Vinnige feite

  • Die Italiaanse sterrekundige Giuseppe Piazzi het die eerste asteroïed genaamd Ceres in 1801 ontdek. Sedert 1847 het daar nog nie ʼn jaar verbygegaan sonder die ontdekking van ten minste een asteroïed nie. 10
  • Die tegnologie wat gebruik word om asteroïede te ontdek, het drasties verbeter sedert die oorspronklike ontdekkings, en sterrekundiges het vandag toegang tot ʼn verskeidenheid kragtige teleskope om hulle met navorsing en ontdekking te help.
  • Die woord asteroïed kom van ʼn Griekse woord wat “stervormig” beteken. Wetenskaplikes raam dat daar meer as een miljoen asteroïede groter as 1 km in deursnee binne die asteroïedgordel is.
  • Die vyf grootste asteroïede beslaan meer as 50% van die totale massa van die asteroïedgordel.
  • Sommige wetenskaplikes beweer dat die uitsterwing van die dinosourusse deur ʼn groot asteroïede wat met die aarde gebots het, veroorsaak is.

Dit lyk soos enorme aartappels wat in die ruimte sweef, en sommige wetenskaplikes meen dis húlle skuld dat die dinosourusse op aarde uitgewis is. Kan jy raai wat dit is? Asteroïede, natuurlik! Anders as wat ʼn mens sou dink, is asteroïede nie rond nie, maar verskillende vorms en groottes. Sommige is kilometers groot, terwyl ander so klein soos spoelklippies is. Party asteroïede is bloot ʼn hoop rommel wat deur swaartekrag bymekaar gehou word. Asteroïede draai en tol soos dit om die son wentel en bestaan grootliks uit rots en metaal. 1

As jy op ʼn asteroïed kon staan, sou jy nie die ander kon sien nie, want dit is baie ver van mekaar af en glad nie soos wat ons in rolprente sien nie. Baie asteroïede is nie sferies (of rond) nie, omrede hulle te klein is en hul swaartekrag nie die vermoë het om hulle in dié vorm te “trek” nie.

Waar kom dit vandaan?

Wetenskaplikes beweer asteroïede is materiaal wat oorgebly het toe ons sterrestelsel 4,6 miljard jaar gelede gevorm is. Asteroïede word egter ook geskep wanneer ander hemelliggame in die ruimte bots en in stukke uitmekaar breek. 2  Omdat hulle op verskillende plekke op verskillende afstande van die son gevorm word, is geen twee asteroïede dieselfde nie.

Die naam asteroïed beteken “soos ʼn ster” in antieke Grieks. Hulle lyk dalk soos sterre, maar net soos planete maak asteroïede nie hul eie lig nie. Daarom dink sommige navorsers dat “asteroïed” nie ʼn goeie naam is nie, en voel dat dit eerder “planetoïed” (wat “soos ʼn planeet” beteken) genoem moet word, juis omdat sommige so groot soos klein planete is. 3

Asteroïede word in families gegroepeer gebaseer op hul ouderdom. Die Karin-familie het byvoorbeeld ongeveer 5,7 miljoen jaar gelede uit ʼn enkele voorwerp gevorm ná ʼn botsing. Een van die jongste asteroïedfamilies word die Datura-familie genoem. Dié familie is net 53 000 jaar oud. 4

Drie soorte asteroïede

  • Koolstofasteroïede word ook koolstofagtige asteroïede (C-tipe asteroïede) genoem, en dit bestaan meestal uit gesteentes wat ryk aan koolstof (C) is. Byna 75% van alle asteroïede is koolstofasteroïede en is donkerkleurig. 1
  • Metaalasteroïede (M-tipe asteroïede) bestaan, net soos die naam sê, meestal uit die metale yster en nikkel. Soms word klein hoeveelhede klip ook in dié soort asteroïede aangetref.
  • Silikose-asteroïede (S-tipe asteroïede) word ook steenagtige of rotsagtige asteroïede genoem en bestaan meestal uit rots en metaal. 4

Maak vas jou gordel!

Die meerderheid asteroïede wentel om die son in ʼn ring of baan, wat die asteroïedgordel genoem word. Die asteroïedgordel – wat uit miljoene asteroïede bestaan – is tussen die planete Mars en Jupiter geleë. Jy kan amper daaraan dink as ʼn band of gordel tussen die rotsagtige planete en die gasplanete.

Asteroïede kom egter nie net in dié gordel voor nie. Sommige asteroïede word byvoorbeeld in ander planete se wentelbaan aangetref. Die asteroïede en die planeet volg dieselfde pad om die son. Selfs die aarde het asteroïede wat saam met hom om die son wentel. 5

Groot, groter, grootste

Sommige asteroïede is só groot dat hulle as klein planete beskou word. Die vier grootste asteroïede is Ceres, Vesta, Pallas en Hygiea. 6

  • Ceres (foto regs) is verreweg die grootste asteroïede. Ceres het in 2006 saam met Pluto, Eris, Makemake en Haumea die status van dwergplaneet gekry. Ceres het ʼn deursnee van 955 km en is ongeveer een derde van die totale massa van die asteroïedgordel. Dit is vernoem na die Romeinse oesgodin.
  • Vesta – vernoem na die Romeinse godin van die huis – het ʼn deursnee van 526 km en is dieselfde grootte as ʼn klein planeet.
  • Pallas is die asteroïed wat net ná Ceres ontdek is. Dit is die grootste voorwerp in die sonnestelsel wat nie rond is nie. Dit is vernoem na die Griekse godin Pallas Athena.
  • Hygiea is die grootste koolstofasteroïed en is na die Griekse godin van gesondheid vernoem. Dit is ongeveer 352 km breed en 496 km lank.

Wat is ʼn meteoriet dan?

Talle klein asteroïede dring elke dag die aarde se atmosfeer binne. Daar word geraam dat daar daagliks ongeveer 1,5 ton asteroïede die aarde se atmosfeer bereik. Die meerderheid van hulle is egter baie klein, en sommige is ongeveer so groot soos ʼn ertjiepit. 7 Byna almal verbrand voordat hulle die grond tref. Terwyl hulle brand, veroorsaak hulle ʼn ligstreep wat ʼn meteoor genoem word. Nie alle asteroïede is egter klein nie. ʼn Asteroïed wat deur die atmosfeer breek en tot op die aarde se oppervlak val – voordat dit heeltemal uitgebrand het – word ʼn meteoriet genoem. Die Vredefortkoepel in die Vrystaat en die Tswaing-krater in die Noordwes-provinsie is deur meteoriete veroorsaak. 8

Kan ʼn asteroïed die aarde tref?

Die moontlikheid dat ʼn asteroïed met die aarde kan bots, het die afgelope paar jaar baie aandag geniet. Die Shoemaker-Levy-komeet wat in 1994 met Jupiter gebots het, het wye mediadekking ontvang, en Hollywood het ook ʼn rol gespeel met flieks soos Deep Impact (1998) en Armageddon (1998). Hoewel hierdie rolprente nie wetenskaplik akkuraat is nie, het dit beslis publieke bewustheid oor die onderwerp aangewakker. 9

Woordbank

asteroïed Klein liggaam wat om die son wentel, veral tussen Jupiter en Mars.
komeet Hemelliggaam van geringe massa met ‘n ligte stert, waarvan die baan ‘n ellips of ‘n parabool is.
meteoor ‘n Stuk rots of metaal wat deur die ligruim beweeg en uitbrand as dit naby die aarde kom.
swaartekrag Krag wat ‘n liggaam na die aarde toe trek; gravitasie.
wentelbaan Vaste pad of baan waarin ‘n hemelliggaam soos die son of die planete beweeg.

Lees dié om meer te wete te kom

Kyk dié video’s om nog meer te leer

Wat is asteroïede en waar kom hulle vandaan?

Asteroïede: Blitskursus in sterrekunde

Feite oor die heelal: Wat is ʼn asteroïede?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 November 2021 | Bygewerk op 20 Februarie 2024