Vinnige feite
- Die ANC het die meerderheid in elke nasionale verkiesing sedert 1994 gekry.
- Die ANC se steun het in 2004 ʼn hoogtepunt onder oudpres. Thabo Mbeki beleef, met amper 70% steun op nasionale vlak.
- Die duurste verkiesing tot nog toe in Suid-Afrika was die 2019-verkiesing wat volgens die OVK sowat R1,3 miljard gekos het.
- Omdat die IVP op ʼn baie laat stadium besluit het om aan die 1994-verkiesing deel te neem, moes die party met die hand op elke liewe uitgedrukte stembrief in die land bygevoeg word met ʼn plakker.
Sedert die einde van apartheid in 1994, het Suid-Afrika ʼn reeks nasionale en provinsiale verkiesings beleef. Hierdie verkiesings het nie net die politieke landskap van Suid-Afrika gevorm nie, maar ook die gevoelens en verwagtings van die land se mense weerspieël.
In hierdie artikel ondersoek ons elke verkiesing sedert 1994, met spesifieke aandag aan die aantal politieke partye wat meegeding het, die partye wat verteenwoordiging verkry het en die uitslae. Suid-Afrikaners stem elke vyf jaar.
1994-verkiesing
Stemdag: 27 April 1994
Aantal partye wat deelgeneem het: 19
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 7
Geregistreerde kiesers: 23 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 19,7 miljoen
Kiesersopkoms: 86,9%
In hierdie verkiesing het die volgende partye die volgende aantal setels gekry. Ons gaan by elke verkiesing kyk na die aantal setels wat elke party uit die 400 beskikbare setels gekry het, asook na die persentasie wat daardie setels uit die totaal is. 1
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 252 | 62,9% |
NP | 82 | 20,4% |
IFP | 43 | 10,7% |
VF | 9 | 2,2% |
DP | 7 | 1,7% |
PAC | 5 | 1,2% |
ACDP | 2 | 0,5% |
Ná elke nasionale verkiesing in Suid-Afrika word die president deur die parlement gekies, wat beteken dat die president gewoonlik die leier van die party is wat die meerderheid in die parlement behaal het. Ná die 1994-verkiesing is Nelson Mandela (ANC) as president verkies.
1999-verkiesing
Stemdag: 2 Junie 1999
Aantal partye wat deelgeneem het: 16
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 6
Geregistreerde kiesers: 18,2 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 16,2 miljoen
Kiesersopkoms: 89,3%
Ná hierdie verkiesing het die setels soos volg gelyk: 2
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 266 | 66,5% |
DP | 38 | 9,5% |
IFP | 34 | 8,5% |
NNP | 28 | 7,0% |
UDM | 14 | 3,5% |
VF+ | 3 | 0,7% |
ACDP | 6 | 1,5% |
UCDP | 3 | 0,7% |
PAC | 3 | 0,7% |
AZAPO | 1 | 0,2% |
Ná hierdie verkiesing is Thabo Mbeki (ANC) tot president verkies.
2004-verkiesing
Stemdag: 14 April 2004
Aantal partye wat deelgeneem het: 21
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 12
Geregistreerde kiesers: 20,7 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 15,9 miljoen
Kiesersopkoms: 76,7%
Ná hierdie verkiesing het die setels soos volg gelyk: 3
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 279 | 69,7% |
DA | 50 | 12,5% |
IFP | 28 | 7,0% |
UDM | 9 | 2,2% |
NNP | 7 | 1,7% |
VF+ | 4 | 1,0% |
ACDP | 7 | 1,7% |
ID | 7 | 1,7% |
PAC | 3 | 0,7% |
AZAPO | 2 | 0,5% |
UCDP | 3 | 0,7% |
MF | 2 | 0,5% |
In 2004 is Mbeki vir ʼn tweede en laaste termyn tot president verkies.
