Vinnige feite

  • Die parlement is belangrik in ʼn demokrasie om wette te maak en mense van die land se belange te verteenwoordig.
  • Die parlement bestaan uit twee huise, die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsie (NRP).
  • Groot dele van Suid-Afrika se parlementsgebou is in ʼn brand in 2022 beskadig en moet nog herbou word.
Foto: iStock

In ʼn demokratiese land soos Suid-Afrika speel die parlement ʼn baie belangrike rol. Die mense in die parlement maak die reëls en tree op as woordvoerders van die land se mense. Die parlement is verantwoordelik vir die maak en deurvoer van wette en moet rekenskap gee aan alle Suid-Afrikaners. 1

Die ontstaan van die parlement

Die Unie-parlement, die eerste van sy soort in Suid-Afrika, het op 11 November 1910 vir die eerste keer gesit (vergader). Dit was ses maande nadat die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei dieselfde jaar gestig is. Prins Arthur, die hertog van Connaught, het die heel eerste parlementsitting geopen. Die Britse volkslied is gespeel en ʼn saluut afgevuur. Direk daarna is ʼn gebed in Engels en Nederlands gelees. 2

In 1994 kon mense van alle rasse vir die eerste keer in Suid-Afrika stem en daarna het die eerste demokratiese parlement tot stand gekom. Nelson Mandela is toe as die eerste swart president ingehuldig. Die ANC het toe 252 setels in die parlement gewen, die Nasionale Party (NP) 82 en die Inkatha Vryheidsparty (IVP) het 43 setels gekry. 3

Nelson Mandela het in 1994 Suid-Afrika se eerste swart president geword.

Die struktuur en lede

Die parlement bestaan uit twee huise, naamlik die Nasionale Vergadering (NV) en die Nasionale Raad van Provinsies (NRP). Die lede van die parlement word tydens ʼn nasionale verkiesing deur Suid-Afrikaners verkies.

Die NV kies die land se president en is ʼn nasionale forum waar mense in die openbaar debatteer oor belangrike sake. Die NV moet ook seker maak dat uitvoerende lede hul werk doen en al die reëls van die parlement en die land nakom. Die NV het 400 lede of setels. Hierdie setels word onder politieke partye verdeel afhangend van die proporsie van stemme wat elke party tydens die nasionale verkiesing kry. 4

Voor die 2024-verkiesing het 14 politieke partye lede in die parlement gehad. Hulle staan as LP’s bekend. Met 228 setels het die ANC die meerderheid (58,2%) van die setels in die parlement gehad. Die DA het 78 setels (19,9%) en die EFF het 44 setels (11,2%) gehad. Die Inkatha Vryheidsparty (14 setels), die VF Plus (10 setels) en die ACDP (4 setels) is die ander partye wat redelik in die parlement verteenwoordig was. 5

Die NRP verteenwoordig die belange van die afsonderlike provinsies op nasionale vlak en neem ook deel aan die wetgewende proses. Die NRP is ook ʼn plek waar sake wat die provinsies raak, in die openbaar gedebatteer word. Die setels per provinsie verskil, na gelang van die grootte van die provinsie en die aantal mense wat in elke provinsie as kiesers geregistreer is. 6

Die speaker van die parlement

Elke parlement het ʼn speaker. Die speaker het een van die belangrikste werke in die parlement, naamlik om seker te maak dat ʼn gesonde parlementêre demokrasie gehandhaaf word.

Lede van die NV stem in die geheim vir die persoon wat hulle as speaker wil aanstel. Die speaker moet ʼn lid van die parlement wees. Lede van die NV kan die speaker ook verwyder indien hulle dink die persoon doen nie sy of haar werk reg nie. Die speaker moet heeltemal onafhanklik bly en besluite neem wat in die beste belang van die hele NV is. 7

Die rol van die parlementere speaker sluit in om openbare debatte te oorsien. Die speaker het die laaste sê oor die toepassing van die reëls van die NV en moet orde in die NV handhaaf. Die speaker verteenwoordig die NV ook op internasionale vlak, soos wanneer ooreenkomste met ander lande gesluit word. Indien iemand die NV hof toe vat, is dit die speaker wat in hofstukke as die respondent in die hofsaak gelys word. 8

Nosiviwe Mapisa-Nqakula het tot kort voor die 2024- nasionale verkiesing as speaker van die parlement opgetree. Sy moes egter in April 2024 bedank, nadat sy daarvan beskuldig is dat sy omkoopgeld van R2,3 miljoen ontvang het, terwyl sy die minister van verdediging en militêre veterane was. 9

Volgens wet moet ʼn nuwe speaker dadelik aangestel word, maar omdat sy so kort voor die verkiesing bedank het, het lede van die parlement gesê hulle gaan eers tot ná die verkiesing wag voordat hulle ʼn nuwe speaker kies. 10

Die parlementêre gebou

Die aanvanklike parlementsgebou in Kaapstad is in 1985 voltooi, waarna nog geboue tussen 1910 en 1994 by hierdie gebou gevoeg is. Die Suid-Afrikaanse parlementsgebou is in 2014 deur die Suid-Afrikaanse Erfenisstigting amptelik as erfenisterrein verklaar. Die oorspronklike geboue is deur Charles Freeman en die bekende argitek sir Herbert Baker ontwerp. 11

Sir Herbert Baker, bekende argitek.

