Vinnige feite

  • By plaaslike verdowing of lokale narkose word slegs ʼn bepaalde liggaamsdeel gevoelloos gemaak deur die tydelike uitskakeling van die gevoelsenuwee: die geleiding van prikkels of impulse deur die senuwee word dus onderbreek.
  • Gebalanseerde narkose is een van die algemeenste tegnieke in moderne anestesie, verskeie variasies is moontlik, en dit word bepaal deur die fisieke toestand van die pasiënt en die vereistes wat deur die operatiewe prosedure wat gaan volg, gestel word.
  • Halotaan – wat soms by ʼn laggassuurstofmengsel gevoeg word – is ʼn veel sterker narkosegas met ʼn doeltreffende pynstillende werking.
Foto: iStock

Narkose is ʼn soort verdowing wat gevoelloosheid veroorsaak; met ander woorde ʼn omkeerbare verlies van sensasie. Narkosemiddels verskil van pynstillers, wat pyn verlig sonder om sensasie uit te skakel. Narkose word gewoonlik toegedien om chirurgie (‘n operasie) te vergemaklik.

Die term anestesie word dikwels as sinoniem vir narkose gebruik, wat van die Griekse woord narké afgelei is, wat “slaap” beteken. Die term algemene narkose dui op ʼn toestand van verdowing, bewusteloosheid en gevoelloosheid vir pyn, waartydens chirurgiese ingryping kan geskied.

Daarteenoor word ʼn toestand van gevoelloosheid vir pynlike prikkels in bepaalde liggaamsdele – sonder dat bewusteloosheid intree – deur die toediening van plaaslike of lokale verdowing teweeggebring. Narkose word dus kunsmatig veroorsaak met ʼn mediese doel. 1

Verskillende soorte narkose

  • Algemene narkose is wanneer jy jou bewussyn volledig verloor en “aan die slaap” is.
  • Plaaslike of lokale verdowing is wanneer net die geaffekteerde deel van die liggaam verdoof word, soos die hand waarop daar geopereer word.

Algemene anestesie of narkose is ʼn proses waardeur pyn gekontroleer word deur ʼn toestand van algemene onbewustheid. Narkose moet egter aan verskeie voorwaardes voldoen: die bewusteloosheid mag nie te diep wees nie; spierverslapping moet voorkom en die persoon moet glad nie enige pyn ervaar nie. 2

Vir algemene narkose word middels met uiteenlopende chemiese en fisieke eienskappe gebruik: edelgasse, alkohol, eter, halogeenhoudende en onversadigde koolwaterstowwe, steroïede en barbiturate. Dit is onwaarskynlik dat die effek van al hierdie stowwe een gemeenskaplike werkingsmeganisme as grondslag het. Dit is wel duidelik dat suiwer fisieke veranderinge ʼn toestand van narkose kan teweegbring, aangesien edelgasse stowwe is wat geen chemiese reaksies kan ondergaan nie.

Algemene narkose moet reeds by geringe doserings op die grootharsings of serebrum, wat die setel van die bewussyn is, inwerk, sodat die bewussyn uitgeskakel kan word. Met groter doserings moet die rugmurg se funksies uitgeskakel word, ten einde die refleksmeganismes van die liggaam tydelik te verlam. Slegs in uiterste gevalle kan die harsingstam – waar die vitale sentra geleë is wat volgehoue bloedsomloop en asemhaling verseker – beïnvloed word. Die verskil tussen die dosering om aan eersgenoemde twee kriteria te voldoen, asook die dosering waar die asemhaling en die bloedsomloop beëindig kan word, word narkosebreedte genoem. Anestetika met ʼn groot narkosebreedte is veiliger as middels met ʼn klein narkosebreedte.

ʼn Toestand waarin daar chirurgies opgetree kan word, moet vinnig bereik word, en die pasiënt moet ná die operasie vinnig sy bewussyn kan herwin. Daar word meestal van ʼn kombinasie van middels gebruik gemaak om so ʼn toestand te bewerkstellig, en hierdie middels word anestetika genoem.

