Vinnige feite

  • Nie alle vloede word as rampe beskou nie. Die oorstroming van die Nylrivier is vir honderde jare nie net gebruik om die antieke Egiptenare se kalender te bepaal nie, maar die stygende watermassa was goed vir landbougewasse wat op die oewer van die Nyl verbou is. 12
  • Altesame 55% van Nederland lê onder seevlak, wat die moontlikheid van oorstromings baie groot maak. Die Nederlanders het reeds in die 1200’s begin om dyke (soorte walle) op te rig om dié land teen vloede te beskerm. 13 Die grootste keerwal is die Afsluitdijk, wat 32 km lank is. 14
Foto: iStock

’n Vloed is ’n oorvloed (’n groot hoeveelheid) water wat gewoonlik skielik of binne ’n kort tydjie op grond voorkom wat gewoonlik droog is. Vloede is meestal die gevolg van ’n rivier wat oorstroom, ’n dam wat breek, sneeu wat smelt of baie swaar reënval. Minder algemeen is tsoenami’s en siklone (baie sterk storms). Tydens ’n vloed probeer mense hulself en hul kosbaarste besittings vinnig na hoër plekke toe skuif. Die proses van huise verlaat op soek na ’n veilige plek, word vloedontruiming genoem. 1

Die dodelikste oorstroming tot nog toe was in 1931 in China. Tussen 2 en 4 miljoen mense is dood weens verdrinking, maar ook hongersnood en siektes wat op die vloede gevolg het. Daar word geraam dat 25 miljoen mense deur dié vloed geraak en $14 miljard (meer as R200 miljard) se skade aan eiendom en landboubedrywighede aangerig. 2

Dit maak nie saak hoe vinnig dit gebeur of wat die oorsaak is nie, oorstromings is dodelik. Oorstromings maak meer mense dood en veroorsaak meer skade as ander ernstige weerverwante gebeure. Baie mense sterf deur in ’n oorstroomde gebied te ry of te loop. Net 6 cm water kan iemand se voete onder hom uitslaan en slegs ’n halwe meter water kan ’n motor laat wegdryf! 3

Oorsake van vloede

Oorstromings word gewoonlik veroorsaak wanneer ’n groot hoeveelheid (volume) water binne ’n waterliggaam soos ’n meer, rivier of dam, oorloop. As ’n dam breek, laat dit skielik ’n groot hoeveelheid water vry. Die gevolg is dat die water na die land toe vloei en die gebied oorstroom. Baie riviere is in ’n soort kanaal, tussen rivieroewers. Dit oorstroom as die krag van die rivier die water bo-oor die oewer (kant) laat vloei.  Vloede kan op enige plek in die wêreld en op enige tyd van die jaar plaasvind. 4

Vloedskade kan voorkom word deur weg te bly van plekke wat oorstroom. Mense hou egter daarvan om hul huise en ondernemings langs water te bou, want water is goed vir landbou en vervoer. Oorstromings word ook veroorsaak as gevolg van die onvoldoende bestuur van byvoorbeeld dreine. Reënval is die algemeenste oorsaak van vloede. Sneeusmelting is ook ’n oorsaak, terwyl tsoenami’s en sterk storms minder algemene oorsake is. Kusvloede (by die see) is nog ’n algemene oorsaak van oorstromings, en dit word veroorsaak deur laedrukstelsels of storms.

Vyf soorte vloede

Daar is vyf verskillende soorte oorstromings: lug-, katastrofiese, kus-, rivier- en stedelike oorstromings. Oorstromings uit die lug word veroorsaak deur swaar reënval of sneeusmelting. Katastrofiese oorstromings word veroorsaak deur infrastruktuur wat ingee, soos ’n damwal wat breek. Kusvloede word veroorsaak deur stygende seevlakke, soos ’n storm wat deur ’n orkaan veroorsaak word. Rivieroorstroming word veroorsaak deur water wat uit ’n meer, dam, rivier of stroom oorloop. Stedelike oorstromings word veroorsaak deur ’n dreineringstelsel of ’n stormrioolstelsel wat oorstroom word. ’n Kitsvloed is die skielike en vinnige oorstroming van ’n gebied wat vatbaar is vir oorstromings. 5

