Vinnige feite

  • Die meeste smaakknoppies is bo-op die tong geleë, maar ’n mens kry ook smaakknoppies onder die tong en oral in die mond.
  • Lakmoes is ’n aanwyser wat ons gebruik om vir sure, basisse en neutrale stowwe te toets.
  • Sekere stowwe verander van kleur wanneer ’n suur of ’n basis daarby gevoeg word. Die kleurverandering is ’n aanduiding dat dit met ’n suur of basis gereageer het. Dit word suurbasis-indikators of -aanwysers genoem.
  • Basisse, soos koeksoda, word algemeen in resepte gebruik om te help met die bakproses (dit veroorsaak dat ’n koek in die oond rys).
Foto: iStock

Het jy al ooit gewonder waarom alles wat ons eet en drink verskillend proe of smaak? Van suikersoet tot asynsuur. Dit het alles met ons tong te doen!

Die tong is mens en dier se smaakorgaan. Ons kan kos of drinkgoed proe omdat die stowwe daarin met die smaakknoppies op ons tong reageer. 1 Smaakknoppies (dit word ook smaakbekertjies genoem) is klein struktuurtjies wat die sensoriese inligting oor smaak ontvang. Hierdie inligting word na die brein gestuur waar dit geïnterpreteer (vertolk of verwerk) word en jou brein dan vir jou sê wat die smaak is wat jy proe.

Die meeste smaakknoppies is bo-op die tong geleë, maar ’n mens kry ook smaakknoppies onder die tong en oral in die mond. Daar is verskillende smaakknoppies vir verskillende smake – sout, soet, suur en bitter. Kyk gerus na die skets oor waar die verskillende smake op ons tong “waargeneem” word.

Benewens soet, suur, sout en bitter, het wetenskaplikes smake soos umami, pikantheid en metaalagtig ook as basiese smake geklassifiseer. Hierdie smake kan nie geskep word deur die vier basiese smake te kombineer nie. Umami is ’n kruierige, vleiserige smaak; pikantheid sal ’n mens met die smaak van peper of brandrissies verbind; en die smaak van byvoorbeeld bloed is metaalagtig.

Hoekom is smaak so belangrik vir die mens en selfs vir diere? Een voorbeeld is dat heelwat bitter stowwe giftig is. Wanneer jy aan iets proe en dit proe onaangenaam en bitter, sal jy waarskynlik dadelik ophou om dit te eet. Die smaaksintuig help diere byvoorbeeld om ryp vrugte, wat baie voedsamer is as groen vrugte, te kan uitkies. ’n Ryp appel smaak soet, ’n groen appel proe suur en ’n oorryp appel proe bitter, so die dier sal die ander vrugte los en ’n ryp een kies.

Net soos ons van kos hou wat lekker smaak en dit spesifiek uitsoek, is ons liggame geprogrammeer om kos met bitter en suur smake te vermy. Dit help om ons teen gifstowwe, wat dikwels ’n bitter smaak het, te beskerm. Bitter is ook die basiese smaak waarvoor ons tonge die sensitiefste is. Kos wat sleg geword het, proe dikwels suur en kan ook ’n slegte reuk hê. Ons instink sal wees om dit te vermy, wat ons sal beskerm teen siektes wat veroorsaak word deur die inname van die organismes wat die kos laat bederf het. 2 Ons smaaksintuig werk ook saam met ons reuksintuig en help ons om te onderskei tussen wat eetbaar is en wat nie.

Smaak kan ook gebruik word om te onderskei tussen sure en basisse, maar dit is nie ’n veilige manier om dié soort toets te doen nie, want sommige huishoudelike middels is giftig en sommige stowwe, soos sure, kan jou brand. Daarom gebruik ons eerder ’n toets soos die lakmoestoets om te bepaal of ’n stof ’n suur, basis of neutraal is. 3

Eienskappe van sure, basisse en neutrale stowwe

Sure

Sure het ’n kenmerkende suur smaak en voel grof as jy daaraan vat. Sure in die kos wat ons eet, is nie gevaarlik nie. Sommige is selfs noodsaaklik vir ons gesondheid en welstand. Een só ’n suur is askorbiensuur, of vitamien C. Vitamien C help om ons immuunstelsel gesond te hou, wat siektes afweer. 4

Nie alle sure is veilig om te proe nie. Sommige sure is baie gevaarlik en moet baie versigtig hanteer word. Hierdie sure is korrosief (kan stowwe wegvreet) en word ook ’n bytstof genoem. Dit kan ernstige brandwonde op jou vel veroorsaak.

