Vinnige feite

  • Naudé en sy vrou het drie seuns en een dogter gehad.
  • Hy was baie lief vir stap en die natuur en het ook glo graag aan motors gewerk.
  • Hoewel hy bande met die African National Congress (ANC), Pan-Afrikaanse Kongres (PAC) en Swartbewustheidsbeweging gehad het, was hy nooit ʼn lid van die organisasies nie en het verkies om onafhanklik te bly.
  • Vele strate en plekke is na hom genoem. Daar is selfs ʼn Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit op Graaff-Reinet.
  • Hy is dikwels oom Bey of ds. Bey genoem.
  • Hy was die eerste Suid-Afrikaner wat die eer gekry het om by die Westminster-abdy in Engeland te preek.
  • Hy het later oor sy inperktyd geskryf: “Die sewe maerste jare van my lewe het die sewe verrykendste jare geword.”
  • Beyers Naudé se outobiografie se naam is My land van hoop: Die lewe van Beyers Naudé.
  • Die NG kerk se algemene sinode het in 1994 Beyers Naudé as een van die “profete van die verlede” om verskoning gevra en het hom terug in die kerk verwelkom.
Foto: iStock

As jy die naam Beyers Naudé hoor, dink jy dalk aan daai besige straat in Randburg of aan die vele plekke wat na hom genoem is, maar hoe het hierdie Afrikaanse dominee so bekend geword dat internasionale koerante oor hom geskryf het?

Kom ons begin by die begin. Christiaan Frederik Beyers Naudé is op 10 Mei 1915 in Roodepoort aan die Wes-Rand gebore. Hy is na ʼn bekende Boeregeneraal Christiaan Frederik Beyers genoem.

Naudé was die vierde kind van agt kinders, en sy pa, Jozua Naudé, was ʼn dominee aan die Nederduitse Gereformeerde (NG) kerk en ʼn stigterslid van die Afrikaner-Broederbond. Dit was ʼn organisasie wat Afrikanernasionalisme ondersteun en bevorder het. 1

Beyers Naudé by minister Van de Broek van BuZa

Nasionalisme is die beskouing van ʼn groep, soos die Afrikaners, waarby die gemeenskaplike aspirasies, belange, kenmerke en waardes gehandhaaf word om die afsonderlikheid of uniekheid van die groep te bevorder. 2 [Lees meer hier oor nasionalisme.]

Die gesin het in 1921 na Graaff-Reinet in die Oos-Kaap getrek, en hy het in 1931 aan die Afrikaans Hoër Volkskool gematrikuleer. Hy wou aanvanklik ʼn advokaat word, maar het toe besluit om teologie aan die Universiteit van Stellenbosch (vandag word dit net Universiteit Stellenbosch of US genoem) te studeer. Hy het sy graad in 1939 ontvang en ʼn meestersgraad in Afrikaans-Nederlands voltooi. 3

Loopbaan

Hy het van vroegs af sterk leierseienskappe getoon en was ook die primarius van sy koshuis, Wilgenhof. (ʼn Primarius klink soos ʼn groot woord, maar dis eintlik net die hoofseun van die koshuis.) Naudé was op universiteit ʼn lid van ʼn natuurklub, en hy het daar vir Ilse Weder, die dogter van ʼn Morawiese sendeling, ontmoet. Hulle is op 3 Augustus 1940 getroud, en hy is in dieselfde jaar as assistentdominee by die NG kerk op Wellington, Kaapstad, aangestel.

Hy sluit ook op 25-jarige ouderdom by die Broederbond aan en was die jongste lid wat op daardie stadium aangesluit het.

Ds. C.F. Beyers Naude , direkteur van die Christelike Instituut vir Suider-Afrika op Schiphol, van links na regs. Ds. Beyers Naude, sy vrou en prof. dr. I.A. Diepenhorst

Hy was vanaf 1942 tot 1945 ʼn dominee op Loxton in die Groot-Karoo, en daarna werk hy by gemeentes in Pretoria-Suid en -Oos.

In daardie jare was die Nasionale Party- (NP-)regering in Suid-Afrika aan bewind, en hulle het ʼn beleid van apartheid gevolg. ʼn Paar dinge het Naudé begin oortuig dat apartheid en die regering verkeerd was. Sy medeleraar by Pretoria-Oos was ds. Ben Marais, wat toe al apartheid bevraagteken het. Naudé het ook in 1953 ʼn studiereis na Europa en Noord-Amerika onderneem, wat hom anders na rasseverhoudinge laat kyk het.

Hy was van 1955 tot 1959 by die NG gemeente Potchefstroom en het daar die openbare byeenkomste van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode op Potchefstroom bygewoon. Dit was ʼn veelrassige sinode, en sy kontak met swart en bruin mense het hom verder oortuig dat apartheid verkeerd was.

Hy het in November 1959 die leraar van die NG Aasvoëlkop-gemeente geword en was ook in 1960 as een van die afgevaardigdes van die NG kerk na die Wêreldraad van Kerke (WRK) se beraad in Cottesloe, Australië,  gestuur. Hy het daar ook besef hoe belangrik rasseverhoudinge is.