Groot dele van dié geskiedkundige gebou is egter tydens ʼn brand in 2022 verwoes. Die brand het net ná 05:00 op 2 Januarie uitgebreek en die plafonne van die Volksraadsgebou en die NV is vernietig. Verskeie kantore en die gimnasium is ook erg beskadig. Verder is die hele gebou deur rook en water van die brandbestryders beskadig. 12

Van toe af het die parlement in die Kaapstadse stadsaal gesit, terwyl daar gewag is dat die parlement herbou word. Zandile Mafe is kort ná die brand in hegtenis geneem en van brandstigting aangekla. Hy het in Julie 2023 in die hof erken dat hy die brand gestig het en gesê dat hy dit weer sal afbrand, tensy dit na Bloemfontein of Pretoria geskuif word. Teen Mei 2024 was die hofsaak nog nie afgehandel nie. 13

Bouwerk om die beskadigde dele van die parlement te herstel, sal in Augustus 2024 begin. 14

Hoe wette deurgevoer word

Om nuwe wette te maak of bestaande wette te verander, is ʼn baie lang proses wat oor jare kan strek.

Dit begin deur die opstel van ʼn gespreksdokument deur die departement wat met die betrokke saak of probleem te doen het. Dit kan ook deur ʼn parlementêre portefeuljekomitee opgestel word. ʼn Konsepwet of konsepwetswysiging word dan deur die minister van die betrokke departement opgestel. Die konsepwet word aan lede van die parlement voorgelê vir goedkeuring en op dieselfde tyd in die Staatskoerant gepubliseer, sodat lede van die publiek daarop kommentaar kan lewer. 15

Nadat die proses vir openbare kommentaar afgehandel is, word die konsepwet na die betrokke komitee in die NV verwys om dit goed te keur, of nog veranderinge te maak. Daarna word dit terugverwys na die NV om daaroor te debatteer en te stem.

Indien die meeste lede van die NV die konsepwet goedkeur en indien dit ʼn invloed op provinsiale regerings gaan hê, moet die NRP ook oor die voorgestelde wet of wysigings stem. As die NRP ook die dokument aanvaar, word dit na die president gestuur om te teken, voor dit amptelik wet word. 16

Woordbank

demokratiese land ʼn Land waar die regering deur die landsburgers ingestem word en waar almal ewe veel regte en vryheid het.
erfenisterrein ‘n Plek waar politieke, militêre, kulturele of sosiale geskiedenis bewaar word.
forum ʼn Plek waar mense aan gesprekke kan deelneem.
gespreksdokument Die eerste weergawe van ʼn geskrewe dokument, voordat dit voltooi, afgehandel of aanvaar word.
gehandhaaf In stand hou of seker maak dat iets nie agteruitgaan nie.
ingehuldig Om ‘n persoon amptelik in ’n posisie, amp of titel te bevestig.
konsepwet ’n Voorlopige voorstel vir die reëls wat bepaal hoe ’n staat geregeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
openbaar debatteer Die lewer van ʼn toespraak voor mense, wat dan die kans het om hul menings oor die toespraak te lug.
portefeuljekomitee Die portefeuljekomitees van die Nasionale Vergadering hanteer die ondersoek van wetsontwerpe, departementele begrotingstemme, en is verantwoordelik vir toesig oor die werk wat hul onderskeie departemente doen.
proporsie Eweredigheid.
respondent in die hofsaak Die party wat in die hof gedagvaar of van ʼn misdaad aangekla word.
setels Kiesafdelings vir ’n parlement of ander demokratiese orgaan; amptelike sitplekke/stoele in die parlement, regeringsplek.
speaker Die voorsitter van ʼn volksraad of ʼn liggaam soos ʼn stadsraad.
staatskoerant ʼn Amptelike blad wat deur die regering gebruik word om die mense van die land oor sy aktiwiteite in te lig.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoe werk die parlement van Suid-Afrika?

Die Suid-Afrikaanse parlement brand 

Die geskiedenis van die parlementêre gebou

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Mei 2024 | Bygewerk op 1 Junie 2024