Vinnige feite

  • ’n Skildery vertel ’n storie van die skilder se ervaring en belewenis wat gelei het tot dié spesifieke skepping.
  • ’n Foto vertel ’n storie van ’n gebeurtenis of toneel wat die fotograaf vasgevang het sodat dit later ’n herinnering kan oproep.
  • Musiek kan verskillende stories oordra deurdat dit ’n verhaal vertel wat deur musiek ondersteun word. In ’n rolprent of verhoogstuk help instrumentele musiek (sonder woorde) om die storielyn te versterk of spanning op te bou waar ’n toneel ’n hoogtepunt moet bereik.
  • Rolprente en dokumentêre programme vertel menige stories oor mense, diere of gebeure – sommige daarvan is fiksie en ander niefiksie.
  • Rolprente is ’n vorm van storievertelling wat deur die kombinasie van ’n klomp verskillende elemente soos die mens se stem, musiek en visuele beelde oorgedra word.
Foto: iStock

Wys my ’n mens wat nie van ’n lekker storie hou nie!

Die lewe is deurweef met soveel verskillende stories wat elk handel oor ’n sekere gebeurtenis, fase, mislukking, oorwinning of ervaring. Elke liewe mens, jonk of oud, het ’n lewensverhaal – ’n storie om te vertel. Elke dag wat tot ons lewe toegevoeg word, is ’n geleentheid om verder aan hierdie storie “te skryf” en word ons storie ingekleur met nog elemente, nuwe karakters, ander wendinge, hoogtepunte en laagtepunte.

Wat is ’n storie?

’n Storie is ’n verhaal of ’n vertelling. 1 Die vertelling kan handel oor ware gebeure en mense, denkbeeldige gebeure en mense, en kan in geskrewe of gesproke vorm voorkom. 2

Behalwe vir geskrewe of gesproke stories, kom stories in vele ander vorms ook voor.

Byvoorbeeld:

  • ’n Skildery vertel ’n storie van die skilder se ervaring en belewenis wat gelei het tot dié spesifieke skepping.
  • ’n Foto vertel ’n storie van ’n gebeurtenis of toneel wat die fotograaf vasgevang het sodat dit later ’n herinnering kan oproep.
  • Musiek kan verskillende stories oordra deurdat dit ’n verhaal vertel wat deur musiek ondersteun word. In ’n rolprent of verhoogstuk help instrumentele musiek (sonder woorde) om die storielyn te versterk of spanning op te bou waar ’n toneel ’n hoogtepunt moet bereik.
  • Rolprente en dokumentêre programme vertel menige stories oor mense, diere of gebeure – sommige daarvan is fiksie en ander niefiksie.
  • Rolprente is ’n vorm van storievertelling wat deur die kombinasie van ’n klomp verskillende elemente soos die mens se stem, musiek en visuele beelde oorgedra word. 3

Storievertelling

Storievertelling word as ’n kuns gesien. Dit is vroeër jare in die tradisionele Afrika-kultuur gebruik as vermaak, maar is veral ook gesien as ’n metode wat deur ouer mense gebruik is om kinders te onderrig in hoe hulle dinge moet doen en die lewe moet aanpak. 2

Storievertelling het nog altyd, selfs vanaf antieke tye, ’n baie groot rol gespeel in die mens se kultuur, en stories is reeds lank voordat dit in boeke opgeskryf is, oorvertel. Vir duisende jare al word die mens se stem nog steeds ingespan om ’n volk se geskiedenis, gebruike, waardes en tradisies van die een geslag na die ander oor te dra.

Die effektiwiteit van storievertelling lê daarin dat dit onderrig en iets daaruit geleer word, terwyl dit terselfdertyd vermaaklik is – mits dit met goeie storievertellingstegnieke oorgedra word. 3

Die storieverteller kan deur die manier hoe hy of sy die storie oorvertel, die gehoor boei en hul belangstelling prikkel. Selfs al is dit ’n interessante storie met ’n boeiende storielyn of snaakse staaltjies, kan ’n gehoor se aandag verlore raak indien dit op ’n oninteressante en/of vervelige manier oorgedra word.

Daar is ’n paar riglyne wat gevolg kan word deur die verteller, sodat die inhoud van die verhaal lewe kry en die gehoor se aandag behoue bly.

Storievertellingstegnieke

Entoesiasme en energie

Wanneer ’n storieverteller die storie oordra, kan die gehoor sien en ervaar of die verteller passievol en opgewonde oor die verhaal is. Wanneer dít gebeur, kan die gehoor daardie entoesiasme en energie in die vertelling aanvoel.

