Vinnige feite

  • Rupert T. Gould (1890-1948) was sy hele lewe lank gefassineer met tikmasjiene. Teen die 1940’s het hy een van die grootste versamelings besit ​​– ten minste 71 tikmasjiene. Hy skryf in 1949 ʼn boek oor die geskiedenis van dié masjien, genaamd The Story of the Typewriter. 4
  • Die akteur Tom Hanks besit meer as 100 tikmasjiene van verskillende vervaardigers en tydperke in die geskiedenis.
  • Volgens die Guinness-wêreldrekords het S.K. Ashraf op 13 Julie 2015 die rekord opgestel vir die persoon wat die syfers 1 tot 50 die vinnigste kon tik. Hy kon hierdie taak in 14,88 sekondes voltooi. Hy het op 10 Oktober 2017 nóg ʼn rekord opgestel as die persoon wat die alfabet die vinnigste kon tik, met spasies tussen elke letter. Hy kon dit in 3,37 sekondes regkry. 5
  • Die rekord as vinnigste tikster behoort aan Carole Forristall Waldschlager Bechen van Dixon, Illinois, in die VSA. Sy het dié rekord van 176 (foutlose) woorde per minuut op 2 April 1959 opgestel. (Die rekord was onderhewig aan ʼn boete van tien woorde per fout.) 6
  • Volgens geskiedkundiges was Mark Twain die eerste skrywer wat ʼn getikte boekmanuskrip (Life on the Mississippi) voorgelê het, nadat hy in 1874 ʼn tikmasjien gekoop het. Hy het dit glo nie self getik nie, maar ʼn tikster het dit van sy handgeskrewe notas af getik. Die tikmasjien het toe ʼn simbool geword van ʼn sekere soort skrywer, en baie word steeds bewaar in die museums van bekende outeurs (skrywers) soos Ernest Hemingway, Rudyard Kipling, George Bernard Shaw en Ian Fleming. 7
  • Die Boston Typewriter Orchestra maak musiek deur van verskillende tikmasjiene gebruik te maak. 8
  • Die woord “qwertyuiop” (al die letters in die boonste ry van ʼn sleutelbord) verskyn in die Oxford-woordeboek. 9
  • Sowat 80% van die mense wat die eerste tikmasjiene gebruik het, was vroue. ʼn Beroep as tikster het vroue die geleentheid gegee om ook die sakewêreld – wat in daardie jare deur mans oorheers is – te betree. 10
Foto: iStock

Lank voordat woordverwerkers en rekenaars in die 1980’s gewild geword het, het die klik-klak-klik-tieng van tikmasjiene in kantore en huise wêreldwyd opgeklink. Die eerste masjien wat as ʼn “tikmasjien” bekend gestaan het, is op 23 Junie 1868 deur die drukker en joernalis Christopher Latham Sholes (1819-1890) van Wisconsin gepatenteer (ʼn patent vir eksklusiewe reg vir die uitvindsel geregistreer).

Hoewel dit nie die eerste “persoonlike drukmasjien” was nie – die Engelsman Henry Mill het in 1714 ʼn patent hiervoor gekry – het Mill nooit ʼn masjien gebou nie en was Sholes se model die eerste wat prakties genoeg was vir massaproduksie en -gebruik deur die algemene publiek. 1 Met die hulp van die masjienmaker Samuel W. Soulé en mede-uitvinder Carlos Glidden het Sholes die somer van 1867 gebruik om sy masjien te ontwikkel.

Teen September van daardie jaar kon hy sy naam in hoofletters tik. Sholes het teen 1873 altesaam 50 masjiene vervaardig, maar hy kon dit nie verkoop kry nie. Hy het toe die produksieregte in 1873 aan die geweervervaardiger Philo Remington (1816-1889) verkoop. Teen 1874 is die eerste Remington-vervaardigde tikmasjien deur E. Remington & Sons verkoop. In 1878 word die eerste tikmasjien wat hoof- en kleinletters kan tik – die Remington nr. 2 – bekendgestel. In die 1890’s het Remington se mededinger, John Thomas Underwood (1857-1937), die regte op ʼn meer praktiese voorslagtikmasjien (front-stroke typewriter) van die uitvinder Franz Xavier Wagner gekoop. Die Amerikaanse vloot het in 1897 sowat 250 Underwood-tikmasjiene bestel, wat Underwood se plek in die mark verstewig het. Teen 1915 het die onderneming 7 500 werkers in diens gehad en 500 tikmasjiene per dag vervaardig.

