Vinnige feite

  • Gaskoeldrank word gemaak deur koolstofdioksied (koolsuurgas) onder hoë druk in vloeistof op te los en is ’n voorbeeld van ’n mengsel van vloeistof, ’n vaste stof én gas.
  • Staal is ’n voorbeeld van ’n vastestofoplossing. 8
Foto: iStock

Het jy al jellie gemaak? Of ’n bruistablet gedrink om jou woema vir die dag te gee? Dan het jy met oplosbare stowwe én oplossings te doen gekry!

Oplosbare stowwe kan in water of ander vloeistowwe oplos. Soos die jellie of die bruistablet. Jy gooi dit by die water, roer dit, en skielik lyk dit of die poeier of tablet verdwyn het. Stowwe wat nie in water kan oplos nie, soos sand, word weer onoplosbare stowwe genoem.

Wanneer die deeltjies van ’n oplosbare stof (soos suiker, sout, koffie, warmsjokolade, kitssop, en so meer) deur die deeltjies van ’n oplosmiddel (soos water) versprei, sê ons dat die oplosbare stof in die oplosmiddel oplos om ’n oplossing te vorm. 1

Oplosbaarheid is dus die vermoë van ’n vaste, vloeibare of gasvormige chemiese stof om in ’n vaste, vloeibare of gasvormige oplosmiddel op te los. Sekere stowwe kan in enige hoeveelheid vloeibare oplosmiddels meng. ’n Voorbeeld hiervan is etanol in water. Hierdie proses word beter beskryf as mengbaar (of die vermoë om met mekaar te kan meng).

Oplosbaarheid hang nie af van grootte nie – selfs die groot deeltjies sal uiteindelik almal oplos, mits die oplossing versadig is en die temperatuur van die oplossing nie verhoog word nie. 2

’n Oplosbare stof is ’n stof wat in ’n oplosmiddel oplos en is die kleinste deel van die oplossing. ’n Oplosmiddel is die grootste deel van die oplossing en is die stof waarin die opgeloste stof oplos. Onoplosbaarheid is die onvermoë om op te los in ’n vaste, vloeibare of gasvormige oplosmiddel (soos sand en olie). 3

Wat is ’n mengsel? ’n Mengsel is twee of meer verskillende materiale wat saam gemeng is. In sommige mengsels is die verskillende materiale duidelik sigbaar ná vermenging. ’n Mengsel van grondbone en rosyne is ’n voorbeeld van só ’n mengsel, wat ’n heterogene mengsel genoem word.  Hoe kan ons die grondbone en rosyne skei? Wel, ons kan eenvoudig die rosyne tussen die grondbone uithaal deur handsortering.  In ander mengsels is die materiale so goed vermeng dat dit lyk asof die een materiaal in die ander “verdwyn” het, byvoorbeeld koekmeel en bakpoeier. Sulke mengsels word homogene mengsels genoem.

Wat is ’n oplossing?

In chemie is ’n oplossing ’n homogene mengsel wat saamgestel word uit twee of meer stowwe. In só ’n mengsel word die oplosbare stof in ’n ander stof opgelos, wat die oplosmiddel genoem word. ’n Mens kan nie met die blote oog die twee verskillende stowwe onderskei nie (dis amper asof dit een geword het).  Die opgeloste stof kan egter weer met ’n geskikte skeidingsmetode uit die oplosmiddel gehaal word, omdat die stowwe nie chemies verbind het nie.

’n Oplossing is versadig indien daar nie meer plek is vir die oplosbare stof nie en dus nie meer sal oplos nie. Wanneer die temperatuur verhit word, sal daar weer plek wees tussen die deeltjies van die oplosmiddel en die oplosbare stof sal verder kan oplos. 4

Het jy geweet?

  • Die tyd wat dit neem vir ’n stof om op te los, word die oplossingstempo, of die tempo van oplossing, genoem.
  • Die tempo waarteen ’n stof oplos, kan deur drie faktore beïnvloed word, naamlik:
    • die temperatuur van die oplossing;
    • of die oplossing geroer (of geskud) word of nie; en
    • die korrelgrootte van die opgeloste stof. 5
  • ’n Oplosbare stof sal oor die algemeen vinniger oplos as die oplosmiddel waarin dit oplos, warm is.
  • ’n Oplosbare stof sal vinniger oplos as die oplossing geroer of geskud word.
  • ’n Oplosbare stof sal vinniger oplos as die grootte van sy korrels klein is.

Sleutelbegrippe

  • ’n Oplossing is ‘n spesiale soort mengsel. Soos alle mengsels bestaan dit uit twee (of meer) stowwe wat vermeng is.
  • ’n Oplossing bestaan uit ’n oplosmiddel (soos water) waarin een of meer oplosbare stowwe opgelos is. 6
  • In ’n oplossing lyk dit asof die opgeloste stof in die water verdwyn het. Dit is omdat die deeltjies van die opgeloste stof en die oplosmiddel baie goed vermeng raak. Die deeltjies van die opgeloste stof beweeg tussen die deeltjies van die oplosmiddel in om ’n eenvormige oplossing te maak.
  • Daar is baie soorte oplossings, maar die bekendstes is mengsels van ’n vaste stof en ’n vloeistof, soos suiker en water.
  • Nie alle stowwe los in water op nie. Die stowwe wat oplos, word oplosbare stowwe genoem; dié wat nie oplos nie, word onoplosbare stowwe genoem.
  • Oplossings kan nie geskei word deur sifting, filtrering, skeiding met die hand, of afsetting (afsaksel) en dekantering (afgieting) nie. Dit is omdat die opgeloste stof se deeltjies tussen dié van die oplosmiddel versprei is. Oplossings kan geskei word deur dit te verhit sodat die oplosmiddel verdamp. Die droë opgeloste stof sal agterbly.
  • Wanneer ons soveel opgeloste stof in die oplosmiddel opgelos het dat geen meer opgeloste stof kan oplos nie, sê ons dat die oplossing versadig is.
  • Alle oplossings is mengsels, maar nie alle mengsels is oplossings nie.  Dink weer aan die jelliepoeier – dis ’n oplossing én ’n mengsel. Wanneer ons koekmeel en bakpoeier meng, is dit ook ’n mengsel, maar nie ’n oplossing nie, omdat dit vaste stowwe is. Mengsels kan kombinasies wees van vloeistowwe, vaste stowwe of gasse. 7

Woordbank

bruistablet Medikasie, dikwels verkouemedisyne of vitamiene, wat in oplosbare tabletvorm is. Wanneer dit by water gevoeg word, maak dit ‘n sisgeluid en/of skuim; opborrel.
filtrering Deur ‘n filter laat gaan; suiwer; deursyg.
oplos Van ‘n vaste stof in ‘n vloeibare stof (laat) verander; met ‘n vloeistof (laat) (ver)meng sodat dit deel word daarvan.
sifting Komvormige bak/voorwerp waarvan die boom vol gaatjies is, gebruik om fyn en growwe bestanddele van mekaar te skei of growwe stowwe uit vloeistowwe te verwyder.
versadig ‘n Oplossing waarin soveel as moontlik van ‘n stof opgelos het.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Eksperiment: oplosbare en onoplosbare stowwe

Oplossings en oplosbaarheid

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Desember 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023