Vinnige feite

  • Die menslike liggaam kan slegs ongeveer 50 milli-ampère (minder as 1% van die elektriese stroom wat deur ʼn ketel gaan) weerstaan voordat ʼn mediese toestand genaamd ventrikulêre fibrillasie (‘n soort lewensgevaarlike hartritmeversteuring wat moontlik tot ‘n hartaanval kan lei) gebeur. Om mense hierteen te beskerm, is alle huise met ʼn aardlekbeskermingseenheid (iets wat onwettige aansluitings nie het nie) toegerus. 9
  • Jy kan onwettige elektrisiteitsaansluitings aanmeld deur Eskom se tolvrynommer (0860 037 566) te skakel, of meld dit by jou naaste polisiekantoor aan. 10
Foto: iStock

ʼn Mens sien baie keer as jy rondry ʼn klomp elektriese kabels wat soos ʼn kraaines om ʼn kragpaal gekoek hang en vandaar na ʼn klomp huise toe strek. ʼn Mens noem dié kabels – wat sommer van ʼn straatlig of elektrisiteitboks na ʼn huis aangelê word – ʼn onwettige elektriese aansluiting. 1 Onwettige aansluitings is in veral informele nedersettings ʼn algemene tendens (verskynsel). 2

Onwettige aansluitings is gewoonlik nie geaard (earthed) nie. Dit lei daartoe dat die elektrisiteit deur ʼn persoon of dier se liggaam gelei kan word, wat meestal tot die dood of ernstige brandwonde lei. Met onwettige aansluitings lê die lewendige drade soms op die grond of dit raak aan ʼn dak, geut of wasgoedlyn (wat alles goeie geleiers van elektrisiteit is), en iemand wat daaraan raak, kan doodgeskok word.

Die elektrisiteit word van ʼn minisubstasie of ʼn paal herlei, en daar word dikwels met die elektrisiteitmeter gepeuter of dit word omseil omdat die elektrisiteitsdief nie vir die krag wil betaal nie. Dié aansluitings is verskriklik gevaarlik! 3

ʼn Elektrisiteitsaansluiting word as onwettig beskou as dit sonder die munisipaliteit se toestemming aan die nasionale kragnetwerk verbind word. Vorms van elektrisiteitsdiefstal sluit in onwettige aansluiting, onwettige elektrifiseringskemas en meterpeutery. 4

Volgens Eskom, Suid-Afrika se nasionale verskaffer van elektrisiteit, veroorsaak onwettige elektriese aansluitings ook dikwels kragonderbrekings wat nie met beurtkrag verband hou nie. Die elektrisiteitsnetwerk word oorlaai omdat meer mense se krag verbind word as wat die spesifieke plek kan dra. Dit is soos om tien proppe by een muurprop te probeer indruk! Eskom sê dat hy elke jaar miljoene rand se inkomste as gevolg van elektrisiteitsdiewe verloor. 4 Die Ekurhuleni-munisipaliteit aan die Oos-Rand in Gauteng sê hy verloor elke jaar meer as R1,2 miljard as gevolg van onwettige elektriese aansluitings. 6

Waarom moet ʼn mens vir elektrisiteit betaal?

ʼn Elektrisiteitsonderneming soos Eskom het geld nodig om steenkool en nuwe kragopwekkers te koop, die mense wat die kragopwekkers onderhou, te betaal, en die nasionale kragnetwerk moet ook in stand gehou word. Dit is waarom ons vir elektrisiteit moet betaal. Elektrisiteit is nie ʼn goedkoop energiebron nie, en daarom maak sommige mense onwettige aansluitings, veral dié wat dit nie kan bekostig nie. In informele nedersettings waar plaaslike munisipaliteite nie hierdie infrastruktuur oprig nie, maak inwoners plan om elektrisiteit in die hande te kry, gewoonlik deur onwettige aansluitings. 7

Die wet sê dat slegs ʼn gekwalifiseerde elektrisiën ʼn gebou aan die hoofvoorsiening van die munisipaliteit kan verbind, wat die hoofkragleiding genoem word. Die hoofkragleiding voorsien elektrisiteit met ʼn energievlak van ongeveer 220 volt, en dit is genoeg om jou dood te maak (skok). Dit beteken dat swak gekoppelde drade (of drade wat verkeerd gekoppel is) iemand regtig kan seermaak, want dit kan kortsluitings veroorsaak, wat die hele huis kan laat afbrand.

Elektrisiëns is opgelei om behoorlike en veilige aansluitings te doen. Daar is egter mense wat dink dat hulle weet hoe om met elektrisiteit te werk en dan sommer drade op hulle eie koppel. Hulle gebruik dikwels kaal draad, sonder isolasie (die rubberlagie om die draad wat keer dat jy skok), wat in bome hang of op die grond lê.

Risiko’s en regulasies

Daar is verskeie risiko’s en regulasies met betrekking tot die gebruik en herverkoop van elektrisiteit. Die vernaamste risiko’s en regulasies is soos volg: 8

  • Die risiko verbonde aan onwettige elektrisiteitsaansluitings is veral groot vir klein kindertjies en diere, en baie word elke jaar deur onwettige aansluitings doodgeskok.
  • Die lê van drade van ʼn kragboks om krag aan ander mense te verskaf (soos van een huis na die bure se huis) of die omseiling van die munisipaliteit se kragborde of beskermende toestelle, is streng verbode.
  • Elektrisiteitsdiefstal is onwettig en kan ʼn kriminele rekord of selfs tronkstraf tot gevolg hê.

Woordbank

elektrisiën Vakkundige (opgeleide persoon) wat elektriese geleidings/toestelle/ens. installeer en herstel.
informele nedersettings Plek waar gewoonlik nie die nodige geriewe is nie, waar ‘n groep mense hulle, gewoonlik sonder toestemming, gevestig het.
kortsluitings Aanraking tussen ‘n positiewe en negatiewe draad waardeur die stroom van die bedoelde baan afwyk.
nasionale kragnetwerk Die stelsel wat elektrisiteit deur die hele land vervoer. Dit begin by die steenkoolkragstasie en eindig by die verbruiker.
onwettig In stryd met die wet; oortreding.

Lees hierdie om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Eskom verloor jaarliks miljarde rand weens onwettige aansluitings

Onwettige aansluitings

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023