Vinnige feite

  • Rusland se bevolking het tussen 1994 en 2021 met sowat 5 miljoen mense verminder van 149 miljoen tot 144 miljoen. Die Verenigde Nasies raam dat, as dié tendens voortduur, Rusland se bevolking tot 120 miljoen teen 2050 gaan afneem. 13
  • Wat stede betref, spog Tokio met die hoogste bevolking, naamlik meer as 37 miljoen. Daar woon 29,4 miljoen mense in Delhi en 26,3 miljoen mense in Shanghai. Die Vatikaanstad het die kleinste bevolking – daar woon in minder as 500 mense. 14
  • Het jy geweet Nieu-Seeland het meer skape as mense? Daar is sowat vyf skape vir elke mens in dié land. In die 1980’s was daar meer as 22 skape vir elke Nieu-Seelander. Australië spog op sy beurt met drie skape vir elke burger van dié land.
  • Volgens die Verenigde Nasies word daar 267 babas elke minuut êrens in die wêreld gebore (of 385 000 elke dag en 140 miljoen elke jaar). 15 Hierteenoor sterf sowat 65 miljoen mense per jaar; daar is dus baie meer babas wat gebore word as mense wat sterf. 16
  • Die vrugbaarheidsyfer is die gemiddelde aantal kinders waaraan ’n vrou in haar leeftyd geboorte gee. In 2023 is die vrugbaarheidsyfer in Niger op 6,73 kinders per vrou geraam. Nege van die tien lande in die wêreld met die hoogste vrugbaarheidskoers, is in Afrika.
  • Sowat 87% van die wêreld se bevolking woon in die Noordelike Halfrond.
Foto: iStock

ʼn Bevolking is die aantal lewende mense wat op dieselfde plek woon. ʼn Stad se bevolking is dus die aantal mense wat op ʼn gegewe tydstip in daardie stad woon. Hierdie mense word inwoners genoem. Die wêreldbevolking is al die mense wat op ons planeet woon. 1

Oor die afgelope 70 jaar het die wêreldbevolking verdriedubbel. 2 Daar is tans meer as 8 miljard (1 miljard = 1 000 000 000) mense in die wêreld en die Verenigde Nasies verwag dat die wêreldbevolking teen 2050 na raming 9,7 miljard sal wees. Daar sal na verwagting 10,4 miljard mense teen 2080 op aarde wees. 3

Die tabel hier onder wys hoe die wêreld se bevolking sedert 1800 toegeneem het. ‘n Miljard is in Engels ‘n billion en moet nie met “biljoen” in Afrikaans – wat na ‘n duisend miljard verwys – verwar word nie.

1800 1 miljard
1927 2 miljard
1960 3 miljard
1974 4 miljard
1987 5 miljard
1999 6 miljard
2011 7 miljard
2023 8 miljard

Die wêreld se bevolking groei dus baie vinnig as ʼn mens dink dat daar in 1987 “net” 5 miljard mense op aarde was en in die 1800’s slegs 1 miljard. Nou groei die wêreld se bevolking met 1 miljard mense elke 10 tot 12 jaar! Hierteenoor het baie diere se getalle oor die afgelope 50 jaar met meer as die helfte verminder! 4

Die vinnige toename in die getal mense op aarde kan toegeskryf word aan: verhoogde voedselproduksie, verbetering in gesondheidsorg en mediese ontwikkeling, byvoorbeeld entstowwe en antibiotika, asook wetenskaplike uitvindings soos yskaste. Die gemiddelde ouderdom van alle mense op aarde is 30,5 jaar. Vroue se lewensverwagting is 76 jaar, terwyl mans s’n op 70,8 jaar gereken word. 5

Lewensverwagting verwys na die gemiddelde ouderdom wat mense kan verwag om te bereik. 6

Hoeveel woonplek is daar vir mense?

Die totale oppervlakte van die aarde is ongeveer 317 miljoen km2.

