Vinnige feite

  • Die kompas is die eerste keer in China deur die Han-dinastie tussen 20 v.C. en 20 n.C. gebruik. 8
  • Die langste internasionale grens is tussen Kanada en die VSA. Die grens is 8 890 km lank en grens aan agt Kanadese provinsies en 13 deelstate in die VSA. 9
  • Die Sahara-woestyn in Afrika is die grootste woestyn ter wêreld. In werklikheid is Sahara slegs die grootste warm woestyn, aangesien die Arktiese woestyn en die Antarktiese woestyn groter is, maar hulle word poolwoestyne genoem. 10
  • Rusland beslaan 6,6 miljoen vierkante myl, en dit is die grootste land ter wêreld. Dié land strek oor 11 tydsones, wat beteken dat die Russe aan die een kant van die land hul dag begin, terwyl die Russe aan die ander kant begin regmaak vir ʼn heerlike nagrus. 11
  • Daar is meer as 8 miljard mense in die wêreld, waarvan nagenoeg 90% in die Noordelike Halfrond woon.

 

Foto: iStock

Die aarde is ʼn groot plek, en sonder kaarte sou ons nie weet waar iets is nie. Daar is baie soorte kaarte, wat verskillende plekke en dinge aantoon. Die wêreldkaart toon ʼn groot, oorhoofse prentjie van wat op die aarde se oppervlak geleë is. 1

ʼn Kaart is met ander woorde ʼn voorstelling van die hele aarde of ʼn gedeelte daarvan. Die basiese doel daarvan is om aan te toon waar dinge is. Kaarte kan sigbare kenmerke toon, soos riviere en mere, woude, geboue en paaie, maar hulle kan ook onsigbare dinge, soos grense en temperature, aantoon.

Die meeste kaarte is op ʼn plat oppervlak geteken. Dit is eintlik onmoontlik om ʼn presiese voorstelling van die aarde op ʼn vierkantige kaart te teken – die meeste wêreldkaarte is die een of ander projeksie.

ʼn Kaart wat op ʼn ronde oppervlak vertoon word, word ʼn aardbol genoem. Aardbolle bied dieselfde soort inligting as plat kaarte. Omdat die aarde amper rond is, stel ʼn aardbol dit die beste voor. ʼn Aardbol wys die aarde soos dit lyk as dit vanuit die ruimte gesien word. 2

Die bekendste soorte kaarte is topografiese en politieke kaarte. Topografiese kaarte toon die ligging en vorm van dinge op die aarde se oppervlak. Dit bevat dikwels natuurlike kenmerke, soos berge en mere. Dit kan ook dinge insluit wat mense gebou het, soos paaie en spoorweë. Politieke kaarte toon die grense van lande, state, provinsies en stede. Die meeste kaarte kombineer kenmerke van beide topografiese en politieke kaarte.

By die Mercator-projeksie is die ewenaar altyd in die middel van die kaart. Die breedte- en lengtelyne is eweredig gespasieer. Ander projeksies sluit byvoorbeeld Robinson se projeksie in, wat baie goed werk indien gebiede rondom die ewenaar bestudeer word.

ʼn Kaart is altyd kleiner as die gebied wat dit voorstel. Die meeste kaarte bevat iets wat ʼn skaal genoem word. Die skaal dui aan hoeveel groter of kleiner die kaart as die werklikheid is. Dit word algemeen in bouplanne, masjineriesketse en kaarte gebruik.

ʼn Kaartskaal kan op verskillende maniere getoon word. Die eenvoudigste manier is ʼn grafiese skaal. ʼn Grafiese skaal is ʼn lyn of balk wat gewoonlik in kilometer afgemerk is. ʼn Grafiese skaal woord gewoonlik in sentimetergrootte blokkies – wat ʼn sekere afstand voorstel – ingedeel. Die afstand is nie noodwendig in kilometer nie en kan ook in meter voorgestel word, afhangend van die grootte van die gebied wat voorgestel word. ʼn Grafiese skaal kan gebruik word om afstande op die kaart te meet.

Die ewenaar

Die ewenaar is ʼn denkbeeldige sirkel rondom die aarde. Dit verdeel die aarde in twee gelyke dele: die Noordelike Halfrond en die Suidelike Halfrond. Dit loop oos en wes, halfpad tussen die Noord- en Suidpool. Die afstand rondom die ewenaar is ongeveer 40 000 km.