By plaaslike verdowing of lokale narkose word slegs ʼn bepaalde liggaamsdeel gevoelloos gemaak deur die tydelike uitskakeling van die gevoelsenuwee: die geleiding van prikkels of impulse deur die senuwee word dus onderbreek. Plaaslike verdowing word nie net by kleiner of oppervlakkige operasies gebruik nie, maar dit is ook by ernstiger en omvangryker operasies toepaslik en dikwels noodsaaklik omdat nie alle pasiënte vir algemene narkotika ontvanklik is nie.

Gebalanseerde narkose is een van die algemeenste tegnieke in moderne anestesie, verskeie variasies is moontlik, en dit word bepaal deur die fisieke toestand van die pasiënt en die vereistes wat deur die operatiewe prosedure wat gaan volg, gestel word. Gebalanseerde narkose stel die chirurg daartoe in staat om sonder enige tydsbeperking operasies op groot liggaamsdele uit te voer. Die pasiënt kan ook ná die operasie die prosedure glad nie herroep (onthou) nie. Nie alle veranderinge wat tydens ʼn toestand van narkose in die liggaam intree, is nog bekend nie.

Anestetika

Vir doeltreffende narkose moet aan sekere vereistes voldoen word: die pasiënt moet bewusteloos wees; gevoeligheid vir pyn moet opgehef wees en spierverslapping moet ingetree het. Die meeste algemene anestetika het al hierdie effekte tot gevolg, maar die klem val gewoonlik op een van die drie.

Gevolglik sal dit dus nodig wees om byvoorbeeld een bepaalde anestetikum (narkosemiddel) in ʼn hoë dosis toe te dien, ten einde spierverslapping teweeg te bring, terwyl ʼn nog groter dosis nodig sal wees om bewusteloosheid te laat intree. Vir onderhouding van hierdie basisnarkose word ʼn mengsel van moderne narkosegasse gebruik, wat die vroeëre gebruik van eter en chloroform vervang het. Oor die algemeen word ʼn mengsel van laggas (N2O) en suurstof (O2) toegedien, wat na gelang van die behoefte met halotaan aangevul word. Die gasse chlooretiel en siklopropaan word ook aangewend. Naas die basisnarkose word pynstillers – meestal opiate – ook toegedien. 3

Lokale verdowing

By lokale of plaaslike verdowing word ʼn stof gebruik wat die geleiding van prikkels in die gevoelsenuwee tydelik onderbreek. Lokale verdowing word onderverdeel in oppervlakkige verdowing, infiltrerende verdowing en geleidingsverdowing. By oppervlakkige verdowing word die anestetikum aangebring op die huid of slymvlies van die gebied wat gevoelloos gemaak moet word. By infiltrerende verdowing word die anestetikum in ʼn bepaalde gebied op die liggaam ingespuit, van waar die middel deur die weefsels in die betrokke gebied versprei en die fynere vertakkings van die omringende pynsenuwee verdoof. By geleidingsverdowing word die anestetikum met ʼn senuweestam in aanraking gebring. Die betrokke gebied wat deur hierdie senuweestam bedien word, word nou gevoelloos. ʼn Voorbeeld hiervan is waar die anestetikum in die nabye omgewing van die rugmurg toegedien word.

Lumbale anestesie is die algemeenste narkotikum wat só toegedien word. Die toediening hiervan kan tot in die lumbale werwels, een van die grootste en sterkste werwels wat tussen die torakale en sakrale werwels geleë is, geskied. Hierdie metode word aangewend voordat operasies aan die bekken uitgevoer word by pasiënte wat nie ontvanklik vir algemene narkose is nie. In baie lande is dit gebruiklik om lumbale verdowing tydens bevallings (wanneer ‘n ma geboorte skenk of met ‘n keisersnit) toe te pas. Die belangrikste lokale anestetika is novokaïen, lignokaïen en chlooretiel. Novokaïen veroorsaak naas gevoelloosheid ook bloedvatverwyding in die gebied waar dit toegedien word.

Lignokaïen is ʼn kortwerkende middel en is nie geskik as oppervlakkige anestetikum nie. Dit versprei vinnig deur die betrokke gebied en het ʼn langdurige werking. Dit kan vir alle vorme van lokale anestesie gebruik word. Chlooretiel is toepaslik as ʼn narkosegas, maar word ook as ʼn sproeimiddel vir oppervlakverdowing aangewend. Ná toediening word ʼn vinnige konsentrasie daarvan bewerkstellig. Die gevoelloosheid van die betrokke oppervlak is die gevolg van sterk verkoeling wat op die besproeide gebied plaasvind.