Wetenskaplikes dra altyd beskermende klere wanneer hulle hierdie sure hanteer. Dit sal baie gevaarlik wees om daaraan te proe. Hierdie sure word meestal in laboratoriums en sekere industriële prosesse gevind, en word laboratoriumsure genoem.

Sure wat ons in kos vind, word natuurlike sure genoem. Baie van hierdie sure word in die kombuis gevind en word daarom huishoudelike sure genoem. Een bekende huishoudelike suur is asynsuur. Asyn is ’n mengsel wat bestaan uit ’n klein hoeveelheid asynsuur opgelos in water.

Alle sure is wateroplosbaar en het die vermoë om basisse te neutraliseer.

Basisse

Basisse het ’n kenmerkende bitter smaak en voel glad as jy daaraan vat.

Soos met sure, is daar sommige basisse wat baie gevaarlik is. Dieselfde gevaarsimbool wat gebruik word om mense teen gevaarlike sure te waarsku, word ook vir hierdie basisse gebruik. Sterk basisse reageer korrosief met ander materiale en kan jou vel brand. Hulle moet versigtig hanteer word en altyd slegs wanneer beskermende klere, soos laboratoriumjasse, handskoene en veiligheidsbrille, gedra word. Basisse, soos koeksoda, word algemeen in resepte gebruik om te help met die bakproses (dit veroorsaak dat ’n koek in die oond rys). Ander basisse is matig genoeg om as skoonmaakstowwe in en om die huis gebruik te word. Dit beteken egter nie dat dit heeltemal skadeloos is nie. Dit beteken net dat dit met ander stowwe gemeng is om dit minder korrosief te maak.

Sommige basisse is wateroplosbaar en word alkali’s genoem. Basisse het die vermoë om sure te neutraliseer. Basisse en sure het chemiese eienskappe wat die teenoorgestelde van mekaar is. Ons kan aan basisse dink as die chemiese teenoorgestelde van sure.

Kennis oor sure en basisse kan nuttig te pas kom in die alledaagse lewe. Wanneer ’n by jou steek, word die brandgevoel veroorsaak deur die by se gif, wat ’n suur is. ’n Pasta van koeksoda, wat ’n basis is, kan help om die suur van die gif te neutraliseer en op dié manier die brandgevoel minder te maak.

Neutrale stowwe

Ons het geleer dat wanneer ’n suur en ’n basis gemeng word (in die regte hoeveelhede), hulle mekaar sal neutraliseer. Dit beteken dat hulle saam in iets verander wat nie ’n suur of ’n basis is nie. Die suur en die basis sal dus albei hul kenmerkende eienskappe verloor. Die nuwe stof wat vanuit hierdie twee ontstaan, noem ons ’n neutrale stof. Neutrale stowwe het nóg die eienskappe van sure, nóg die eienskappe van basisse.

Sommige neutrale stowwe word gevorm wanneer ’n suur en ’n basis gemeng word en ’n neutralisasiereaksie plaasvind. Ander stowwe is uit die staanspoor neutraal. Hulle is dus nie die produk van ’n neutralisasiereaksie nie. Die neutrale stowwe wat die bekendste is, is water, tafelsout, ’n suikeroplossing en kookolie.

Wanneer jy ’n bietjie koeksoda drink, kan dit help om die suur in die maag te neutraliseer. Onthou dat jy aan geen sure of basisse mag vat, ruik of proe mits ’n volwassene vir jou sê dat dit veilig is nie!

Hoe toets ons vir sure, basisse en neutrale stowwe?

Sekere stowwe verander van kleur wanneer ’n suur of ’n basis daarby gevoeg word. Die kleurverandering is ’n aanduiding dat dit met ’n suur of basis gereageer het. Dit word suurbasis-indikators of -aanwysers genoem.