Die ewenaar verskyn op kaarte en aardbolle. Dit is die beginpunt vir die meetstelsel genaamd breedtegraad. Breedtegraad is ʼn stelsel van denkbeeldige oos-wes-lyne – genaamd parallelle – wat parallel met die ewenaar rondom die aarde strek. Parallelle word gebruik om afstande in grade noord of suid van die ewenaar te meet. Die breedtegraad van die ewenaar is nul grade. Die Noordpool is 90˚ N en die Suidpool 90˚ S.

Sommige kaarte het ʼn mondelinge of woordskaal. ʼn Mondelinge skaal gee die afstand wat voorgestel word deur 1 cm in woorde: byvoorbeeld een sentimeter is gelyk aan 100 km.

ʼn Derde soort kaartskaal gebruik ʼn wiskundige uitdrukking wat ʼn verhouding genoem word. Byvoorbeeld, die skaalverhouding 1:50 000 sê dat een meeteenheid op die kaart gelyk is aan 50 000 sulke eenhede op die grond. Die eenhede in ʼn verhoudingskaal is altyd dieselfde, en daar is altyd ʼn mate van verwerking nodig om die afstand in korrekte eenhede te kry.

As die meeteenheid sentimeter is, is een sentimeter op die kaart gelykstaande aan 50 000 sentimeter op die grond.

Kaarte het gewoonlik ook ʼn simbool wat ʼn kompasroos genoem word om die hoofrigtings aan te dui. Die hoofrigtings is die belangrikste kompaspunte – noord, oos, suid en wes. Kaarte word gewoonlik gedruk sodat noord bo is, maar dit is nie altyd die geval nie. Die kompasroos help die gebruiker dus om uit te vind watter kant noord is.

Enige plek op aarde kan gevind word met behulp van ʼn stelsel genaamd breedtegraad en lengtegraad. Breedtegraad en lengtegraad is stelle denkbeeldige lyne wat die aarde omring. Breedtegraadlyne loop oos en wes. Lengtelyne loop noord en suid. Enige plek kan op ʼn kaart gevind word deur die breedte- en lengtegraad te meet.

Sommige kaarte is verdeel in afdelings wat soos vierkante op ʼn skaakbord lyk. Rye van links na regs kan letters bevat, en rye wat afwaarts loop, kan syfers bevat. Hierdie kaarte het dikwels ʼn indeks wat aandui waar jy ʼn plek kan vind deur die letters en syfers te gebruik. As die indeks sê dat ʼn plek byvoorbeeld by B2 geleë is, kan dit op die kaart gevind word in die gebied waar die B- en 2-rye (of lyne) kruis. Padstelsels gebruik gewoonlik hierdie stelsel. 3

In die verlede het kaartmakers tekeninge gebruik om aan te toon waar dinge soos kastele en berge geleë was. Die tekeninge was groot sodat dit duidelik gesien kon word. Sulke kunswerke was mooi om na te kyk en maklik om te verstaan.

Met verloop van tyd is kaarte eenvoudiger gemaak, en kaartmakers het prente met simbole vervang. Elke simbool verteenwoordig een spesifieke ding. ʼn Kaart kan verskillende simbole bevat vir stede, riviere, mere, paaie, treinspore, ensovoorts. Kaartmakers wys gewoonlik die belangrikste inligting met behulp van simbole aan. ʼn Hoofweg kan byvoorbeeld met dubbele swart lyne met rooi tussenin aangedui word. ʼn Sleutel is ʼn lys wat die simbole wat op ʼn kaart gebruik word, beskryf. Elke element op die kaart word gewoonlik met ʼn simbool en ooreenstemmende beskrywing in die sleutel aangedui. 2

Kontinente

Daar is sewe kontinente en vyf oseane op ons planeet. Die vastelande is die groot landmassas, wat deur die waters van die oseane geskei word. Die sewe vastelande op ons planeet is: Afrika, Asië, Antarktika, Australië/Oseanië, Europa, Noord-Amerika en Suid-Amerika. Hierdie sewe kontinente wissel in grootte en bevolkingsgetalle.

