Vinnige feite

  • Die lengtelyn wat ons as die beginpunt gebruik om tydsones te bepaal, word die Greenwich-meridiaan genoem.
  • Voor standaardtyd gebruik is (1875 en vroeër), het ʼn trein in Amerika 75 keer sy horlosie verstel wanneer hy van een kant in Amerika na die ander kant gereis het.
  • Sandford Flemming het in 1878 voorgestel dat die wêreld nie net om sy eie as draai nie, maar dat hy presies 15° elke uur draai, en dus 360° (wat ʼn volle rotasie is) per dag draai.
Foto: iStock

Het jy al ooit gewonder hoekom ons nie reg oor die wêreld dieselfde tyd gaan slaap of opstaan nie? Het jy al ooit van vlugvoosheid (jetlag) gehoor maar nie geweet wat dit is of hoe dit werk nie? In hierdie artikel gaan ons kyk na tydsones, en dit sal al hierdie vrae vir jou opklaar.

Wat is tydsones?

Om tydsones te verstaan, moet ons by die begin, begin. Die aarde is sfeervormig en het ʼn denkbeeldige as waar om hy draai. Verbeel jou jy hou ʼn netbalbal op die punt van jou vinger en tol dan die bal. Die aarde doen ʼn soortgelyke ding op ʼn daaglikse basis. Elke keer wat die aarde een keer roteer, is een dag verby. Omdat die son stil staan en die aarde rondom die son beweeg terwyl hy om sy eie as draai, is daar verskillende tye van die dag sonlig op verskillende plekke op die aarde. Dit is hoekom dit byvoorbeeld in Suid-Afrika nag is, terwyl dit in Australië dag is.

Verbeel jou nou net ons het met verskillende tydsones in elke land gewerk. Ons sou nooit geweet wanneer die res van die wêreld werk en wanneer hulle slaap nie. Voor die 19de eeu was dit egter presies so gewees. Meeste dorpe het op een groot horlosie (gewoonlik die kerktoring se hoslosie) gewerk. Een persoon was verantwoordelik daarvoor om seker te maak dat die horlosie altyd op twaalfuur is wanneer die son op sy hoogste in die lug is, en almal het net hul horlosies daarby aangepas. Wanneer jy dus in ʼn nuwe dorp kom moes jy seker maak dat jou horlosie dieselfde tyd wys as die hoof-horlosie in die dorp. Dit was nie moontlik om te bepaal hoe laat dit in ʼn ander dorp is sonder om na daardie dorp te reis nie. 1

Waar kom tydsones vandaan?

Op een stadium in 1875 moes die Amerikaanse treinstasie se horlosie 75 keer gestel word wanneer dit van een kant van die Verenigde State van Amerika (VSA) na die ander kant ry. Hierdie probleem het al groter geword soos ruilhandel tussen lande toegeneem het. In 1878 het Sandford Flemming voorgestel dat die wêreld nie net om sy eie as draai nie, maar dat hy presies 15° elke uur draai. Dit beteken dat die aarde een volle rotasie van 360° elke 24 uur voltooi. Dit het beteken dat hul nou kon begin werk met verskillende lengtelyne op die aarde. Elke keer wat die aarde 15° roteer, is daar ʼn nuwe lengtelyn. Hierdie lyne is denkbeeldige lyne wat oor die aarde strek. In die onderstaande skets kan jy mooi sien hoe die denkbeeldige lyne lyk. 2

Baijal, 2020

In 1884 het die wêreld konsensus oor die 24 tydsones wat ons vandag nog gebruik, bereik. Daar is besluit dat die Greenwich-meridiaan die beginpunt sal wees. Die Greenwich-meridiaan is ʼn lengtelyn wat deur ʼn voorstad in Londen loop. Op die skets hier onder kan jy sien waar die Greenwich-meridiaan oor die aardbol span. Die Greenwich-meridiaan word ook die primêre lengtelyn/meridiaan genoem.

Hoe werk standaardtyd?

Standaardtyd het dus op die Greenwich-meridiaan begin. Elke keer wat jy links of regs van die Greenwich-meridiaan skuif, word dit een uur later of vroeër oor daardie lengtelyn. Dit was wel nie so eenvoudig soos dit nie. Dit het beteken dat sommige dorpe aan die een kant van die dorp een tyd gevolg het, terwyl die ander kant van die dorp ʼn ander tyd volg. Daarom het kleiner lande – soos Bhutan – besluit om die hele land op een tydsone te hou. Indië is nog ʼn voorbeeld van ʼn land wat besluit het om hulle hele land op een tydsone te hou, al is daar ʼn lengtelyn wat deur die middel van die land strek. Aangesien Indië nie ʼn baie groot land is nie, het dit nie sin gemaak om twee verskillende tydsones te hê nie.

Greenwich-meridiaan by die Royal Observatory in Londen

Lande soos Rusland kan wel nie hierdie taktiek volg nie, aangesien daar 11 lengtelyne is wat deur hom span. Dit beteken dat die een punt van Rusland met 11 ure van die ander punt verskil. Rusland het toe besluit om hul land in agt tydsones in te deel. Wanneer jy dus van een kant na die ander kant van Rusland reis, sal jy jou horlosie moet stel om by daardie tydsone aan te pas. 3

In hierdie prent kan jy baie mooi sien waar al die tydsones reg oor die wêreld lê. Aangesien daar lande is wat self besluit het om die tydsones aan te pas sodat dit by die land se behoeftes pas, is die lyne nie reguit getrek nie.

Pidwirny, 2006

As jy byvoorbeeld wil weet hoe laat dit in Suid-Afrika is, sal jy dit kan uitwerk deur te kyk hoe laat dit nou oor die Greenwich-meridiaan is. Die Greenwich-meridiaan is altyd jou 0-waarde. Van daar af tel jy aan of terug. Indien dit 13:00 oor die Greenwich-meridiaan is, sal dit nou 15:00 in Suid Afrika wees, aangesien Suid Afrika twee ure voor die Greenwich-meridiaan is. Jy kan ook maklik uitwerk hoe laat dit in ʼn ander land is deur op bostaande kaart te kyk. Indien dit nou 15:00 in Suid-Afrika is, sal dit 23:00 in Sydney, Australië wees, aangesien hulle agt ure vóór ons is. Wat dit kortliks beteken, is dat die aarde op so ʼn manier draai dat dit eerste in Australië dag is, en dan by ons. 4

Wat is vlugvoosheid en hoe werk dit?

So hoe werk vlugvoosheid dan? Jou liggaam is gewoond aan 24-uur-dae. Jou liggaam kom dus in ʼn ritme wat 24 uur hou, en dan weer van voor af begin. Wanneer jy oor meer as twee tydsones binne daardie 24 uur beweeg, is jou liggaam – en meer belangrik, jou brein – uit ritme uit. Jy sal byvoorbeeld ʼn paar ekstra ure van daglig hê, of dalk ʼn hele dag se daglig mis, aangesien jy óf saam met die aarde beweeg soos hy roteer, óf in die teenoorgestelde rigting. Dit beteken dat die wêreld in vergelyking met jou posisie vinniger verbygaan as wat jou brein gewoond is. Gelukkig is vlugvoosheid ʼn tydelike versteuring van jou slaappatroon en sal jou brein baie vinnig weer in ritme kom wanneer jy vir ʼn dag of twee in dieselfde tydsone bly. Die mate van vlugvoosheid hang ook natuurlik af van hoe ver en hoe vinnig jy gereis het. 5

 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 September 2021 | Bygewerk op 31 Julie 2023