uitrustings op die TV-uitsending bekyk. 11
Die borge kondig elke jaar ’n tema vir die modes aan – in 2022 was dit Show me the honey, in 2023 was dit Out of this world en in 2024 is dit Riding the wave. Sodra hierdie tema bekend gemaak is, begin studente by ontwerpkolleges reg oor KwaZulu-Natal werk aan hul voorleggings vir die gesogte Hollywoodbets Durban July-toekenning vir die beste jong ontwerper, ’n kompetisie wat die loopbane van baie suksesvolle Suid-Afrikaanse ontwerpers aan die gang gesit het.
Woordbank
Berberperde |
Perde wat deur die Berbers – die inheemse inwoners van Noord-Afrika – geteel is. |
Bisantyne | Inwoners van die Bisantynse stad Konstantinopel, wat later Istanboel geword het. |
borg | Persoon of maatskappy wat geld gee vir ’n kompetisie of geleentheid in ruil vir erkenning en advertensie. |
flambojant | Opvallend vertonerig. |
gulde geleentheid | Vaste uitdrukking wat beteken “’n uitstekende geleentheid”. |
jokkie | Ruiter (gewoonlik kort en lig) wat spesialiseer in perdewedrenne. |
komplot | Sameswering. |
kop aan kop | In ’n resies, met die koppe heeltemal gelyk. |
millennia | Duisende jare. |
pylvak | Die reguit laaste deel van ’n resiesbaan; nie pylvlak nie. |
ruiters | Persone wat op perde ry. |
saaldoek | Lap met ’n nommer op wat in ’n wedren onder ’n perd se saal geplaas word sodat die toeskouers die perd kan uitken. |
selektiewe teling | ’n Teelprogram vir diere waardeur spesifieke eienskappe in die ras versterk word. |
soewereine | Britse goue muntstukke wat elk 1 ons goud bevat het en min of meer die waarde van £1 gehad het. |
turf | In die konteks van perdewedrenne: gras. |
uitspattig | Wat te erg aandag trek, veral met betrekking tot klere. |
voorgee | In die konteks van perdewedrenne: ’n gewig wat op ’n perd gelaai word wat voorheen presteer het, om hom/haar stadiger te maak sodat die uitslag van die wedren meer onvoorspelbaar kan wees. |
weddenskappe | In die konteks van perdewedrenne: om ’n bedrag geld aan ’n beroepswedder te betaal op grond van ’n voorspelling oor watter perd gaan wen of in ’n bepaalde posisie in ’n wedren gaan plaas. |
Lees dié artikels om meer te leer
- Hollywoodbets, die amptelike borg van die Durban July, het baie inligting op sy webblad
- Geskiedenis en oorsig van die Durban July-wedren
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
’n Video met geskiedkundige beeldmateriaal
Beeldmateriaal van die modes en wenners by die 2023-wedren
’n Opname van die wedren waarin Sea Cottage en Jollify kop aan kop geëindig het