Ergste vloede nóg in Suid-Afrika

Die Natalse vloed van 1987 is Suid-Afrika se mees verwoestende vloed tot nog toe. Vyfhonderd-en-ses mense het gesterf en 60 000 mense is geraak. Die vloed het informele nedersettings in geheel vernietig. 6

Jare vroeër, op 25 Januarie 1981, het die dorp Laingsburg in die Wes-Kaap monumentale oorstromings beleef wat meer as 100 inwoners se lewens geëis het. Sommige oorlewendes is 21 km van die dorp af gevind. ’n Kitsvloed het die stad getref ná hewige reën (ongeveer 425 mm in net twee dae), wat die oewer van die nabygeleë Buffelsrivier laat bars het. Dit het daartoe gelei dat die hele dorp deur modder bedek was. Slegs 21 huise het in die dorp oorgebly. 7

Wat is ’n vloedlyn?

In Suid-Afrika moet ’n vloedlyn ingevolge Artikel 144 van die Nasionale Waterwet van 1998 (Wet 36 van 1998) aangedui word. Dit is die hoogste punt wat waarskynlik tydens ’n storm bereik sal word. Die doel van hierdie wet is om ontwikkelaars/grondeienaars of inwoners/huurders/grondgebruikers in kennis te stel van die gevare van oorstromings en dat strukture nie onder die vloedlyn opgerig moet word nie. ’n Algemene wanopvatting is ​​dat ’n 100 jaar-vloed waarskynlik net een keer elke 100 jaar sal voorkom. Statisties is daar ’n 63,4%-kans dat een of meer oorstromings in ’n tydperk van 100 jaar kan plaasvind. 8

Help! Wat kan jy doen as ’n vloed dreig?

  • In die geval van ’n vloed moet jy so gou as moontlik na hoër plekke toe beweeg, soos die huis of gebou se dak, of selfs ’n heuwel of koppie.
  • Weeragentskappe sal gewoonlik ’n waarskuwing aan die publiek gee oor verwagte slegte weer.
  • Boere moet hul vee so gou as moontlik na veiligheid bring.
  • As jy nie betyds uit die stad of dorp kan kom nie, moenie stap, fietsry of deur vloedwater ry nie, want jy gaan heel moontlik vasval. 9
  • As jy hulp nodig het, skakel die nooddienste in jou dorp of gebied. Werk altyd saam met die reddingspan, wat bestaan ​​uit mense wat opgelei is om hierdie situasies te hanteer. Probeer kalm bly en luister na enige instruksies.
  • Die hoofreël om ’n vloed te oorleef is om in die teenoorgestelde rigting te vlug. Moenie probeer swem nie.
  • As jy weet dat daar ’n vloed aan die kom is, maak jou uit die voete. Dit kan baie stresvol wees om van jou besittings af weg te loop, maar jou lewe is kosbaarder as jou besittings.
  • Vloedwater is ook baie gevaarlik vir mense se gesondheid, aangesien dit allerlei rommel, skadelike mikroörganismes, rou rioolafval en selfs onbekende skerp voorwerpe onder die oppervlak kan bevat. Bly liefs weg van dié water. 10

Wat? Vloed in die woestyn?

Oorstromings is ’n dodelike weerbedreiging vir mense, en dit neem net ’n klein hoeveelheid water om ’n vloed ​​op ’n droë plek te veroorsaak. Een van die interessantste vloedfeite wat in die geskiedenis opgeteken is, is die oorstroming van die droogste woestyn ter wêreld.

In Maart 2019 het die Atacama-woestyn in Chili oorstromings ervaar weens sporadiese reënval, wat ses mense dood gelaat het. Woestynsand absorbeer nie maklik water nie, en sommige van hierdie plekke kry net ’n paar millimeter reën oor verskeie jare. Soms kom unieke weergebeure terselfdertyd voor, wat groot oorstromings kan veroorsaak. 11

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Verduideliking van vloede

Vloede 101

Hoekom gebeur vloede?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024