Bespreking oor Suid-Afrika in Amsterdam met Wim Kok

Die Sharpeville-slagting in 1960 het hom finaal oortuig dat hy nie meer kan stilbly oor wat in die land gebeur nie. Die Sharpeville-slagting het op 21 Maart 1960 in die swart, informele nedersetting, Sharpeville, naby Vereeniging plaasgevind. Daar was daardie dag ʼn landwye betoging teen Suid-Afrika se paswette. Ongeveer 20 000 swart mense het naby die Sharpeville-polisiestasie bymekaar gekom en betoog. Volgens die polisie was daar klipgooiery, en die polisie het op die groep begin skiet. Ongeveer 69 mense is doodgeskiet, terwyl meer as 180 mense gewond is. Daar was 50 vroue en kinders onder die slagoffers. ʼn Noodtoestand is afgekondig, en meer as 11 000 mense is in aanhouding geplaas. Die Suid-Afrikaanse regering is erg in die buiteland gekritiseer vir hoe hulle dit hanteer het. 4

Sharpeville, 1960

Naudé was geskok oor wat by Sharpeville plaasgevind het, en hy het besef dat wat gebeur het nie met Christenskap strook nie. Hy het voor Sharpeville al begin dink oor die invloed van apartheid op swart mense, soos hoe swart gesinne deur die Suid-Afrikaanse migrantarbeidstelsel benadeel word.

Hy het begin kritiek lewer teen apartheid, maar het desondanks in 1961 die waarnemende moderator van die Suid-Transvaalse NG sinode geword. Hy is later as die moderator aangestel.

In daardie tyd was hy ook die stigterslid van die Christelike Instituut, ʼn nierassige, interkerklike organisasie en het die redakteur van die instituut se publikasie, Pro Veritate, word. Die eerste uitgawe daarvan het op 15 Mei 1962 verskyn.

Hy het in 1963, ná 22 jaar van lidmaatskap, uit die Broederbond bedank, en die kerk het druk op hom geplaas om tussen die NG kerk of die Christelike Instituut te kies.

Hy het gevolglik as moderator bedank en op Sondag, 3 November 1963, as leraar by die Aasvoëlkop-gemeente bedank. Hy het genoem dat hy nie die kerk se ondersteuning van apartheid kan goedkeur nie en dat dit verkeerd was. Die NG kerk het hom gevolglik van sy leraarskap ontneem, maar hy is wel later deur die NG kerk van Afrika as leraar verwelkom.

Hy is hewig gekritiseer oor sy standpunte oor apartheid, en die regering en die veiligheidspolisie het klopjagte by sy huis uitgevoer. Hy het selfs ʼn nag in die tronk deurgebring, omdat hy geweier het om voor die Schlebusch-kommissie te verskyn. Minister Alwyn Schlebusch het vier anti-apartheidsorganisasies (ook die Christelike Instituut) by die kommissie ondersoek. Hy het bevind dat die Christelike Instituut en Naudé ʼn gevaar vir die staat was, en die instituut is in 1977 deur die regering tot verbode organisasie verklaar. 5

Naudé is op 11 Oktober 1977 vir vyf jaar, wat later tot sewe jaar verleng is, ingeperk en onder huisarres geplaas. Sy paspoort is ook opgeskort. Die inperking is uiteindelik op 26 September 1984 opgehef, en hy is as hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) aangestel. Naudé het aartsbiskop Desmond Tutu opgevolg en het die amp van 1985 tot 1988 beklee.

Erkenning

Naudé het verskeie eerbewyse in sy lewe ontvang. Daar was eredoktorsgrade van die Vrije Universiteit van Amsterdam, Universiteit van die Witwatersrand, Universiteit van Kaapstad, Notre Dame-universiteit in Indianapolis, Garrett Evangelical Seminary van die Northwestern-universiteit in Evanston, Limburg-universiteit in Maastricht, Universiteit van Natal en die Universiteit van Durban-Westville. Nog internasionale toekennings sluit die Bruno Kreisky-prys, Reinhold Niebuhr-prys, Franklin D. Roosevelt-prys, Robert F. Kennedy-menseregteprys, Prys vir Vrede en Vryheid van die Sweedse Arbeidersbeweging en die Orde van Oranje-Nassau van Nederland in.

Hy is op die ouderdom van 89 op 7 September 2004 oorlede.

Ds. Beyers Naude ontvang sy eredoktorsgraad

Woordbank

moderator Die voorsitter van ʼn sinode.
ekumeniese Wat die hele kerk verteenwoordig. 6
klopjagte ʼn Onverwagte besoek of soektog deur byvoorbeeld die polisie om iets of iemand op te spoor.
nasionalisme Dis die beskouing van ʼn groep soos die Afrikaners waarby die gemeenskaplike aspirasies, belange, kenmerke en waardes gehandhaaf word om die afsonderlikheid of uniekheid van die groep te bevorder.
primarius Die hoofstudent van ʼn koshuis.
sinode ʼn Hoë vergadering van kerke.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Beyers Naudé

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Beyers Naudé

Apartheid: 46 jaar in 90 sekondes

Beyers Naudé praat oor Sharpeville

Sandra op ʼn drafstap: onderhoud met Beyers Naudé

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Oktober 2022 | Bygewerk op 8 November 2023