Vinnige feite

  • Giep van Zyl, teatervervaardiger, vertel dat Gerrit se oupa ’n haarkapper was en dit was vir Gerrit altyd snaaks omdat sy eie hare so wild en woes was. 5
  • Twee grade van moord het in 2016 die prys vir beste rolprent by die Indie Karoo-rolprentfees in Prince Albert gewen. 8
  • Hy was regisseur van vier van die eenman-toneelopvoerings wat Dana Snyman vir Frank Opperman geskryf het. 9
  • Gerrit het dikwels gesê: “Die lewe is kort, jy kan net sowel skitterend wees.” 10

Vir die meeste mense sal hy altyd die vriendelike man met die wilde bos krulhare en die bril wees, die een wat daarvan gehou het om te sê: “Wees briljant!”

Sy lewe in ’n neutedop

Gerrit is op 27 September 1958 gebore. 1 Hy het een suster, Hannetjie, en twee broers, Coenie en Henk, gehad. 2

Hy het drama studeer aan die Universiteit van Potchefstroom en in 1981 sy honneursgraad in drama verwerf. 1

Op 27 September 2020 is hy getroud met sy lewensmaat van 30 jaar, Marius Meyer. 3 Hy is in dieselfde jaar op 20 Oktober oorlede nadat hy kanker gekry het. 1

’n Loopbaan op die verhoog

Ná sy studies het hy vir die Transvaalse Raad van die Uitvoerende Kunste (TRUK) begin werk. Sy heel eerste rol op die verhoog was in die toneelstuk Die vasvat van ’n feeks, die Afrikaanse vertaling van die Engelse stuk The Taming of the Shrew. Niemand minder nie as die twee bekende Afrikaanse toneelspelers Marius Weyers en Sandra Prinsloo het saam met hom in die hoofrolle gespeel. 4

Hy het van 1982 tot 1985 vir TRUK gewerk en daarna ook drama aan die Universiteit van Potchefstroom gedoseer. Vanaf 2014 was hy op die paneel wat die beoordeling vir die kykNET/Rapport-boekprys vir fiksie gedoen het. 1

Hierdie is net ’n paar van die reekse en rolprente waarin hy gespeel het:

Mariken van Nieumeghen (1980), Broer Matie (1984), Die vasvat van ’n Feeks (1999), Die keiser (1999), Antony and Cleopatra (1999), Ek, Anna van Wyk, en Endgame (1997), Isidingo, Schuks! Pay Back the Money! Pandjieswinkelstories (2014) en Dominee Tienie (2018).

Hy het self ook ’n verhoogstuk – Trajek van tralies – geskryf. 1

Gerrit die regisseur

Hy het in 1980 sy debuut as regisseur gemaak in opvoerings by Kampustoneel. 1

Hy was geliefd onder die akteurs vir wie hy regie gedoen het. Een van die redes daarvoor is die agtergrond wat hy self gehad het as akteur. Volgens Schalk Schoombie was hy die seldsame verskynsel van ’n regisseur wat “ ’n akteur se regisseur” genoem word. Hy het mense sag in die regte rigting gestuur eerder as om aan hulle voor te skryf hoe hulle moes speel. Hy was fyn ingestel op elke akteur se struikelblokke. Waarvoor hy alombekend was, was sy aanmoediging “Wees briljant.” 5

Volgens Marius Weyers was Gerrit ’n wonderlike regisseur in die rolprent Twee grade van moord. Hy was geesdriftig en het daarin geslaag om al die akteurs bymekaar te hou in ’n rolprent met ’n uiters emosievolle tema. 6

Hierdie rolprent was ’n projek wat vir hom ’n droom was wat waar geword het. Daarom het hy nie omgegee hoeveel struikelblokke hulle moes oorkom nie, dit was vir hom belangrik om dit te laat werk. Dit was ook vir hom ’n voorreg om saam met onder andere Marius Weyers, Sandra Prinsloo én Shaleen Surtie-Richards in hierdie rolprent te werk. 6

“Oor 50 jaar gaan al wat nog agter my naam gaan staan Twee grade van moord wees. Die rolprent gaan nie oor moord nie, maar oor liefde en vra wat jy bereid is om te doen vir liefde.” 4

Volgens Brümilda van Rensburg was Gerrit geniaal as regisseur in die TV-reeks Hartland en het sy regie daarvoor gesorg dat sy ’n ATKV-veertjie vir haar rol gewen het. 5

Gerrit gesels self oor regie

“Dit help nie jy is besig om te skiet en die skoot met die aktrise is wonderlik, maar haar hare is deurmekaar nie. Dan moet jy maar stop en voor begin.

“Jy moet die fokus regkry aan die begin. As daar ’n probleem is wanneer jy met ’n skoot begin, dan help dit nie jy gaan deur daarmee nie.