2009-verkiesing
Stemdag: 22 April 2009
Aantal partye wat deelgeneem het: 26
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 13
Geregistreerde kiesers: 23,1 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 17,9 miljoen
Kiesersopkoms: 77,3%
Ná hierdie verkiesing het die setels soos volg gelyk: 4
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 264 | 65,8% |
DA | 67 | 16,7% |
COPE | 30 | 7,5% |
IFP | 18 | 4,5% |
VF+ | 4 | 1,0% |
ID | 4 | 1,0% |
UDM | 4 | 1,0% |
ACDP | 3 | 0,7% |
UCDP | 2 | 0,5% |
PAC | 1 | 0,2% |
AZAPO | 1 | 0,2% |
MF | 1 | 0,2% |
Ná die 2009-verkiesing is Jacob Zuma (ANC) vir sy eerste termyn tot president verkies.
2014-verkiesing
Stemdag: 7 Mei 2014
Aantal partye wat deelgeneem het: 29
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 13
Geregistreerde kiesers: 25,4 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 18,4 miljoen
Kiesersopkoms: 73,5%
Ná hierdie verkiesing het die setels soos volg gelyk: 5
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 249 | 62,2% |
DA | 89 | 22,2% |
EFF | 25 | 6,2% |
IFP | 10 | 2,5% |
NFP | 6 | 1,5% |
VF+ | 4 | 1,0% |
UDM | 4 | 1,0% |
COPE | 3 | 0,7% |
ACDP | 3 | 0,7% |
AIC | 3 | 0,7% |
Agang SA | 2 | 0,5% |
PAC | 1 | 0,2% |
AZAPO | 1 | 0,2% |
Ná hierdie verkiesing is Zuma vir sy tweede en laaste termyn tot president verkies.
2019-verkiesing
Stemdag: 8 Mei 2019
Aantal partye wat deelgeneem het: 48
Aantal partye wat verteenwoordiging gekry het: 14
Geregistreerde kiesers: 26,7 miljoen
Aantal kiesers wat gestem het: 17,6 miljoen
Kiesersopkoms: 66%
Ná hierdie verkiesing het die setels soos volg gelyk: 6
Party | Setels | Persentasie van totaal |
ANC | 230 | 57,5% |
DA | 84 | 21,0% |
EFF | 44 | 11,0% |
IVP | 14 | 3,5% |
VF+ | 10 | 2,5% |
ACDP | 4 | 1,0% |
UDM | 2 | 0,5% |
GOOD | 2 | 0,5% |
NFP | 2 | 0,5% |
ATM | 2 | 0,5% |
COPE | 2 | 0,5% |
PAC | 1 | 0,2% |
SRWP | 1 | 0,2% |
Ná die 2019-verkiesing is Cyril Ramaphosa (ANC) tot president verkies. Hy dien steeds as president van Suid-Afrika.
2024-verkiesing
Stemdag: 29 Mei 2019
Aantal partye wat deelneem: 52
Woordbank
apartheid | Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is. |
geregistreerde kiesers | Mense ouer as 18 wat amptelik opgeteken is om te stem in ’n verkiesing. |
kiesersopkoms | Die aantal mense wat gaan stem het op ’n stemdag, uit al die mense wat kan stem. |
meerderheid | Meer as die helfte van die stemme. |
politieke landskap | Hoe die politiek in ʼn land lyk en werk. |
stemdag | Die dag wanneer mense gaan stem om te kies wie hulle in die regering wil hê. |
termyn | Vasgestelde beperkte periode, tydsduur; ampstyd, sitting. |
verkiesings | ’n Gebeurtenis waar mense stem om te besluit wie hul leiers in die regering sal wees. |
verteenwoordiging | Die idee dat elke groep mense iemand moet hê om hulle in die regering voor te stel. |
Hier is ʼn lekker taak vir jou!
Stig jou eie politieke party! Gee jou politieke party ʼn interessante naam met ʼn treffende logo en slagspreuk vir jou advertensieplakkate. Trek ook ʼn eenvoudige beleid op as motivering waarom mense vir jou party moet stem.
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Hoe die proses werk om stemme te tel
Die 1994-verkiesing se uitslae
Stemme word getel in 1994
2024-verkiesing: Vier politieke slagvelde
Amptelike aankondiging van die 2019-verkiesingsuitslae
1994 – ʼn Kykie na die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika