Vinnige feite

  • In ’n mimiekvertoning word ’n storie vertel deur slegs die liggaam as instrument te gebruik.
  • Met die regte bewegings en gebare kan ʼn karakter sy nuuskierigheid oor die inhoud van ʼn boks uitbeeld.
  • Die kunstenaar kan ook uitbeeld dat hy ʼn swaar tas dra, of by ʼn tafel sit en eet.
  • Deur die bene op ’n sekere manier te gebruik, kan die karakter lyk of hy gemaklik op ʼn leunstoel sit, en deur sy arms wyd oop te maak, kan dit lyk of hy koerant lees.
  • Die geheim is om dit so geloofwaardig as moontlik te doen en dit is hierin wat die kuns van mimiek lê.
  • Ballet is ook ʼn vorm van mimiek deurdat ʼn storie vertel word deur beweging en dans.
Foto: iStock

Mimiek vorm deel van drama en is ʼn gerekende kunsvorm in eie reg. Volgens die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is mimiek die kuns om met gebare (pleks van woorde) dinge na te boots of ʼn boodskap oor te dra. 1

Elke beweging word met oorgawe en presisie (noukeurigheid) gedoen om dít wat die kunstenaar wil oordra, so duidelik as moontlik te maak. ʼn Mimiekvertoning het gewoonlik ʼn humoristiese ondertoon en die bewegings van die akteurs laat die gehoor skater van die lag.

In mimiek is die fokus van die uitvoering op die bewegings van die kunstenaar en minder op rekwisiete (ekstra bybehore). ʼn Kunstenaar kan byvoorbeeld deur die regte liggaamstaal en beweging aandui dat hy besig is om ʼn koppie tee te drink deur een hand oop en plat te hou soos ’n piering en met die ander hand die denkbeeldige koppie op te tel.

Wanneer ʼn beweging gemaak word om iets spesifieks voor te stel, moet die res van die liggaam nie onnodige bewegings maak om die fokus te verskuif nie.

Storievertelling in ʼn mimiekvertoning

In ’n mimiekvertoning word ’n storie vertel deur slegs die liggaam as instrument te gebruik. Met die regte bewegings en gebare kan ʼn karakter sy nuuskierigheid oor die inhoud van ʼn boks uitbeeld. Die kunstenaar kan ook uitbeeld dat hy ʼn swaar tas dra, of by ʼn tafel sit en eet. Deur die bene op ’n sekere manier te gebruik, kan die karakter lyk of hy gemaklik op ʼn leunstoel sit, en deur sy arms wyd oop te maak kan dit lyk of hy koerant lees. Die geheim is om dit so geloofwaardig as moontlik te doen en dit is ook hierin wat die kuns van mimiek lê.

Ballet is ook ʼn vorm van mimiek deurdat ʼn storie deur beweging of dans vertel word. Dink byvoorbeeld aan bekende balletstukke soos Swan Lake en Sleeping Beauty. 2

Deur die geskiedenis

Mimiek het sy oorsprong in die antieke Griekse tye toe akteurs tonele van die alledaagse lewe uitgebeeld het. Die uitvoerings het toe ook uit geaksentueerde (beklemtoonde) bewegings bestaan, maar hier en daar was spraak en dans ook deel van ʼn uitvoering. Hierdie vorm van vermaak was ook in Japan en Indië gewild en dit was die Japannese Noh-teater wat die Franse mimiek soos ons dit vandag ken, beïnvloed het. 3

Nadat die Romeine die Grieke in oorloë verslaan het, het hulle die Griekse teatertradisies na Italië geneem en dit aangepas en só het die Commedia dell’arte ontstaan – ʼn baie gewilde vorm van teater in Europa van die 16de tot die 18de eeu. Dié vertonings het ingesluit akrobate, oorbeklemtoonde gebare om die komedie (humor) in ’n teks uit te beeld en karakters wat maklik verstaanbaar was vir die gehoor. In 1576 het ʼn groep straatkunstenaars hierdie kunsvorm van Italië na Frankryk geneem en hier was dit selfs nog meer gewild.

Die Franse akteur Jean Gaspard Deburau het met die verhoognaam Pierrot groot vermaak aan gehore verskaf. Sy karakter het los hemde met groot knope gedra en sy gesig was spierwit geverf. Gehore het geskaterlag sonder dat hy ʼn woord geuiter het! Ná sy dood het die akteur Paul Legrand as die nuwe Pierrot begin optree. Hy het ʼn meer sentimentele en hartseer element na mimiek gebring en dit is ook Legrand wat die bekende baret (‘n soort hoed of pet) en gestreepte hemp sinoniem gemaak het met hoe ons mimiek vandag ken.

In die 20ste eeu het Marcel Marceau internasionale erkenning gekry vir sy karakter in die rolprent Bip the Clown, wat handel oor die Tweede Wêreldoorlog.

Nog ʼn akteur wie se naam vandag nog onthou word, is Charlie Chaplin. Hy het bekendheid verwerf in die tyd van stilprente, voordat klank bygevoeg kon word.

Mimiek vandag

Dit is vandag steeds ʼn algemene verskynsel om ʼn mimiekkunstenaar te sien, gewoonlik op straat waar ʼn skare mense saamdrom en geld in ’n hoed gooi as “betaling” vir die vertoning. Sam Wills, beter bekend as Tap Face, het meer onlangs op America’s Got Talent gehore opnuut met dié kunsvorm aan die lag gehad.

Hoe trek ʼn mimiekkunstenaar aan?

Mimiekkunstenaars trek baie eenvoudig aan. Hulle is meestal in swart geklee met ʼn witgeverfde gesig. Kyk gerus na dié foto’s hier.

Woordbank

akrobate
Iemand wat allerhande behendige toertjies met sy/haar liggaam uithaal.
baret Ronde, plat mus van sagte materiaal.
humoristiese Die lagwekkende; komieklikheid; skerts; snaaks/grappig.
teater Gebou waarin toneelstukken/operas/ens. opgevoer word.
geuiter Te kenne gee; laat hoor; uitspreek.

Lees hierdie om meer oor mimiek te leer

Kyk hierdie om meer oor mimiek te leer

Mumiek is ‘n besonderse vorm van uitvoerende kuns

Charlie Chaplin het mense in tyd stilprentera laat skaterlag

Mimiek dra baie emosies en temas oor

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Desember 2021 | Bygewerk op 15 Maart 2024