Toediening van narkose

ʼn Narkotiseur is ʼn dokter met minstens 13 jaar se opleiding wat in die toedien van narkose spesialiseer. Narkose word toegedien om die pasiënt se gemak tydens ʼn operasie te verseker en om dit pynloos te hou. ʼn Kombinasie van middels word soms gebruik vir bykomende terapeutiese doeleindes, maar dit kan ook die newe-effekte vermeerder.

Narkotika kan op verskeie wyses toegedien word. Die terme neurolepsis en neuroleptanalgesie dui die staat of toestand aan wat volg op die kombinering van ʼn narkotikum (potente analgetikum) en ʼn susmiddel/kalmeermiddel (neuroleptikum, psigotropiese dwelmmiddel).

Die ongevoeligheid vir pyn, amnesie en kalmte wat ná toediening hiervan by die pasiënt intree, is egter nie werklike narkose nie, en aanvullende toedienings is nodig voordat chirurgiese ingryping kan geskied. Wanneer die narkotiese kalmeermiddelkombinasie deur ʼn anestetikum soos distikstofoksied versterk word, word die toestand wat volg neuroleptanestesie genoem. Barbiturate, opiate en spierverslappers word deur middel van ʼn intraveneuse (binneaarse) inspuiting toegedien.

Die narkosegasse word deur ʼn masker – wat oor die pasiënt se neus en mond geplaas word – ingeasem en deur die longe in die bloed opgeneem. Eter en chloroform het die nadeel dat die liggaam eers redelik lank ná toediening van die stowwe ʼn ewewigstoestand bereik. Ná beëindiging van toediening duur dit ʼn lang tyd voordat die middels geheel en al deur die liggaam uitgeskei is. By die gebruik van laggas word ʼn ewewigstoestand in die liggaam gouer bereik, en die gas word ook gouer deur die liggaam uitgewerk. Die vernaamste effek van laggas is dat bewusteloosheid intree.

Die ander vereistes by narkose – naamlik die uitskakeling van pyn en spierverslapping – word deur die toediening van ander middels bewerkstellig. Halotaan – wat soms by ʼn laggassuurstofmengsel gevoeg word – is ʼn veel sterker narkosegas met ʼn doeltreffende pynstillende werking. Wanneer ʼn minder ernstige of kortdurende chirurgiese ingryping nodig is, kan ʼn enkele narkotikum toegedien word, waardeur ʼn kortdurende bedwelming verkry word. Hiervoor kan middels soos eter, halotaan of chlooretiel aangewend word.

Die tegnieke waardeur narkose deur inhalasie (inaseming) toegedien word, stuit in maskerinhalasie, endotrageale toediening (deur die nasale of orale buis) en deur die narkotikum druppelsgewys via ʼn deurdringbare gesigsmasker toe te dien. Narkosegasse word meestal toegedien deur middel van ʼn geslote sisteem, waardeur ingeasemde en uitgeasemde lug deur ʼn stelsel van buise en ventilators gesirkuleer word. Hierdeur kan ʼn gasmengsel saamgestel word, waarin die konsentrasies van die verskillende anestetika volgens behoefte gewysig kan word. Neuroleptanalgetika word intraveneus toegedien, hetsy alleen of gekombineer met inhalasies van distikstofoksied.

Stadia van narkose

Om praktiese redes word narkose in vier stadia van narkosediepte ingedeel. Hierdie narkosestadia kan van korter of langer duur wees, afhangend van die middel wat toegedien word. 4

Tydens die eerste stadium – die analgetiese stadium – is die gevoeligheid vir pyn verminder (analgesie), maar pynprikkels lok nog wel heftige afweerreflekse (vinnige of outomatiese voorkomende reaksie wat nie op bewuste denke berus nie) uit. Die bewussyn is nog gedeeltelik aanwesig: daar kan nog met die pasiënt gepraat word, maar hy of sy kan dikwels later nie herroep wat alles in dié stadium gebeur het nie.

