Vinnige feite

  • ’n Nasie is dikwels (maar nie altyd nie) ’n groep mense wat dieselfde geskiedenis, gewoontes, kultuur, godsdiens en taal deel.
  • ’n Gevoel van nasionale identiteit beteken dat die inwoners van ’n land voel dat hulle ’n eenheid vorm wat kan saamwerk.
  • Nasionale simbole soos ’n vlag en ’n nasionale volkslied is belangrik om nasiebou te laat gebeur.
Foto: iStock

Die betekenis van die begrip nasiebou kan in verskillende lande verskillend wees omdat die omstandighede en geskiedenis van elke land verskil. In die algemeen beteken nasiebou om ’n land tot stand te bring wat goed funksioneer, veral waar daardie land voorheen nie goed gefunksioneer het nie. Dit kan wees omdat die land byvoorbeeld deur ’n oorlog of burgeroorlog vernietig is of omdat ’n vorige regeringsorde heeltemal verdwyn het. Voorbeelde hiervan is lande soos die Sowjetunie, Irak en Afghanistan. 1

In Suid-Afrika was nasiebou veral belangrik ná 1994 toe bevolkingsgroepe tussen wie daar groot verskille bestaan het, in ’n groep saamgevoeg moes word.

Nasiebou help om ’n gevoel van nasionale identiteit te bou, dit wil sê dat die inwoners van die land voel dat hulle ’n eenheid vorm wat kan saamwerk. 1

Wat is ’n nasie?

Wanneer mens oor nasiebou gesels, moet jy net eers kyk na wat onder die woord nasie verstaan word.

Hoewel daar verskille is in wat verskillende mense presies onder die term ‘nasie’ verstaan, is hierdie een van die definisies: ’n Groep mense wat dieselfde geskiedenis, gewoontes, kultuur, godsdiens en taal deel. 2

In Suid-Afrika (soos in baie ander lande ook) is die nasie natuurlik nie mense wat almal dieselfde geskiedenis, taal, godsdiens en gewoontes deel nie. Daarom is Suid-Afrika een van die lande waar die nasie gevorm moet word deur ander lojaliteite tussen verskillende etniese groepe.

Waarom is nasiebou belangrik?

Dit is vir enige land belangrik om as ’n eenheid te funksioneer. Dit kan net gebeur wanneer al die inwoners van die land bereid is om saam te werk.  Wanneer nasiebou suksesvol gebeur het, help dit die inwoners om as so ’n eenheid saam te werk.

Nasiebou is nie net vir die land self belangrik nie, dit is ook voordelig vir buurlande omdat dit veroorsaak dat toestande in ’n land stabiel is. Stabiliteit is voordelig vir die land self, vir buurlande en selfs ook op internasionale vlak. 1

Nasiebou help ook om ’n land ekonomies op ’n goeie vlak te plaas en dit stel ’n land in staat om homself en sy inwoners te onderhou. 1

Die rol van nasionale simbole in nasiebou

Nasiebou kan bevorder word deur nasionale simbole te skep wat deur die inwoners van ’n land as hul eie aanvaar word. Sulke simbole kan help om ’n groep mense ’n eenheid te laat vorm.

Voorbeelde van sulke nasionale simbole is, onder meer, die volgende:

  • Nasionale vlag
  • Nasionale volkslied
  • ’n Eie nasionale lugdiens
  • Amptelike nasionale tale
  • Nasionale sportspanne wat die hele land verteenwoordig
  • Nasionale helde
  • ’n Nasionale opvoedkundige stelsel
  • ’n Nasionale openbare uitsaaier
  • ’n Nasionale weermag

Daar is ook ’n teorie dat nasiebou ’n sosiale proses is wat vanuit die inwoners van ’n land self moet gebeur en nie van buite af op die inwoners afgedwing kan word nie. Nasiebou is verder iets wat oor ’n baie lang tyd moet gebeur voordat dit suksesvol kan wees. 2 3

Die rol van erfenis in nasiebou

Daar is verskillende soorte erfenis wat ook met nasiebou verband kan hou.

Kultuurerfenis: Simbole, geskiedenis, tradisies en kuns wat deur ’n nasie gedeel word.

Ontasbare erfenis: Intellektuele en kunsskeppings soos literatuur, filosofie, wetenskap, godsdiens, musiek en dans. Hieronder val ook dinge soos gebruike en tradisies.

Tasbare erfenis: Hieronder tel monumente, geboue en argeologiese terreine. Ook natuurverskynsels soos berge en mere en grotte vorm deel van die tasbare erfenis van ’n nasie. 4 Dink maar aan die pragtige Kango-grotte naby Oudtshoorn of die ewe pragtige Sudwala-grotte in Mpumalanga.

Probleme wat met nasiebou ondervind kan word

Nasiebou is nie ’n eenvoudige en maklike proses nie. Dit is veral omdat mens hier te doen het met, onder meer, mense se ingesteldheid en hul gevoel van sentiment oor sake.

Dit kan veral baie moeilik wees in ’n land waar daar groot verskille tussen mense is ten opsigte van godsdiens, asook politieke en etniese verskille. Indien ’n land nooit voorheen goed gefunksioneer het nie, dink sommige mense selfs dat nasiebou glad nie in so ’n land moontlik is nie. 1

In lande wat voorheen kolonies van ander lande was, kan nasiebou ook moeilik wees. Wanneer so ’n land onafhanklik word, gebeur dit dikwels dat verskille wat voorheen bestaan het – soos verskille en stryd tussen verskillende etniese groepe – weer na vore kan kom om probleme te veroorsaak. Dit gebeur veral waar koloniale moondhede  of state lande wat voorheen een was, sommer met nuwe grense verdeel het. Lande wat hier as voorbeeld genoem kan word, is Ethiopië waar die Somali-deel van die bevolking reeds vir jare ’n stryd voer om onafhanklik te wees. 1

Kyk na hierdie skakels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 16 Maart 2024