Vinnige feite

  • Tussen 150 en 200 Franse Hugenote het na die Kaap verhuis.
  • Bekende Voortrekkers – soos Piet Retief en Sarel Cilliers – was afstammelinge van die Hugenote.
  • Bekende vanne van Franse Hugenote is De Villiers, Malan, Du Toit, Du Plessis, Viljoen, Du Preez, Malherbe, Cronjé, Pienaar, Retief en Senekal.
  • Die Hugenote Monument op Franschhoek is op 7 April 1948 ingewy.

In 1685 het duisende Franse Hugenote na ander Protestantse lande begin vlug omdat hulle – onder andere as gevolg van hulle godsdiens – in Frankryk vervolg is.

Die Here XVII in Nederland (die direkteure van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, oftewel VOC) het besluit dat hulle die Franse Hugenote Kaap toe kan stuur om die bevolking van die koloniste in die Kaap te laat groei. Hulle het hulle plan uitgevoer, en die eerste Hugenote het in April 1688 in die Kaap aangekom.

Ontstaan van die Franse Hugenote

In 1517 het Martin Luther van die Rooms-Katolieke Kerk weggebreek en só die Hervorming begin. Sy volgelinge is Protestante genoem omdat hulle protes teen die gebruike en misbruike in die Rooms-Katolieke Kerk aangeteken het.

Martin Luther

Ander kerkleiers het Luther se voorbeeld gevolg. In Genève, Switserland, het Johannes Calvyn hom sterk daarvoor beywer om sy leerstellings na die Katolieke Frankryk uit te brei. Hy het daarin geslaag, en met die dood van koning Hendrik II in 1559 was daar reeds in elk van die baie Franse provinsies minstens een Protestantse gemeente. Die Franse Protestante is Hugenote genoem.

Johannes Calvyn

Na Hendrik II se dood het daar ʼn burgeroorlog in Frankryk uitgebreek. Dit het nie as ʼn oorlog tussen verskillende godsdienste begin nie, maar het later wel in ʼn godsdiensoorlog verander.

Koning Hendrik IV (Hendrik van Navarra) het in 1598 daarin geslaag om die burgeroorlog te beëindig. Hy het in dieselfde jaar die Hugenote gehelp deur die Edik van Nantes (ʼn wet wat die Hugenote aansienlike regte in die Katolieke nasie gegee het) uit te vaardig. Daardeur het hy vir hulle godsdiensvryheid gegee en hulle is ook toegelaat om vir hulself stede te bou. Dit het aan die Hugenote politieke mag gegee en hulle in ʼn sterk groep laat ontwikkel. 1

Die Hugenote is as teenstanders van die koninklike gesag beskou en uiteindelik het Kardinaal van Richelieu die Hugenote se politieke gesag van hulle weggeneem. Hulle het egter steeds hulle godsdiensvryheid behou. Koning Lodewyk XIV wat in 1661 begin regeer het, het as die Sonkoning bekend gestaan. Hy het geglo dat hy God se enigste verteenwoordiger op aarde is en dat hy alleen moet regeer.

Op 23 Oktober 1685 het koning Lodewyk XIV die Edik van Nantes herroep. Daarmee het hy die Hugenote se godsdiensvryheid van hulle weggeneem. Hulle is deur die regering vervolg, hulle kerke is afgebreek en selfs huisgodsdiens is verbied. Hierdie optrede het veroorsaak dat duisende Protestante na ander Protestantse lande gevlug het, selfs al het Lodewyk XIV dit verbied. Ongeveer 150 000 Hugenote het hulle besittings in Frankryk agtergelaat en na lande soos Switserland, Engeland, Nederland en Duitsland gevlug.

Ten spyte van die feit dat dit as ʼn halsmisdaad verklaar is om uit Frankryk te vlug, het baie die kans gewaag. Die Franse denker en skrywer Voltaire het geskat dat Frankryk teen die tweede helfte van die 17de eeu sowat een miljoen van sy vlytigste burgers verloor het. Die uittog het die ekonomiese en intellektuele hart uit Frankryk geruk.

Lodewyk XIV

Rede vir die Hugenote se verhuising na die Kaap

Op hierdie stadium was die nedersetting in die Kaap nog net 30 jaar oud. kommandeur Simon van der Stel het te min boere aan die Kaap gehad. Hy het geweet dat die Hugenote goeie boere was en dat hulle baie geweet het van wynbou en olyfboerdery. Dit het dus na ʼn goeie plan gelyk om die Hugenote na die Kaap te laat kom.