“Om te skiet is georganiseerde chaos. Mens kan nooit alles perfek regkry nie. Jy probeer net om dinge so na as moontlik aan perfek te kry.” 6

Hy was regisseur van die onderstaande TV-reekse, rolprente en verhoogopvoerings:

Televisiereekse

  • Plek van die Vleisvreters (2004)
  • Binnelanders – 74 episodes vanaf 2006
  • Isidingo
  • Soutmansland

Rolprente

  • Twee Grade van Moord (2016)

Verhoogopvoerings

  • Onderhoud met ’n bobbejaan; Hond se gedagte (1985)
  • Somewhere on the Border; Spooks (1986)
  • Ons spore loop ver (1998)
  • Piekniek by Dingaan (1988)
  • Huise vol uile (1989)
  • Sleeping with Alice (1996) 1

Hy het dikwels die regie gedoen in opvoerings wat deur Wilson Dunster en Elize Cawood aangebied is, een daarvan is ’n Geworry.

Hy het ook as regisseur saam met Elize gewerk in onder meer Ons spore loop ver en Girly se konstitusiekwellings. 7

Kyk hier na ’n volledige lys van sy werk.

Toekennings

  • Rosalie van der Gucht Prys vir Nuwe Regisseurs in 1987.
  • Fleur du Cap-toekenning as Beste Nuwe Regisseur vir Somewhere on the Border.
  • Eretoekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir Afrikaans Televisie in 2006.
    ATKV-veertjie (toekenning) vir beste regisseur van die televisiereeks Orion in 2007.
  • Ná sy dood is hy in 2021 deur die South African Film and Television Awards (SAFTA) vereer vir sy werk as regisseur. 1

Kollegas gesels oor Gerrit

So onthou Gerrit se kollegas hom, as mens en ook as kollega:

Brümilda van Rensburg sê dat hy in die drie jaar waarin hulle saam op die stel van Binnelanders gewerk het, haar vriend geword het. “Hy was vol liefde, medemenslik en mens het geweet dat hy werklik omgee”.

Volgens Mitzi Booysen, hoofskrywer en vervaardiger van Binnelanders, het sy dikwels vir Gerrit in stil hoekies van die ateljee gevind en was hy altyd skeppend en bereid om te gee. Sy het ook vertel hoe Gerrit se lewensmaat, Marius Meyer, vir hom soveel sorg en ondersteuning gegee het – deur sy lewe, maar veral in die laaste maande van sy lewe.

André Stolz het vir Gerrit in 1983 in die weermag leer ken. Vir hom was Gerrit iemand met menslikheid en ’n goeie sin vir humor, iemand wat vol respek, deernis en geesdrif was.

Deon Coetzee onthou die “fantastiese tydsberekening” wat Gerrit as akteur in die sepie Villa Rosa gehad het. Hy onthou ook hoe toegeeflik hy met sy regie in Binnelanders was, hoe hy elke akteur se geite geken het. “Dit was altyd ’n plesier om saam met hom te werk. Hy het jou veilig laat voel. Hy het altyd tyd gemaak vir ’n vinnige geselsie.”

So beskryf Kaz McFadden en Lara Lourens, akteurs en ook dosente by PALI Toneelskool in Pretoria vir Gerrit: “Om met Gerrit Schoonhoven te werk, is altyd ’n proses en ’n ontdekkingstog. Hy werk nie met karakters nie. Hy werk met mense. Hy was ’n mens. Sonder frille. Hy was nie bang om ‘sorry broer’ te sê nie en ‘dankie broer’ was gereeld op sy lippe.” 5

Woordbank

briljant Baie slim.
debuut Eerste werk as regisseur.
fiksie Literatuur, veral prosa, wat ʼn beskrywing van denkbeeldige mense, dinge en gebeure gee; denkbeeldige voorstelling; verdigsel; versinsel (het dus nie regtig gebeur nie, die mense en plekke bestaan nie werklik nie).
gedoseer Klas gegee; onderrig.
geesdriftig Met/vol geesdrif; opgewonde, entoesiasties.
geite Gewoontes, manier van praat of optree.
geniaal Buitengewoon begaaf/vindingryk/vernuftig/slim.
georganiseerde chaos Wanneer dit lyk asof alles deurmekaar is, maar dinge eintlik volgens plan verloop.
medemenslik Om aan die belange van ander mense te dink.
neutedop Kort beskrywing of samevatting.
paneel Groep mense wat oor iets moet besluit.
projek Taak, werk wat gedoen moet word.
regie Afrigting van toneelspelers.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig.
skoot Deel van ’n toneel in ’n rolprent wat deur die kamera geskiet (afgeneem) word.
struikelblokke  Hindernis/iets wat keer dat jy iets kan doen.
vervaardiger Persoon wat al die reëlings tref om te sorg dat ’n rolprent of televisiereeks gebeur.

Kyk hier

Onderhoud met Gerrit tydens die première van Leon Schuster se rolprent Schuks! Pay Back The Money! (2015)

Hierdie was die heel eerste rolprent waarvan hy regisseur was – Twee grade van moord (2016)

Onderhoud met Gerrit Schoonhoven, Sandra Prinsloo, Shaleen Surtie-Richards en Marius Weyers tydens die première van Twee grade van moord (2016)

Een van die rolprente waarin hy gespeel het: The Gospel of Matthew (2020)

Foto: iStock-115967304Norcross, A. 2019. 1st pendulum clock
Gepubliseer op: 25 April 2024 | Bygewerk op 25 April 2024