Vinnige feite

  • Die naam Kaditshwene beteken ‘Plek van die bobbejane’.
  • Baie van wat ons vandag oor Kaditshwene weet, kom uit Campbell se gedetailleerde verslag van sy besoek in 1820. Hy was ook ʼn kunstenaar en het verskeie sketse in sy joernaal gemaak.
  • Die mense van Kaditshwene het hul huise van klip gebou.
  • Op 31 Oktober 2022 is Erfenisdag ook by Kaditshwene gevier.
  • Het jy geweet? In 2022 is daar in Zeerust ’n musiekblyspel genaamd Kaditshwene The Musical Show opgevoer.
Foto: iStock

’n Mens is geneig om aan die Ystertydperk se mense te dink as effe agterlik, dom en onderontwikkeld. Maar as ons gaan kyk na die oorblyfsels van een van hul nedersettings, Kaditshwene, is dit allermins waar.

Suid-Afrika se Ystertydperk het omstreeks die jaar 200 begin, toe Bantoe-sprekende mense vanuit die Noorde na Suider-Afrika getrek het en ystersmeltvaardighede en gevorderde landboumetodes saamgebring het. In teenstelling met die eenvoudige jag- en versamelkultuur van die Steentydperk, het hierdie nuwe setlaars vee besit, graan verbou, kleipotte vervaardig, handel gedryf, met klip gebou en bowenal metaal bewerk.

John Campbell

Naby die dorp Zeerust in die Noordwesprovinsie van Suid-Afrika was ʼn nedersetting van Setswana-sprekende mense. John Campbell, ’n sendeling wat in 1820 op die nedersetting afgekom het, het daarna verwys as Kurreechane, na aanleiding van die Kurreechane-voëlspesie wat in die omgewing was. Sommige geskiedkundiges beweer dat Campbell die spelling verkeerd gehad het en Kaditshwene as Karreechane neergeskryf het. 1

John Campbell

Hier het hy ’n volk gevind wat in ’n mate beskaafd was en meer kennis gehad het as enige van die ander stamme wat hy raakgeloop het. Hulle het yster en koper uit die erts wat hulle uit die berge in die omgewing gekry het, gesmelt.

Hul gesofistikeerde inheemse boutegnieke is duidelik in die geboude omgewing soos die ruïnes van klipmure en sirkelvormige hutte van Kaditshwene te sien. Huise was hoofsaaklik kliprondawels met grasdakke. Die groot klippe het uit die omgewing gekom en is sonder sement (of klei) sorgvuldig op mekaar gepak. Die mure van die huise is versier met tekeninge van diere en skilde.

Campbell het ten minste 16 smelterye in die vorm van asoonde in Kaditshwene gesien, maar is nooit toegelaat om dit van naderby te bekyk nie.

Maar kom ons vind meer uit oor dié “stad” se geskiedenis.

Die nedersetting

Die oorblyfsels van Kaditshwene vertel van ’n antieke beskawing wat bekend was vir die smelt en ontginning van yster en koper. Volgens oorlewering was die florerende Ystertydperk-ekonomie gebaseer op die inheemse tegniek en tegnologie van smelting van yster en ontginning van koper.

Eens op ’n tyd was Kaditshwene die grootste klipgeboude stad gedurende die Ystertydperk in Suid-Afrika. In 1820 was dié stad groter as Kaapstad in daardie tyd. Dit was die vervaardigings-, handels- en kulturele hoofstad van die Bahurutshe-stam van voor 1600 tot 1823.

Hierdie nedersetting het uit verskeie dorpe bestaan wat omring was met klipmure. Een van hulle was Kaditshwene.

Kaditshwene se bevolking rondom die vroeë 1800’s word geskat op 16 000 tot 20 000. En as mens kyk na die groot hoeveelheid nedersettingsoorblyfsels wat huisfondamente, klipmure, asoonde (smeltoonde) asook bewyse vir ’n metaalbedryf insluit, is dit nie moeilik om te glo nie. 6

Argeoloë reken dat dié stad in die laat 1400’s tydens die Ystertydperk gebou is. Huise was op ʼn gerieflike afstand van mekaar af gebou en elke huis was omring met ʼn klipmuur. In eg Afrika-tradisie het die hoofman op die hoogste gedeelte gebly en sy onderdane rondom hom. 2

Gebruiksartikels

As mens ’n besoek aan hierdie antieke klipstad bring, is daar nog baie oorblyfsels van kleipotte op die terrein te vinde. ’n Kleipot was ’n algemene gebruiksartikel vir die stoor van voedsel en drank en waarskynlik ook om bier in te brou. Verskeie stukke ystergereedskap is gevind wat aandui dat die inwoners gevorderde vaardighede gehad het om hul daaglikse doen en late te vergemaklik. Europeërs was dus nie die enigste volk waar hierdie vroeë ontwikkeling plaasgevind het nie, dit het duisende jare terug reeds in ons eie land begin.