Tydens die tweede stadium  – die eksisteerstadium – het die pasiënt sy bewussyn verloor. Alle spieraktiwiteit is nog aanwesig; oogbewegings is duidelik waarneembaar, die asemhaling is onreëlmatig, en die pupille is verwyd.

Die derde stadium – die toleransiestadium – is daardie stadium waarin chirurgiese ingryping nou moontlik lyk: die asemhaling is rustig; die spiere het verslap en pynreaksies het verdwyn. Hierdie stadium word met sekerheid waargeneem wanneer die ooglede geen meer reaksies toon wanneer daar aan die oogwimpers geraak word nie en die pupille vernou het.

Die vierde stadium is die verlammingstadium. Hiertydens tree asemhalingstilstand (respirasieversaking) in, en die pasiënt sal sterf indien hy nie met behulp van kunsmatige asemhaling tot die derde stadium teruggebring word nie. Tydens die vierde stadium is die pupille verwyd. 5

Induksie en instandhouding van narkose

Lokale verdowingsroom word gewoonlik minstens 30 minute voor die induksie van narkose aan die velarea – waar ʼn naald in die aar ingesteek gaan word – aangewend.

Die toediening van narkose kan binneaars of deur gasinduksie geskied. Dit word gewoonlik deur die narkotiseur se voorkeur bepaal, of deur die riglyne van die hospitaal of mediese instansie. As pasiënte baie siek is, is dit wenslik om ʼn intraveneuse lyn voor die induksie van narkose te plaas.

Dieselfde intraveneuse induksiemiddels wat vir volwassenes gebruik word – soos propofol, tiopentoon en ketamien – word ook vir kinders gebruik, terwyl sevofluraan en halotaan algemeen vir gasinduksies gebruik word. Narkose kan met ʼn vlugtige inhalasiemiddel – soos sevoflaan, desfluraan, isofluraan of halotaan – in stand gehou word, of deur ʼn totale intraveneuse tegniek met propofol of kenamien.

Dieselfde spierverslappers wat vir volwassenes gebruik word, word ook in kinders gebruik, en die omkeer van die spierverslapping geskied ook op soortgelyke wyse. Die opiaat wat die meeste vir kinders gebruik word, is fentaniel, hoewel enige opiaat gebruik kan word, solank daar in ag geneem word dat klein kinders ʼn verhoogde sensitiwiteit vir morfien het. 6

Monitering

Die belangrikste monitor is die narkotiseur, wat ten alle tye in die teater teenwoordig moet wees. Gedurende narkose of chirurgie word die pasiënt nougeset gemonitor en sal hipoventilasie of hipoksie (suurstoftekort in die weefsels) maklik deur hulpventilasie herstel word. In die herstelkamer kan die effekte egter ʼn risiko inhou. Die pasiënt hiperventileer as gevolg van die verlaagde reaksie tot suurstof.

Nadele of moontlike nagevolge van narkose

Narkose kan algemene gevolge insluit, soos ʼn brandpyn waar die narkose deur ʼn naald toegedien is, naarheid, braking, hoofpyn of duiseligheid. Hierdie reaksies is van korte duur en is nie rede tot kommer nie.

Ander komplikasies sluit in allergiese reaksies en – in uiterste gevalle – selfs die dood. Hoewel narkose baie selfde tot die dood lei, kan dit gebeur en is dit meestal omdat die hart en brein nie genoeg suurstof ontvang nie.

Woordbank

afweerreflekse Vinnige of outomatiese voorkomende reaksie wat nie op bewuste denke berus nie.
grootharsings Die grootste van die twee gedeeltes van die harsings, wat voor en bokant die kleinharsings geleë is en die setel van die bewussyn is.
hiperventileer Vind plaas wanneer die asemhaling verdiep en versnel sodat meer lug as wat nodig is, in- of uitgeasem word. Dit kan tot duiseligheid of verwardheid lei.
lumbale werwels Een van die grootste en sterkste werwels wat tussen die torakale en sakrale werwels geleë is.
narkotiseur
Dokter wat narkose toedien tydens ‘n operasie; anestetikus.

Lees hierdie om meer oor narkose te leer

Kyk hierdie om meer te wete te kom

Hoekom word narkose gebruik?

Hoe narkose die liggaam en brein beïnvloed

Wat om te verwag as jy narkose moet ontvang

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 September 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023