Vinnige feite
- Dubbelsterre is baie interessant vir wetenskaplikes, want deur hulle en hul omwentelings dop te hou, kan hulle uitwerk wat die massa van hierdie sterre is. Soos die sterre mekaar aantrek, kan die grootte bepaal word en daarvandaan af ook eienskappe, soos temperatuur en radius.
- Die man wat dubbelsterre eerste geëien en benoem het, is sir William Herschel. Hy het in 1802 gesê dat ʼn dubbelster twee sterre is wat in een stelsel deur swaartekrag verbind word. Hy is op 15 November 1738 in Duitsland gebore. Hy het ook die planeet Uranus ontdek en het gesê dat ʼn nebula (newel) uit sterre bestaan. 9
- Daar word geglo dat minstens ʼn kwart van alle sterre dubbelsterstelsels is met meer as 10% van hierdie stelsels wat meer as twee sterre het. 5
- Die bekendste dubbelsterre is Mizar, Alcor en die Groot Wa (“Big Dipper”). 2
- Die woord “binêr” kom van die Latynse woord binarius, met bini wat “twee” beteken. 5
- Massa kan net bepaal word deur swaartekrag te meet, en daarom is dubbelsterre so ongelooflik, want hul massa kan volgens hul wentelbaan uitgewerk word.
- Dubbelsterre kan so naby aan mekaar kom dat hulle aan mekaar raak, en dan kan die sterre materiaal met mekaar deel. 2
- ʼn 2017-studie het bevind dat byna elke ster wat soos die son is, ʼn metgeselster gehad het toe dit gebore is. Wetenskaplikes het die reuseteleskope in Mexiko en Hawaii gebruik om stelsels te ondersoek. 1
- Die astrofisikus Paul Sutter – verbonde aan die Astronomie-observatorium van Trieste in Italië – het in 2015 geskryf dat hy nie dink dat lewe in die meeste dubbelsterstelsels moontlik is nie. 1
- Die naaste ster aan die aarde is Proxima Centauri, wat deel van ʼn meervoudige sterstelsel is. Proxima is die dowwe metgeselster van die helderder sterpaar Alpha Centauri A en B. Proxima Centauri is egter steeds nie naby aan die aarde nie; dit is 4,2 ligjare weg van die aarde af! Dit beteken dit vat dié ster se lig 4,2 jaar om die aarde te bereik.
- Sterre lyk asof hulle almal wit is, maar hulle lê gewoonlik op ʼn kleurspektrum van rooi, wit tot blou. Blou sterre is die warmste.
- Sterre is so warm dat dit meestal uit plasma of gas, waarvan die elektrone gestroop is, bestaan.
- Sterre bestaan hoofsaaklik uit waterstof en helium, hoewel daar ander elemente – soos suurstof, kalsium, yster, silikon en koolstof – ook voorkom.
- Sterre wissel in grootte. Van die rooireuse (sterre wat in die proses is om uit te brand) is meer as 100 keer die omtrek van die son! Dan kry ons ook witdwergsterre (klein sterre wat naby die einde van hul lewens is) wat omtrent die helfte van die aarde se grootte is.
- Die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) naby Sutherland in die Karoo is ʼn kragtige teleskoop en een waarop Suid-Afrika baie trots is. Die Karoo is die ideale plek vir SALT omdat dit ver weg van dorpe en stede is en daar dus baie min elektriese lig en lugbesoedeling is. 10
- Op ʼn mooi, helder aand is daar omtrent so 3 000 sterre wat ʼn mens met die oog kan sien, maar soos dit donkerder word, vermeerder daardie syfer na 6 000! 1
- Die son is een van omtrent 100 biljoen sterre in die Melkweg. 1
Wanneer laas was jy op die platteland of op ʼn plaas ver weg van die dorp- en stadsliggies? As jy weer daar kom, kyk ʼn bietjie op na die lug, want dis die beste plek om sterre dop te hou sonder al die stadsliggies en lugbesoedeling.
Sterre fassineer mense al vir duisende jare, en eens op ʼn tyd het hulle nie eens geweet wat dit is nie. Daar was allerhande teorieë soos dat sterre ligte was wat aan die lug gehang het en dat sterre sekere magte gehad het en aanbid moes word! Vandag weet ons baie meer van sterre; ons weet byvoorbeeld dat hulle, nes die mens, gebore word. Hulle leef vir ʼn ruk, en dan moet hulle ook uiteindelik doodgaan.
Dubbelsterre
Sterre is enorme bolle gas, en die son is ons sonnestelsel se ster. Ons sonnestelsel het net een ster, maar daar is baie sonnestelsels wat meer as een ster het. Die Italiaanse wetenskaplike Galileo Galilei het in 1617 sy teleskoop op die tweede ster by die Groot Wa (“Big Dipper”) gerig en toe ontdek dat daar eintlik nog ʼn ster is. Die Groot Wa is ʼn sterrepatroon wat al van die vroegste tye af sigbaar is en vorm deel van die groter Ursa Major-konstellasie. Die Groot Wa is heeljaar in die Noordelike Halfrond sigbaar en het in totaal sewe sterre. 1 Sir William Herschel het in 1802 ʼn naam vir twee sterre wat saam is, gegee: binêre sterre. Hy het meer as 700 pare sterre gevind!
Binêre sterre word ook dubbelsterre of tweelingsterre genoem, en dit is twee sterre wat, danksy swaartekrag, saam om een middelpunt wentel. 2 Hierdie sterre is glad nie iets vreemd nie, want die meeste van die sterre in die heelal is dubbeld of meervoudig. As die binêre sterre min of meer dieselfde massa het, sien ons hoe hulle om ʼn massamiddelpunt wentel, maar as die sterre verskillende massas het, kan dit lyk asof die een ster om die ander een wentel, nes ʼn planeet om ʼn ster wentel. 3
Ons praat gewoonlik van ʼn hoofster (of primêre ster), en sy maat is dan die sekondêre ster. Soms is dubbelsterre egter net twee gewone sterre wat naby mekaar in die ruimte is, maar hulle is nie regtig maats nie, want hulle is nie in dieselfde wentelbaan nie. As hulle egter nie regtig dubbelsterre is nie, word hulle optiese binêre sterre genoem. 1
Die klassifikasie van dubbelsterre
Dubbelsterre word op ʼn interessante manier geklassifiseer; hulle word in vier groepe verdeel op grond van hoe hulle deur astronome opgespoor word:
- Visuele dubbelsterre kan ʼn mens mooi met ʼn kragtige teleskoop raaksien.
- Verduisterende dubbelsterre se wentelbaan lê só dat hulle mekaar met tye verduister.
- Dan is daar ook spektroskopiese dubbelsterre wat só naby aan mekaar is dat dit nie moontlik is om die twee sterre met ʼn gewone teleskoop van mekaar uit te ken nie. Hulle word gewoonlik opgespoor en uitgeken op grond van hul eienskappe – soos hul lig – deur gebruik te maak van ʼn spektroskoop (ʼn instrument wat sterrekundiges gebruik om die sterre se eienskappe mee te bepaal).
- Astrometriese dubbelsterre lyk asof hulle in ʼn wentelbaan is, maar ʼn mens sien nie hul maats nie. Dit is merkwaardig dat hierdie sterre ʼn onsigbare swaartekrag het wat hulle laat wentel. Dié sterre laat wetenskaplikes kopkrap, want hul metgeselster kan selfs ʼn swartkolk (“black hole”) wees! Swartkolke gebeur wanneer ʼn ster doodgaan en inplof. Al die materie waaruit die ster bestaan het, word in ʼn baie klein area gekonsentreer met ʼn gravitasiekrag wat só sterk is dat selfs lig nie daaruit kan ontsnap nie. 4 Cygnus X-1 is ʼn voorbeeld van ʼn swartkolk.
Dit is belangrik om in ag te neem dat dubbelsterre nie altyd net onder een groep ressorteer nie; hulle kan byvoorbeeld met ʼn spektroskoop opgespoor word, maar hulle kan mekaar ook verduister.
Meervoudige sterre
In teenstelling met dubbelsterre verwys meervoudige sterre na ʼn stelsel van drie of meer sterre wat deur swaartekrag verbind word en om ʼn gemeenskaplike massamiddelpunt wentel. Dié sterre sal soos een ster lyk as jy met die blote oog daarna kyk. 5 Die meeste sterre het ʼn maat, maar anders as dubbelsterre het meervoudige (of veelvoudige sterre) meer as net een maat. 6
ʼn Mens kry dubbelsterstelsels met ʼn derde metgeselster wat om hulle wentel. Solank die derde ster ver genoeg is, is die stelsel stabiel, en dit word dan ʼn trippelsterstelsel genoem. Daar is ook stelsels met twee dubbelsterre, dan is daar vier sterre in die stelsels, en so gaan dit aan met meer en meer sterre in stelsels. Ons kry byvoorbeeld Nu Scorpii wat sewe sterre in ʼn enkele stelsel het. 2
Daar is al talle planete gevind wat om meervoudige sterre wentel. Die wentelbaan van hierdie sterre kan die aan- of afwesigheid van lewe daar beïnvloed. 1
Meervoudige sterstelsels word gewoonlik onderskei tussen dié wat stabiel is en dié wat eienaardige gedrag toon. Sommige stelsels stoot sommer sterre uit die wentelbaan uit of daar kom uitbarstings voor.
Woordbank
astronoom | ʼn Wetenskaplike wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer. |
Melkweg | Die spiraalsterrestelsel waarin die aarde geleë is. |
nebula | Dit is ʼn warrelende gas-en-stof-wolk waarbinne sterre gebore word. Dit word ook ʼn newel genoem. |
optiese binêre sterre | Sterre wat soos dubbelsterre lyk, maar eintlik net naby mekaar is en nie deur swaartekrag verbind word nie. |
planeet | ʼn Groot sfeer wat rondom ʼn ster, soos die son, wentel. |
rooireus | ʼn Ster wat besig is om uit te brand en uitswel terwyl dit afkoel. |
sonnestelsel | Ons son, asook die planete en ander hemelliggame wat om dit wentel. |
sterre | ʼn Brandende gasbol in die ruimte. |
sterrestelsel | ʼn Baie groot versameling sterre. |
swaartekrag | Die krag wat voorwerpe in die ruimte na mekaar toe trek en die krag wat voorwerpe op die aarde na die middelpunt van die planeet toe trek; ook genoem gravitasiekrag. |
swartkolk | ʼn Area in die ruimte wat sterk aantrekkingskrag beskik en alles rondom dit intrek; ook genoem ʼn gravitasiekolk. |
teleskoop | ʼn Instrument wat deur sterrekundiges gebruik word om die hemelruim te bestudeer. |
verduister | Wanneer ʼn voorwerp in die ruimte tydelik buite sig verdwyn omdat ʼn ander voorwerp voor dit inskuif. |
wentelbaan | Die vaste roete wat ʼn bepaalde hemelliggaam rondom ʼn ander volg. |
witdwergster | ʼn Klein digte ster wat naby die einde van sy lewe is. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Dubbel- en meervoudige sterre
Soorte dubbelsterstelsels
Meer oor sterre