Entoesiasme beteken nie om luidrugtig te praat of woes te beduie nie, maar is eerder ’n natuurlike opgewondenheid by die verteller en maak hy gebruik van ’n spesifieke tipe kommunikasie. 3

Nieverbale kommunikasie

Nieverbale kommunikasie wat, onder meer, gesigsuitdrukkings en handgebare insluit, speel ’n groot rol in die oordrag van ’n storie en kan help om die nodige energie aan ’n vertelling te gee.

Suksesvolle storievertellers kry dit reg om die luisteraar saam te neem op ’n reis na ’n ander wêreld. Die ander wêreld, met sy eie karakters, moet só kleurvol en realisties oorgedra word, dat die luisteraars moet voel asof hulle deel van hierdie fantasiewêreld is. Nieverbale kommunikasie speel ’n groot rol hierin deurdat die stem, gesigsuitdrukkings, gebare en beweging help om die storie realisties te laat voorkom.

Hoewel dit storievertelling is wat plaasvind, word baie elemente van die storie visueel deur die luisteraar waargeneem. Die elemente wat deel vorm van die nieverbale kommunikasie in storievertelling, dra tot 80% by tot die hele vertelling. 4

Stem

Die verteller kan sy stem varieer in toonhoogte (hoog of laag) en volume (hard of sag) om verskillende karakters in die storie uit te beeld. Die verskillende tempo’s en ritme van die verteller se stem, help om variasie tussen die karakters te skep. Byvoorbeeld: As die ouma aan die woord is, praat die verteller stadig en met ’n moeër/dieper stem in vergelyking met ’n jong dogtertjie se vinnige, opgewonde en hoër stem.

Deur gebruik te maak van kort stiltes tussendeur die dialoog kan dit ’n uitstekende effek hê om afwagting en spanning in ’n verhaal te skep. Verder verskil dialekte en uitspraak in verskillende streke – die verteller kan deur middel van stemtoon en uitspraak die streekgebonde karakters naboots wat die storie geloofwaardig maak.

’n Fluistering is nog ’n tegniek wat die gehoor se aandag op ’n ander manier kan vasvang. 3

Gesigsuitdrukking

Die gebruik van gesigsuitdrukkings is ’n kragtige hulpmiddel om lewe in ’n storie te blaas. Gesigsuitdrukkings help om gevoel en emosie oor te dra deurdat dit die woorde beklemtoon en die luisteraars ’n idee kan gee wat hulle in die storie te wagte kan wees. Dit help ook om die uitbeelding van karakters meer lewensgetrou en herkenbaar te maak deur byvoorbeeld te frons wanneer ’n kwaai karakter aan die woord is of vriendelik te glimlag wanneer dit ’n gawe karakter is wat die held of heldin te hulp snel. 3

Gebare, beweging en liggaamshouding

’n Verteller se gebare, beweging en lyftaal loop hand aan hand met die (storie se) taal, beelde en aksies. Dit word soos met ander nieverbale kommunikasie gebruik om die storie te ondersteun, maar veral ook om sekere elemente te beklemtoon en uit te lig – ook waar woorde alleen nie die stelling kan maak of gebeure kan oordra nie.

Wanneer ’n karakter uitgebeeld word, kan ’n ouer persoon uitgebeeld word deur byvoorbeeld ’n bietjie geboë te staan, terwyl ’n ballerina, model of deftige dame deur ’n mooi, regop houding uitgebeeld word.

Wanneer die verteller met gevoude arms staan terwyl hy die storie aan die gehoor vertel, kan dit lyk of hy ’n geslote (ontoeganklike) houding het. Arms wat ontspanne langs die verteller se liggaam beweeg, skep ’n beeld van toeganklikheid.

Die manier hoe die verteller/spreker sy liggaam posisioneer, is ook belangrik deurdat hy goed sigbaar moet wees sodat die gehoor die hele prentjie kan inneem – die woorde, saam met die nieverbale kommunikasie. Deur nader aan die gehoor te beweeg, sal dit die gehoor se aandag vasvang tydens dele van die storie waarop die verteller wil klemlê. En deur sag te praat, kan dit bydra tot ’n sekere atmosfeer wat die verteller wil skep. 3

Stories het struktuur

Dit is belangrik dat ’n storie struktuur moet hê sodat die vertelling sinvol oorgedra word met gebeure wat in die regte volgorde vertel word. ’n Storie bestaan uit ’n inleiding, middel en slot.