  • Asië is die grootste kontinent. Dit het die grootste landoppervlakte en die wêreld se grootste bevolking. Dit beteken dat die meeste mense (sowat 4,6 miljard) op die Asiatiese vasteland woon.
  • Australië/Oseanië is die kleinste vasteland. Australië, Nieu-Seeland, Vanuatu en die vele eilande in die noorde en ooste van Australië in die Stille Oseaan maak deel uit van hierdie streek en dus hierdie kontinent. Australië is die grootste landmassa in die streek. Sowat 43 miljoen mense woon hier.
  • Afrika is die kontinent met die meeste lande. Daar is 55 lande op die vasteland van Afrika. Ongeveer 1,3 miljard mense woon in Afrika. Afrika huisves ook die langste rivier in die wêreld, die Nyl, en die tweede hoogste waterval ter wêreld, die Tugela-waterval in die Drakensbergarea in KwaZulu-Natal, in Suid-Afrika.
  • Noord-Amerika is ʼn vasteland wat geheel en al op die Noordelike en Westelike Halfrond geleë is. Daar is altesaam 23 lande op die Noord-Amerikaanse vasteland, insluitende die VSA, Kanada, Mexiko, die Karibiese eilande, en so meer. Ongeveer 580 miljoen mense woon op die Noord-Amerikaanse vasteland.
  • Europa word as die rykste kontinent beskou, maar daar is arm streke, veral in die oostelike dele van die kontinent. Europa huisves 44 lande, waaronder die twee kleinste lande ter wêreld: die Vatikaanstad – wat in Rome in Italië geleë – is en Monaco, wat aan drie kante deur Frankryk begrens word.
  • Suid-Amerika is ʼn kontinent wat met talle rekords spog: die langste bergreeks (Andes), die hoogste watervalle (Angel Falls) en die droogste plek op aarde (die Atacama-woestyn in Chili). Ongeveer 430 miljoen mense woon in Suid-Amerika.
  • Antarktika is die kleinste vasteland volgens bevolkingsgetalle. Dit beteken dat dié groot kontinent baie yl bevolk is. Op Antarktika is daar slegs navorsingstasies vir wetenskaplikes en geen permanente nedersettings nie. Antarktika word amper heeltemal deur ys bedek. Sowat 90% van die aarde se ys is op hierdie kontinent geleë, wat 60% tot 70% uitmaak van die wêreld se varswatervoorsiening. Antarktika word dikwels gedeeltelik of in geheel nie op wêreldkaarte aangetoon nie, juis omdat dit so yl bevolk is. 4

Die Greenwich-meridiaan

Dié hoofmeridiaan of -lengtelyn is die denkbeeldige lyn wat die aarde in die Oostelike en Westelike Halfrond verdeel. Die hoofmeridiaan verskyn op kaarte en aardbolle en word ook as basis vir die wêreld se tydsones gebruik. Lengtegraad is ʼn stelsel van denkbeeldige noord-suid-lyne wat meridiane genoem word. Hulle verbind die Noordpool met die Suidpool. Meridiane word gebruik om die afstand in grade oos of grade wes van die hoofmeridiaan te meet. Alle ander lengtelyne is oos of wes van die Greenwich-meridiaan. Lengtelyne is almal ewe lank en kom by die pole bymekaar. 5

Ons sê dat die 0˚-lengtelyn arbitrêr is. Dit beteken dat dit op enige plek kan wees. Verskillende lande sou die 0˚-lengtelyn deur hulle hoofstad gemaak het. Dit het navigasie baie moeilik gemaak. In 1884 het die destydse Amerikaanse president Chester Arthur en 25 verteenwoordigers van ander lande besluit op een meridiaan. Hulle het besluit op ʼn lyn wat deur die Royal Observatory in Greenwich, Engeland loop (die Greenwich-meridiaan). Dit is dan ook die internasionale tydlyn. 6

Kompasrigtings

ʼn Kompas is ʼn instrument om rigting te vind. ʼn Eenvoudige kompas is ʼn magneetnaald wat op ʼn spilpunt of kort pen gemonteer is. Die naald – wat vrylik kan draai – wys altyd noord. Die spilpunt is aan ʼn kompaskaart geheg. ʼn Magnetiese kompas gebruik die magnetiese veld van die aarde, terwyl ʼn girokompas die aarde se rotasie gebruik. Kompasse het ʼn diagram waarop die rigtings aangedui word, en hierdie diagram staan as ʼn kompasroos bekend. 7

Ons onderskei tussen vier hoofrigtings en vier subrigtings. Die hoofrigtings is noord (N), oos (O), suid (S) en wes (W), en die subrigtings is noord-oos (NO), suid-oos (SO), suid-wes (SW) en noord-wes (NW).

Woordbank

afstand Ruimte of distansie tussen twee plekke/punte.
arbitrêr Willekeurig; sonder motivering.
kenmerke Waarneembare/merkbare teken/eienskap waaraan jy iemand/iets kan herken/uitken; tipies.
projeksie
Afbeelding van ‘n voorwerp op ‘n plat vlak.
topografiese Noukeurige beskrywing van die natuurlike en kunsmatige besonderhede van ‘n streek/terrein; plekbeskrywing.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Leer meer oor die kontinent Afrika

Die sewe kontinente van die wêreld

Leer meer oor kaarte, simbole, kaartsleutels en kompasrose

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 September 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024