Hout is uitgekerf, wapens is gemaak en selfs krale – alles van yster, hout en die inwoners se handvaardighede. Die mense van Kaditshwene was ook baie goeie mandjiewewers.

Die Bahurutshe-volk is bekend vir hul besonderse vaardigheid as mynwerkers en smelters van yster en koper. ’n Redelik ongeskonde ystersmeltoond is in die gebied gekry. Baie ysterartefakte is intussen ook opgegrawe, onder meer ʼn byna heel ystergraaf. 5

Op die terrein was daar spesifieke areas waar die ambagsmanne yster gesmee en gereedskap gemaak het.

Oorblyfsels

Tydens die Mfecane-oorlog in 1821 is die dorpie deur Batlokwa-stam verower en in 1823 het die Bafokeng-stam die dorpie aangeval en ingeneem. Die oorlewendes het in ʼn westelike rigting gevlug en skuiling by ander Bakwena en Tswana-stamme gaan soek. Dit wat oorgebly het van die dorp, is fondamente van klipmure en oorblyfsels van ysterwerktuie as bewyse dat daar eens ʼn nedersetting was. 3

In 2011 is die ruïnes van 30 hektaar deur die regering tot nasionale erfenisterrein verklaar. Die Kaditshwene Klipmuurdorp is dus ʼn baie belangrike erfenisterrein en ʼn sleutel tot die vroeë geskiedenis van die Tswana-kultuur, maar dui ook op die vernuftige gebruik van yster lank gelede. 4

Woordbank

allermins Geensins, glad nie.
argeoloë Oudheidkundige; iemand wat ’n studie maak van ou beskawings.
brou Biermaakproses.
boutegnieke Bedrewenheid om iets te doen.
doen en late Werkverrigting; iemand se kom en gaan; daaglikse lewe.
ekonomie Stelsel waarin die handel, produksie, ens. van ’n land of streek verkeer.
erts Gesteentes of minerale waaruit elemente gehaal word.
florerende Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel.
gesmee Metale in ’n gloeiend warm toestand (soos ’n oop vuur) aanmekaarslaan.
gesofistikeerde Beskaafd, gevorderd.
inheemse Wat in die land self voorkom.
jag- en versamelkultuur Wanneer mense leef deur slegs wilde diere te jag en plantkosse te versamel as wat hulle iets self plant of verbou.
kulturele Wat verwys na die kleredrag, gebruike, praktyke, ens. van een bevolkingsgroep.
nedersetting Woonplek, kolonie; vestiging.
onderdane ’n Ondergeskikte persoon; iemand wat onder die gesag van ’n koning/vors/staat staan.
ongeskonde Volledig; heel.
ontginning Delf, myn.
ruïnes Vervalle gebou/struktuur; die oorblyfsels van strukture/wonings, ens.
setlaars Iemand wat hom in ‘n nuwe land, kolonie of streek vestig; nedersetter.
smelterye Plek waar metaal/glas/ens. gesmelt word.
smeltoond  Oond in ’n smedery/fabriek spesifiek ingerig om glas/metale in te smelt.
Steentydperk Die oudste tydperk voor die historiese tydperk en voor die Brons- en Ystertydperk.
tegnologie Leer/geskiedenis van die omsetting van natuurprodukte in lewensmiddele.
tradisie Oorgelewerde sedes, gewoontes, kultuurwaardes van ’n volk.
ysterartefakte Mensvervaardigde voorwerp uit ’n vroeër era/beskawing.
Ystertydperk Die tydsduur in die mense se geskiedenis vóór die historiese tydperk toe werktuie en wapens hoofsaaklik van yster en koper gemaak is.
vernuftige Iemand wat aanleg het vir baie soorte handwerk; knap, innoverend. 7

Lees meer

Kyk hierdie video’s oor Kaditshwene

Die oorblyfsels van Kaditshwene

Alles wat jy wil weet van Kaditshwene en sy mense

 

 

 

Foto: iStock
Gepubliseer op: 19 Julie 2021 | Bygewerk op 3 April 2024