Daar is egter baie min bewoonbare plek vir mense (plekke waar mense kan bly):

  • 71% word deur water bedek;
  • 3% is grond wat met gletsers bedek is;
  • 8% is woestyn- of droë gebiede;
  • 6% is berge;
  • 4% is landbougrond;
  • 4% is weiveld;
  • 2% word vir houtproduksie gebruik; en
  • slegs 5% (16 miljoen km2) is geskik vir menslike bewoning.

Die Suid-Afrikaanse bevolking

Suid-Afrika se bevolking het in 2023 op 60,635 miljoen mense gestaan, oftewel 0,75% van die wêreldbevolking. Suid-Afrika se bevolkingsdigtheid is 50 mense per vierkante kilometer (km2). Die gemiddelde ouderdom van ons bevolking is 27,6 jaar. Daar word verwag dat Suid-Afrika se bevolking teen 2030 meer as 64 miljoen sal wees en teen 2050 altesaam 73,5 miljoen. 7

10 lande met die grootste bevolkings (2023)

Indië is die land met die grootste bevolking, naamlik 1,428 miljard mense, of 17,76% van al die mense in die wêreld. China is tweede met 1,425 miljard mense en die VSA is derde met bykans 340 miljoen mense.

Hier onder is die 10 lande met die meeste inwoners: 8

Land  Aantal inwoners Grootte van land (km2) Hoeveel van die wêreld se bevolking woon hier?
1. Indië 1 428 627 663 2 973 190 17,76%
2. China 1425671 3521 9388 211 17,72%
3. VSA 339 996 563 9 147 420 4,23%
4. Indonesië 277534 122 1 811 570 3,45%
5. Pakistan 240 485 658 770 880 2,99%
6. Nigerië 223804 632 910 770 2,78%
7. Brasilië 216 422 446 8  358 140 2,69%
8. Bangladesj 172954 319 130 170 2,15%
9. Rusland 144 444 359 16 376 870 1,80%
10. Mexiko 128455 567 1 943 950 1,60%

Suid-Afrika beklee die 24ste posisie met 60 414 495 mense – oftewel 0,75% van die wêreld se bevolking – wat hier woon.

Bevolkingsdigtheid

Bevolkingsdigtheid is die aantal mense wat op ʼn stuk grond van 1 km2 woon. Suid-Afrika se bevolkingsdigtheid is sowat 50 mense per km2. 9

Wat die res van die wêreld betref, is Monaco die land met die hoogste bevolkingsdigtheid – meer as 19 000 mense per vierkante kilometer. Die volgende vier plekke word ingeneem deur Singapoer (8 019 per km2), Bahrain (2 182 per km2) en die Maldives (1 802 per km2). 10

Woordbank

antibiotika Stof van swamme/kieme verkry wat lewende organismes, bv. bakterieë, vernietig of hul ontwikkeling rem; antibiotikum.
bevolking Inwoners van ‘n spesifieke gebied/staat/land.
bevolkingsdigtheid Die aantal mense wat op ʼn stuk grond van 1 km2 woon.
entstowwe Preparaat van ʼn mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van antiliggame te stimuleer sodat die liggaam onvatbaar (immuun) kan word vir besmetting; vaksien.
lewensverwagting Die gemiddelde ouderdom wat mense kan verwag om te bereik.
oppervlakte Uitgebreidheid/grootte van ‘n oppervlak/area/gebied.
uitvindings Vir die eerste keer vasstel hoe iets nuuts gemaak/gebou ens. kan word; uitdink.
Verenigde Nasies
Die VN is ʼn internasionale organisasie wat deur verskillende lande op 24 Oktober 1945 ná die Tweede Wêreldoorlog gestig is. Die VN beywer hom veral vir wêreldvrede en die onderlinge samewerking tussen verskillende lande.
voedselproduksie Die maak of vervaardiging van verskillende kossoorte.
vrugbaarheidsyfer Die gemiddelde aantal kinders waaraan ’n vrou in haar leeftyd geboorte gee.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat is die verskil tussen ‘n bevolking en gemeenskap?

Is daar te veel mense op aarde (oorbevolking)?

Verstedeliking en die toekoms van stede

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 November 2021 | Bygewerk op 17 Maart 2024