Vinnige feite

  • ʼn Lignanosekonde – die afstand wat lig binne ʼn miljardste (1 000 miljoen) van ʼn sekonde kan beweeg – is ongeveer 30 cm. Radar gebruik lignanosekondes om te meet hoe ver iets soos ʼn vliegtuig is.
  • Die Melkweg is slegs een uit ʼn totaal van ongeveer 100 tot 200 miljard sterrestelsels wat volgens sterrekundiges in die heelal is. Dit is meer as tien keer die totale aantal mense op aarde.
  • Sterrestelsels kom in verskillende vorms en groottes voor. Die Melkweg is ʼn gemiddelde grootte spiraalstelsel: dit strek oor 100 000 ligjare en bevat ongeveer 200 miljard sterre.
  • Behalwe vir spiraalstelsels, kry ons ook elliptiese, onreëlmatige en lensvormige sterrestelsels. Laasgenoemde sit gewoonlik tussen elliptiese en spiraalstelsels. Sterrekundiges reken dat ongeveer tweederdes van sterrestelsels spiraalvormig is.
  • Hoe lank neem dit om ʼn ligjaar af te lê? Hier is ʼn voorbeeld: Die volgende naaste ster aan die son is Proxima Centauri, en dit is net meer as vier ligjare weg. As ʼn ruimtetuig 60 000 km per uur kon reis, sal dit steeds 80 000 jaar neem om die ster te bereik. 8
Foto: iStock

Ons sonnestelsel is ʼn enorme, uitgestrekte plek. Ons naaste buurman – die maan – is sowat 384 400 km ver, en die naaste planeet aan ons – Venus – is ongeveer 42 miljoen km van die aarde af. Die son is 150 miljoen km van die aarde af, en die naaste wat die verste planeet van die aarde af – Pluto – ooit aan die aarde kom, is 4,3 miljard km. 1

Hierdie groot getalle is moeilik en onprakties om te gebruik, en daarom gebruik ons eerder afstandseenhede gebaseer op die spoed van lig. Dit maak die getalle kleiner, meer verteerbaar en makliker om te gebruik. Dit is net soos om meter in plaas van millimeter of sentimeter te gebruik om die getalle kleiner te maak as ʼn mens afstand meet. As jy byvoorbeeld vir ʼn vriend verduidelik hoe ver dit van jou huis tot by die skool is, sou jy sê dit is 7,5 km en nie 750 000 cm nie. 2

Wat van lig? Lig beweeg teen ongeveer 1 080 miljoen km/h, oftewel 299 792 458 meter per sekonde. Sterrekundiges gebruik eenhede wat ligjare genoem word om die afstande tussen sterre en sterrestelsels te meet. Een ligjaar is amper 10 biljoen km.

Ligjare, ligure en ligminute meet afstande. As jy die afstand na ʼn ligbron in “ligtyd” meet, kan jy bepaal hoe lank die lig wat uit die bron vrygestel word, neem om jou te bereik. Lig wat een ligjaar van jou af uitgestraal word, neem een jaar om jou oë te bereik. Net so neem die lig wat een liguur weg van ʼn voorwerp is, een uur om jou oë te bereik. 3

Ligminuut en ligsekonde

  • Ligminuut is die afstand wat lig binne een minuut (ongeveer 18 000 000 km per minuut) aflê. Ons son is byvoorbeeld ongeveer agt ligminute van die aarde af.
  • Ligsekonde is die afstand wat lig binne een sekonde aflê (ongeveer 300 000 km per sekonde). Ons maan is byvoorbeeld ongeveer 1¼ ligsekondes van die aarde af.

Afkortings wat vir ligjare en veelvoude ligjare gebruik word, is:

  • “lj” vir een ligjaar;
  • “klj” vir ʼn kiloligjaar (1 000 ligjare);
  • “Mlj” vir ʼn megaligjaar (1 000 000 ligjare); en
  • Glj” vir ʼn gigaligjaar (1 000 000 000 ligjare).

Ver, verder, verste

Soos vroeër genoem, is die son die naaste ster aan ons. Die son se lig neem ongeveer 8,3 minute om ons te bereik. Dit beteken dat ons die son altyd sien soos dit ongeveer 8,3 minute gelede was. Die ster Proxima Centauri (die naaste ster – naas die son – aan ons) is ongeveer 4,3 ligjare weg. Dus, as ons hierdie ster vandag sien, sien ons dit eintlik soos dit 4,3 jaar gelede was. Alpha Centauri, een van die wysers in die Suiderkruis-gesternte, is ʼn drievoudsterstelsel waarvan Proxima Centauri die dofste van die drie is. Al die ander sterre wat ons met ons oë kan sien, is verder, sommige selfs duisende ligjare weg. 4

Sterre kom in groot groepe, wat sterrestelsels genoem word, voor. ʼn Sterrestelsel kan miljoene en selfs miljarde sterre hê. Die naaste groot sterrestelsel aan ons is Andromeda, en dit is 2,5 miljoen ligjare weg. Ons sien dus Andromeda soos dit 2,5 miljoen jaar gelede was.

Die naaste stervormende streek aan ons, Orion Nebula, is 7 861 000 000 000 000 000 myl ver (een myl is 1,6 kilometer), of meer eenvoudig, 1 300 ligjare weg. Die middelpunt van ons sterrestelsel is ongeveer 27 000 ligjare weg. 5

In 2016 het NASA se Hubble-ruimteteleskoop na die verste sterrestelsel wat nog ooit gesien is, genaamd GN-z11, gekyk. Dit is 13,4 miljard ligjare van die aarde af.

Deur die geskiedenis

Die eerste melding van ligjare dateer uit 1838 toe ʼn Duitse wetenskaplike met die naam Friedrich Bessel die afstand na ʼn ster genaamd 61 Cygni gemeet het, en hy het ʼn afstand van 660 000 keer die aarde se wentelbaan gekry. Bessel het opgemerk dat dit ongeveer tien jaar sou duur om daar te kom. In 1851 het die term die eerste keer in Duitsland verskyn, in ʼn sterrekundepublikasie genaamd Lichtjare. 6

Wat is ʼn astronomiese eenheid?

ʼn Astronomiese eenheid (AE) is die gemiddelde afstand tussen die aarde en die son, wat ongeveer 150 miljoen km is. Astronomiese eenhede word gewoonlik gebruik om afstande binne ons sonnestelsel te meet. Die planeet Mercurius is byvoorbeeld ongeveer een derde van ʼn AE van die son af, terwyl die verste planeet, Pluto, ongeveer 40 AE van die son af is (dit is 40 keer so ver van die son af as wat die aarde is). 7

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 November 2021 | Bygewerk op 25 April 2024