Oorspronklik het die woord kabaret na ʼn kroeg of ʼn klein kamer in ʼn herberg verwys. Hierdie betekenis is egter later uitgebrei om te verwys na ʼn geselskap van kunstenaars wat musiek maak, sing, dans en voordra tot vermaak van gaste by klein straatkafees, restaurante of nagklubs. Die kunskafee Le chat noir (“die swart kat”) wat in 1881 deur R. Salis in die distrik Montmartre in Parys, Frankryk geopen is, word as die geboorteplek van die literêre of artistieke kabaret beskou. Deesdae is die Moulin Rouge in Parys sekerlik een van die bekendste kabaretnagklubs in die wêreld.

Kenmerke van ʼn kabaret

Voorin Hennie Aucamp se liriekbundel Die lewe is ʼn grenshotel: ryme vir pop en kabaret (1977) gee hy die volgende opsomming van die kenmerke van kabaret:

Die kabaret:

  • het te make met alles wat dekadent of verbode is;
  • is meestal links van die burgerlike opset;
  • stig terwyl dit sekulêr vermaak;
  • beklemtoon die satiriese en die byderwetse;
  • beslaan ʼn klein verhogie met ʼn beperkte gehoor;
  • word gekenmerk deur provokasie en reaksie;
  • is moedswillig van aard;
  • is ʼn aanslag op burgerlike selftevredenheid;
  • wil nuwe idees lug en in omloop bring;
  • is eroties;
  • is melodramaties en sentimenteel (danksy die invloed van die chanson);
  • is ingestem op vertroulikheid, met ander woorde, intimiteit;
  • teer op die spanning tussen verligtheid en verkramptheid;
  • benodig ʼn aktiewe en skokbare publiek om doeltreffend te wees;
  • hoop dat mense, ondanks geskille en verskille, omgee vir mekaar, en bereid is om onreg te bestry;
  • is beskaafde protes;
  • het humor, wat as oorlewingstaktiek beskou kan word, as basis;
  • kan ʼn brug bou na ʼn publiek wat vervreem geraak het van die kunste; en
  • skep ʼn ruimte waarin komponiste, digters, skrywers, skilders, sangers, dansers en toneelspelers mekaar binne die koorsagtige impromptu-atmosfeer kan inspireer.

Die struktuur van ʼn kabaret hang af van die ruimte waarin dit afspeel. Sodanige ruimte is dikwels ingeperk omdat dit ʼn soort gedwonge medewerking tussen die gehoor en die kabaretkunstenaar (of kabarettis) bewerkstellig. Die kabarettis praat gewoonlik direk met die gehoor en die verhouding tussen die kabarettis en die gehoor is dikwels kompleks vanweë die spanning wat sosiale of politieke kommentaar kenmerk.

Kabaret is eerstens woordkuns wat deur musiek, mimiek, grimering en kleding gesteun word. Die kabaretskrywer volg dieselfde tegnieke en strategieë wat al eeue lank deur kerklikes gebruik word in voorstellings van die sewe doodsondes, veral in visuele vorm, naamlik: oordrywing, vereenvoudiging, stilering, vervreemding, ironisering, satirisering, allegorisering. Daar is dikwels woordspeling in ʼn kabaret teenwoordig. Verskillende genres kan ook by die kabaret geïnkorporeer word, naamlik sketse, monoloë, kort eenbedrywe, mimiek, poppespel, skaduspel, sang, poësie en dans.

Afrikaanse kabarette

In die Afrikaanse letterkunde word Hennie Aucamp allerweë as die vader van die Afrikaanse kabaret beskou. Sy kabarette sluit in Met permissie gesê (1980), Slegs vir almal (1986), Blomtyd is bloeityd (1987), Oudisie! (1991) en Van hoogmoed tot traagheid: die sewe doodsondes (1996). Ander bekende kabarette is Lied van die Boeings (1998) deur Etienne van Heerden, Vrou by die spieël (1996) deur Amanda Strydom, Dancing with John (1992) (tweetalig) deur Nataniël, Piekniek by Dingaan (1989) met regie deur Gerrit Schoonhoven, Van Berlyn tot Bapsfontein (1988) deur Stephan Bouwer en Hallo, Suid-Afrika!/Hello South Africa! (1986) deur Casper de Vries. Dit is voorts belangrik om Rosa Keet en Merwede van der Merwe as belangrike rolspelers in die Afrikaanse kabaretwêreld te noem. Omdat daar nie ʼn vraag na gedrukte kabarettekste is nie, is dit nie ʼn letterkundige produk wat meer maklik verkrygbaar is nie. Daar was voorts ʼn dramatiese afname in die skep van kabarette ná die tagtiger- en negentigerjare – bes moontlik omdat die kabaret in tye van krisis en verandering floreer.

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 25 April 2024