Unieke sleutelbord

Die tikmasjien stem in verskeie opsigte met die rekenaarsleutelbord wat ons vandag gebruik, ooreen. Al die letters wat op ʼn rekenaar se sleutelbord en selfs ʼn selfoon is, is in dieselfde volgorde as op die tikmasjiene van destyds. Dié sleuteluitleg staan as QWERTY bekend, en dit is ʼn akroniem van die eerste ses sleutels of letters in die boonste ry van ʼn sleutelbord. Sholes het oorspronklik ʼn alfabetiese uitleg in sy prototipes getoets, maar die sleutels het teen mekaar vasgeslaan (vasgehaak).

Sy oplossing was om drie van die letters wat die meeste gebruik word (E, T en A) na die linkerkant te verskuif. (ʼn Mens het met jou linker- en regterhand getik en nie net met een vinger soos jou oupa nie.) Dit het tiksters wel bietjie stadiger laat tik, maar het gekeer dat die letterstafies nie aan mekaar vashaak nie. In 1932 het William Dealey en August Dvorak die Dvorak-sleutelbord bekend gestel. Dit was ontwerp om tik te bespoedig en die tiksters minder moeg te maak. Studies het getoon dat dit die akkuraatheid en spoed met ongeveer 70% verhoog het. Dit het egter nooit gewild geraak nie, omdat QWERTY reeds vir baie mense bekend was. Dit was die enigste uitleg toe Remington tikmasjiene begin maak het, en teen die 1930’s het vervaardigers, tiksters en tikskole QWERTY reeds té lank gebruik om na ʼn nuwe formaat oor te skakel (selfs al was dit dalk doeltreffender). 2

Hoe het die tikmasjien gewerk?

Die basiese idee is eenvoudig: Jy druk/tik ʼn sleutel (1) en ʼn hefboom wat daaraan vas is (2) swaai ʼn ander hefboom soos ʼn hamertjie (3) op na die papier. Die hamer het ʼn spesifieke letter of syfer op. Net soos die hamer op die punt is om die bladsy te tref, lig ʼn spoel (tolletjie) met ʼn inkdoek, genaamd ʼn lint (4), op en sit dit tussen die hamer en die papier (5), sodat die letter ʼn inkafdruk op die papier maak. As jy die sleutel los, laat ʼn veer die hamer terugval na sy oorspronklike posisie. Terselfdertyd beweeg die rolmeganisme wat die papier vashou (6) een spasie na links. So as jy die volgende sleutel druk, tik dit nie bo-oor die letter wat jy nou net getik het nie. Die rolmeganisme hou aan skuif terwyl jy tik, totdat jy aan die regterkant van die papier kom. Dan maak dit ʼn geluid soos ʼn klokkie en moet jy die armpie (7) van die rolmeganisme aan die regterkant na die linkerkant toe trek. Dit skuif die papier op en neem die rolmeganisme terug na die begin van die volgende reël. 3

Die elektroniese tikmasjien

Die eerste elektroniese tikmasjien is in 1872 deur Thomas Edison uitgevind, maar mense het dit eers in die 1920’s in kantore begin gebruik. Dié tikmasjien het met elektrisiteit gewerk en is deur ʼn motor aangedryf. Dié motor het die sleutels (die letters en syfers) beheer en verseker dat die lettertjies dieselfde gedruk word. ʼn Tradisionele tikmasjien se gedrukte letters het verskil. Hoe harder jy die sleutels gedruk het, hoe donkerder was die ink op die papier. Die motor het ook die bladsy outomaties opgeskuif as ʼn lyntjie vol getik was en het die lynspasiëring beheer. Die elektroniese tikmasjien was in baie opsigte die voorloper van die rekenaar, en dit het tikwerk sommer baie vinniger, netjieser en doeltreffender gemaak.

Woordbank

eksklusiewe Wat aan ’n bepaalde groep behoort en nie met ander gedeel word nie, of wat ander nie kan bekostig nie.
patent ’n Dokument wat aan iemand die alleenreg gee om vir ’n sekere tyd ’n uitvindsel te maak en te verkoop.
mededinger Kompetisie
akroniem ’n  Enkele woord saamgestel uit die eerste letter(s) van die komponente van ‘n begrip, omskryf deur verskeie woorde
outomaties Wat vanself werk/beweeg.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

12 interessante feite oor die tikmasjien

Die ontwikkeling van die tikmasjien (1829-2020)

 

Tom Hanks: tikmasjienentoesias

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Oktober 2021 | Bygewerk op 8 Augustus 2024