Die volgende voorwaardes is aan die Hugenote gegee, as hulle na die Kaap sou verhuis: 2

Simon van der Stel
  • Hulle sou niks vir hulle reis na die Kaap betaal nie.
  • Hulle sou plase verniet kry.
  • Hulle sou saad, vee en landbougereedskap teen goedkoop pryse kon koop.
  • Die Hugenote moes ʼn eed van getrouheid aflê.
  • Hulle moes instem om vir minstens vyf jaar in die Kaap te bly.
Hugenotemuseum

Aankoms in die Kaap

Die Hugenote het in klein groepies na die Kaap gekom. In 1671 het die eerste vlugteling, Francois Villion (later Viljoen), in die Kaap aangekom, in 1683 Pierre le Febre, en in 1686 het die broers Guillaume en Francois du Toit gekom. Die meeste Hugenote het tussen April 1688 en Januarie 1689 in die Kaap aangekom. In totaal was daar tussen 150 en 200 Hugenote wat in die Kaap kom bly het.

Hulle het plase in die gedeelte wes van die Bergriviervallei gekry, veral ten ooste van Simonsberg in die Olifantshoek, in ʼn gebied wat later as De Franschehoek (vandag Franschhoek) bekend sou staan. Hierdie mense was almal baie arm omdat hulle al hulle besittings verloor het toe hulle uit Frankryk gevlug het. 3

Die VOC het aan die begin goed vir die Hugenote gesorg, maar dit was vir hulle moeilik om in ʼn vreemde land vol nuwe probleme aan te pas. Hulle het ook nie saamgestem met die planne van kommandeur van der Stel – wat hulle by die Nederlandse gemeenskap wou laat inskakel sodat hulle uiteindelik moes vernederlands – nie.

Op 29 Augustus 1688 het ʼn Franse predikant – Pierre Simond – by die Hugenote aangesluit. Hy is deur die Here XVII gestuur, en hy het sy landgenote op hulle plase gaan besoek. Dit wat hy gesien en in sy verslag geskryf het, is die beste inligting wat daar is oor die probleme wat die Hugenote gedurende hulle eerste jare in die Kaap gehad het. 4

Hugenotemuseum

Probleme wat die Hugenote ondervind het

Landbougrond

Die meeste van die Hugenote was ontevrede met die gehalte van die grond waarop hulle geboer het. Van der Stel het ingestem dat hulle ander grond kon kry. ʼn Groot aantal Hugenote het hulle waar die dorp Franschhoek tans is, asook naby Stellenbosch, Paarl en Wagenmakersvallei (vandag bekend as Wellington) gevestig. Hulle was steeds nie tevrede nie en wou weer na ander grond skuif. Hierdie keer het Van der Stel nie ingestem nie, en hy het gesê dat die Hugenote nie weer nuwe grond gaan kry nie.

Groot afstande en min inkomste

Die Hugenote wou nader aan mekaar bly, sodat hulle saam godsdiens kon beoefen en sodat hulle kinders saam kon skoolgaan. Hulle was 11 tot 15 ure se ry van die Kaap af, en hulle moes elke keer met ʼn wa Kaap toe ry om voorrade te kry en om hulle koring aan te ry om te verkoop.

Die eerste koringoes was ʼn mislukking, en daar was dus byna geen inkomste nie. Die meeste boere het nie ploeë gehad nie, en die meeste het ook nie osse gehad wat die ploeë kon trek nie. Die Hugenote was veral wynboere, maar dit het vier jaar geneem voor hulle hul eerste wynoes gesien het.

Verlies van taal en kultuur

Van der Stel se plan – dat die Franse Hugenote moes vernederlands – het uiteindelik gewerk. Om met die ander inwoners van die Kaap te kon kommunikeer, moes hulle Nederlands leer. Die Hugenote se kinders het nog Frans geken en gepraat, maar die volgende geslag kinders het nie meer Frans gepraat nie.

Betekenisvolle bydrae van die Hugenote

Die Hugenote aan die Kaap het die bevolkingsgroei positief beïnvloed, en hulle was voorbeeldig en wetsgehoorsaam. Hulle het moed gehad om die vreemde land se probleme te probeer oplos en het geleer om vinnig by die nuwe lewensomstandighede aan te pas. Hulle geestelike invloed op die setlaars was ook positief. 5

Daar was nie baie Hugenote wat Kaap toe getrek het nie, maar hulle het op alle gebiede – ekonomies, opvoedkundig, tegnologies, landboukundig, kultureel, kerklik en godsdienstig – ʼn waardevolle bydrae gelewer in die beginjare van die vestiging van die Kaap van Goeie Hoop. Mens kry vandag nog vanne van Franse Hugenote onder die leiers en presteerders op byna elke lewensgebied in Suid-Afrika.

Hugenotemonument

Woordbank

vernederlands Die Franse moes tussen mense wat Nederlands gepraat het, bly. Dit het veroorsaak dat hulle en hul kinders Nederlands moes leer, en uiteindelik het hulle nageslagte nie meer hulle eie taal gepraat nie.
misbruike Wanneer iets of iemand verkeerd of op ʼn slegte manier gebruik of behandel word.

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

In hierdie video kan jy na interessante foto’s van die Hugenotemuseum in Franschhoek kyk.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: Grobler du PreezFoto: iStockFoto: Grobler du PreezFoto: Shutterstock
Gepubliseer op: 2 September 2021 | Bygewerk op 15 Februarie 2024