Die inleiding (ook genoem aanhef) van die storie speel ’n groot rol. Soms skep dit ’n duidelike prentjie en die luisteraars weet min of meer wat hulle te wagte kan wees deur die verloop van die verhaal. Ander inleidings kan raaiselagtig of geheimsinnig wees en die gehoor wonder wat gaan gebeur. Hierdie tipe inleiding is interessanter en die gehoor word onmiddellik ingetrek in die verhaal.

Die middel bevat die meeste gebeure van die storielyn en bevat feite, konflik, spanning humor, en so meer.

Die slot (einde) vat die gebeure saam en lei tot die oplossing of uiteinde van die verhaal en is die antwoord op vrae soos: Hoe het die krisis van die verhaal tot ’n oplossing gekom? Wat het met die held gebeur? Wat gebeur volgende?

Die groot sukses van ’n goeie storie lê daarin dat die luisteraar se aandag behoue bly tot by die heel laaste woord van die verhaal. Om ’n geheimsinnigheid in die storielyn eers teen die einde te ontrafel of ’n verrassingselement in die laaste deel van die verhaal in te gooi, is een van die beste tegnieke om ’n gehoor enduit te boei. 5

Vereenselwiging, emosie en humor

Wanneer ’n luisteraar hom kan vereenselwig met ’n storie, met ander woorde daarmee kan identifiseer en voel dat hy met een van die karakters iets in gemeen het of dalk voel die gebeure in die storie is ’n weerkaatsing van sy eie lewe, word die storie vir die luisteraar ’n persoonlike ervaring.

’n Persoonlike aanslag – om elemente by die storie in te sluit waarmee die gehoor, ten spyte van hul verskillende agtergronde en ervarings, kan voel dat hulle deel is van die storie – is een van die tegnieke om ’n luisteraar se aandag te behou. Die emosie wat by die luisteraar ontlok word (soos hartseer, blydskap, teleurstelling), sal bydra tot die mate waartoe die luisteraar hom/haar kan identifiseer met die storie.

Dit is ook belangrik om humor in die storie in te bou – op die ou end laat humor die gehoor ontspan en is een van die doelwitte wat ’n goeie storieverteller wil bereik: om mense te vermaak en te laat ontspan. 6

Probeer weer en nog ’n keer!

Om ’n storie met die regte handgebare en gesigsuitdrukkings, natuurlike ritme, gepaste toonhoogte, goeie gebruik van ruimte en perfekte stemtoon te gebruik – en dit alles boonop voor ’n lewendige gehoor wat elke woord en beweging tot in die fynste detail raaksien – kan ’n vreesaanjaende gedagte wees! Dan moet jy boonop nog jou woorde onthou en die storie se struktuur reg toepas. Veral vir diegene wat minder spontaan van aard is, wat nie graag voor mense praat nie, kan die gedagte aan storievertelling ’n nagmerrie wees.

Die toepassing van die regte storievertellingstegnieke kan egter enige iemand bemagtig om ’n goeie storieverteller te wees. Die belangrike ding hier, is om te oefen, weer te oefen en nog ’n maal te oefen! Hoe gemakliker en meer vertroud die storieverteller met die storie en die inhoud daarvan is, hoe gemakliker sal die oordrag daarvan verloop.

Om bekend te wees met die storie, die inhoud en verloop daarvan, help om selfvertroue te kweek wat dit soveel makliker maak om die gehoor in die oë te kyk. Wanneer die woorde en nieverbale kommunikasie wat daarmee saamgaan, goed ingeoefen word, sal die verteller baie meer op sy gemak wees – en kort voor lank ontluik in ’n bobaasstorieverteller sodat die gehoor aan sy lippe hang!

Daarmee saam is dit ’n goeie idee vir die storieverteller om te onthou dat hy die kenner is van sy onderwerp en heel waarskynlik meer as sy gehoor van die onderwerp weet – dit help ook om sy/haar selfvertroue ’n goeie hupstoot te gee. En as daar iewers ’n fout sou insluip? ’n Fout kan reggestel word en is deel van elke storieverteller se leerproses. 5

Nie elke storie sal ’n sukses wees nie. Daar sal dalk kere wees wat jy oor en oor moet begin sodat almal jou woorde en gebare kan verstaan. Aanhouer sal áltyd wen!

Wees kreatief en leef voort met die droom om interessante en spesiale stories te vertel.

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

(Hierdie wenke is gerig op openbare sprekers en debatvoerders, maar enige storieverteller sal ook hierby baatvind).

Wees vol selfvertroue as openbare spreker

4 wenke om jou openbare toesprake te verbeter en hoe om jou gehoor te boei

4 belangrike wenke oor lyftaal

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023