Ons gebruik suurbasis-indikators om aan te dui of ’n stof ’n suur of basis is. Dit is spesiale chemiese stowwe wat van kleur kan verander wanneer hulle met sure of basisse in aanraking kom. Die meeste suurbasis-indikators word van plantekstrakte gemaak. Ander voorbeelde van suurbasis-indikators is rooikoolwater en rooibostee.

Die bekendste suurbasis-indikator is ’n stof wat lakmoes genoem word. Lakmoesoplossing word gewoonlik in papier ingeweek, waarna die papier gedroog en in stroke, wat ons lakmoespapier noem, gesny word. Lakmoespapier is beskikbaar in twee kleure, naamlik blou en rooi. ’n Lakmoes-indikator kan slegs aandui of ’n stof ’n suur, basis of neutraal is. Ander indikators, soos universele indikator, dui ook aan hoe sterk die suur of basis is. Sommige indikators toets oor ’n sekere spektrum, byvoorbeeld slegs sure of basisse. 5

Wat is die pH-skaal?

Die pH-skaal (pH staan vir “power of Hydrogen”) dui aan of ’n stof ’n suur, basis of neutraal is. Dit dui ook aan hoe sterk die suur of basis is. Hoe kleiner die getal onder 7, hoe sterker is die suur. Hoe groter die getal bo 7, hoe sterker is die basis.

Die kleure van die pH-skaal is dikwels verteenwoordigend van die kleure wat universele indikator gebruik. 6

Hoe werk die lakmoestoets?

Lakmoes is ’n aanwyser wat ons gebruik om vir sure, basisse en neutrale stowwe te toets. Ten einde ’n akkurate bevinding te kan maak, moet ons twee verskillende kleure lakmoespapier gebruik.

Kom ons kyk wat gebeur met die kleur van lakmoes wanneer dit met sure, basisse en neutrale stowwe in aanraking kom:

Soort stof Rooi lakmoespapier Blou lakmoespapier
Suur Bly rooi Word rooi
Neutrale stof Bly rooi Bly blou
Basis Word blou Bly blou
  • By sure is altwee kleure lakmoespapier rooi. Rooi lakmoespapier bly rooi, en blou lakmoespapier se kleur verander na rooi.
  • By basisse is altwee kleure lakmoespapier blou. Rooi lakmoespapier se kleur verander na blou, en blou lakmoespapier bly blou.
  • By neutrale stowwe bly die rooi lakmoespapier rooi, en die blou lakmoespapier bly blou.

Kyk na dié tabel om te sien hoe bekende stowwe in die lakmoestoets reageer:

Vloeistof Kleur van blou lakmoes Kleur van rooi lakmoes Gevolgtrekking
Koffie Rooi Rooi Suur
Rooibostee Rooi Rooi Suur
Water Blou Rooi Neutraal
Gaskoeldrank Rooi Rooi Suur
Asyn Rooi Rooi Suur
Suurlemoensap Rooi Rooi Suur
Sjampoe Blou Rooi Basis
Skottelgoedseep* Rooi Blou Suur
Koeksoda Blou Blou Basis
Suikerwater Blou Rooi Neutraal
Vloeibare handeseep Blou Rooi Neutraal
Aspirien Rooi Rooi Suur
Waspoeier Blou Blou Basis

*Skottelgoedseep wat suurlemoensap bevat, sal ook as ’n suur toets.

Woordbank

indikator Stof van gebruik word om deur kleurverandering die neutraliteitspunt van sure en alkalië aan te dui.
korrosief
Verwering deur roes/water/wind/gas of ander stowwe.
neutraliseer
Deur die toevoeging van ‘n basis die suurgehalte van ‘n oplossing heeltemal verwyder.
smaak Gewaarwording wanneer ‘n mens iets proe.
spektrum Aaneengeskakelde reeks; totaal van samehangende en opeenvolgende dele van ‘n saak.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk dié video’s om nog meer te leer

Sure, basisse en soute

Sure en basisse

Rooi en blou lakmoestoets

Grafika: Jacques du PlessisFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 November 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024